Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Suid-Afrika

  • 4

Boekomslae: Elite transition deur Patrick Bond (2000) en Decolonising the mind deur Ngũgĩ wa Thiong’o (1986)

Om sin te maak van wat tans tussen die regering van president Donald Trump van die VSA en Suid-Afrika aan die gebeur is, is dit nodig om ’n lang blik oor die geskiedenis en huidige verskuiwings in die geopolitiek te gooi.

1. Aan die kern van enige koloniale projek lê verskillende vorme van onteiening – van mense se grond en grondstowwe, maar ook van hulle geestesgoedere. Volgens een van Afrika se grootste postkoloniale denkers, Ngũgĩ wa Thiong’o, in sy klassieke Decolonising the mind (1986), is die onteiening en verrinnewering van die gekoloniseerde se geestesgoedere dit wat die blywendste skade aan die gekoloniseerde veroorsaak. Wanneer die kolonis die gekoloniseerde se kultuur, taal, godsdiens en tradisies in die algemeen onderploeg en dit met die kolonis se geestesgoedere verdring, skep dit ’n besondere soort vervreemding van die eie, asook algemene psigiese verwarring by die gekoloniseerde. En nêrens word dít duideliker as wanneer die voorheen gekoloniseerde die juk van die kolonis afwerp, staatsmag by die kolonis oorneem, en sig skuldig maak aan vele van dieselfde vergrype teen die inheemse as die kolonis nie.

Dit is teen dié tyd ou nuus dat hierdie verhaal die tragedie van postkoloniale regerings in Afrika is, ondanks belowende tekens dat dit hier en daar aan die verander mag wees – maar dit is ’n ander onderwerp as waaroor hierdie opstel handel.

2. Toegepas op die geskiedenis van Suid-Afrika vanaf 1910 tot vandag, stel Ngũgĩ se ontleding ons in staat om ’n paar belangrike patrone in ons geskiedenis te ontleed. Dwarsoor Afrika is die koloniale bewinde deur nasionalistiese bewegings beveg, en so was dit ook in Suid-Afrika. Nadat die Unie van Suid-Afrika in 1910 gestig is sonder inagneming van die meerderheid van Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe se wense, en as rassepakt tussen die wit Suid-Afrikaners van Britse afkoms en die Afrikaners as junior vennoot om Britse koloniale belange in Suid-Afrika te beskerm en te bevorder, gaan die twee opkomende nasionalistiese bewegings in Suid-Afrika oor tot verset. In 1912 stig die Afronasionaliste die voorloper van die ANC, naamlik die South African National Native Congress in Bloemfontein; en in 1914 stig die Afrikaner-nasionaliste ook in Bloemfontein die Nasionale Party (NP). (’n Mens sou vandag by nabaat kon droom daaroor dat dié twee partye so gou moontlik ’n bondgenootskap teen die Britse koloniale bewind kon sluit, maar daarvoor was onder meer die ou koloniale taktiek van verdeel en heers – veral deur die gebruik van ras – eenvoudig te doeltreffend.)

3. Die NP sowel as die ANC kon daarin slaag om in aanloop tot hul bewindsoornames in onderskeidelik 1948 en 1994 tot ’n hoë mate ’n netwerk van gemeenskapsgebaseerde organisasies agter hulle te versamel. As jy Patrick Bond se ontleding van die ANC se verhouding met die sogenaamde breë demokratiese beweging teen die NP-regering van die 1980’s in sy Elite transition (2000) ernstig opneem, was die organiese band wat teen dié tyd van die onderhandelinge vir ’n nuwe politieke bedeling in die vroeë 1990’s tussen die ANC en die breë demokratiese beweging bestaan het, glad nie so organies as wat die ANC die wêreld graag wou laat glo nie – wat op sy beurt daartoe sou bydra dat die ANC kort voor lank besluite sou neem en beleide sou aanvaar in die naam van die einste mense wie se belange dit al hoe minder sou dien. Twee van die redes vir die swakheid van die organiese band tussen die ANC en die breë demokratiese beweging was dat terwyl ’n beduidende deel van die ANC se leierskap dekades lank in ballingskap geleef het, ’n ander beduidende deel dekades lank in die tronk was – dis teen hierdie tyd ou nuus dat die leiers van die ANC eers uit die geledere van die voormalige gevangenes gekom het (Mandela en kie), toe uit die geledere van die voormalige uitgewekenes (die exiles onder Mbeki en kie), en toe uit die geledere van die binnelandse versetbeweging (die insiles onder Ramaphosa en kie).

