Donald Trump, die koronavirus se beste vriend

  • 8

https://commons.wikimedia.org/wiki/ (File:President_Trump_Holds_a_News_Conference_on_the_Coronavirus_-_49659517252.jpg#/media/)

Daar gebeur dit toe. Skielik is Donald Trump nou deel van my en jou persoonlike geskiedenisse. Almal is dit eens dat as die koronavirus eers verslaan is, die wêreld ten minste sy internasionale skanse teen mikrobes wat ons almal gaan bedreig, aansienlik sal moet versterk. En die Wêreldgesondheidsorganisasie sal moet groei tot iets net onder die Veiligheidsraad van die VN in belangrikheid.

Maar op 14 April het Trump verklaar dat die VSA sy befondsing aan die WGO gaan onttrek. Dit is so ’n onsinnige, onnosele stap op so ’n enorm verkeerde tyd dat my eerste reaksie was: Gelukkig sal die virus se grootste slagoffer Trump self wees, wanneer die Amerikaanse kiesers hom gaan uitstem in November. Hoe sal Amerika, wat die enkele supermoondheid gaan bly in moontlik die belangrikste eeu in die mens se evolusie, kan toelaat dat so iemand weer die land, en daarmee die wêreld, regeer?

Maar toe onthou ek Goeie Vrydag, toe ek die eerste keer na ’n volledige COVID-19-nuuskonferensie deur Trump gekyk het. Dis wat ek neergeskryf het: ’n Boeiende ervaring, selfs ontsagwekkend om te aanskou hoe ’n meester van die media besig is om die narratief tot die aanloop van die verkiesing aan die keel te gryp en syne te maak, nes in 2016.

Trump se kanse lyk nie goed nie. Sy kritici, en glo sy eie raadgewers en geallieerdes in die Republikeinse Party, meen hy waag te veel deur die daaglikse nuuskonferensie self te behartig, in ’n breuk met tradisie wat dekades diep strek, dieselfde soort vernuwing as sy berugte twiets aan 77 miljoen volgelinge (’n miljoen meer as laasjaar).

Die rasionale mens wat na sy daaglikse optredes kyk, kan dit nie anders as chaoties of ’n spektakel beskryf nie. Hy weerspreek homself, of rammel voort, of skiet net te veel spek om die kiesers oor te haal. Maar dis op hierdie punt dat die rasionale mens dalk net die pot heeltemal mis gaan sit, nes in 2016. Ons weet nou al Amerikaanse kiesers kyk nie rasioneel, onemosioneel of ewewigtig na hul leiers in die dae van sosiale media en sewe gelyktydige Amerikaanse oorloë nie – wat nou agt geword het met COVID-19.

Die daaglikse spektakel in Trump se negende oorlog is sy gunstelingvyand, die media. Mense wat van die media hou, sien hom telkens op sy knieë, maar probeer ’n mens deur die bril van die deursnee-Amerikaner kyk, wat die media ewe min as politici vertrou, kan jy ook die clichés van Amerikaanse kultuur herken: die vegter wat platgeslaan word, sy swaard verloor of sy pistool onder die vaatjie ingeskop kry, en dan tog weer regop steier en sy teenstander oorrompel.

Vergeet maar die onwaarhede wat Trump verkondig – reeds meer as 16 000 as president, volgens die Washington Post, of so 14,6 per dag – soos die een wat ons almal nou gaan raak, dat die Wêreldgesondheidsorganisasie bevooroordeeld is ten gunste van China. Trump het lankal, in sy jong dae al, verstaan dat die media se een swak punt sy voorlopigheid is: Weens sy gebondenheid aan die nuussiklus, deesdae soms net enkele minute lank, kan die media nooit volle waarhede verkondig nie. Trump voer dit tot uiterstes – wat die media tussen die reëls laat, spel hy uit.

