
Ali van Wyk skryf op Facebook:
...
Dit is nie ’n lekker instrument vir grondgryp nie, en dit het nog nie gebeur nie. Dit is hoekom dit so frustrerend is dat Trump nou al hierdie gatvlieë opgejaag het
...
Ek dink ek is reg as ek sê die enigste grond wat vir politieke doeleindes onteien is in Suid-Afrika, was deur die Apartheidsregering gedoen om grond in te hande te kry vir die tuislande. Die ANC het nog nooit enige grond vir die doel van hervorming of restitusie onteien nie[1]. (Laat weet my as ek dalk verkeerd is). En die Apartheidsregering het dit nie teen geen vergoeding gedoen nie, maar ek onthou die oumense het gesê dit was maar onregverdig.
Die ANC-regering (en ek is nie ’n fan nie) kan ook onder die vorige onteieningswetgewing grond vir hervorming en restitusie onteien het, baie goedkoper as om die willing buyer- / willing seller-beginsel te volg. Die grondwet laat dit toe. Hulle het dit ook nooit gedoen nie.
...
As jy die ANC wil fight, fight hulle op korrupsie.
...
Jy kan met regsgeleerdes praat wat spesialiseer in grondregte en hulle sal omtrent almal vir jou sê die nuwe Onteieningswet is nie veel anders as wat jy in baie liberale demokrasieë kry nie. ’n Demokrasie moet ’n Onteieningswet hê en ons moet spesifiek een hê om klousule 25 in die grondwet vleis om die bene te gee, wat eksplisiet sê dat grond deur onteiening gevat kan word vir hervorming (al het dit nog nie gebeur nie).
Dieselfde regsgeleerdes (en baie ver-linkes wat pro-grondgryp is) sal ook vir jou sê hierdie wet is nie spesifiek ’n baie goeie tool om grond vir hervorming in die hande te kry nie, omdat die wet eintlik ’n Onteieningswet is wat eintlik op die tradisionele onteieningsaspekte fokus soos vir paaie, damme, skole, en die soortvanding, en nie landbougrond nie (dis kinda versool om ook vir hervorming te werk), en ook omdat dit ’n helse proses is om te volg om grond te onteien, wat ruim voorsiening maak vir howe se betrokkenheid. Ek verstaan die wet is ook nogal swaar gelaai aan die eienaar se kant.
Om grond teen R0 te onteien gaan baie moeilik wees, want daar is spesifieke vereistes, soos dat die grond nie gebruik word nie, of erg verwaarloos is en ’n gesondheidsrisiko is, of waar die eienaar dit glad nie gebruik of ontwikkel of inkomste genereer of planne het om dit te doen nie, en nog ’n paar ander voorwaardes. Die vergoeding word uitgewerk met ’n som wat regverdig en billik moet wees (in die grondwet), en as die som by R0 uitkom, moet dit ook regverdig en billik wees, en dit kan deur die hof hersien word, en sover ek verstaan kan die eienaar die agent, wat die onteiening doen, versoek om die hof hieroor te nader, sodat nie net op die eienaar val nie. Die teoretiese moontlikheid om grond teen R0 te onteien met hierdie wet is nie naastenby dieselfde as wat die EFF wou gehad het om die grondwet te verander om grond te gryp teen geen vergoeding nie. Dit word deur kwaadwillige mense so geskets.
Dit is nie ’n lekker instrument vir grondgryp nie, en dit het nog nie gebeur nie. Dit is hoekom dit so frustrerend is dat Trump nou al hierdie gatvlieë opgejaag het, wat net geïnteresseerd is om kak te maak, soos The Kiffness en Kallie en kie. Trouens, Ernst en Kie is waarskynlik die mense wat hom met “inligting” voer.
Daar is soveel belangriker battles om te veg. Soos die wet op gesondheidsversekering, wat nog baie maklik ’n gemors kan raak. Of Bela, as jy dan so voel, hoewel dit ook nie vir my so clear cut is nie. As jy die ANC wil fight, fight hulle op korrupsie.
Nota:
[1] LitNet het gevra dat Van Wyk verduidelik. Hy het geskryf: “Dis ’n feit. Al die grond wat deel is van grondhervorming en restitusie is deur willing buyer-/willing seller-ooreenkomste bekom.”
