
Foto: Rhys Abel op Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Beste Vlugtelinge
Heel eerste wil ek julle gerus stel en verseker dat ek die eerste persoon is wat vlugtelinge aanmoedig om hulle veiligheid en hulle gesinne eerste te stel.
Net verlede week het ek gesien hoedat daar ’n massagraf gegrawe word buite Goma in die DRK om die ongeveer 3 000 lyke ná die slagting daar te begrawe. Ek het ook gelees dat honderde vroue verkrag was voor hulle vermoor was. Honderde. Dis reg en dis goed dat enigeen wat dit oorleef het, moet vlug. En as hulle by ons kan uitkom, dan is dit goed en reg dat ons regering hulle inneem. Daar is niks erger as om onveilig in jou eie land te wees en geen ander heenkome te hê nie.
Maar ek het nog niks gesien of gehoor van massagrafte om vermoorde Afrikaners hier by ons te begrawe nie. Die bose linkse media hier in die land steek seker die nuus weg vir ons. Is dit dalk omdat hulle kop in een mus is met die bose ANC-regering? Maar wat dan van AfriForum en Solidariteit en hulle nuusbronne? Hulle sou mos basuin geblaas het dat die berge antwoord gee as daar massamoorde van Afrikaners was. Kan dit wees dat hulle tjoepstil is omdat daar nie massamoorde is nie?
........
Of is dit ’n eenvoudiger geval van dat julle gelykheid met swart en bruin as onderdrukking ervaar en dat dit die ware rede vir die ontevredenheid is?
........
Of is dit ’n eenvoudiger geval van dat julle gelykheid met swart en bruin as onderdrukking ervaar en dat dit die ware rede vir die ontevredenheid is?
Maar goed, ek verstaan julle hou nie daarvan dat beweegredes bevraagteken word nie. Dis duidelik dat ’n hele klomp van julle, meer as 44, sedert Vrydag met ’n lied in die hart loop, want julle Daddy Trump staan op vir julle. Het julle al by Shoprite en Spar gevra hulle moet hulle bokse vir julle hou? Of nee wag, julle kan darem seker, ten spyte van julle onderdrukking, betaal vir ’n maatskappy om julle goedjies te kom pak en versend. Anders as ander vlugtelinge vlug julle nie met net die klere aan julle bas en als wat julle op julle rug kan dra nie. Anders as ander vlugtelinge sal julle toegelaat word om julle huisruim en oupa Sagrys se stinkhouttafel wat ’n familie-erfstuk is en die Familiebybel met almal se doopdatums saam te neem.
Sê gou, het julle mooi gekyk na julle Daddy Trump se bevel? Kyk, hy is ’n eenvoudige man. Hy sê wat hy gaan doen en hy steek nie sy motiewe weg nie. Net ’n dom en/of naïewe mens sien hom nie kom nie. Kyk na die heel laaste paragraaf van sy uitvoerende bevel.
Artikel 5 (c) lui: “This order is not intended to, and does not, create any right or benefit, substantive or procedural ...” Dis legalese vir “Moenie te gou bly raak nie – net omdat ek dit sê beteken dit nie ek gaan iets doen daaromtrent nie.” Dalk skrik dit julle nie af nie, en dis goed so. Was dit ek, sou ek terugflitse gehad het na al die mense wat oor die jare al agtergekom het dat julle Daddy Trump vere voel vir enigeen anders as homself. Sy eie visepresident het hy aan genade uitgelewer toe die Capitol bestorm was. Hoekom sal hy meer vir julle omgee? Hoeveel beloftes het hy al gemaak wat hy nie nakom nie? Maar julle glo hy gaan julle op die hande dra? Mooi man.
Maar terug na die uitvoerende bevel. In artikel 4 belowe hy: “The Secretary of State and the Secretary of Homeland Security shall take appropriate steps, consistent with law, to prioritize humanitarian relief, including admission and resettlement through the United States Refugee Admissions Program, for Afrikaners in South Africa who are victims of unjust racial discrimination.” Dalk het hy vergeet dat hy al op 20 Januarie USRAP, die United States Refugee Admissions Program, opgehef het, en dat dit tans nie in werking is nie en daar geen begroting voor bestaan nie. Maar as julle Daddy Trump iets sê, glo julle mos blindelings, of hoe? Geloof soos ’n mosterdsaad is al wat nodig is, in die Gospel van Trump.
Maar goed, kom ons los nou maar my onnodig tegniese bekommernisse. Julle Daddy Trump gee om vir julle en sal nooit in der ewigheid toelaat dat julle julle gemaklike lewens omverwerp vir die lugkastele wat julle nou al bou nie.
Dalk het die skoenlappers van opgewondenheid nog nie gesak nie, maar dink tog maar aan die implikasies as julle besluit om te vlug.
Het julle al gedink oor hoe julle lewe daar gaan wees? Laat ek raai: Julle het visioene dat elkeen van julle dadelik ’n drieslaapkamerhuis met swembad en huishulp gaan kry die oomblik dat julle daar land. Of dalk word julle sommer ’n plaas in die area van julle keuse toegewys. Dis nou na die parade wat daar op die lughawe vir julle gehou was, met al die mense wat hande klap en julle met trane in die oë verwelkom. Word wakker. Julle sal gaan waarheen hulle julle stuur, bly waar hulle julle laat bly, en doen wat hulle sê julle mag doen. Jy sal gelukkig wees as jy in ’n motelkamer geplaas word en nie in een of ander kamp nie. Anders as met gewone immigrasie, waar jy dalk alreeds ’n werksaanbod het, mag jy nie werk nie. Vir maande, en in sommige gevalle jare. Jy moet dus sorg dat jy genoeg geld het om vir ’n lang tyd in dollars te oorleef. Agtien rand teen die dollar, ingeval jy wonder.
Watse werk gaan jy doen, wonder jy? Mediese personeel en ingenieurs is altyd welkom, maar hoekom as vlugteling gaan as jy in elk geval maar die gewone immigrasieroete kon volg? Ek reken die enigste mense wat as vlugtelinge soontoe wil gaan, is dié wat nie gesogte beroepe het nie. En julle, is ek bevrees, gaan moet werk doen, as julle ooit werk kry, wat julle oor julle dooie liggame nie hier in Suid-Afrika wil doen nie. Kelnerinne in restaurante. Of die skottelgoedwassers. Dalk kan julle op die lande gaan werk om die oeste in te bring. Die Meksikane is mos hoeka almal gedeporteer of het gevlug. As julle in dele van die land is waar hulle nog huishulpe aanhou, dan kan julle seker as bediendes gaan werk. Maar ek moet waarsku, die meeste Amerikaners het nie bediendes nie. Wat ook beteken julle sal maar moet leer om self julle bed op te maak en julle eie huis/paleis/pandok/varkhok skoon te maak.
Hoe gaan julle van punt A na punt B kom? Amerika het nie vreeslik goeie openbare vervoer nie, en die stede is nie regtig uitgelê vir mense wat moet stap nie. Met al die tariefverhogings gaan karre al hoe duurder word om aan te koop, so hoe gaan julle maak om te reis?
........
As julle jonk genoeg is om kinders op skool te hê, dan is daar darem een gerusstelling. Julle hoef nie meer julle hande stomp te baklei oor moedertaalonderrig nie. Julle kinders sal in Engels onderrig word.
........
Gepraat van tariefverhogings, kos gaan ook al duurder word. Vergeet maar van steak eet. En die hele laaste verkiesing het om die prys van eiers gegaan, so dalk moet julle maar dit ook uit julle dieet sny. Dalk moet julle dit in elk geval uit julle dieet sny, want daar is glo vreeslik voëlgriep. Julle sal nie kennis kry van enige uitbrekings nie, want julle Daddy Trump het mos in een van sy ander uitvoerende bevele die gesondheidswaghonde en die landbouwaghonde gemuilband. Hier in die bose Suid-Afrika is daar sekere siektes waaroor die publiek in kennis gestel moet word. Dis nie meer die geval in Amerika nie. Jy kan dus langs iemand met tuberkulose beland, en daar is geen verpligting op enigeen om jou te waarsku nie.
Kom ons praat gou ’n bietjie oor mediese sorg, terwyl ek dit nou noem. Ek weet julle almal bevuil julleself nou oor die nasionale gesondheidsorg wat die bose ANC wil inbring. Baie Amerikaners word bankrot gemaak na ’n mediese intervensie. MedicAid en Medicare is al twee nou in hulle kanon in – nie dat julle as vlugtelinge daarop kon staatmaak nie. As enigiets met julle gesondheid verkeerd gaan, is julle in julle peetjie. En julle is vlugtelinge, onthou. Julle kan nie vinnig terugkom Suid-Afrika toe om julle huisdokter te kom spreek nie.
As julle jonk genoeg is om kinders op skool te hê, dan is daar darem een gerusstelling. Julle hoef nie meer julle hande stomp te baklei oor moedertaalonderrig nie. Julle kinders sal in Engels onderrig word. Julle kan hulle seker tuis onderrig, maar enige gestandaardiseerde toetse sal steeds in Engels wees as julle hulle kwalifikasie erken wil hê. En kort voor lank moet julle maar leer om Engels met julle kleinkinders te praat, want hulle sal nie Afrikaans kan praat nie. Kyk maar wat in Patagonië met die Afrikaners gebeur as julle my nie glo nie.
.........
Hoekom, dink julle, is Steve en Kallie en daai span nie al lankal Amerika toe om hulle heil daar te soek nie? Kom ek help julle.
.........
Hoekom, dink julle, is Steve en Kallie en daai span nie al lankal Amerika toe om hulle heil daar te soek nie? Kom ek help julle. Want hulle weet daar is hulle irrelevant. Daar kan hulle nie geld soos bossies maak uit julle vrese soos wat hulle hier kan doen nie. Hulle sal nooit trek nie. Dit gaan te lekker sit-sit-so hierso. Hulle weet die gras is net groener daar waar die mis die dikste gesmeer is, en hulle weet waar hulle die mis gestrooi het.
En dan, net voor ek koebaai sê, hoekom dink julle is Daddy Trump nou eers bekommerd oor julle, nadat AfriForum en Solidariteit destyds al gaan voorbrand maak het? Hoekom skielik spesifiek nadat Bibi Netanahyu vir hom gaan kuier het? Is hy regtig besorgd oor julle, of gaan dit baie meer oor dit wat in artikel 1 uiteengesit word? Kom ek maak dit maklik, ek haal dit vir julle aan: “In addition, South Africa has taken aggressive positions towards the United States and its allies, including accusing Israel, not Hamas, of genocide in the International Court of Justice, and reinvigorating its relations with Iran to develop commercial, military and nuclear arrangements.”
Dit gaan glad nie om die hondjie nie, liewe vlugtelinge, dit gaan om die halsbandjie, en die oomblik as jy nie meer ’n useful idiot in diens van Daddy Trump se agenda is nie, gaan hy jou soos ’n warm patat los.
Maar moet asseblief nie dink dat ek jou probeer oorreed om hier te bly nie. Gaan. Ek gee jou my blessing. Stuur jou adres, ek sal kom help pak. Maar doen dit uit volle bors. Skeur die groen mamba op die oomblik as jy grondvat in Amerika. Doen afstand van jou Suid-Afrikaanse burgerskap. Moenie die moeite doen om vir SA Homecoming te vra hoekom soveel Suid-Afrikaners terugkom nie, en dit nogal uit polities en ekonomies stabiele lande nie. Gaan, julle, Daddy Trump wag vir julle.
Koebaai, and don’t let the door hit you on the way out.
Lees ook:
DA slaan vure dood oor Trump se bewerings oor Onteieningswet
Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act
On land, constitutional law and social justice | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Praktiese wenke as onteiening sonder vergoeding jou in die gesig staar
Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring
South Africa – and the world at large – will feel the impact of Trump’s climate change denial
Kommentaar
Uitstekende artikel.
Vra maar Rhoda Khadalie se skoonseun wat hy daarvan dink. Jou Afrikanerhaat steek jy weg agter swak satire.
Soos gewoonlik deurspek mer rassisme, anti-wit, anti-Afrikaner en anti-Amerikaanse retoriek. Gelukkig is LitNet nog daar as mediaplatform vir swak en ondeurdagte, rou rassistiese tirades en uitrygsels.