4. In vergelyking met die ANC kon die NP teen 1948 waarskynlik aanspraak maak op ’n hegter organiese band met sy ondersteuners as die ANC teen 1994. Anders as die ANC het die leiers van die NP nie tronkstraf of ballingskap voor 1948 getrotseer nie, en bowendien kon hulle deur die mobilisering van kultuur die één kultuurgroep wat hulle wou mobiliseer, agter hulle kry. Soos RW Johnson al uitgewys het, was die ANC se uitdaging die mobilisering van ’n baie groter verskeidenheid kultuurgemeenskappe, en daarom was hulle nasionalisme veral (en noodlottig) gebaseer op ’n begrip wat veel minder inhoud as kultuur dra, naamlik ras. Dit is waarom lidmaatskap van die ANC tot 1969 tot swart mense beperk is. Die omarming van die begrip nierassigheid en die oopstel van die ANC se lidmaatskap vir mense uit alle rassegroepe was ’n poging om hierdie eng rasnasionalisme te bowe te kom, maar uiteindelik wil dit voorkom asof die rasnasionalisme in die DNS van die ANC net te sterk sou wees – afgesien daarvan dat daar nie meer vandag in die ANC-leierskap swaargewigte uit minderheidsgroepe oor is nie, vertel die ver meer as 100 rasverwante Suid-Afrikaanse wette en die huidige ANC se gehamer op die belange van swart Suid-Afrikaners (wat die ANC en sy beleide self so konsekwent onderploeg) ’n verhaal van hoe sterk die rasnasionalisme in die DNS van die ANC is.

5. Dis is egter teen hierdie tyd eweneens ou nuus dat die NP ná 1948 in belangrike opsigte die patroon van mislukking deur die voormalig gekoloniseerde sou deurmaak wat so kenmerkend van postkoloniale Afrika sou word. Deur die omarming van apartheid, wat Hermann Giliomee “’n radikale oorlewingsplan” genoem het, het die NP die belange van die Afrikaners op histories ongekende wyse bevorder, maar uiteindelik teen twee baie hoë pryse.

Eerstens is Afrikaners deur die NP diep vervreem van hulle landgenote – Van Wyk Louw het reeds in 1952 in ’n beroemde opstel gewaarsku tussen die keuse van voortbestaan in geregtigheid en “blote voortbestaan”. En oplaas ís as deel van die Afrikaner-nasionalistiese projek in die naam van die regstelling van historiese Britse koloniale onreg teenoor die Afrikaners nuwe vorme van onreg teen ons landgenote gepleeg. Daarmee het die Afrikaners nie net die aansien wat ons vanaf die 1960’s tot die 1980’s in die oë van die buitewêreld geniet het, verloor nie, maar as onderskeibare kultuurgemeenskap staan ons tans onder bedreiging.

Tweedens is Afrikaners deur die NP vervreem van hulle belangrikste buitelandse bondgenote, sonder wie se steun hulle as minderheid en kultuurgemeenskap met ’n Protestantse, Westerse kultuur nie op die duur aan die bewind kon bly nie. Die verskillende vorme van isolasie waaraan Suid-Afrika en die Afrikaners onderwerp is op die gebied van kultuur (die kultuurboikot wat in 1972 teen Suid-Afrika ingestel is), sport (die verbanning van Suid-Afrika uit die internasionale sportarena) en die ekonomie (Amerikaanse disinvestering van Suid-Afrika vanaf 1985), was op die duur deurslaggewend om die NP te oorreed om met die ANC te begin onderhandel en uiteindelik die mag in 1994 vreedsaam en demokraties aan laasgenoemde te oorhandig. Eweneens was die steun wat die NP binnelands verloor het, aanvanklik aan die regterkant, en later, tussen 1976 en 1990, onder die Afrikanerjeug, ook noodlottig vir sy bewind.

6. Oor die afgelope 30 jaar het die ANC helaas in vele opsigte die patroon van die NP voor hom herhaal. Deur, soos die NP voor hom, te besluit om seksionele belange te bevorder en regstelling in die naam van ras sy fokus te maak, is wetgewing en beleide aanvaar wat ekonomies rampspoedig was, minderhede met hulle beduiende vermoëns vervreem het, Suid-Afrika se voorste handelsvennote (waarvan die VSA die belangrikste is) te vervreem, en die steun van die jong swart kiesers in te boet. Die suksesse wat die ANC aanvanklik behaal het op die gebiede van behuising, die uitbreiding van die voorsiening van elektrisiteit en lopende water, en respektabele ekonomiese groei, word vandag heeltemal oorskadu deur die toename in misdaad, enorme korrupsie, die uitvloei van geskoolde arbeid en buitelandse kapitaal, en ’n skouspelagtige ineenstorting van munisipaliteite en infrastruktuur. Die feit dat die gaping tussen arm en ryk nou onder swart Suid-Afrikaners die hoogste ter wêreld is, is ’n regstreekse gevolg van die beleide wat bekendstaan as regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Die land kan eenvoudig nie so aangaan nie, en dit is presies die boodskap wat die kiesers in die nasionale verkiesing van 2024 aan die politici gestuur het. Dog ondanks die hoop wat aanvanklik met die blitsige totstandkoming van die RNE ontstaan het, het die ANC met sy buitelandse beleid eenvoudig voortgegaan op die pad van vervreemding van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, waaroor ander kommentators uitvoerig oor die afgelope week, maande en jare uitgewei het.

........
Dog ondanks die hoop wat aanvanklik met die blitsige totstandkoming van die RNE ontstaan het, het die ANC met sy buitelandse beleid eenvoudig voortgegaan op die pad van vervreemding van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, waaroor ander kommentators uitvoerig oor die afgelope week, maande en jare uitgewei het.
........

7. As daar een ding is wat die ANC uiters suksesvol gedoen het nadat jare se onsuksesvolle pogings tot konstruktiewe gesprekvoering met die NP-regering teen die vroeë 1960’s steeds op niks uitgeloop het nie, was dit om hulle saak te internasionaliseer en met ’n vernuftige kommunikasiestrategie nie net die steun van die wêreld nie, maar uiteindelik ook die simpatie van die NP-regering se belangrikste Westerse bondgenote te wen. In die proses het die ANC die mislukkings en vergrype van die NP-regering om verstaanbare redes oorbeklemtoon ten koste van die suksesse van die NP-regering, soos die reuse uitbreiding in Suid-Afrika se infrastruktuur en tegnologiese en vervaardigingsvermoë onder die NP. Dele van die NP-leierskap sou dus teen die middel- tot laat 1980’s kon aanvoer dat die ANC ’n eensydige beeld van die land aan die buiteland voorhou, maar al wat uiteindelik saak gemaak het, was dat die ANC se internasionaliseringstrategie so suksesvol was dat dit die NP na die onderhandelingstafel help dwing het.

8. Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, is ’n lewenslange student van suksesvolle politieke bewegings en kommunikasie. Bloot die feit dat die naam van die beweging geïnspireer is deur die suksesvolle antikommunistiese Poolse versetbeweging van die 1980’s, Solidarnosk, spreek reeds hiervan. Onder Buys se leierskap is al meer as 20 jaar gelede ingesien dat om Suid-Afrika op ’n ander koers te stuur en die Afrikaners en ander minderheidsgroepe te beskerm, twee strategieë nodig is, strategieë wat sterk ooreenkom met strategieë van die ANC in verset teen die NP-regering. Die eerste hiervan, en een wat tot dusver ewe min welslae as destyds vir die ANC onder die NP-bewind opgelewer het, was om met die regering van die dag gesprek te voer. Die tweede was om die saak van die Solidariteit Beweging te internasionaliseer en met ’n vernuftige kommunikasiestrategie die steun van die wêreld, en veral Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, te probeer wen.

........
Dat dele van die ANC-leierskap vandag aanvoer dat die Solidariteit Beweging ’n eensydige beeld van die land aan die buiteland voorhou, is verstaanbaar – en bedenklik – dog wat saak maak, is om die ANC na die onderhandelingstafel te dwing vir ’n bedeling wat nie langer berus op die koloniale taktiek van verdeel en heers nie, maar wat die land se potensiaal deur binnelandse samewerking sal ontsluit.
........

9. Omdat die ANC tydens sy versetstryd getalsgewys die meerderheid Suid-Afrikaners verteenwoordig het, sou die suksesvolle binnelandse mobilisering van verset die minderheidsregering van die NP op die duur onder enorme druk plaas – en so het die gewelddadige onderdrukking van binnelandse politieke verset die NP dan ook die internasionale kommunikasiestryd laat verloor. Omdat die Solidariteit Beweging getalsgewys ’n minderheid in Suid-Afrika verteenwoordig – en sy strewe na wedersydse erkenning binnelands tot dusver deur die ANC misken en as rassisties afgemaak is – sou suksesvolle mobilisering van buitelandse druk op die ANC onontbeerlik wees. Dat dele van die ANC-leierskap vandag aanvoer dat die Solidariteit Beweging ’n eensydige beeld van die land aan die buiteland voorhou, is verstaanbaar – en bedenklik – dog wat saak maak, is om die ANC na die onderhandelingstafel te dwing vir ’n bedeling wat nie langer berus op die koloniale taktiek van verdeel en heers nie, maar wat die land se potensiaal deur binnelandse samewerking sal ontsluit.

10. Soos uitgewys in ’n onlangse opstel oor Trump en die eietydse geopolitiek, swaai die pendulum die afgelope 10 jaar en meer weg vanaf die idealistiese na die realistiese paradigma, oftewel die geopolitiek word toenemend op die oomblik bepaal deur state se vrese, belange, mag, en die dreigement van geweld. Afgesien hiervan is daar ook ’n konserwatiewe swaai in die geopolitiek. Invloedryke Westerse moondhede soos China, Indië, Rusland en Turkye staan almal onder konserwatiewe regerings, wat ook al beskryf is as sogenaamde beskawingstate, omdat hulle nie “bloot” nasionalisties is nie, maar ook hulle politiek grond op hulle vroeëre geskiedenisse as ryke.

In die Weste is daar ook ’n onmiskenbare konserwatiewe swaai aan die gang. In Brittanje loop Reform UK nou in sommige meningspeilings voor teenoor die Arbeidersparty, minder as ’n jaar na dié se historiese verkiesingsoorwinning. In Duitsland is die Alternatief vir Duitsland (AfD) op die punt om die eerste populistiese konserwatiewe party sedert die Tweede Wêreldoorlog te word wat deel van die regering vorm, of op die minste die beste sedertdien in ’n nasionale verkiesing te vaar. Die tradisioneel liberale Nederland staan onder ’n koalisieregering wat konserwatiewer as in baie dekades is, en in Frankryk het die Nasionale Samekoms (RN) onder Marine Le Pen verlede jaar ’n derde van die parlement verower.

Die konserwatiewe swaai wat tans in die VSA aan die ontvou is, is egter op ’n heel ander skaal. Dit is nie om dowe neute nie dat Trump in ’n wêreld waar die ander groot moondhede nou sogenaamde beskawingstate is, in sy inhuldigingstoespraak as president op 20 Januarie met tipiese Trumpiaanse oordrywing na die VSA verwys het as “die grootste beskawing ooit”. Trump en sy binnekring is deeglik bewus van die afwaartse trajek waarop die VSA die afgelope twee dekades is – as jy vandag in die geopolitiek ’n topverkoper wil publiseer, skryf jy hiéroor.

........
Trump en sy binnekring is deeglik bewus van die afwaartse trajek waarop die VSA die afgelope twee dekades is – as jy vandag in die geopolitiek ’n topverkoper wil publiseer, skryf jy hiéroor.
........