Lees ook:
DA slaan vure dood oor Trump se bewerings oor Onteieningswet
Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act
On land, constitutional law and social justice | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Praktiese wenke as onteiening sonder vergoeding jou in die gesig staar


Kommentaar
Skrywer vra vir bewyse van onteiening wat alreeds gepoog is. Luister gerus hierna
https://youtu.be/zTUPx1Yrn8I?si=HhNQUzvEz_ZD2aor
Lees ook hierdie berig wat bewys dat Akkerland nie gevat is nie: https://www.news24.com/news24/southafrica/debunking/no-akkerland-boerdery-wasnt-expropriated-without-compensation-owners-sold-it-privately-for-r80m-20250206?lid=6db17nrv9ydw
Soos wat ek vir Theo de Jager verstaan, is sy besware die volgende:
1) Historie het onteieningswette die mag om grond te onteien beperk tot die nasionale regering. Dit was met ander woorde slegs die nasionale minister wat die politieke en wettige mag gehad het om grond te laat onteien. Met die nuwe wet word die mag aan al drie vlakke van die regering uitgebrei. Voortaan sal provinsies sowel as munisipaliteite dus grond kan onteien. Die aanslag gaan dus waarskynlik veel sterker wees.
2) Die geval van Akkerland is belangrik, want hoewel die plaas uiteindelik teen 'n wins verkoop was, was dit voorafgegaan deur 'n hofsaak waarin die aansoekers die grond wou laat onteien. Die hof het uiteindelik bevind dat die aansoekers geen gronde vir onteiening gehad het nie. En die saak was gekenmerk aan intimidasie. Die eienaar is ook slegs 7 dae gegun om sy bates te verwyder, waarvan 4 dae vakansiedae was, dit was 'n langnaweek, effektief 3 dae om sy plaas met al die wilde diere te ontruim.
3) De Jager vra egter of sulke misbruike nie nou die norm sal word met die nuwe wet nie. In die geval van Akkerland was die eienaar gelukkig om hulp te kon kry om die saak in die howe te beveg. Nie almal gaan so gelukkig wees om deur Afriforum gehelp te word nie. Hofkostes kan astronomies raak. Daardie spesifieke saak het 750 000 rand gekos om te beveg. Vir die meeste eienaars gaan daar geen hulp wees nie, en sal hulle op hulself aangewese wees.
4) De Jager stel verder: Hoekom sal 'n sakeman/boer enige belegging maak in landbougrond, wanneer die moontlikheid van onteiening oor sy kop hang? Byvoorbeeld, sommige gewasse neem bv. 7 jaar om te groei. Maar as jou plaas oor 7 jaar dalk nie meer joune gaan wees nie, daar geen waarborge bestaan nie, hoekomdan die kostes aangaan om enige iets op die plaas te ontwikkel?
In kort, argumenteer De Jager dat die nuwe wet skep die klimaat waarvolgens grondgrype kan gebeur.
Van die meriete van hierdie dinge weet ek niks, dit is maar net hoe ek hom verstaan.
Akkerland is aan die eienaar teruggegee na 'n bitter duur hofsaaak wat die eienaar nie aleen sou kon voer nie. Izak, gaan luister weer mooi, die titelakte was reeds oorgedra na die regering en die hof het hulle beveel om dit terug in die oorspronklike eienaar se naam oor te dra. Onder die nuwe wet sou die eienaar die plaas verloor het.
Die regering het die gebou van Plaaswerf Beleggings in Lydenburg, wat hulle vir 'n lykshuis huur, so pas onteien nadat hulle vir maande in gebreke gebly het om die huur te betaal.
Die wet is vaag en oop vir interpretasie. Dit onderskei tussen 'publieke doeleindes' en 'publieke belang'. Dit is dus nie dieselfde as ander onteieningswette nie, waar die onteiening beperk is tot 'publieke doeleindes', byvoorbeeld in gevalle soos die ontwikkeling van infrastruktuur, ens. Die patroon in Suid-Afrika is ook nie dat SEB-projekte die arm inwoners van die land enigsins baat nie. Dit is eerder so dat slegs die mense met die regte konneksies die voordeel trek.