
...
Die verhaal van die Amerikaanse revolusie het vir Arendt paradigmaties geword van hoe politieke gesag “geskep” kon word binne ’n tydvak waarin tradisionele vorme van gesag soos tradisie en religie hulle houvas op mense begin verloor het.
...
Die eerste paar weke van Donald Trump se tweede termyn as president van die VSA het sy teenstanders teen die toue en sy ondersteuners aan die jubel. Trump se optrede het in die laaste tyd selfs uitgekring tot in Suid-Afrika nadat AfriForum en Solidariteit se jare lange gatkruipery by regses in die VSA wrange vrugte afgewerp het met Trump se aankondiging van sankies teen Suid-Afrika. Dit is die toppunt van ironie dat Trump, aangewese beskermheer van Afrikaner-grondregte, nou daarop aandring dat hy die Palestyne se grond sonder vergoeding sal afvat om Gaza in ’n strandoord te verander. Mens wonder ook of die uitgelese ontleders van Afrisol al tot die besef gekom het dat Elon Musk niks anders as Trump se Ajay, Atul en Tony Gupta is nie. Sekerlik sal hierdie gebalanseerde en konsekwente denkers eersdaags ook dié ongrondwetlike magsvergrype van Trump veroordeel? Aan die ander kant weet ons ook teen hierdie tyd dat swart en bruin mense se grond enige tyd sonder vergoeding gevat kan word sodat ’n wit man groot geld kan maak, en dat korrupsie in diens van multinasionale maatskappye eintlik ’n soort skaars vaardigheid is wat gekoester moet word. Dit is per slot van rekening die verswygde oorsprongsverhaal van die VSA: kontinentonteiening sonder vergoeding.
Soveel as wat ek geneig is om met Sigmund Freud saam te stem dat Amerika ’n reuse fout is, moet ’n mens tog krediet gee waar dit toekom: Ná die Amerikaanse revolusie van 1776 (’n rukkie voor die Franse revolusie) het die Amerikaanse stigters daarin geslaag om ’n grondwetlike demokrasie op te rig wat ten spyte van vele tekortkominge ’n uiters betekenisvolle gebeurtenis was binne die politieke geskiedenis van moderniteit. Volgens ‘n menige konserwatiewe en liberale Amerikaanse regskenners verkeer hierdie grondwetlike bestel onder Trump se presidentskap in lewensgevaar. Dit is dus die moeite werd om vir ’n oomblik te besin oor wat besonders is aan die Amerikaanse politieke eksperiment, en wat op die spel is indien dit nou tot ’n bitter oranje einde sou moes kom.
In haar boek van 1963, On revolution, wonder die Duitse politieke denker Hannah Arendt waarom die Franse revolusie van 1789 so ‘n groot mislukking was, terwyl die Amerikaanse revolusie van net meer as 10 jaar tevore uiteindelik sou uitloop op ’n demokrasie van merkwaardige lewenskragtigheid. Arendt het as ’n Jood uit Nazi-Duitsland gevlug en haar in die 1940’s in New York gevestig. Haar ondervinding as Joodse vlugteling en die uiteindelike gruweldade van die Nazi’s het ’n diep indruk op Arendt gelaat, en haar daaropvolgende werk het enersyds gefokus op hoe Europa tot die gruwels van Auschwitz kon versink het en andersyds op die moontlikhede van gesamentlike politieke optrede. Die verhaal van die Amerikaanse revolusie het vir Arendt paradigmaties geword van hoe politieke gesag “geskep” kon word binne ’n tydvak waarin tradisionele vorme van gesag soos tradisie en religie hulle houvas op mense begin verloor het.
...
Die dringende probleem waarmee die Amerikaanse stigters volgens Arendt gekonfronteer is, was hoe legitieme politieke gesag weer opgerig kon word nadat koninklike gesag afgewerp is – wie het die gesag om politieke gesag te vestig?
...
Die Amerikaanse revolusionêre oorlog het begin as ’n geskil oor belasting, en uitgeloop op omvattende kritiek op die idee van koninklike gesag; teenoor laasgenoemde het die skrywers van Amerika se Verklaring van Onafhanklikheid die volgende geopper: “We hold these truths to be self-evident, that all men are created equal, that they are endowed by their Creator with certain unalienable Rights, that among these are Life, Liberty and the pursuit of Happiness.” Die dringende probleem waarmee die Amerikaanse stigters volgens Arendt gekonfronteer is, was hoe legitieme politieke gesag weer opgerig kon word nadat koninklike gesag afgewerp is – wie het die gesag om politieke gesag te vestig? En belangrik: nie sommer enige politiek gesag nie; dit moes ’n vorm van gesag wees wat die Amerikaners se nuutgewonne politieke vryheid sou verskans. Die “pursuit of Happiness” het in ’n vroeër weergawe gelui “public Happiness”, waarmee Jefferson, die primêre skrywer, spesifiek sou bedoel het die plesier om deel te neem aan sake van openbare belang. Die feit van die saak is egter, hoe edel die woorde van die Verklaring ook al was, om bloot te sê dat mense gelyk is en oor sekere regte beskik, rig nie ’n regering op nie, en waarborg daarom ook glad die vermeende regte nie. Die Franse het hulle ook op hierdie regte beroep, en ons weet wat daarvan gekom het.
