Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Breyten; vir Breyten

  • 0

Breyten Breytenbach (Foto: Izak de Vries)

“On le croyait éternel” Naòmi Morgan

1. Daar is mense – miskien die meeste mense – wat kan sê hulle eerste bewuswording van Breyten was deur sy woorde. Ek kan dit egter nie sê nie. Ofskoon woorde my medium was nog voor ek my verstand sou kry, en ofskoon die voorbeeld van Breyten my uit die tronk sou lei waarin ek nie eens wis ek opgesluit was nie, begin my bewuswording van Breyten by ’n diagram in Rapport in 1977 wat uitbeeld hoe Breyten uit die tronk probeer ontsnap en misluk het.

Wie sal ooit weet waarom, skaars nadat ek leer lees het, ek daar in my pa se studeerkamer vir hom gevra het waaroor dié prentjie gaan? En onthou ek reg dat my pa aan my verduidelik het dat dié man ’n “terroris” is wat vir sy dade tronk toe gestuur is? Of was dit my ma? 

Kleinboer, wat meer van Breyten uit die hoof kan aanhaal as enigiemand anders van wie ek weet, lig my in dat Breyten die ongelukkige bewaarder met die bynaam Lucky beskryf as “met sy eerste sukkelsnor”.

2. Daar is mense – miskien die meeste mense – wat na hierdie of daardie manjifieke gedig van Breyten as hulle eerste kennismaking met sy werk kan verwys. Ek kan dit egter nie doen nie. Ofskoon “Ek stuur vir jou ’n rooiborsduif” in standerd 9 of matriek, 1987 of 1988, vir ons voorgeskryf was, was die gedig wat my die eerste getref het ’n antigedig, miskien Afrikaans se digterlike teenhanger van Marcel Duchamp se antikunswerk die vergulde toilet, naamlik die kortste Afrikaanse gedig, “Huis van die dowe”:

          Hoesê?

Wie sal ooit weet waarom onder al Breyten se tallose wonderskone gedigte juis hierdie antigedig die figuur “Breyten” by my gevestig het, my nuuskierigheid oor hom geprikkel het? Ek onthou nie meer die vrae wat ek ons Afrikaans-onderwyseres oor hom gevra het nie, maar só onthou ek vandag haar snedige antwoord: “... dat hy nóg een van daardie Afrikaanse skrywers was wat gedink het jy moet na Parys toe gaan om te kan skryf”; subteks: “Hy het gedink hy is beter as ons.”

Was dit op daardie punt dat die drang om self eendag Parys toe te gaan en Frans te leer die eerste maal geprikkel is?

3. Dit is seker nie onjuis om te sê dat soos Van Wyk Louw en DJ Opperman in hulle geslag mekaar se teenhangers was, Karel Schoeman en Breyten dit in húlle geslag was nie. Veertig dae en veertig nagte uit mekaar gebore, die een in die paradys en die ander in die woestyn; albei was veelsydige kunstenaars tussen beeld en woord, grondig gevorm deur die leegte van landskap, gees en Zen. Soos die een as die enigste kind van ’n enkelma vanuit enkelingskap en eensaamheid intense, kortstondige opwellings van gemeenskap met één ander mens op ’n keer opgesoek het, het die ander een, as een van vyf kinders uit ’n hegte, gelukkige gesin, vanuit gemeenskap en gemeensaamheid telkens heen en weer tussen die ons van sy mense en die ek van afsondering en ballingskap gependel – waarvan daardie jare van eensame opsluiting in Pretoria-Sentraal-gevangenis as absolute donkerpunt in die pendelary vir altyd ’n letsel op hom en ’n klad op óns gelaat het. En waar die een se dood aan eie hand ná jare se gestadigde aftakeling agterna beskou altyd voorsien kon word (wat die skok steeds nie minder maak nie), het die ander se dood ondanks 60 jaar se skrywe oor die eie dood as volslae skok gekom omdat ons gedink het hy sal vir altyd leef – on le croyait éternel. Terwyl ek met die een eens vir twee of drie jaar intense gemeenskap beleef het, was dit met die ander oor meer as 30 jaar intense oomblikke van gemeenskap; die een het jou één keer naby toegelaat en daarna vir altyd op ’n afstand gebly, en die ander was altyd op ’n afstand, behalwe wanneer hy jou telkens weer kortstondig naby hom toegelaat het.

........
Vir sy poging om ons uit die tronk van onbewustheid te bevry, is Breyten tronk toe gestuur.
........

4. My eerste medekunstenaarsvriend, Albert (1970–2022), het die eerste my aandag gevestig op Huis van die dowe. En toe ek al filosofie begin studeer het, aangehou dat hy vir my ’n dokumentêr oor ’n Afrikaanse filosoof moet wys. So het dit gekom, een middag in Valhalla, dat ek danksy Albert die eerste maal bewus geword het van een van Breyten se belangrikste leermeesters in Afrikaans en van die Weg, naamlik Marthinus Versfeld. Hoe die oom uit die grond en na die grond toe geleef en gedink het, soos dit onvergeetlik in Katinka Heyns se dokumentêr uitgebeeld is, het ’n onuitwisbare indruk gelaat. Hoe sou ek anders as om duiselend van opwinding daardie aand in die winter van 1991 plaas te neem in die stampvol saal by Wits vir die opening van die Wits Winterforum oor Afrikaans (“Afrikaans uit die doofpot”) om na Breyten en oom Marthinus te luister.

