Hoe Trump die Withuis gewen het

  • 1

Die vingerwys het begin. Binne-in die Demokratiese Party word ieder en elk blameer vir Kamala Harris se nederlaag. Maar die Amerikaanse burger André-Pierre du Plessis argumenteer almal móés sekerlik Donald Trump se terugkeer as Amerikaanse president verwag het.

Ongeag hoe jy oor die man voel, moet jy erken dat Donald Trump se oorwinning histories is. Ingeval jy nog nie al die stories hieroor gelees het nie, hier’s die superlatief: Trump is slegs die tweede Amerikaanse president ooit om ’n nie-opeenvolgende termyn te wen. Jy moet so ver terug gaan as 1893 om die ánder president, Grover Cleveland, te vind. Soos Trump het Cleveland ook maar sy eie geraamtes gehad en kiesers wat ongemaklik was oor die ekonomie.

Vir konteks wil ek jou graag voorstel aan James Carville, ’n legendariese politieke kommentator. Hy sluit gereeld by Amerikaanse nuuskanale aan vanaf sy reusestoep in New Orleans (dis tans op die mark vir ’n skamele $3,7 miljoen). Hoewel sy TV-stoep deesdae kleiner is (hy en sy vrou het sedertdien in ’n woonstel ingetrek), is sy impak op Amerikaanse politieke analise selfs meer relevant as in 1992.

In daardie jaar was hy Bill Clinton se adviseur en waartydens Carville bekend geword het vir sy frase: “It’s the economy, stupid.” Want tydens daardie verkiesingsiklus is George HW Bush daarvan beskuldig dat hy doof was vir die gewone Amerikaner se belange. Clinton, wat vir die eerste keer die Demokrate se keuse vir die Withuis geword het, is aangeraai om in elke toespraak in die weke voor die Amerikaanse verkiesing te hamer op die realiteit van inflasie, en dit het gewerk.

22 jaar later het Demokrate heel duidelik vergeet van Carville se waarskuwing, naamlik dat die sukses van ’n verkiesingsveldtog hoofsaaklik (hoewel nie uitsluitlik nie) afhangend is van kiesers se gevoel oor die ekonomie. Tydens peilings wat geneem is regoor Amerika ná hulle dié week gestem het, het twee derdes van Amerikaanse kiesers gesê dat die ekonomie sleg is. Die meerderheid het gesê dat hulle nie finansieel gemaklik voel nie, selfs slegter af is as vier jaar gelede, en dat inflasie spesifiek ’n gevoel van swaarkry veroorsaak het. Bykans ’n kwart van dié wat aan die peiling deelgeneem het, het genoem dat hulle in ernstige finansiële nood is. Dié wat gesê het dat die ekonomie hulle grootste bekommernis is, het oorwegend vir Trump gestem.

Want, sien, maak nie saak wat jy lees of hoor oor hoe goed dinge gaan in die rykste land op die planeet se ekonomie nie, die ervaring van dié wat daar woon, is ’n ander storie. Amerika se inflasiesyfer het eers onlangs onder beheer gekom. Vir dekades was hulle gewoond daaraan dat brood en melk soort van dieselfde prys bly. Maar toe gebeur die pandemie en toe begin alles duurder raak. In 2021 het ’n brood byvoorbeeld rondom $3 gekos. Die gemiddelde prys in New Jersey vanjaar beloop meer as $6. Die hoeveelheid geld wat Amerika se werkersklas vandag huis toe neem ná belasting sukkel om in pas te bly met inflasie.

Daar is ’n duidelike korrelasie tussen hoe mense vandeesweek gestem het in swaaistate en die impak wat inflasie op hulle gehad het. Sedert Februarie 2021 (Biden se eerste maand in die Withuis) het inflasie met meer as 18% gestyg, volgens Amerika se Buro vir Arbeidstatistiek. Maar ekonome sal vir jou sê dat die ekonomie soveel beter is vandag as vier jaar gelede. Dit mag wel die geval wees, maar histories is daar ’n aansienlike vertraagde reaksie in objektiewe data teenoor kieserspersepsies.

Self dink ek terug oor hoe die lewe in Amerika was tydens die eerste paar jare waartydens Donald Trump president was. Ja, dit was chaoties. Toe die pandemie egter die wêreldekonomie omverwerp, het die Amerikaanse Kongres besluit om tjeks aan burgers te pos. Saam met die tjek het Trump ’n brief aan elke Amerikaner gestuur, aan elkeen persoonlik geadresseer. Hy het krediet geneem vir die tjeks wat so vrygewig uitgedeel word, boonop met Trump se kenmerkende handtekening daarop.

Toe inflasie later jare ordentlik begin inskop, het mense gevra dat president Joe Biden moet ingryp. Biden het ’n paar keer (toe hy nog die Demokrate se verkose kandidaat was) ietwat gesukkel om die waarheid te praat oor presies hoe groot ’n probleem inflasie geword het. En dié keer was hy (oftewel die Kongres) nie gewillig om soortgelyke tjekkies uit te deel nie. Of minstens waar daar wel finansiële hulp vanaf die regering was, het Biden nooit self krediet geneem deur sy handtekening onderaan te voeg nie. (Noudat ek daaraan dink, weet ek self nie eens hoe lyk Biden se handtekening nie.)

Natuurlik het ander faktore ’n rol gespeel in die skynbaar verbasende oorwinning wat Trump terugbring as die 47ste president van die Verenigde State. Daar is in ’n groot mate ’n kulturele skuif na regs regoor Amerika se samelewing. Jy voel dit as jy daar woon. Dis tasbaar. Terwyl mense finansieel onseker voel, speel hulle onvermoë om te identifiseer met ’n veranderende samelewing ’n rol en vind hulle ’n tuiste in ’n man wat (soos hulle) ook bedreig voel. Buiten die vele hofsake en aanklagtes wat Trump tot dusver in die gesig gestaar het, is hy boonop twee keer bykans doodgeskiet. Daai eerste sluipmoordpoging het wonders gedoen vir sy gunstigheid onder kiesers. En soos die meeste suksesvolle films, geniet Amerikaners veral ’n comeback-karakter.

Lees ook:

The morning after

  • 1

Kommentaar

  • Uitstekend! Kan voel in die sinne van die kommentaar dat Andrè-Pierre duidelik in Amerika geleef het en as ekonomiese joernalis daar duidelik sy vinger op Amerikaners se pols kon hou, selfs nou nog; "terug by die huis" voel hy duidelik nog hoe harte daar klop. Knap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top