Dus, waar die media ’n vervelige kenner sou moes kry om die ingewikkeldhede agter China se geringe bydrae tot die WGO te verduidelik, nooi hy sy TV-gehore uit om te oorweeg: Verkeerd of nie, ek het ten minste vir julle baklei. Wat kritici van Trump vergeet, en ek sluit myself by hulle in, is dat die hooftaak van die media is om agendas saam te stel, om kwessies te nomineer. Wanneer Trump die Withuis se media-operasies oorneem, eers met Twitter, en nou deur self die nuuskonferensies oor COVID-19 te lei, is hy in die eerste plek besig om die agenda te skryf. Gewone Amerikaners sien dit, en omdat hulle lankal gewoond is daaraan om tussen die reëls te lees, maak dit nie saak hoeveel leuens Trump vertel nie. Die waarheid kan agter die skerms namens die gewone man uitgesorteer word – dis net ’n praktiese variasie op die verteenwoordigende aard van demokratiese stelsels.

Wat Trump verder doen, is om teater te skep rondom sy wanvoorstellings, iets wat Vrydag treffend gedemonstreer is deur die swart geneesheer-generaal wat die kwessie van die dag kom aanspreek het, die onthullings dat meer swart en Latyns-Amerikaners proporsioneel aan COVID-19 sterf. Pleks van te herhaal dat almal COVID-19 kan kry en dat dit ingevoer is deur reisigers wat proporsioneel minder swart is, het Trump se man ’n asmapompie uit sy sak gehaal om te illustreer dat swart Amerikaners drie keer meer vatbaar is vir asma. Op instruksie van Trump – en dié brokkie is ’n paar keer herhaal – het hy die vorige paar dae ’n paar keer met die algemeen-aanvaarde verteenwoordigers van die swart gemeenskap gaan praat.

Op die oog af flinke optrede, en sensitief teenoor minderhede, en ’n erkenning van hul leiers, al is hulle soms Trump-haters soos Andrew Jackson, maar in Trump-land se strokiesprentpolitiek is daar meer as net ’n sweem van "You aliens, take me to your leader." Daar is tye wanneer minderhede nie uitgesonder moet word nie; ’n mens kan maar net dink hoe die 45% of so Amerikaners wat Trump se presidentskap steeds goedkeur gaan reageer as hulle hul swart landgenote teëkom, en die grappies oor asmapompies by die barbeques in die toekoms.

Leuens maak nie saak nie; dis hoe hulle die narratief kan bevorder wat tel. En dis ’n narratief wat tot die Amerikaanse rebel spreek deurdat dit lynreg ingaan teen die konsensus wat die virus wêreldwyd begin opbou het: dat sosiale ongelykhede die grootste struikelblok teen die siektes van die toekoms gaan wees. Dit was nie vir Trump nodig om ’n woord op die verhoog by te voeg toe ’n swart joernalis vra of dit nie beter is om te verklaar dat alle mense wat in ghetto’s lewe, ’n groter gevaar is vir verspreiding van die siekte nie. Die gewone Amerikaner kon die narratief self aanvul: Hier is die "woke warriors" weer besig om goeie dade verdag te maak. En dit was wat die geneesheer-generaal inderdaad gedoen het, met Trump wat gewigtig agter hom kopknik: Ons sê nie swart mense is geneties meer geneig tot COVID-19 nie. Weer eens kan ’n mens net dink hoe die gewone oningeligte wit Amerikaanse kieser sal reageer: Is hierdie nie dalk ’n ontkenning van een van die 15 leuens van die dag, en daarom die waarheid nie?

Ons weet nie hoe die pandemie gaan verloop nie. Afrika loop om onbekende redes nie erg deur nie, maar al wat ’n kenner is, ys oor wat nog kan kom, want Afrikalande het nie die ontsaglike vermoëns wat Trump en sy mense Vrydag opgenoem het terwyl hulle mekaar prys nie. Een gebied waarop die media en die internasionale COVID-19-diskoers liederlik misluk, is die narratief rondom die ontstaan van die koronavirus, wat meestal natuurwetenskaplik en tegnologies gedrewe is en die noodsaaklike geskiedenis agter ons 1,5 miljard jaar oue virusse verhul.