5. Tussen die ontdekking van Huis van die dowe en die Wits Winterforum oor Afrikaans was daar Vrye Weekblad, die Voëlvrytoer, FW se toespraak en soveel ander dinge wat in my skooljare (1977–1988) totaal ondenkbaar en onvoorstelbaar was. Soos Dana Snyman se Seun dit boekstaaf, was daardie jare tussen Soweto 1976 en PW Botha se onwillige postberoerte bedanking in Augustus 1989 in die noorde van hierdie land die jare waarin die staatspoging om van seuns manne te maak op sy felste en vernietigendste was. Jy kan vandag ’n distopiese reeks soos Silo kyk – en dan kan jy onthou dat die tyd en die plek waar jy vandaan kom, veel meer distopies was, want die silo van isolasie waarin ons destyds toegemessel is, het verseker dat enigiets buite die grense van land en taal bloot virtueel of verbeeld was. Vir sy poging om ons uit die tronk van onbewustheid te bevry, is Breyten tronk toe gestuur. Wat die naam Mandela vir die res van die land se bevrydingstryd was, is wat die naam Breyten vir óns bevrydingstryd was. En vir altyd sal bly.

6. In die vol saal by Wits was drie van die vier openingsprekers reeds op die verhoog: Van Zyl Slabbert, Neville Alexander, Breyten. Maar oom Marthinus was nêrens te siene nie. Oplaas het hulle sonder hom begin. Wie aan die woord was toe ’n beroering in die saal die spreker onderbreek, kan ek nie meer onthou nie. Ek onthou wel die vooroorgeboë figuurtjie wat spierwit grys met sy kierie in die paadjie na die verhoog aanskuifel – die filosoof wat uit die grond na die grond toe geleef en gedink het – en hoe die digter opstaan en van die verhoog af stap om die omie by die elmboog te neem en voetjie vir voetjie na die verhoog te begelei. Baie van wat op daardie verhoog gesê is, is ook nou vergete, maar wat tot vandag toe glashelder is, is die oomblik waarop oom Marthinus (nie ver van sy dood nie) na Breyten draai en vir hom iets sê soos: “Opsaal, Breyten, jou perd wag.”

Dit was die eerste keer dat ek ’n soort sjiho meegemaak het – lank voor ek self by die Zen uitgekom het – oftewel wanneer ’n meester ’n dissipel as opvolger aanwys. (Breyten sou my later vertel hoe oom Marthinus hom na sy huis in Kaapstad laat kom het om sy staf aan Breyten te oorhandig.)

........
... die onopsluitbare digter wat die eerste was wat mý tronk oopgesluit het deur met sy voorbeeld my bewus te maak van die wêreld – nee, van wêrelde – buite die tronk waarin ek soos een van die gevangenes in Plato se grot grootgeword het.
........

Ná die toesprake die aand, by die polsende kuier in die voorportaal van die saal, het ek al my moed bymekaargeskraap om die handgeskrewe brief in my baadjiesak te oorhandig aan die onopsluitbare digter wat die eerste was wat mý tronk oopgesluit het deur met sy voorbeeld my bewus te maak van die wêreld – nee, van wêrelde – buite die tronk waarin ek soos een van die gevangenes in Plato se grot grootgeword het.

Dit was ons eerste persoonlike ontmoeting.

7. En toe kom Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde, die eerste maal wat Breyten se woorde vir my werklikheid geword het, die eerste maal dat ek ’n digbundel in een vasgenaelde sitting van voor tot agter koorsagtig sit en lees het. Soos die vrou wat in Silo die eerste maal die wêreld buite die silo aanskou, het ek geduisel. Kon so iets moontlik wees? Ja, nie net móóntlik nie, maar wérklik. Net daar in my hande. Die voorbeeld het woord geword.

8. Ja, dit was óók danksy Karel Schoeman se vertaling van Rob Nairn se ’n Stil gemoed: ’n inleiding tot die Boeddhisme en die meditasie dat ek die eerste maal, in September 2001, in Lyon, Frankryk ’n Zen-dojo besoek het. Maar die saadjie was lank voor dit deur Breyten se voorbeeld geplant. Daardie eerste aand het ek nie geweet dat my toekomstige meester, Roland Yuno Rech, die sjiho van Breyten se meester, Taisen Deshimaroe, ontvang het nie. Ek sal die enorme verligting van daardie eerste aand in die dojo met die gedeelde stilte in swart kimono’s kruisbeen en regop in die halflig van die dojo ook nooit vergeet nie. Sonder Breyten se voorbeeld sou ek nooit daar uitgekom het nie – wat nog te sê die spiraalreis terug na die Christendom in die vorm van die Ortodoksie en die Logos van die Stilte kon aflê.

