
Boekomslae van Franse vertalings deur Pierre-Marie Finkelstein: Cette vie, Le Jardin céleste en La Saison des adieux deur Karel Schoeman
Pierre-Marie Finkelstein (1957–) het homself sedert 2003 gevestig as een van die voorste en produktiefste vertalers van Suid-Afrikaanse skrywers in Frans. Hy is veral bekend om die ses romans van Karel Schoeman wat hy tot dusver vertaal het: Na die geliefde land, Afskeid en vertrek, Hierdie lewe, Verliesfontein, Die uur van die engel en Die hemeltuin.
Drie van hierdie vertalings is met gesogte Franse letterkundige pryse bekroon: In 2006 word sy vertaling van Afskeid en vertrek bekroon met die Prix Amphi; in 2009 word sy vertaling van Hierdie lewe bekroon met die prys vir die beste buitelandse roman van die jaar (Prix du Meilleur livre étranger); en in 2018 word sy vertaling van Die uur van die engel bekroon met die prys vir die beste Afrika-roman van die jaar (Prix Transfuge du meilleur roman africain). Ander Afrikaanse skrywers wat hy vertaal het, sluit in Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer, terwyl hy tans ook werk aan ’n vertaling van Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar. In ag genome hoe skaars regstreekse vertalers uit Afrikaans in Frans is, is Finkelstein se korpus vertalings ’n magistrale prestasie – afgesien van die feit dat hy ook vertalings uit Engels, Nederlands en Portugees in Frans publiseer, en sowel prosa as poësie vertaal. Dit maak van Finkelstein waarskynlik een van die wêreld se voorste en veelsydigste literêre vertalers.
JR: Pierre-Marie Finkelstein, baie dankie dat jy, as iemand wat verkies om stilweg buite die kalklig te werk, ingestem het tot hierdie onderhoud. As ek mag begin by jou naskoolse opleiding: Jy verwerf kwalifikasies in die bestudering van Engels en Spaans aan die Universiteit van Parys-IV (Sorbonne); in Nederlands aan die Universiteit van Lille-III; aan die Europese Sentrum van Literêre Vertalers in Brussel; asook in Afrikaans, in algemene taalkunde en taalsosiologie aan die Universiteit Stellenbosch. Om in die loop van jou studies kwalifikasies in minstens vier tale aan vier verskillende instellings in drie verskillende lande in sowel die Noordelike as die Suidelike Halfrond te verwerf, is uitsonderlik. Hoe het dit gekom dat jou studies jou na hierdie verskillende tale, instellings en lande geneem het?
P-MF: My gunstelingvakke op skool was Frans, vreemde tale, geskiedenis en aardrykskunde. Ná matriek het ek by die universiteite van Parys-Sorbonne (Paris-IV) en Sorbonne-Nouvelle (Paris III) ingeskryf. Daar het ek Engels, Spaans en Nederlands as hoofvakke geneem, met Italiaans, Skandinawiese tale en Fins as byvakke. Terselfdertyd het ek begin om (vanweë die taalverwantskap met Nederlands) ook in Afrikaans belang te stel en die taal self met boeke begin leer. Later het ek Suid-Afrikaners in Parys leer ken wat my met die uitspraak en die gesproke taal gehelp het. Die destydse hoof van die Departement Nederlands aan die Sorbonne, Pierre Brachin, het in Suid-Afrika en Afrikaans belang gestel en het ’n paar Afrikaanse boeke in sy studeerkamer gehad wat ek mog leen. Ek het ook soms na die Afrikaanse taalkursus van die SAUK geluister, maar die ontvangs was nie altyd optimaal nie. In Oktober 1977 het ek vir die eerste keer Suid-Afrika toe gevlieg. Ek het drie maande lank kruis en dwars deur die land geryloop en per trein gereis, en daarna aansoek gedoen om ’n studiebeurs om ’n jaar as ’n uitruilstudent aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit deur te bring. Dit was 1980, nadat ek my studies in Parys voltooi het. Toe ek terug Frankryk toe is, het ek my studies in Nederlands hervat aan die Universiteit van Lille onder Walter Thys (Lille was toe die enigste universiteit in Frankryk wat ’n volledige kursus in dié taal aangebied het). In 1988, nadat ek sewe jaar lank as ’n Spaans-onderwyser by ’n Paryse hoërskool gewerk het, het ek ’n vergelykende eksamen van die Europese Unie (EU) afgelê en ’n pos as vertaler in Brussel gekry, wat daartoe gelei het dat ek na België verhuis het. Die feit dat ek in verskillende lande gebly en aan verskillende instellings gestudeer het, beskou ek nou nie as besonder uitsonderlik nie, maar eerder as ’n sameloop van keuses en omstandighede.
........
Ek het my studies in Frankryk in 1979 beëindig en wou toe weer na Suid-Afrika gaan om meer oefening in Afrikaans te kry en my kennis van die taal en die letterkunde te verbeter.
........
JR: Jou groot voorganger as regstreekse vertaler uit Afrikaans in Frans, Georges Lory, het die uitsonderlike keuse gemaak om tydens Suid-Afrika se groeiende internasionale isolasie in die 1960’s aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. As ek my somme reg maak, was jy vermoedelik in ’n ewe moeilike dekade vir Suid-Afrika, naamlik die 1980’s, ook student aan die Universiteit Stellenbosch. As jy dit nie reeds in die vorige vraag beantwoord het nie, wat het jou juis op daardie tydstip laat besluit om spesifiek aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer? En watter dosente het daar op jou ’n invloed uitgeoefen, en watter Afrikaanse skrywers se werk het jou daar aangegryp?
P-MF: Sowel my eerste reis na Suid-Afrika as my jaar op Stellenbosch het kort ná die Soweto-opstand plaasgevind. Die tydstip was ’n bietjie van ’n toeval. Ek het my studies in Frankryk in 1979 beëindig en wou toe weer na Suid-Afrika gaan om meer oefening in Afrikaans te kry en my kennis van die taal en die letterkunde te verbeter. Ek was mal oor Kaapstad en die Kaap oor die algemeen. Bowendien het ek van alle kante gehoor dat die US ’n hoog aangeskrewe universiteit is, wat daartoe bygedra het dat ek daar aansoek gedoen het. Ek het klasse geloop by Johan Combrink en Fritz Ponelis van die Departement Afrikaans-Nederlands, en ook by Herman Giliomee (geskiedenis) en Jannie Gagiano (politieke wetenskap). Die eerste paar weke het ek gesukkel, al het ek ’n voorkennis van Nederlands gehad, want die meeste ander studente se moeder- of huistaal was Afrikaans, en hulle het die lettere in hul moedertaal gestudeer. Ek het in poësie belanggestel en wou baie graag Merwe Scholtz se lesings volg, maar dit was destyds nog veels te moeilik vir my en na ’n paar weke moes ek opgee. Ek was die enigste buitelander en daar was nie ’n Afrikaanse taalkursus vir anderstaliges soos dit die geval in Frankryk is vir buitelandse studente nie. Agterna beskou, was dit ’n groot uitdaging. