Die Amerikaanse President het op 7 Februarie 2025 ’n uitvoerende bevel geteken wat hervestiging van Afrikaners in die VSA prioritiseer. Persoonlik stem ek nie saam dat president Trump se bevel spesifiek vir Afrikaners moet wees nie; dit behoort te wees dat ’n uitweg vir alle ware Christene in Suid-Afrika verskaf is, ongeag hul kleur of taal.
Sosialisme en kommunisme het in elke sfeer in Suid-Afrika toegeneem, en geen ware gelowige kan tereg onder so ’n regeringskarakter bly nie. Sosialisme maak ’n man afhanklik van die staat, eerder as van sy Vader (Matt 6:25–33), en onder kommunisme behoort ’n man aan die staat, eerder as aan die Here (1 Kor 6:19–20).
Die oproep van die Heilige Gees aan alle gelowiges wat in Suid-Afrika woon, is: “Kom uit!”
Maar die direkte aanbod van die Amerikaanse regering is tans aan Afrikaners. Ek moedig jou aan, as jy ’n gelowige in Christus is, om die aanbod te aanvaar!
Baie van die Afrikaners wat ek ontmoet het, sê hulle gaan nie Suid-Afrika verlaat nie. Hulle waardeer “my land en volk en taal” te veel. Sommige voel “God het vir ons die land gegee.” Ander sê dat hulle “te veel werk in hul plaas belê het”, of dat “dit al geslagte lank in die familie is”.
Maar ’n gelowige is ’n burger van die Hemel (Fil 3:20), en sy hart hoort daar te wees (Matt 6:19–21)! Hy behoort bereid te wees om alles te verlaat (Mark 10:28–30). Hy behoort bereid te wees om sy land en volk te verlaat soos Abraham gedoen het. (Gen 21:1). Nasionale gevoelens en liefde vir kultuur behoort te vervaag met ’n ware gelowige – hy is ’n seun van God, en sonder nasionale identiteit in Christus (Gal 3:26–28). Hy is nie bekommerd oor wat “van sy vader oorgelewer is” nie, want hy het “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis, wat in die hemel bewaar is” (1 Pet 1:18 en 4).
Die Here Jesus is ’n teenwoordige Verlosser, en die Bybelgordelstreek van Amerika is deur die Hemel voorsien as ’n toevlugsoord vir Christene om na te vlug, totdat Hy kom om al Sy eie te haal. (1 Thes 4:15–17).
Die hede is ’n tyd van sif en toetsing. Waar die evangelie ook al gegaan het, versamel die Here nou die oes in bondels (Matt 13:30). Hy plaas toetse (bv transgenderisme) oral om belydende gelowiges te dwing om te wys waar hulle werklik staan.
Hierdie bevel is jóú toets! Dit is ’n aanbod van fisiese verlossing wat direk aan jou gemaak word.
Haat en bitterheid teen die Afrikaner deur sommiges in Suid-Afrika het nie in die afgelope 30 jaar afgeneem nie. ’n Profeet het baie jare gelede gesê dat teen die einde “die Afrikaners van die lamppale sal hang”. Ek sien nou dat God so liefdevol, so genadig, en so regverdig is dat Hy ’n uitweg vir alle Afrikaners verskaf! As jy ’n egte gelowige in Christus is, sal jy jou “volk en land en taal” prysgee en ontsnap terwyl jy kan! Dié wat weier om dit te doen, sal nie in staat wees om God te blameer vir wat met hulle gebeur nie.
Die tyd is naby (Op 1:3). Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê (Op 3:6).
In die Naam van die Here Jesus
Jared Pudney
Kommentaar
Wie by LitNet is verantwoordelik om die lesers te red van sulke dwase briewe? Jy het nie jou werk gedoen nie!
Die skrywer gebruik Bybelverse soos dit hom pas en verder praat hy van een of ander onbekende profeet? Hy het duidelik nog nie die Nuwe testament met INSIG gelees nie. En nou gebruik hy "jargon" wat hom laat klink na 'n Godsdiensgeletterde man van God.
Ja-nee, ek beaam jou reaksie. Verstommend dat dit gepubliseer word …
Ag, asseblief. Waar in jou lewe kom jy aan sulke blatante snert? Regtig? Deur sarsies uit die Bybel te kersie-pik om jou eie vervolgingswaan te bekragtig, is regtig vir my lagwekkend. Gaan bêre jou foeliehoedjie. Hierdie oorgeromantiseerde viktimisme raak nou afgesaag. My innige meegevoel met my mede-helderdenkendes wat hierdie twak moet lees.
Bly of gaan? - deur Pieter Krige, Orania
In ons almal se gedagtes. Sommige weet klaar dat hul sal bly, om hier te bou aan 'n toekoms, ander weet klaar dat hulle sal gaan, soos die deure oopgaan daarvoor, ander weet nie watter kant toe nie. Vanoggend is dit my beurt om te open by Volkskool en ek lees uit Esegiël 1; hier waar hierdie kind van God die heerlikheid van God aanskou in die wesens en die troon, God se heerskappy oor alle dinge, God Almagtig oor alle dinge, God in beheer van alle dinge. Hy sien dit in 'n beeld wat vir my te moeilik is om regtig te probeer verbeel. Die boodskap is eintlik eenvoudig en duidelik: Hierdie God wat heerskappy oor alle dinge het, wat in beheer van alle dinge is, is nie net in die beloofde land nie, maar is saam met sy kinders ook in die ballingskap.
