Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?

  • 2

Boekomslae: The prince (Niccolò Machiavelli), Trump: The art of the deal (Donald J Trump, Tony Schwartz), La défaite de l’Occident (Emmanuel Todd).

Die dag ná Donald Trump se inhuldiging as Amerikaanse president vra Izak du Plessis van Nuuspod my in ’n onderhoud of Donald Trump ’n bedreiging vir “die wêreldorde” inhou.

Watter wêreldorde? Daar is nie tans so iets nie, maar miskien help hy die wêreld stabiliseer, was my onmiddellike reaksie. Hoekom?

Machiavelli

Om dié vraag te beantwoord moet ons terugkeer na die tragiese lewe van Niccolò Machiavelli (1469–1527) en sy boek Die prins – die grootste werk wat nog oor die staat en die internasionale politiek geskryf is.

Die belangrikste feite oor Machiavelli se lewe en tyd is welbekend, maar dis die moeite werd om dit ter wille van óns tyd in herinnering te roep. Wat antieke Athene en Sokrates vir die klassieke wêreld was, is wat Machiavelli en Florence vir die moderne wêreld is.

Athene is die geboorteplek van die demokrasie, die toe-eiening van die (Fenisiese) alfabet, die geletterde burger wat aan die openbare lewe deelneem, die boekstawing van die wet – en gelykheid voor daardie wet. Dit het ook van die grootste staatsmanne, kunstenaars en filosowe van die klassieke wêreld opgelewer.

En tog was dit reeds verby sy glorie tydens die lewe van sy beroemdste burger, Sokrates (c.470–399 voor die algemene jaartelling). Sokrates, die vader van die filosofie, wat deur die dekadente elite van die stad ter dood veroordeel word omdat hy in die naam van die waarheid die stad se verworde maghebbers en elite tot orde roep; Sokrates wat deur die stad vermoor word wat hy in die naam van die stad wou beskerm teen dít wat die stad besig was om te word. Sokrates se grootsheid is tragies van aard – die stad wat hy wou beskerm was reeds oor sy beste, en vir sy dapper poging word hy deur ’n korrupte regbank skuldig bevind. Danksy Sokrates en die verworde Athene van sy tyd erf ons van die blywendste en belangrikste spanninge in die openbare lewe, naamlik dié tussen mag en waarheid, en tussen die filosofie en die politiek.

Soos die geboorte van klassieke Athene in die sewende eeu voor die algemene jaartelling uit die strewe na geregtigheid, vryheid en onafhanklikheid voortspruit, so ook die geboorte van die Republiek van Florence in 1155 toe die Florentyne in opstand gekom het teen die Markgraafskap van Toskane.

Tydens Florence se hoogbloei in die vyftiende eeu het dié republiek nie net bewustelik teruggekyk na die klassieke Atheense republiek as model nie, maar ook die grootste staatsmanne, kunstenaars en filosowe van die era in Europa opgelewer, waaronder Lorenzo de Medici, Michelangelo en Leonardo da Vinci.

Soos Sokrates aanvanklik in verskeie hoedanighede aan die Atheense openbare lewe deelgeneem het tot die politieke risiko’s vir hom te groot geword het en hy hom daarna aan die lewe van die gees gewy het, so ook Machiavelli, in wie se lewe Florence ook reeds oor dié se beste was.

In die ouderdom van 29 word Machiavelli Florence se de facto minister van buitelandse sake, wat hom in die daaropvolgende 14 jaar in staat stel om die chaotiese, bloedige geboorte van die moderne staatlike geo-politiek eerstehands waar te neem. Op die koop toe bring hy enkele jare ná bogenoemde aanstelling ook nog ’n Florentynse milisie tot stand, wat hom dus ook diep betrokke by die verdediging van die republiek maak.

