Die rede waarom Donald J Trump ’n beter keuse vir die VSA en die wêreld is

  • 8

Die onlangse presidentsverkiesing in die VSA het ’n nuwe era in wêreldgeskiedenis, asook die VSA ingelui. Hy is die 47ste president, een wat groot steun uit verskeie geledere gekry het wat niemand sou verwag het nie. Swart en Spaanssprekende kiesers het in groot getalle hul tradisionele politieke tuiste, die Demokratiese Party, verlaat en meegehelp om aan Trump die oorwinning te gee.

Kamala Harris was van die begin af nie ’n opponent vir Trump nie. Sy was aan die diep kant ingegooi met geen werkbare ekonomiese beleid nie. Die kiesers het dit waargeneem dat sy niks nuuts kon bied, anders as om voort te borduur op die geykte beleide van Biden nie. Amerikaners het onveilig begin voel en het in Trump die oplossing gesien met sy bekende leuse “Make America great again”. Die Demokrate se beleide teenoor onwettige immigrasie, werkskepping en gesondheid het Amerikaners vervreem.

Trump se oorwinning hou ook internasionale uitdagings, kwellinge en vrae in, veral ten opsigte van Afrika en Suid-Afrika in die besonder. Dit sal beslis ’n ekonomiese impak op Suid-Afrika hê. Hier ter sprake is die AGOA, ’n ooreenkoms wat belastingvrye toegang tot Amerikaanse markte verseker en die voordele wat daarmee geassosieer kan word. Die Trump-administrasie sal hierdie ooreenkomste herbevestig en selfs uitbrei en sodoende ekonomiese bande met Suid-Afrika verstewig.

Die Biden-Harris-administrasie het hulself swak aan die kiesers voorgestel. Hulle was nie konsekwent nie en het nie die Amerikaanse volk eerste gestel nie, veral nie ten opsigte van hul ekonomiese en immigrasiebeleide nie. Hul buitelandse beleid is ’n fiasko. Dit lei tot groot ontsteltenis, so ook hul besluiteloosheid ten opsigte van die Midde-Ooste en die oorlog in Oekraïne. Trump stel homself voor as ’n vredemaker met ’n geleentheid om ’n vredesooreenkoms tussen Israel, Hamas en Hisbolla te bring. Dis duidelik dat Israel nie meer ’n vryhand gegee sal word om die oorlog voort te sit soos dit tans die geval is nie.

Trump beskik oor die vermoë om bestendigheid in ’n wisselvallige en onstabiele omgewing te bewerkstellig. Hy sal sekuriteit ook nasionaal verseker. Die Amerikaanse volk het oorweldigend hul steun aan Trump toegesê.

Amerika moet weer as ’n sterk moondheid voorgestel word, as ’n leier in die vrye wêreld. Trump se sterk stem sal weer gehoor word met JD Vance as sy adjunk en ’n kabinet wat lojaal en ingelig is.

Voedselpryse sal verlaag word en inflasie onder beheer gebring word tot aanvaarbare vlakke. Die Trump-administrasie behoort weer rigting te gee, nasionaal en internasionaal. Misdaad, onwettige immigrasie en die gepaardgaande werkloosheid was deel van sy politieke uitsprake wat groot, groot byval onder kiesers gevind het; ondersteuning van swart kiesers en Spaanssprekendes tydens die verkiesing was ’n groot verrassing. Hierdie groepe is tradisioneel gesien as ondersteuners van die Demokrate. Hulle skuif het dus ’n verandering in die stempersentasies tot gevolg gehad.

Trump is meer gekenter as in sy vorige presidensie. Hy kom meer gefokus en polities afgerond voor en is besig om hom te omring met persone wat sy administrasie meer vaartbelyn gaan maak.

Klimaatsverandering bly egter ’n twispunt. Die Trump-administrasie sal met ’n praktiese oplossing vorendag moet kom en hulle nie blindstaar teen ’n werklikheid wat wêreldwye chaos kan veroorsaak in weerpatrone nie.