Ja, daar word verwys na SARS en MERS en die Spaanse griep, en selfs verder terug na die Swart Pes van die 14de eeu, wat etlike jare geduur het en waarin ’n derde van die mensdom tussen Arabië en Ysland gesterf het. Maar dit is gewoonlik in ’n vergelykende konteks, ter illustrasie van Europese patrone, en telkens om die vooruitgang van die wetenskappe te omskep tot ’n optimistiese verhaal. Dit is ook die geval in Suid-Afrika, waar ’n paar van ons beste skrywers nou pittig en ironies geskryf het oor die Swart Pes en hoe niemand ontsien word nie, dikwels ter aanprysing van president Cyril Ramaphose en gesondheidsminister Zweli Mkhize se oënskynlik vaardige hantering van die krisis hier te lande.

As ’n mens egter die geskiedenis as behoorlike bron van kennis wil gebruik, moet die verwoesting wat die "Colombian exchange" in die 15de eeu gesaai het, tog voorop staan. In Suid-Afrika was daar die pokkepandemie van 1713, en verder in Afrika etlike ander epidemies deur die eeue wat deur Europeërs na die vasteland gebring is. Ek sien net enkele verwysings na hierdie gebeure, selfs wanneer mense spekuleer oor hoe die wêreld gaan verander. Dit kan om twee redes wees: Dis deel van die gewone ignorering van die Derde Wêreld, van donker mense as afskryfbare vreemdelinge, of deel van die algemene beweging die laaste paar jaar na etniese en nasionale ingekeerdheid, waarvan die sterkste uitdrukking natuurlik Trump se verkiesing in 2016 was.

Columbus se landing in die Wes-Indiese eilande het uiteindelik tot die uitwissing van 90% van Hispaniola se bevolking gelei. Elders in die Amerikas is die skattings van sterftes weens die 30 stuks virusse wat ingevoer is, deur die bank baie meer as 30%. Die omgekeerde het ook gebeur: Sifilis en tuberkulose het vanuit die Amerikas teruggekeer na Europa – hierdie syfers gaan nie oor enige Oksidentalisme nie. Sonder hierdie verwisseling sou die wêreld heeltemal anders daar uitgesien het.

Die pokke wat in 1713 deur Nederlandse matrose in Tafelbaai aangedra is, het uiteindelik ’n derde van die wit setlaars aan die Kaap uitgewis, maar die dodetal onder die Khoi-groepe was veel hoër en na sommige skattings so hoog as 90%. Hierdie katastrofe en soortgelykes later het die binneland oopgemaak vir verdere besetting deur die wit setlaars; tydens die Anglo-Boereoorlog het 40 000 (meestal Afrikaanse) mense in epidemies gesterf. Was dit nie hiervoor nie, sou Suid-Afrika ook vandag heeltemal anders daar uitgesien het.

COVID-19 is niks nuuts nie – dit bevestig ’n ou waarheid: dat virusse ’n sentrale rol in die mens se evolusie en geskiedenis speel. Daar is geen nuwe normaal nie, net die menslike ekologie wat sig laat geld. Al Trump en ander wêreldleiers se pogings om die siekte te gebruik om hul mag in te grawe, gaan tevergeefs wees as hulle en hul volgelinge se narratiewe selfgesentreerd bly en die helfte van die aardbol gaan ignoreer of uitsluit. As die siekte ’n kettingreaksie in Afrika of Suid-Amerika gaan veroorsaak net wanneer die ryker lande dit pas onder bedwang gebring het, gaan dit maar net van vooraf weer in hierdie lande uitslaan, en gaan nuwe moontlike mutasies dit net erger maak.

Die Amerikaanse verkiesing het skielik van kardinale belang vir die wêreld en die mensdom geword. Trump het hom nou tuisgemaak in ons voorkamers op die TV en in ons nagmerries.

  • 8

Kommentaar

  • Dankie Hans! Goed beredeneerd en uitstekend geskryf. Die mens het die aarde nodig, maar die aarde het nie die mens nodig nie. Die natuur het sy ingeboude wigte en teenwigte.