Dog, hy verloor dit alles toe die De Medici-familie in 1512 weer die regering van Florence oorneem. Soos vir Sokrates, raak die risiko van politieke betrokkenheid hierna vir Machiavelli te groot en wend hy hom tot die lewe van die gees. Afgesien daarvan dat hy in die jare tot met sy dood Die prins skryf, skryf hy ook poësie, prosa en drama, wat neerslag vind in belangrike insigte in Die prins oor hoe die regeerder as oortuigende akteur sy mag moet handhaaf.

........
 Óók erf ons van Machiavelli die insig dat enige goeie regeerder goed genoeg toneel moet kan speel om sy ondersteuners, sowel as sy teenstanders aan sy kant te kan hou.
........

Soos Sokrates se toewyding aan die filosofie neerkom op ’n poging om die stad te beskerm teen die verwording van die stad, so kan Machiavelli se Die prins gelees word as ’n poging om die klein republiek te beskerm teen die brute magspolitiek van die interstaatlike wêreld waarvan Machiavelli die opkoms eerstehands meegemaak het. So word Machiavelli die grondlegger van wat mettertyd in die internasionale politiek bekend sou word as die realistiese paradigma – vir hierdie paradigma word state in die eerste plek gedryf deur hul magsbelange en vrese, aldus die grootste eietydse eksponent van dié paradigma, naamlik John Mearsheimer. Danksy Machiavelli en die kleine Florence oorskadu deur magtige spelers soos die destydse Frankryk en Spanje, erf ons die insigte dat die verwerwing en behoud van mag en die vermoë om ’n beduidende bedreiging van geweld vir jou teenstanders te kan inhou, wesenlik tot die staatlike politiek is – binne state, maar veral ook tussen state. En dit geld ook diegene wat die politiek nie soseer uit die behoefte aan mag betree nie, maar in die naam van ideale – geen politieke ideaal kan uitgevoer word sonder die nodige magsmiddele nie. Óók erf ons van Machiavelli die insig dat enige goeie regeerder goed genoeg toneel moet kan speel om sy ondersteuners, sowel as sy teenstanders aan sy kant te kan hou.

Idealistiese paradigma

Die ander groot paradigma in die internasionale politiek is dié van die idealisme. Volgens dié paradigma word state (minstens ook, indien nie veral nie) deur bepaalde ideale in die geo-politiek gedryf.

Die idealistiese paradigma het vanaf die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 tot aan die einde van die 20ste eeu ’n goue era beleef, veral in die VSA. Die argument het gelui dat Westerse state onder leiding van die VSA ná die Tweede Wêreldoorlog, en die oorwinning oor die fascistiese bondgenootskap van Duitsland, Italië en Japan, ’n nuwe internasionale orde tot stand gebring het. Hierdie orde was gebaseer op die aanname dat ’n aantal multilaterale instellings, soos die Verenigde Nasies, sou meewerk om state aan bepaalde reëls, konvensies en verdrae te verbind.

Volgens die idealiste was die groot spanning in die internasionale politiek tussen die laat 1940’s tot met die laat 1980’s dié tussen, enersyds, die Amerikaansgeleide liberale Weste en, andersyds, die kommunistiese Ooste onder leiding van die Sowjetunie en China.

Die feit dat China vanaf die vroeë 1980’s versigtig na ’n kapitalistiese ekonomie begin beweeg het, dat die Berlynse Muur in November 1989 geval het en dat die Sowjetunie in 1991 in duie gestort het, is deur die idealiste beskou as nie net ’n bewys daarvan dat die idealistiese paradigma beter insigte as die realistiese paradigma in die geo-politiek bied nie, maar ook daarvan dat die liberale ideale van die Amerikaansgeleide Weste binne ’n kwessie van tyd wêreldwyd omhels sou word. Een van die groot eietydse eksponente van die idealistiese paradigma, Francis Fukuyama, het in die 1990’s hierna verwys as “die einde van die geskiedenis” – volgens Fukuyama was dit bloot ’n kwessie van tyd voor alle state gekies het vir ’n liberaal-demokratiese staatsbedeling en vir die vryemark as die beste soort ekonomie.

