- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Sê van Trump wat jy wil, maar hy is ’n wandelende advertensie vir hoe doeltreffend burokrasie kan wees wanneer jy nie omgee wie in die proses vertrap word nie.
Hy is Maandag ingehuldig en alreeds trek die skokgolwe van sy eerste dag in beheer deur die wêreld. Hy het afgeskop deur ’n reeks uitvoerende bevele te teken. Sommiges daarvan is ongrondwetlik en ek verwag dat daar nog heelwat litigasie daarrondom sal plaasvind.
22 state het alreeds dagvaardings uitgereik nadat Trump ’n uitvoerende bevel geteken het wat burgerskap deur geboortereg wegneem. Hierdie reg is in die veertiende wysiging tot die grondwet beskerm en kan dus nie deur uitvoerende bevel gewysig word nie, maar dit keer Trump en sy makkers nie. Dit is maar die eerste salvo in die geveg teen immigrante, wettig of andersins. Totdat die sake voor die hof dien, bestaan daar wesenlike gevaar dat gesinne van mekaar geskei kan word en dat Amerikaanse burgers gedeporteer kan word na lande waar hulle niemand ken nie en dalk nog nooit was nie.
Alreeds word die woord deporteer nie meer gebruik nie, maar repatrieer, asof hierdie mense bloot teruggestuur word na waar hulle vandaan kom.
Ironies is natuurlik die feit dat al Trump se kinders, behalwe die een verwek met Amerikaanse burger Marla Maples, burgerskap deur geboorte bekom het omdat hulle ma’s nie Amerikaanse burgers was toe hulle gebore is nie. Dit sluit blykbaar Barron Trump, die jongste seun, in. Verwag ons dat enige ICE-lede aan die Withuis se deure gaan kom klop en Barron repatrieer? Natuurlik nie, die reëls geld nie vir almal nie.
...........
“All are equal, but some are more equal than others,” het Animal Farm ons destyds al gewaarsku.
............
“All are equal, but some are more equal than others,” het Animal Farm ons destyds al gewaarsku.
Trump het ook TikTok herstel vir ’n tydperk van 90 dae nadat die Hooggeregshof dit met ingang van Sondag opgeskort het. TikTok-beïnvloedaars is natuurlik in die wolke daaroor, waarskynlik onbewus daarvan dat dit Trump in sy eerste administrasie was wat die bal aan die rol gesit het om TikTok uit die land te skop.
Meer kommerwekkend is egter dat Trump skeiding van magte summier ignoreer deur ’n hofbevel omver te werp. Dit, tesame met die uitvoerende bevel wat die grondwet probeer verander, dui op ’n ongeërgdheid teenoor die wetgewende gesag, wat die eerste tekens van ’n outokratiese gesindheid is.
Die Spaanse weergawe van die Withuis se webwerf is intussen ook verwyder en gebruikers kry nou ’n 404-foutboodskap wanneer hulle toegang daartoe probeer kry. Woordvoerders van die Withuis het aangedui dit sal binnekort weer beskikbaar wees, maar dit is ook ’n aanduiding dat diversiteit nie meer geduld sal word nie.
Op daardie noot, enige diversiteitsinisiatiewe op federale vlak is deur middel van ’n ander uitvoerende bevel gestaak. Slegs twee geslagte sal voorts erken word en in die toekoms sal gebruik van geriewe en fasiliteite, insluitend badkamers, streng volgens die biologiese geslag van die gebruiker geskied. Wat beteken dit? In praktyk sal transgender vroue byvoorbeeld nou in manstronke aangehou word, wat hulle blootstel aan seksuele en ander tipes geweld.
’n Biden-era-beperking op medisynepryse is ook verwyder, wat beteken dat gesondheidsorg vir baie mense nou onbekostigbaar sal word. Ek vermoed dat baie Trump-ondersteuners binnekort die gevolge van hul kiesersbesluite aan eie bas gaan begin voel.
Op internasionale vlak het die VSA onttrek aan die Parys-klimaatsakkoord. Soos een nuusberig dit gestel het: “Drill, baby, drill” is voortaan aan die orde van die dag.
Trump het verder die proses begin om binne 12 maande te onttrek aan die Wêreld Gesondheidsorganisasie. Die VSA dra ongeveer 18% van die befondsing vir die organisasie by. Vir 2024–2025 verskaf die VSA 75% van die begroting om HIV en ander seksueel-oordraagbare siektes te bestry en meer as 50% van die begroting om tuberkulose te bestry. Alle Amerikaanse werkers en kontrakteurs wat met die WGO saamwerk, word ook onttrek, wat beteken dat daar aansienlike verlies aan ondervinding gaan plaasvind.
PEPFAR, die Amerikaanse antwoord op HIV- en Vigs-bestryding, se befondsing word ook einde Maart 2025 beëindig, met geen aanduiding dat dit hernu sal word nie.