...
Daar is niks “self-evident” aan die idee van gelykheid of onvervreembare regte nie; die ware krag van die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid lê volgens Arendt in die sinsnede “We hold”.
...
Arendt argumenteer dat die Verklaring van Onafhanklikheid se woorde ’n werklike uitwerking gehad het, omdat dit gefundeer was in ’n vroeëre politieke praktyk van die Puriteinse koloniste, naamlik hul gewoonte om hulle aan mekaar te verbind deur beloftes, soos alreeds versinnebeeld deur die Mayflower Compact. ’n Belofte is volgens Arendt ’n manier om kollektiewe handeling oor tyd in stand te hou, ’n daad wat nie wegsterf wanneer die vergadering of die optog verdaag nie. Daar is niks “self-evident” aan die idee van gelykheid of onvervreembare regte nie; die ware krag van die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid lê volgens Arendt in die sinsnede “We hold”. Dit wil sê, dit is slegs die belofte vervat in die “We hold” wat gelykheid en menseregte ’n politieke werklikheid kan maak. Die vroeë Amerikaanse koloniste het volgens Arendt die krag van sulke politieke beloftes begryp (hul Puriteinse agtergrond het waarskynlik ’n rol gespeel), en hul grondwet is met gesag beklee omdat dit ten diepste in hierdie praktyk gewortel was. Die feit dat die Amerikaanse stigters die menslikheid van slawe ontken het, onderstreep natuurlik dat gelykheid en menseregte nie “self-evident” is nie, maar dien ook as ’n aanmoediging om die inhoud van die “ons” te vergroot.
...
Vir Trump is gesag gesetel in sy persoon, en in werklikheid is dit niks anders as geweld nie; vir Trump is ’n belofte ’n onaanvaarbare beperking op sy mag en ’n teken van swakheid.
...
Wat ons tans in die VSA onder Trump sien, is die aftakeling van politieke gesag soos dit deur die dade van die Amerikaanse stigters in die lewe geroep is. Vir Trump is gesag gesetel in sy persoon, en in werklikheid is dit niks anders as geweld nie; vir Trump is ’n belofte ’n onaanvaarbare beperking op sy mag en ’n teken van swakheid. Sy minagting van die Amerikaanse Grondwet bevestig dit keer op keer. Arendt was al in 1963 besorg oor die voortbestaan van die “revolusionêre gees” in die VSA, waarmee sy natuurlik bedoel het ’n bepaalde liefde vir politieke deelname; ’n ingesteldheid wat die politiek nie beskou as ’n struikelblok op ons reis na Mar-a-lago nie, maar eerder as een van ons mees kosbare vryhede. Opeenvolgende Amerikaanse regerings het bygedra tot die stelselmatige verskraling van vryheid in die VSA. Die neoliberale konsensus het berus op die idee dat die mark politiek vervang het en die soeke na “public Happiness” is verskraal tot die soeke na private (ekonomiese) geluk. Sodoende is die weg berei vir Trump en Musk wat nie alleen die Amerikaanse demokrasie wil herskep in hulle opgeblase beeld nie, maar as’t ware die ganse komplekse werklikheid met hulle sotlike fantasieë wil verdring.
...
Ons politieke eksperiment is in vergelyking met die VSA nog bloedjonk, maar ’n mens sou die Suid-Afrikaanse Grondwet ook as ’n belofte kon lees, ’n belofte wat ons telkens opnuut moet maak, nie deur die Grondwet as ’n onveranderlike bron van gesag te aanvaar nie, maar deur dit as ’n uitnodiging tot politieke deelname te lees.
...
Trump se aanval op grondwetlikheid is ook betekenisvol vir Suid-Afrika, want, soos die Amerikaanse stigters, moes Suid-Afrikaners ook na die einde van apartheid legitieme politieke gesag opnuut in die lewe roep. Ons politieke eksperiment is in vergelyking met die VSA nog bloedjonk, maar ’n mens sou die Suid-Afrikaanse Grondwet ook as ’n belofte kon lees, ’n belofte wat ons telkens opnuut moet maak, nie deur die Grondwet as ’n onveranderlike bron van gesag te aanvaar nie, maar deur dit as ’n uitnodiging tot politieke deelname te lees. Dit sal die manne van AfriForum betaam om te besin oor die weerloosheid van ons eie grondwetlike bestel voor hulle met die duiwel gaan dans – tensy hulle natuurlik dink Trump kan sommer ons koning ook wees.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe
South Africa – and the world at large – will feel the impact of Trump’s climate change denial


Kommentaar
Goeie beredenering.
Lyk vir my na 'n goeie beredeneerde resensie van Arendt se boek, met eie ander insigte aan die skraal kant.
Stel voor jy lê dit aan Crito voor vir 'n punt uit tien.