........
Die mag van die gewoonte is soms baie sterk en dus het dit ’n bietjie langer as 11 September 2001 geduur voor die idealistiese paradigma opnuut vir die realistiese paradigma deur die Amerikaanse regering verruil is – waaroor meer hier onder.
........

Die gety het egter met die terreuraanvalle van 11 September 2001 op die VSA teen die idealiste begin draai, want as dit net ’n kwessie van tyd was voor die res van die wêreld dieselfde ideale as dié van die Weste omhels, het dit geen sin gemaak dat mense van sulke lande sulke wrede aanvalle op die VSA loods nie.

Die mag van die gewoonte is soms baie sterk en dus het dit ’n bietjie langer as 11 September 2001 geduur voor die idealistiese paradigma opnuut vir die realistiese paradigma deur die Amerikaanse regering verruil is – waaroor meer hier onder.

Paradigmaverskuiwing

Twee van die grootste verdere faktore vir hierdie paradigmaverskuiwing in die VSA, was die opkoms van China en die herstel van Rusland. Wat laasgenoemde betref, moet die jaarlikse München-veiligheidskonferensie van 2007 as die draaipunt beskou word. Nadat die aanvanklik betreklik pro-Westerse Russiese president, Wladimir Poetin, al hoe meer die rug deur die VSA toegekeer is, het Poetin by daardie konferensie ’n toespraak gehou waarin hy ’n Amerikaansoorheersde wêreldorde verwerp en voorspraak gemaak het vir ’n multipolêre wêreldorde, waarin tradisionele groot moondhede soos Rusland en China die internasionale politiek medebepaal en ook hul invloed laat geld in hulle tradisionele geografiese invloedsfere. Poetin se toespraak is met openlike bespotting deur die Amerikaanse hoogwaardigheidsbekleërs in sy gehoor ontvang, en sedertdien het die verhouding tussen die VSA en Rusland stapsgewys versleg, tot waar dit met die Biden-administrasie en dié se steun vir Oekraïne in die oorlog met Rusland ’n laagtepunt sedert die einde van die Koue Oorlog bereik het.

Op sy beurt het China se ekonomiese groei, toename in militêre slaankrag en al hoe aggressiewer aanspraak op Taiwan as deel van sy grondgebied toenemende spanning met die een Amerikaanse regering ná die ander geskep – in so ’n mate dat Trump dit baie duidelik gemaak het dat hy die uitdagings wat China aan die VSA bied as laasgenoemde se belangrikste geo-politiese uitdaging beskou. Dit is dan ook waarom Trump verder verklaar het dat hy wil sien dat die VSA in sy huidige presidentstermyn nie by nuwe oorloë betrek word nie, asook dat hy die Oekraïense oorlog wil beëindig en groter stabiliteit in die Midde-Ooste wil sien, onder meer deur die sogenaamde Abrahamsverdrae tussen Israel en Arabiese lande ook na Saoedi-Arabië uit te brei.

Daar is ook ander faktore wat tot die nuwe momentum van die realistiese paradigma bygedra het. Een hiervan is dat een van die VSA se belangrikste bondgenote, Israel, al minstens sedert die Sesdaagse Oorlog van 1973 nie skroom om sy agenda met geweld eerder as onderhandelinge te bevorder nie – die jongste voorbeeld hiervan is hoe Israel sy aartsvyand, Iran, sedert die grumoorde van 7 Oktober 2023 op die agtervoet probeer kry deur brute geweld; geweld wat gekom het teen die prys van de facto etniese suiwering in die Gasastrook, asook die bombardering van Beiroet en ander plekke in Libanon.

........
Nie een van hierdie state is daarmee nader aan vryheid en demokrasie gebring nie; inteendeel.
........