Hy sal sy verbintenis met moondhede en leiers van Rusland, Noord-Korea en China hersien, veral op ekonomiese en politieke gebied. Besoeke aan leiers van hierdie genoemde lande is reeds bevestig en hy het gelukwensinge vanaf veral Poetin en Xi Jinping ontvang vir sy herverkiesing. Sy versterking van alliansies met hierdie lande, in ’n poging om stabiliteit in Asië en die Midde-Ooste te verseker, sal maak dat hy as ’n onderhandelaar gesien word en nie as ’n oorlogsugtige geweldenaar nie.

Trump skep verwagtinge wat hy sal móét laat realiseer. Sy beloftes om die gyselaars in Gaza te bevry deur onderhandelinge met Israel en Gaza sal suksesvol wees. Dit is sy versekering. Dit sluit ook Iran in. Diplomatieke oplossings sal vooropgestel word, anders as gewapende konflik wat oorloë in genoemde streke sal laat eskaleer. ’n Trump-administrasie sal dus ’n groter en ’n breër benadering hê tot oplossings van probleme en nie ’n uitbreiding van konflik nie. Dis duidelik dat die Biden-administrasie se foute onmiddellik aangespreek en oplossings gevind sal word.

Die feit dat Trump ’n mandaat van die Amerikaanse volk het, sal ’n effek op die formulering van beleide, nasionaal en internasionaal, hê. Elon Musk, die rykste persoon in die wêreld, sal ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die versterking van veral ekonomiese beleid. Sy teenwoordigheid sal nie slegs voordele vir die Trump-administrasie inhou nie, maar sal rigtinggewend wees in terme van besluitneming om Trump se idee van “America First” te verstewig en te verseker dat die regte persone in die regte posisies aangestel word om hul visie te konsolideer en te verbeter.

Die aanstelling van Susie Wiles, as stafhoof van die Withuis, maak van haar die eerste vrou wat so ’n invloedryke posisie in die geskiedenis van Amerika beklee. Sy behoort dissipline en orde terug te bring in die presidensie wat grootliks afwesig was gedurende Trump se vorige termyn. Ander aankondigings wat hy gemaak het, sluit die volgende in:

  • Elise Stefanik: VN-ambassadeur
  • Tom Honan: Direkteur van Grensbeheer
  • Elon Musk en Vivek Ramaswamy: Regeringseffektiwiteit
  • Pete Hegseth: Sekretaris van Verdediging
  • Marco Rubio: Sekretaris van Buitelandse Sake en die eerste persoon van Latyns-Amerikaanse afkoms om ’n hooggeplaaste diplomaat te wees

(Hierdie aanstellings is aangekondig ten tyde van hierdie skrywe.)

Dat Trump sy administrasie versterk deur hierdie en ander aankondigings, is tekenend van die sukses wat hy gedurende hierdie tweede termyn gaan behaal. Biden-Harris het Amerika in ’n poel van besluiteloosheid en politieke chaos gelaat. Trump beskik oor die politieke wil om “Make America great again” tot vervulling te bring. Slegs die geskiedenis sal hom kan oordeel. Sy bydrae, indien reg getemper, sal ’n beter Amerika en ’n beter wêreld daar stel.

Baie is oortuig dat Trump ’n wenner is en dat hy sy beloftes teenoor Amerika en die wêreld sal vervul. Gee hom ’n kans. Dit kan nie slegter gaan as wat tans die geval is nie.

Die wêreld sal ’n beter plek wees.

Lees ook:

The morning after

Is daar ’n nuwe wêreldorde op pad?

Een week later

The Taliban’s new laws: Is this Shariah?

Nag van die Zombies

Hoe Trump die Withuis gewen het

Waarom die VSA by Suid-Afrika wil leer

  • 8

Kommentaar

  • Petra Pienaar-Nel

    Ag, asseblief. Trump is duidelik 'n megalomaniese narsis. Geen mooi woordjies kan dit verdoesel nie.