...........
Die potensiaal vir katastrofiese gevolge wanneer befondsing in beide hierdie inisiatiewe gestaak word, kan nie genoeg onderstreep word nie, veral indien daar binne die volgende vier jaar weer ’n pandemie sou wees.
..............
Die potensiaal vir katastrofiese gevolge wanneer befondsing in beide hierdie inisiatiewe gestaak word, kan nie genoeg onderstreep word nie, veral indien daar binne die volgende vier jaar weer ’n pandemie sou wees.
Verder het hy ’n 90 dae staking op alle VSA- buitelandse ontwikkelingshulp geplaas.
Trump het ook 1 500 van die persone wat aan die Januarie 6-opstande deelgeneem het, begenadig. Dit maak die deur oop vir meer mense om in die toekoms namens hom onwettighede te begaan.
..............
Waar ek egter wil stilstaan, is by iets wat by die partytjie na Trump se inhuldiging gebeur het. Elon Musk het tydens sy toespraak twee keer die Nazi-saluut gemaak.
..............
Waar ek egter wil stilstaan, is by iets wat by die partytjie na Trump se inhuldiging gebeur het. Elon Musk het tydens sy toespraak twee keer die Nazi-saluut gemaak. Natuurlik was daar feitlik dadelik mense wat verskoning daarvoor gemaak het en beweer het dit was glad nie ’n Nazi-saluut nie, maar bloot opgewondenheid aan sy kant. Elise Stefanik, Trump se keuse as VSA-ambassadeur aan die Verenigde Nasies, was een van die politici wat verskoning probeer maak het tydens ondervraging deur senator Chris Murphy. Murphy het toe voortgegaan om verskeie verregse kommentators en politieke bewegings aan te haal wat almal aangedui het dat hulle dit as ’n simbool van wit oorheersing sien.
View this post on Instagram
Dat Musk dit so openlik sou doen, is ongelukkig nie verrassend nie. Dit beteken natuurlik dat Jode binne die VSA nou minder veilig is as wat hulle voorheen was. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ons berigte gaan begin sien van sinagoges en Joodse besighede wat aangeval word. Anti-Semitisme is ingebed in die Amerikaanse regse gemoed.
Wanneer een van Trump se mees sigbare bondgenote, iemand wat selfs voor sy kabinet geplaas is tydens sy inhuldiging, so openlik anti-Semitiese gedrag openbaar, dan wonder ek tot watter mate die verhouding tussen Trump se regering en Bibi Netanyahu se Israeli-regering gaan verander. Anders as Biden, is Trump immers nie ’n uitgesproke Sionis nie. Gaan Trump sy Amerika Eerste- buitelandse beleid aanpas om ook geldelike hulp en wapens aan Israel op te skort? Dit sal, terloops, een Trump-besluit wees wat ek heelhartig sal ondersteun. Kan Netanyahu dit polities bekostig om ’n verhouding te bou met ’n regering wat Jode, nie net in Amerika nie maar ook elders, in gevaar stel? Hy is alreeds in Israel besig om vir sy politieke voortbestaan te veg.
Trump is alreeds in sy eerste paar dae besig om sy vuis te bal en Amerika te onttrek aan die meeste buitelandse inisiatiewe. Of dit permanent is of net ’n intimidasietegniek om later meer mag te beding, moet nog gesien word. Intussen bestaan daar die gevaar dat groot verskuiwings internasionaal kan plaasvind.
................
Trump is alreeds in sy eerste paar dae besig om sy vuis te bal en Amerika te onttrek aan die meeste buitelandse inisiatiewe. Of dit permanent is of net ’n intimidasietegniek om later meer mag te beding, moet nog gesien word. Intussen bestaan daar die gevaar dat groot verskuiwings internasionaal kan plaasvind.
..............
Suid-Afrika moet waarskynlik maar gereed maak dat ons nie veel langer deel van AGOA gaan wees nie.
Alle aanduidings is in elk geval dat Trump 2.0 meer kragdadig gaan optree as voorheen, minder respek vir die reg gaan hê, meer onverdraagsaamheid gaan aanmoedig en al verder regs gaan skuif.
Ek het my paspoort, met die Amerikaanse visum geldig tot 2032, maar eenkant geskuif. Die volgende paar jaar is die VSA nie ’n plek waar ek myself sien nie.
Maar dalk, net dalk, is hierdie die geboortepyne van ’n bestaan vry van Amerikaanse imperialisme vir die res van die wêreld. Ons moet net verseker dat ons nie binne die volgende vier jaar in die volgende wêreldoorlog gedompel word nie, en dat Trump beheer sal oorgee aan wie ook al na hom kom.
Dalk is ek oor-optimisties, maar ons kan, ons moet, Trump 2.0 se invloed minimaliseer.
Lees ook:
Die rede waarom Donald J Trump ’n beter keuse vir die VSA en die wêreld is