Uit Trump en sy binnekring se oogpunt staan die VSA as beskawing voor eksistensiële bedreigings, terwyl die huidige tegnologiese omwentelinge en die wedywering met China ook besondere uitdagings aan die VSA stel. Sommige mense sal hierdie eksistensiële kommer van Trump en sy binnekring wil afmaak of weglag, maar dis eintlik irrelevant. Feit is, dis hoe Trump en sy binnekring die saak sien, en dis hoekom hulle die geopolitiek in Trump se tweede termyn soos ’n orkaan getref het. ’n VSA-regering wat sigself eksistensieel bedreig voel, is nie een wat belang gaan stel in die bak van mooi broodjies nie. Dit het die liberale regerings van byvoorbeeld Meksiko en Kanada baie gou gesnap, en daarom het hulle die teenwoordigheid van gees en staatsmanskap getoon om onmiddellik ernstig met die VSA te onderhandel toe Trump invoertariewe op van hul produkte aangekondig het.

11. Daar is iets komies (of dalk pateties) daaraan om steeds in dié stadium oor Trump se styl, persoonlikheid en karakter ontsteld te raak, en hom op grond daarvan polities te wil veroordeel of teëgaan. Een van die wêreld se voorste lewende linkse filosowe, Slavoj Žižek, het onlangs in ’n onderhoud met een van die wêreld se voorste linkse ekonome en geopolitiese ontleders, Yannis Varoufakis, die punt gemaak dat in Trump se styl die obsene wat vroeër onderdruk of ontken of uitgerangeer is in die politiek, nou die norm word. ’n Mens kan die obsene op verskillende maniere omskryf, maar waarop Žižek onder meer mik, is hoe openlik Trump is oor dit wat die meeste van ons in die privaat dink en doen. Trump is beslis obseen as hy verklaar dat hy die Palestyne van Gaza effektiewelik aan ’n gedwonge verskuiwing gaan onderwerp, maar helaas sê en beplan hy nou bloot wat ’n beduidende deel van die Israelse politieke klas dit tot dusver nog net agter hul hande vir mekaar gefluister het. Trump is ook obseen wanneer hy reguit in die openbaar verklaar dat hy met allerlei brute magstrategieë beheer oor die skaars metale van Kanada, Groenland en Oekraïne wil hê, maar andersins doen hy net mooi niks anders as state wat op grond van hul belange handel nie. (Selfs president Ramaphosa moes baie onlangs vir sy paaltjies keer toe hy in die parlement daarvan beskuldig is dat die Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo eintlik daar is om sy mynboubelange te beskerm.) En Suid-Afrika is nog een van die min lande ter wêreld wat beskik oor skaars metale en ’n uiters strategiese seeroete, wat die land op sy eie manier saam met Kanada, Groenland en Oekraïne op Trump se agenda laat beland het.

........
Ons het immers te make met ’n befoeterde outokraat wat die VSA eerste stel en ons land tweede gáán stel as ons dit nie self eerste stel nie.
........

12. Of die ANC dit nou wil weet of nie, het Trump se verkiesing neergekom op die vind van die vermiste skakel in die eietydse geopolitiek. Of ons nou daarvan hou of nie, het die uur aangebreek dat die Weste nou in die gedaante van die VSA gelei deur Trump aangemeld het as geopolitiese teenhanger vir China, Indië, Rusland en Turkye. En soos die regerings van daardie lande hulle agenda sowel binnelands as buitelands meedoënloos afdwing, is Trump besig om dieselfde te doen. Die ANC, en trouens alle ander Suid-Afrikaanse rolspelers, sal moet besluit hoe óns óns belange die beste gaan dien. Suid-Afrika eerste, soos generaal JBM Hertzog dit al meer as ’n eeu gelede gesê het – en nie die ANC eerste nie, soos die huidige president dit aanhou sê en doen. En vandag beteken die term “Suid-Afrika” veel meer as wat Hertzog daarmee bedoel het – wat ’n baie goeie ding is, maar wat dit veel dringender as ooit maak om Suid-Afrika eerste te stel. Ons het immers te make met ’n befoeterde outokraat wat die VSA eerste stel en ons land tweede gáán stel as ons dit nie self eerste stel nie.