  • Barend van der Merwe

    Nee Danie...dis mos maar net 'n spul Nazi's en rassiste wat vir Trump gaan stem het.

    Hoe kan jy nou al die dinge skrywe?

  • Daniel Van Wyk

    Ek gee nie hiermee te kenne dat ek Trump ondersteun nie. Hy het ernstige tekortkominge in sy persoonlike en politieke mondering. Dit blyk of hy die beter een is van twee swak kandidate. Harris het pateties oorgekom, terwyl Trump meer gegrond was. Slegs die tyd sal wys of hy die "regte" keuse was.

  • Barend van der Merwe

    Beter kon ek dit nie self gestel het nie. Die ooglopende tropmentaliteit onder die blou span, was nogal iets om te aanskou. Dit was fundamentalisme. En niks anders nie. En dit komende van 'n deel van die samelewing wat vinnig roem op hoe 'oopkop' en 'verdraagsaam' hulle is. Maar net so vinnig was om mense links en regs as Nazi's te brandmerk, net omdat hulle verskil. En ja, ek hou self ook nie van Donald Trump nie. Ek is huiwerig om Harris as 'pateties' te beskou, maar die bietjie wat ek van haar gesien het, het sy gewis fatale foute begaan. En mense het reg deur haar gesien.

  • Hulle is as Nazi's gebrandmerk omdat hulle fascistiese uitsprake hulle as sodanig etiketteer. Trump wat hunker na generaals soos Hitler s'n. Wat 'n diktator wil wees. Wat retoriek byna direk uit Mein Kampf gebruik. Wat inkruip met ver-regse, neo-nazi groepe. En dan huil en verontreg voel as hulle as Nazi's beskryf word! Belaglik. If the shoe fits, wear it.

  • Barend van der Merwe

    Dit bly by 'n gehamer op Trump. Trump, Trump, Trump. Daar is meer aan politiek as een mens. Partyleiers is nie die alfa en die omega van politiek nie. Een mens neem nie elke besluit op aarde nie. Persoonlik dink ek gladnie dat Trump 'n goeie kandidaat was nie. Met dit in gedagte, vra jouself af hoe power moes die blou span se veldtog gewees het? Om teen iemand soos Trump te verloor? Totaal en al oninspirerend.

    Soveel so, in een dokumentêr wat ek gekyk het (dit was in Duits), toe praat die aanbieder met 'n aanhanger van Kamala Harris in New York. En in daai interview sê die jong swart vrou toe, ja, sy support Harris, maar sy dink niks sal verander as Harris wen nie.

    Dit versinnebeeld vir my hoe treurig, hoe totaal pateties, die Demokrate se veldtog was. Laat staan nog die feit dat Harris basies gejok het oor wie sy werklik is. Die kiesers, selfs die tradisionele Demokratiese kieser, het besef dat diinge net sal voortgaan soos onder Biden. Biden is eers gefire as kandidaat toe dit obvious was dit gaan nie werk nie. Toe dit te laat was. Met ander woorde... Dink mooi daaroor....

  • Barend van der Merwe

    Jy het nie op 'n enkele argument in die bostaande artikel reageer nie. Net gerieflik vasgehaak by Trump. Daar is meer aan politiek as persoonlikhede....

  • Kyk 'n mens na die aantal "Electorial votes" wat Trump behaal het, 312 teenoor Harris se 226, lyk dit of hy 'n reuse-oorwinning behaal het.

    Die populêre stem vertel egter 'n ander verhaal. Hier kry Trump 76 917 038 stemme (50%) teenoor Harris 74 441 439 (48.4%), 'n meerderheid van 2 475 599
    stemme wat inderdaad, vergeleke met die aantal stemme, 'n klein meerderheid is.

    Dit dui daarop dat die Amerikaners 'n verdeelde nasie is en dat die groentjie Harris beter gevaar het as wat die media dit laat klink het.

    Om al Trump se ondersteuners as Nazi's te beskryf, is belaglik en dui op min insig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top