  • Avatar
    Robert Barrie

    Trump het die parasitiese leiers van die onderwêreld aangevat wat min vir hulle eie mense omgee. Hulle klap die VSA hand altyd weg wat hulle aan die gang hou. Die WGO is net nog ’n instansie van misbruik van goedheid

  • Ek is geneig om met jou saam te stem. Het onlangs 'n skrywe van 'n Suid-Afrikaner gelees wat betrokke was by die organisasie. Hy beweer dat 90% van die skenkingsgeld gaan aan verblyf in duur hotelle, aankoop van duur luukse motors, handhawing van 'n weelderige leefstyl en dat slegs 10% van die skenkingsgeld aangewend word vir die doel waarvoor dit geskenk is.

    Indien dit waar is dan is Pres. Trump se ontrekking die beste vir Amerika en glad nie 'onnosel' soos die skrywer beweer nie.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Ek wonder ook oor die wanbalans. Hoe kom dit dat die VSA jaarliks (tot hede) ongeveer USD500 miljoen hydra tot die WHO se koste terwyl Sjina, die wêreld se tweede grootste ekonomie, die eers 5% van daardie bedrag bydra nie.

    Daar is 'n tweede, staatsregtelike aspek wat tersake is. Trump se magte is beperk tot wat die VSA Grondwet hom uitdruklik toelaat. Die Tenth Amendment, onder andere, bepaal uitdruklik dat magte wat nie aan die Federale regering toegeken word nie in die State berus. So het dit dan gebeur dat Trump die grense kon sluit maar nie die ekonomie nie, en daarom het hy ook nie die verantwoordelikheid gehad vir die toestand en gereedheid van die hospitale in die verskeie State nie.

  • Die wanbalans, aan die een kant, is weens China se klassifikasie as ontwikkelende land, iets wat reggestel moet word. Aan die ander kant is dit te wyte aan Amerika se tradisionele pogings om internasionale organisasies te koop met befondsing. Die nuwe hoof van die WGO is 'n Afrikaan met sy eie styl wat Trump nie pas nie. Die WGO ly aan die gewone burokratiese probleme as ander VN-agentskappe maar is weens die internasionale verdrae daaragter die enigste organisasie wat koordinasie in die stryd teen siektes kan verskaf. Die eintlike skandaal is die patetiese totale befonsing wat hy kry, wat reeds die afgelope dekade besnoei is. Soos alle miljardiers hou Trump nie van organisasies wat die bedrywighede van die 1% elite aan bande kan le nie.

  • Avatar
    ROBERT BARRIE

    Clinton en kie het Obama jare gebruik vir selfverryking en Biden het probeer maar was bietjie laat... Hulle vere is gepluk en nou moet hulle spartel om weer die lewenslyn te kry!

  • Avatar
    ROBERT BARRIE

    Afrika en meeste ander 'ontwikkelende' het altyd die parasietbenadering dat VSA en ander Westerse lande moet gee om die 'koloniale' verlede reg te maak terwyl hulle sire en raak en die befondsing misbruik deur hoofsaaklik steelaktiwiteite. Trump het besluit dit kan nie aan gaan nie. Sjina vat sy pond vleis met Afrika lande - stroop grondstowwe, gebruik eie mense en los gate in die grond saam met die gemors! Gaan kyk na enige mynbou projek waar hulle betrokke was. Tussen 'kastige' hulp van Clintons en Sjina met Afrika leier stelers bly massas in Afrika in armoede, ongeletterd en siek met wanhoop.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    "Soos alle miljardiers hou Trump nie van organisasies wat die bedrywighede van die 1% elite aan bande kan le nie."

    Ek verstaan nie, Hans. Ek kan verstaan dat jy vir Trump wil looi, en ek voel self gereeld lus om hom 'n paar klappe te gee, maar hier gaan dit oor sy houding tenoor C-19. Wat presies was binne sy magte buiten om die grense te sluit en federale hulp aan te bied waar die State daarvoor gevra het?

    En watter land bevonds nou regtig die VN, die WGO en ander organisasies meer as die VSA? Die Derde Wêreld kleef soos parasiete aan die VSA maar stem teen hom in die VN en elders, Trump of te niet. Hoe dan nou?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top