Nog ’n faktor is natuurlik hoe die VSA minstens sedert die 1950’s nie geskroom het om sy belange te bevorder deur die gebruik van geweld teen state en politici wat hom nie aanstaan nie, byvoorbeeld die CIA-geleide staatsgreep teen die demokratiese verkose regering van president Mohammed Mosaddegh van Iran in 1953, die VSA se steun vir Mobutu Sese Seko se staatsgreep teen die demokratiese verkose regering van president Patrice Lumumba van die destydse Kongo (tans die Demokratiese Republiek van die Kongo), tot met, meer onlangs, die katastrofale inval van Irak in Maart 2003, asook militêre optrede in Afghanistan en Libië. Nie een van hierdie state is daarmee nader aan vryheid en demokrasie gebring nie; inteendeel.

Trump en die eietydse geo-politiek

Waar laat dit alles Trump met betrekking tot eietydse geo-politiek? Soos reeds gemeld is dit Trump se verklaarde oogmerk om nie nuwe oorloë te begin nie en bestaande oorloë te beëindig – van laasgenoemde is daar natuurlik verskeie wat die VSA nie so regstreeks betrek nie, maar die voortslepende konflik tussen Israel en die Palestyne, asook die oorlog in Oekraïne is duidelik hoog op Trump se agenda.

Wat Israel en die Palestyne betref, het uiterste druk deur Trump nog vóór sy inhuldiging as president op 20 Januarie die geharde Israelse premier, Benjamin Netanyahu, laat knak om in te stem tot ’n skietstilstand in die Gasastrook en ’n ooreenkoms om Palestynse gevangenes vir die oorblywende Israelse gyselaars wat Hamas aanhou, uit te ruil. Dit wil egter nie sê dat die stabiliteit wat Trump hoop om in die Midde-Ooste tot stand te bring, met beduidende erkenning aan die Palestyne sal kom nie – dit is immers tydens sy eerste termyn as president dat Jerusalem tot groot konsternasie van die Palestyne eensydig deur die VSA as hoofstad van Israel erken is, en verskeie van sy keuses vir hoogwaardigheidsbekleërs gemoeid met Israel en die Palestyne is verbete Sioniste.

.......
Binne Trump se transaksionele wêreldbeeld is die oorlog eenvoudig ’n swak belegging en daarom wil die skrywer van The art of the deal ’n ooreenkoms met Rusland beklink.
.......

Wat die oorlog in Oekraïne betref, weet almal teen dié tyd hoe Trump met sy tipiese oordrywing gespog het dat hy die oorlog “binne 24 uur” sal beëindig. Op ’n ernstiger noot verstaan Trump waarskynlik baie goed dat die VSA hoegenaamd nie sy belange gaan bevorder deur ’n uitgekontrakteerde oorlog teen Rusland, gevoer deur die Zelenski-regering van Kiëf, gaan bevorder nie. Die Weste is stadig maar seker besig om die oorlog teen Rusland in Oekraïne te verloor, en selfs die VSA kan nie op die duur bekostig om miljarde dollars aan die oorlog te bestee nie. Binne Trump se transaksionele wêreldbeeld is die oorlog eenvoudig ’n swak belegging en daarom wil die skrywer van The art of the deal ’n ooreenkoms met Rusland beklink.

China

Wat China betref, is dit nodig om die ontwikkelende Amerikaanse verhouding met China sedert 1972 in gedagte te hou. Danksy die aanvoorwerk van een van die groot eietydse eksponente van die realistiese paradigma, naamlik die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, het president Richard Nixon China in 1972 besoek om vir die eerste keer in 25 jaar diplomatieke bande met China te begin vestig – veral om sodoende druk op China se belangrikste bondgenoot, die Sowjetunie, toe te pas.

Vervolgens het president Jimmy Carter van die VSA die Chinese leier, Deng Xiaoping, in 1979 vir ’n staatsbesoek ontvang, en kort hierna het China die eerste beslissende treë na die instelling van ’n staatsgeleide kapitalistiese ekonomie gegee. Terugskouend het dit ironies genoeg die onverbiddelike opmars van China as die VSA se belangrikste ekonomiese en militêre mededinger moontlik gemaak.