13. Daar is ook die kwessie van leuens. Terwyl sommige politieke rolspelers en kommentators oor hulle voete geval het om AfriForum in die besonder, en die Solidariteit Beweging in die algemeen, daarvan te beskuldig dat hulle leuens oor die situasie in Suid-Afrika aan die buitewêreld vertel, is dit moeilik om vas te stel wat presies die beweerde leuens volgens dié kritici sou behels. Dit is ou nuus dat kwessies soos plaasmoorde, misdaad, eiendomsreg en die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie uit verskillende ideologiese hoeke verskillend getakseer word, maar om iemand wat uit ’n ander ideologiese hoek na dinge kyk van leuens te beskuldig, kom neer op ’n kategorieverwarring. Of selfs ’n leuen.

As dit gaan oor wie die meeste leuens oor die stand van sake binnelands vir die wêreld vertel, sal ver gesoek moet word na ’n instansie wat dit méér die afgelope jare as die ANC en sy verteenwoordigers gedoen het – en des te meer namate hulle projek vir die land al hoe duideliker en grusamer misluk. Die huidige president het in 2018 openlik in die VSA verkondig dat plaasmoorde nie in Suid-Afrika voorkom nie. (Hy kon dit in ’n ander konteks net sowel gesê het oor armoede, misdaad en korrupsie, maar dis nie die punt nie.) Hy verkondig op al wat internasionale verhoog is hoe goed dit met die RNE gaan, maar dan teken hy wette af wat die brose konsensus in die RNE eksplisiet bedreig. Jaar ná jaar moet die Suid-Afrikaanse burgery in die staatsrede luister na beloftes oor broodnodige hervorming, maar dan bly dit net by praatjies. En les bes, die einste dinge wat die President gedurig wil regruk, is niks anders nie as maaksels van sy eie party se swak regering oor meer as 30 jaar.

Dit is ook vreemd dat onder diegene wat AfriForum en die Solidariteit Beweging van leuens beskuldig, daar oënskynlik min mense is wat wys op hoe Elon Musk die stand van sake in Suid-Afrika oordryf – om die term volksmoord so kwistig soos hy te gebruik, is roekeloos – en beslis nie iets wat AfriForum of die Solidariteit Beweging doen nie.

14. Diegene wat nou so ontsteld is omdat Trump openlik aan Afrikaners vlugtelingstatus aanbied, kyk mis dat hy weer eens in Žižek se sin obseen openlik is oor iets wat al meer as 25 jaar aan die gebeur is, naamlik dat ’n beduidende deel van die Afrikaner-gemeenskap inderdaad op die vlug geslaan het. Sommige vlug na veiligheidslandgoedere. Sommige vlug na die betreklike veiligheid en voorspoed van die Suid- en Wes-Kaap in wat alom as semigrasie bekendstaan. Sommige vlug landuit, in wat alom as emigrasie bekendstaan. As enigiemand daaraan twyfel dat veral die landsverlaters vlugtelinge is in dié opsig dat hulle hul tuiste teensinnig verlaat, hoef hulle net ag te slaan op hoe verterend hierdie mense se verlange na Suid-Afrika selfs dekades ná landsverlating is. Pas het die skrywer Zirk van den Berg hiervan getuig in sy nuwe boek, Landuit want jy wil mos.

15. ’n Besonder wrange ironie van die Groot Vlug wat sedert die laat 1990’s onder sommige Afrikaners posgevat het, is dat dit nie net in vele opsigte ’n regstreekse gevolg is van die ANC se swak regering en weiering om met welmenende minderheidsgroepe saam te werk om van die land ’n sukses te maak nie, maar dat vele van hierdie Afrikaners enorme sukses in die buiteland behaal – en les bes in die gedaante van Elon Musk en andere ’n regstreekse rol speel in die enorme druk wat nou op die ANC in die besonder en die RNE en ander politieke rolspelers in die algemeen uitgeoefen word. Praat van “chickens that are coming home to roost” – en op watter manier dié “chickens” nie nou huis toe kom nie. En ons kan seker wees dat Musk en ander Afrikaners en oud-Suid-Afrikaners in die VSA genoeg presteer dat hulle in Trump se oë nou ’n soort kulturele ekwivalent van skaars metale is wat jy na jou arbeidsmag probeer lok deur die amptelike toekenning van vlugtelingstatus.