9. Was dit in 1992 dat ek my weer in ’n saal vol opgewonde mense wagtend op ’n toespraak van Breyten bevind het? In die ZK Matthews-saal by Unisa, Pretoria. Ek mag die jaartal verkeerd hê, maar wat ek die duidelikste van die aand onthou, was Breyten se antwoord toe ’n dramastudent en tydgenoot van my opstaan en hom vra wat Breyten hom oor die toekoms kan sê, en of hy dalk op meer kan hoop as om sy brood uit toneelspel in sepies te verdien? Breyten se antwoord was dat hy nie die toekoms kan voorspel nie, “maar ek kan jou van een ding verseker, en dit is dat jy nie die beste deel van jou kreatiewe lewe daaraan sal moet bestee om teen ’n dom stelsel te veg nie”.

Die meeste van ons in daardie saal het waarskynlik daardie aand gevoel dat ons teen die agtergrond van die oorgang van die ou na die nuwe bedeling soos die Israeliete ná 40 jaar in die woestyn op die wal van die Jordaanrivier uiteindelik die beloofde land, Kanaän, in sig het. Het Breyten met sy antwoord aan my tydgenoot ’n bevinding gemaak oor ’n eie lewe in die woestyn geslyt? En het hy later al hoe meer die waarde daarvan besef met die ontwikkeling van sy konsep van die Middelwêreld? Wie sal weet?

Al wat ek weet, is dat ek omtrent ’n kwarteeu later, toe ek ’n lankverlore universiteitsvriend en medekunstenaar weer die eerste maal sedertdien sien, met verwysing na Breyten se destydse antwoord vir my vriend sou sê dat óns geslag die beloofde land kan sién, maar dit nie self in ons lewens sal bereik nie.

Dit was eers met die skryf van ’n lesing vir vanjaar se Etienne van Heerden Veldsoirée dat ek besef het ek was verkeerd, want nét hier, op wat Dana die nuwe groot trek na die ruimtes tussen ons noem, nét hier onder ons voete, is die beloofde land.

Ek twyfel of ek dit sonder Breyten se voorbeeld op die landkaart sou gevind het.

.......
Toe ons mekaar die aand effe beskonke omhelsend groet, het hy my fluisterend in die oor ’n soort sjiho gegee – en raad vir die oorblywende stuk van my pad oor hoe om onnodige wonde en sondebokskap te vermy.
.......

10. Dit was in 1998 dat ek en my mederedakteurs van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek saam met Lamé Ebersohn die maandelikse Filosofiekafee in Café Riche, Kerkplein begin het. Toe Lamé my vroeg in 2022 vra of ek bereid sou wees om by een van die filosofiekafees in die lewe ná die dood van Café Riche en die Kerkplein van die Pretoriase lente van die 1990’s op te tree as “medereerder” vir ’n filosofiekafee met Breyten in sy eertydse ouerhuis – nou die Breytenbach Sentrum in Wellington – was ek so te sê reeds op pad.

In afwagting dat die laaste gehoorlede dié aand hulle plekke inneem, het Breyten vir my beduie waar presies in die groot gebouekompleks sy kamer was. En ook voorgelees uit daardie toespraak by Unisa van die vroeë 1990’s.

Toe ons mekaar die aand effe beskonke omhelsend groet, het hy my fluisterend in die oor ’n soort sjiho gegee – en raad vir die oorblywende stuk van my pad oor hoe om onnodige wonde en sondebokskap te vermy.

Dit was die laaste maal dat ek hom persoonlik gesien het.

Ons laaste persoonlike ontmoeting, Filosofiekafee, Breytenbach-sentrum, Wellington, 4 Maart 2022 (Foto: Rika-Alet Rossouw)

11. En toe, verlede Sondagmiddag kort ná 3, op ’n stralende Vrystaatse dag op ons stoep met ons braaivleisvuur byna gereed, land die boodskap op my selfoon, die boodskap wat ek nooit wou ontvang nie, die boodskap wat dit onmoontlik gemaak het om langer te glo dat Breyten nie onsterflik is nie. Op dieselfde dag wat my oorlede moeder (1935–2023) 89 sou geword het.

En ek het langs die vuur geween.

12. Hierdie land en hierdie taal sal waarskynlik nooit weer ’n Schoeman en ’n Breyten hê nie. Die twee beskimmelde ou reuse het uit die grond na die grond teruggekeer. Maar onder die bome van woord en beeld en voorbeeld wat hulle geplant het, kan ons nog die koelte opsoek. As ons dan daar gaan sit op die grond en ons oë skrefies trek om te kyk na die land anderkant die glinsterende rivier, sal ons weet dat wanneer ons weer opsaal, ons bloot die pad moet bly volg wat hulle vir ons deur die leegte gebaan het.

 Ons het aangekom. En so sal ons altyd weer aankom.

Lees ook:

Breyten Breytenbach – aanhou beweeg en geraas maak ...

Herinneringe aan my oom Breyten

Gesprekskuns: Breytenbach se blywende, lewende nalatenskap

Altyd Breyten, die man met die groen trui

Breytenbach family press release

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top