Oor Henry Kissinger moet nog iets gesê word. Nadat hy nie meer aktief in ’n Amerikaanse regering was nie, stig Kissinger in 1982 die geo-politiese konsultasiefirma, Kissinger Associates. Volgens die skerpsinnige Vrystaatse historikus en eweneens aanhanger van die realistiese paradigma, wyle Jan-Ad Stemmet, het elke enkele Amerikaanse president Kissinger tot met dié se dood in November 2023 geraadpleeg.

........
As aanhanger van die realistiese paradigma en as sakeman wat sonder twyfel ’n Hobbesiaanse wêreldbeskouing aanhang waarin die dreigement van geweld en skade eenvoudig ’n elementêre deel van sy strategie is, verstaan Trump ’n paar dinge baie goed.
........

Die geskiedenis van Kissinger se invloed op Amerikaanse buitelandse beleid moet waarskynlik nog behoorlik verreken word, maar hier word slegs op ’n laaste belangrike voorbeeld gewys. In Mei 2023 het die gesaghebbende Britse liberale tydskrif, The Economist, ’n omvangryke onderhoud met Kissinger gepubliseer. In dié onderhoud, teen die agtergrond van ’n toenemend gespanne verhouding tussen China en die Biden-administrasie, het Kissinger aanbeveel dat die VSA ’n toegespitste strategie begin volg om ’n modus vivendi (my term) met China te vind. Binne die daaropvolgende maande het verskeie Amerikaanse hooggeplaastes, waaronder die president van die Amerikaanse Reserwebank (die “Fed”) en die Amerikaanse minister van buitelandse sake China besoek om gesprekke weer op dreef te kry.

As aanhanger van die realistiese paradigma en as sakeman wat sonder twyfel ’n Hobbesiaanse wêreldbeskouing aanhang waarin die dreigement van geweld en skade eenvoudig ’n elementêre deel van sy strategie is, verstaan Trump ’n paar dinge baie goed.

Wat Trump baie goed verstaan

In die eerste plek verstaan hy dat idealistiese beroepe op wêreldvrede (al het hy homself in sy inhuldigingstoespraak as vredemaker beskryf), menseregte en die sing van Koembaja in al die tale van die wêreld nie hond haaraf gaan maak in die eietydse geo-politiek nie. Feit is dat die sogenaamde reëlgebaseerde orde wat vanaf die laat 1940’s tot 11 September 2001 gegeld het, deur vele nie-Westerse state as gelaai teen húlle belange beskou is, en namate tradisionele groot moondhede soos China, Rusland en Turkye hulself weer kon laat geld, is die wêreld nou in ’n era waar op basis van die wedersydse erkenning van magsbelange en aansprake ’n nuwe wêreldorde gevestig moet word – of minstens ’n minimum van geo-politiese stabiliteit.

........
Vir die konflikvermydende, idealistiese vredeliewendes onder ons was Trump in borstrommelende alfagorillamannetjie-modus ’n nagmerriegesig, maar in werklikheid was dit alles politieke teater in aanloop tot die eintlike gesprekke met Poetin en president Xi Jinping van China wat nog gevoer moet word.
........

En dit is, in die tweede plek, waarom Trump in sy inhuldigingstoespraak gehamer het daarop dat die VSA sy belange eerste gaan stel, respek sal afdwing en – soos ons dit in die Afrikaanse volksmond stel – nie kak van kabouters gaan vat nie. Vir die konflikvermydende, idealistiese vredeliewendes onder ons was Trump in borstrommelende alfagorillamannetjie-modus ’n nagmerriegesig, maar in werklikheid was dit alles politieke teater in aanloop tot die eintlike gesprekke met Poetin en president Xi Jinping van China wat nog gevoer moet word. Trump, wat sy akteurstande op die werklikheidsreeks The apprentice gesny het, verstaan Machiavelli se insigte oor politieke teater baie goed.