16. Tydens die Protea-krieketspan se roemryke oorwinning van 3–1 in die toetsreeks wat hulle in 2008 op toer teen Engeland behaal het – en wel teen ’n Engelse span met oud-Suid-Afrikaners soos hul kaptein, Andrew Strauss, asook Kevin Pietersen in hulle geledere – het een of ander koerant ’n spotprent geplaas. Dit beeld twee Engelse toeskouers langs die veld uit en die een wat meewarig vir die ander een sê: “Their South Africans are better than our South Africans.”

........
Wat ons ook al van Trump en sy maat, Musk, dink, mag dit dalk net wees dat hulle hierdie land nou die nodige hupstoot gegee het om soos nooit tevore nie werklik saam te werk om ons enorme potensiaal te begin verwesenlik – nes Amerikaanse sanksies en disinvestering ons ook sowat 40 jaar gelede danksy onder meer suksesvolle buitelandse kommunikasie deur die ANC ons ’n stap nader hieraan gebring het.
........

Terwyl daar nog genoeg Afrikaners en Suid-Afrikaners van Britse en Joodse afkoms is wat hier in Suid-Afrika vasbyt om te midde van uitdagende omstandighede te floreer, sal Span Suid-Afrika nog vir ’n tyd lank kan sê dis mense wat deel vorm van óns span se Suid-Afrikaners wat ons in staat stel om saam te gesels met die oud-Suid-Afrikaners in Span VSA. Maar dit gaan nie noodwendig vir altyd so bly nie. En as ons wil hê dit moet liewers so bly, moet Suid-Afrikaners van die middelgrond wat hierdie land en al sy kultuurgemeenskappe se belange voorop stel, nou formeel in die partypolitiek en die burgerlike samelewing saamwerk. Geen meer ondermyning van die RNE of die blikkie van nasionale dialoog in die pad afskop nie.

17. Een van die moontlikhede van die onmiddellike Suid-Afrikaanse toekoms is dat, soos die somtotaal van eksterne bedreigings die einde van die vorige politieke bedeling onder leiding van die NP verhaas en met iets beters vervang het, die somtotaal van eksterne bedreigings met Trump se toetrede so pas hoog genoeg geword het om die einde van die huidige politieke bedeling onder leiding van die ANC te verhaas. Omdat hierdie land ’n baie lang geskiedenis van verdeel en heers het, is ons politici vanmelewe baie traer as die burgery op voetsoolvlak om met mekaar saam te werk. Wat ons ook al van Trump en sy maat, Musk, dink, mag dit dalk net wees dat hulle hierdie land nou die nodige hupstoot gegee het om soos nooit tevore nie werklik saam te werk om ons enorme potensiaal te begin verwesenlik – nes Amerikaanse sanksies en disinvestering ons ook sowat 40 jaar gelede danksy onder meer suksesvolle buitelandse kommunikasie deur die ANC ons ’n stap nader hieraan gebring het.

Luister na hierdie insetsel rondom die aangeleentheid, onlangs op RSG.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die ontbinding van die Weste – ’n oorsig oor Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident

Trump se uitvoerende bevel en die Onteieningswet: Wat nou?

Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe

Die einde van die Amerikaanse republiek?

Elders gesien: Dit word deur kwaadwillige mense so geskets

Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act

  • 4

Kommentaar

  • Dankie vir weereens 'n uitstekende artikel. SA onderskat die gebeure wat nou in die buiteland afspeel. Ek hoop dat van die Afrikaaanse politieke kommentators en sakemense kennis neem van die skrywe.

  • "[Toe] gaan die twee opkomende nasionalistiese bewegings in Suid-Afrika oor tot verset. In 1912 stig die Afronasionaliste die voorloper van die ANC, naamlik die South African National Native Congress in Bloemfontein; en in 1914 stig die Afrikaner-nasionaliste ook in Bloemfontein die Nasionale Party (NP)"

    Om die twee bewegings op gelyke voet te takseer is absurd.

    Die ANC lede is in 1910 van hul burgerskap onteien, die wit-NP manne had volle burgerskap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top