Die onderliggende haat, nyd, minagtende stereotipering en sarkasme jeens Afrikaners en “witheid” is maar ’n draad wat deur baie van die skrywer se ooremosionele tirades op LitNet loop. Dis darem lekker om ’n platform te hê waar so vreesloos en by herhaling ongebreideld mond uitgespoel kan word oor die een gekose veragte sondebok, sonder vrees vir teenspraak. Nee dankie. Ek laat my nie so verneder en slegsê nie.
Swak skryfwerk, en ongebreidelde nydigheid jeens mense wat nie vir vlugtelingstatus gevra het nie. En nie eers die stommerik van 'n oranje verskynsel ondersteun nie. Ag nee man. LitNet kan beter doen. Is daar regtig so min begrip vir doodgewone geregtigheid? Swak smaak en 'n klad op hierdie hogere nuusbrief.
President Trump het met sy 'Executive Action' verlede Vrydag vir Afrikaners wat voel dat hulle vervolg word in Suid-Afrika die geleentheid gebied om te hervestig in die VSA as 'n vlugteling (refugee).
Om in aanmerking te kom vir asielstatus moet (wit) Afrikaners bewyse kan lewer dat daar teen hulle op groot skaal gediskrimneer word en dat hul besittings, lewensstyl en veiligheid in gedrang is.
Hier is van die redes wat ons kan voorlê :
1. Daar is sterk gerugte dat Mrs Balls chutney en KOO-tamatiesous (én Marmite) na dekades van spyseniering gaan ontrek word van ons winkelrakke.
Dit sal die eetgewoontes van miljoene Suid-Afrikaners, maar veral wit Afrikaners ongekende skade berokken.
'n Braaivleis sal nooit weer dieselfde wees nie.
2. Gepraat van braaivleis dit is alom bekend dat die voorsiening van rooikranshout vir genoemde braai moeilik bekombaar is, veral in die Wes-Kaapgebied.
As Kapenaars weier ons om mieliestronke (Vrystaat) en/of brickets/houtskool te gebruik en sien ons dit as 'n ooglopende poging om ons van ons lewensregte te vervreem.
Ons eis dat rooikranswoude hervestig word.
3. Daar bestaan ook groot ongelukkigheid onder Afrikaners dat hul voorstedelike huise, plase, vakansiehuise, vloot BMW's en Mercedes Benze, Harley-Davidsons, ski-bote, Gucci klere en Johhny Walker (blue) buitensporig belas word.
Dit is teen die Grondwet en jaag korttermyn versekering op tot ongekende hoogtes.
(Outsurance advertensies op TV verwys)
4. Verder dring ons daarop aan dat ons beveiligde woongebiede, die sogenaamde 'gated communities', voorsien word van omringende watergragte, hoë infra-rooisatellietstelsels en ten minste een helikopter per wyk om veiligheid te verseker.
5. Hoog op die lys van onverdraagbare agteruitgang is die kwaliteit en kwantiteit van kos wat pasiënte aangebied word in Med-Clinics, Netcare en Life Healthcare na operasies.
Veral die koffie is aaklig en baie vermoed dat dit 'n onderduimse poging is om pasiënte langer siek te hou (lees: bly langer, meer kostes ens)
6. Waarskynlik die grootste uitbuiting van veral Afrikaners is die ongehoorde verhoging in die prys van sitplekke by stadions tydens Noord- vs Suid-rugbyderbys.
Vir rock konserte is dit nog erger.
Dit alles dui op onbillike ekonomiese praktyke en sameswerings teen Afrikaners wat hou van games en musiek in 'n ooglopende poging om ons te vervreem van ons geboortereg, om plesierig te wees.
Daar is baie ander uitdagings wat gelys kan word, die prys van bier, selfs 'n koppie koffie kos deesdae 'n fortuin en vertel die sakesektor van Die Burger-koerant dat die prys van groente en vrugte vanjaar met dubbelsyfers gaan styg.
En dan praat ons nie eers van inflasie en hoë rentekoerse nie.
Ja, Afrikaners is beslis nie meer plesierig nie en die regering (dis nou die swart komponent in ons RNE) is daarop uit om ons lewens ondraaglik te maak.
Dus, moet Trump en sy administrasie se aanbod van asiel ernstig opgeneem word.
Met die President se welbekende kontakte oral moet ek nog net op my aansoekvorm aandui of ek verkies om gratis behuising te kry by Ceasar's Palace in Las Vegas of Hefner se Playboy Mansion.
Dit is 'n gewigtige besluit.
'n Afrikaner is trots op sy Christlike geloof, en 'n ware Christene sal tevrede wees om sy land, volk and taal te verlaat, want sy behoort in die Hemel. Of beteken ons taal, ens meer as ons Verlosser?
Lees ook https://www.litnet.co.za/brief-aan-afrikaners/
Hierdie artikel is ongelukkig deurspek van ontoepaslike sarkasme, of selfs moontlik bewustelike aggressie. Ek dink die skrywer kon die problematiek meer gebalanseerd benader het.
Skitterend Bettina!
En aan die beswaardes: julle word nie te na gekom nie, julle voel te na gekom. 'n Klein maar belangrike verskil. Ek vermoed "Afrikanerhaat" is 'n kodewoord vir enigiemand wat van julle verskil.
Sarie, Melléta, waar is jul sin vir humor?
Ek deel hier en daar van jou sentimente. Tog dink ek die saak is darem meer genuanseerd. Baie mense werk reeds in die VSA. Veral op plase. Suid-Afrika se werkloosheid gaan bly toeneem. Die DA/ANC koalisie gaan nie die werkloosheid oplos nie. Hulle kan nie. Hulle het nie enige planne nie. Die regering se enigste plan is groter BEE-teikens. Dit is omdat die ANC groter premie plaas op herverdeling as op volhoubaarheid. Daarom is al die parastatale instellings in die grond in bestuur. Eskom, Prasa, Denel, die Poskantoor, Transnet ens.
Maar dis erger as dit. Baie van die plase wat die regering wil onteien, het niks met die landbou te doen nie. Die minerale rykdomme speel ook 'n rol, en daarmee saam, die BEE-deals. Daardie BEE-deals gaan slegs aan die mense met die regte konneksies. 'n Klein groepie elite. Dit bevoordeel gladnie die gemiddelde arm werklose mens nie.
BEE het niks opgelos in 30 jaar nie en die ANC se ENIGSTE plan is MEER AGGRESIEWER BEE. Sien byvoorbeeld hierdie video van Sakeliga:
https://www.youtube.com/watch?v=LGEJkvPNd7M
Sybrandus, die dame sou dalk kon agiteer dat oubaas Bing Crosby se " I'm dreaming of a white Chrismas" verban word.
Ai, ai, ai! En hier gaat ons alweer. Almal weer stewig ingegord in die wiptrein van "navel gazing". Kan ons nie nou, na al die jare, 'n bietjie terugstaan en uit 'n breër hoek na ons probleme kyk nie?
Afriforum is net 'n simptoom van 'n baie ernstiger probleem. Die huidige regering is die eintlike vark in die verhaal en kry 'n bietjie te veel lipstiek op die snoet. Skuldig aan jarelange verwaarlosing, wanbestuur en beleide wat die land se sukses en vooruitgang lelik geknou en selfs verwoes het. As die eens "glorious movement" die land reg bestuur en gelei (wat is dit?) het, het Afriforum nie naastenby soveel traksie gehad nie.
Dalk is daar ander groepe mense wat graag hulle eie lys van frustrasies en desperaatheid op 'n buitelandse platform sou wou lug, maar beskik nie oor die organisatoriese en finansiële vermoëns nie.
Ons hoor dikwels die uitdrukking "cometh the hour, cometh the man". Dalk is Trump (die besige, stoute karnallie!), moontlik net die "man" om ons almal in ons "hour" van nood onwetend 'n groot guns te bewys. Met 'n baie seer draaiknyp aan die regering se binneboud, kan hy hulle hopelik tot besinning bring.
Daar is niemand in die land wat die regering van koers kan laat verander nie. Ons het nie meer die tyd vir eindelose verkiesings om ons van 'n regering op hierdie trajek te verlos nie.
Ons sing hier in Bo-Karoo nog elke jaar van "I dreaming of a white christmas" wanneer temperature rondom 40°C is.