In die derde plek is dit opvallend dat die sakeman Trump eerder met ekonomiese as militêre strafmaatreëls dreig. Hiervan is die dreigement van invoertariewe teen Kanada, Meksiko en China natuurlik die prominentste. Dis eweneens opvallend dat die tariewe waarmee Trump teen China dreig ietwat laer is as teen Meksiko en Kanada, en die rede hiervoor is heel eenvoudig, naamlik die interafhanklikheid van die Chinese en Amerikaanse ekonomieë, wat mekaar soos twee moeë swaargewigboksers staande hou. Trump weet so goed soos enigiemand anders hoe afhanklik die VSA van Chinese aankope van Amerikaanse staatseffekte is – net soos wat Xi baie goed weet hoe belangrik die VSA as uitvoermark vir Chinese produkte is.

Daar is minstens nog twee belangrike faktore wat bepalend gaan wees vir Trump se toegespitste nastrewing van ’n volhoubare modus vivendi met China.

........
Hoë Amerikaanse invoertariewe op produkte van Tesla en Apple wat in China vervaardig is, gaan hierdie tegno-titane se besigheid ’n reuseknou gee.
........

In die eerste plek is daar die veelbesproke verhouding tussen Trump en sy nuwe beste maats, oftewel Amerikaanse tegno-titane soos Elon Musk, Jeff Bezos en Mark Zuckerberg (met selfs die besonder liberale Tim Cook van Apple wat ’n miljoen dollar van sy eie geld vir Trump se inhuldiging geskenk het, en met ’n strak gesig eenkant weg van die ander voorgenoemde tech-bro’s agter Trump op die verhoog gesit het), naamlik dat ál vier hierdie tradisionele liberale figure (en in Musk se geval libertyns) Trump se steun broodnodig het vir hulle sakebelange. En dit geld veral Musk, waarvan Tesla se belangrikste fabrieke in China is, asook Cook, met Apple in dieselfde bootjie. Hoë Amerikaanse invoertariewe op produkte van Tesla en Apple wat in China vervaardig is, gaan hierdie tegno-titane se besigheid ’n reuseknou gee.

In die tweede plek is daar die kwessie van Taiwan. Volgens die Pentagon se eie skattings kan China selfs al in 2025 Taiwan binneval en annekseer, en sal die Amerikaanse weermag China moeilik kan keer. Terselfdertyd het Taiwan ’n enorme aandeel in die vervaardiging van semigeleiers, mikrovlokkies en ander hoëtegnologieprodukte waarvan sowel die Amerikaanse as Chinese ekonomieë uiters afhanklik is. Ewe min as wat China en die VSA ekonomies sonder mekaar kan klaarkom, ewe min kan een van hulle bekostig om toegang tot Taiwannese nywerheidsproduksie te verloor.

En dus, ten slotte, hoe aaklig Trump in alfagorillamannetjie-modus ook al vir die vredeliewende idealiste onder ons mag lyk, pas dit eenvoudig die belange van die groot moondhede vandag dat Trump nie net die VSA se belange sal laat geld nie, maar eweneens dat hy spanning met die Arabiese wêreld, Iran, Rusland en China afwaarts probeer bestuur. Soos die ou realistiese spreekwoord lui, help dit nie jy daag met ’n mes by ’n skietgeveg op nie.

Daarmee saam is dit ook raadsaam om in gedagte te hou dat soveel as wat konserwatiewe mense wêreldwyd Trump se verkiesing toegejuig het, die VSA in ’n gestadigde afgang is. Trump verstaan dit beter as die meeste mense, vandaar sy befaamde versugting om die VSA weer groots te maak, maar soos Emmanuel Todd reeds uitgewys het, gaan dit waarskynlik op die duur ’n droom bly.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Trump 2.0 in volle swang

Trump en Suid-Afrika

LitNet Akademies Weerdink: Die ontwrigting en radikalisering van die Amerikaanse demokratiese politieke proses deur Donald Trump

ATKV-SA Akademiepryse 2024: ’n onderhoud met Johann Rossouw

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die ontbinding van die Weste – ’n oorsig oor Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident

  • 2

Kommentaar

  • DAVID WILLERS

    Very interesting overview. A couple of quibbles: the liberal democratic inspired rules-based system following Bretton-Woods still forms the bedrock of global trade. China joined the WTO relatively recently and despite being the second largest economy in the world, still enjoys developing country status at the WTO with all the low tariff privileges that go with it. Imposing new tariffs on China unilaterally by Trump would effectively cancel China's developing country status which the Chinese have obviously played to the hilt for the past two decades.The WTO will have to sort this out somehow.
    Secondly the west is not losing any sleep over Russia being an eventual threat to western Europe. Russia's economy is really very weak relative to even smaller countries like Holland, let alone giants like Germany and France.It may be a stretch to say the west is losing the war as such in Ukraine. The strategy has been to avoid escalation and gradually allow the Russian economy to exhaust itself, which it is doing. The EU as we now know will end up purchasing arms from America in order to donate to Ukraine; lend lease all over again in some ways. Germany in particular favours this short-term option in order to discourage higher American tariffs as threatened by Trump unless the EU steps up to the plate with bigger Nato budgets. But it is also clear that unless there is a clean deal between Ukraine and Russia that Ukraine might run a risk of turning into another Vietnam. Messy. It all depends on Putin - if he wants to ruin his country completely in the process. But maybe he is more interested in saving his own skin than saving Russia.

  • Cobus Mostert

    China as ’n “Tweede Wêreld”-Land:
    China bly ’n land met ’n groot ekonomiese BBP, maar toon steeds talle kenmerke van ’n ontwikkelende land. Hul ekonomie is steeds grootliks produksiegedrewe, eerder as gebaseer op kenniswerk of hoogs gevorderde dienste. Hierdie realiteit is deels waarom hulle steeds ontwikkelende land-status by die WTO geniet. Dit gee hulle handelsvoordele, wat hulle slim gebruik in geopolitieke strategieë, ondanks hul globale ekonomiese impak. Tog is daar groot interne ongelykhede en afhanklikheid van arbeidsintensiewe sektore wat hul “tweede wêreld”-status versterk.

    Oor Rusland, Oekraïne en die Weste:
    Die idee dat Rusland tans ’n bedreiging vir die Weste is, moet met konteks gesien word. “War fatigue” is ’n reële uitdaging. Die EU sukkel intern, met Duitsland wat ekonomies wankel en Frankryk in politieke chaos. Hierdie “sterk” lande is besig om hul eie strukturele swakpunte te openbaar. Rusland, aan die ander kant, bly ‘n moeilike speler, ondanks hul ekonomiese beperkinge. Poetin het duidelik gemaak dat hy Oekraïne eerder sal vernietig as om dit aan die Weste oor te gee. Die ironie is egter dat om Rusland te red, Poetin sy eie mag en oorlewing probeer verseker. Hy kan eenvoudig nie bekostig dat sy bewind deur interne chaos of nederlaag uitmekaar val nie. Sy voortbestaan is onlosmaaklik verbind aan Rusland se stabiliteit, hoe swak dit ook al is.

    Soos jy tereg opmerk, toets niemand wapens as hulle vrede soek nie. Hierdie voortdurende eskalasie is ’n bewys dat die geopolitieke magte eerder op dominansie as op versoening fokus.

    NAVO en die Skeuring tussen die VSA en EU:
    NAVO se relevansie lyk al hoe meer kwesbaar, veral as Donald Trump weer aan bewind kom. Sy vorige termyn het die bondgenootskap alreeds verswak deur EU-lande onder druk te plaas om groter bydraes te lewer, terwyl hy gelyktydig internasionale ooreenkomste bevraagteken het. Hierdie spanning is verder versterk deur die VSA se onvoorspelbare optrede, insluitend die oplegging van tariewe in 2016 en hul geneigdheid om nie aan die internasionale orde – wat hulle self gehelp het skep – te voldoen nie. Hierdie onbetroubaarheid as bondgenoot kan veroorsaak dat die EU en VSA al hoe verder uitmekaar dryf. In die lig hiervan kan NAVO in die toekoms irrelevant raak, aangesien die EU eerder na selfstandige strategieë begin kyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top