Bly of gaan... Ek glo elkeen van ons se pad is uitgelê en ons sal daarop gaan, hetsy deur soos die apostels ons sandale aan te trek en te stap, soos Jona ingesluk en uitgespoeg word of soos Dawid in die koninkryk... Esra en Nehemia met die terugkeer en opbou.
Esegiël se beeld is eintlik so oorweldigend vertroostend. Waar jul ook al mag gaan, Ek is met julle.
Daar is die uitdrukking dat huis is waar die hart is. Dit is mooi. Maar huis is ten diepste hier in die tydelike juis dit, tydelik; ons, reisigers op pad na die ewigheid. Vir ons, nadat hierdie vlietende leeftyd uitgeloop het, na veertig of sestig of tagtig of honderd jaar, vir ons is ons huis in die ewigheid, by ons Almagtige God... soos wat Hy ook in die tydelike, hier by ons, waar ons ook al is kom woning maak. “God bly met u waar u ook mag gaan...” Ek hoor die melodie vanoggend in my gedagtes, ek hoor die woorde, en ek spreek, so in my gedagteswêreld, hierdie seën oor my geliefde volk uit. “God bly met u”.
Genade, barmhartigheid en vrede, van God ons Vader, en ons Here, Jesus Christus, deur die werking en inwoning van God die Heilige Gees. Amen.
Wat 'n vreemde en bisarre konkoksie is hierdie brief darem nie. Ek is dankbaar Louis en Isa het my voorgespring, want ek het sit en wonder of my oordeel my in die steek laat. Genade mens! Christene verdien 'n plekkie in die son en ook op elke forum, maar mens verwag darem 'n mate van redenasievermoë. Of miskien is my idees oor Christenskap net verstok. Ek moet bieg dat ek eintlik merendeels slegs van die NG kerk-sekte eerstehandse ervaring het. Soos ek Christene ken, weet jy nooit presies lekker waar jy staan ten opsigte van die begrip Christen nie. Elke denominasie het 'n ander interpretasie, 'n ander benadering tot die Bybel. In my jare as kind, was die NG kerk toe reeds al versigtig vir die Bybel, na al hulle blapse met apartheid en vroue en so. Die grootdopers het altoos gesê, julle NG-dominees bring nie Gods Woord na die erediens toe nie. Julle lees net 'n ou kort stukkie uit die Skrif, en praat dan 'n hele uur lank uit eie insig. En dis 'n sondige insig daai. Want die mens is mos o so sondig.
Maar ek sien jy skrik nie vir die Woord nie. Jy is doodseker jou lees van hom is korrek.
Mense moet ingeligte besluite maak. En die Bybel is nie geskryf vir die politiek en lewensuitdagings van die 21ste eeu nie. Om vlugtelinge te word, is 'n 2de klas-lewe. En dit lyk my daar gaan geen waarborge wees dat die VSA burgerskap gaan gee na 5 jaar nie. Dan stuur hulle jou perdalks nog terug na 5 jaar Suid-Afrika toe, en dan wat? Dan kom jy hier terug aan met niks!
So die storie lyk vir my na 'n dobbel.
Vir werklose mense, veral vir jong werkloses, open dit dalk deure.
Die klomp wat egter die meeste aan vervolgenswaan ly, die Sollieforums van die wêreld, tesame met hulle adjudante, het reeds aangedui die lewe is eintlik nie so sleg hier nie, is eintlik heel lekker hier, nie lekker genoeg om nie oorsee te loop en moun nie, maar lekker genoeg dat hulle nie wil trek nie.
Yes, please ... just go!
Ek vertrou mnr Pudney se tasse is reeds gepak en sy visum is gereed. Haas jou, want die nag kom nader! Vaarwel!
Ek klik op Jared se naam en sien hy's reeds in die VSA, "wagtend op sy Verlosser se koms uit die Hemel". Hoekom sou 'n god, as daar ooit een is, so 'n godverlate land kies om enigsins by aan te doen?! Jared moet maar intussen lekker geld maak - ek vermoed mammon is nommer 1 in die VSA. Hierdie lyk soos hy, volgens die datums. https://www.thegleaner.com/story/news/2016/11/03/auto-supplier-build-90-job-manufacturing-plant-henderson/93168790/
Wanneer die heel eerste stel Bybelverse wat na verwys word (Matt 6:25-33) letterlik die teenoorgestelde verduidelik as wat beweer word, dan skud mens net jou kop.
Trump is juis die wêreldse skat wat Christene moet afsweer. Die valse god. Letterlik die goue kalf.
https://www.youtube.com/watch?v=J3jy9Emy64M&t=3s
Vir elke versie wat Jared aanhaal, is daar 10 wat die teenoorgestelde impliseer. Dis elkeen se eie keuse hoe hy of sy die Bybel wil interpreteer en of hulle wil bly of ry, MAAR hulle moet onthou jy kan nie Amerika vetrou nie!
Liewe genade - ek het gedink Christene is die sout vd aarde en lig vd wêreld. Hoe gouer ons weet wie bly, hoe gouer kan ons aan die werk spring.
O liewe hemel nee, dis nie hoe alle Christene dink of die Bybel verstaan nie.
Against stupidity, we are defenceless. Dietrich Bonheffer
Ek haal aan: "Trump is irresistible to the moron mind. And the world has plenty of such."
"Dit is ’n aanbod van fisiese verlossing wat direk aan jou gemaak word." Miskien wel eerder fisieke verlossing na 'n land wat ook maar net plek-plek veiliger as S.A. is...
Maar met die Christenskap waarvan Trump die prototipe is, wil ek eerder niks mee te doen hê nie!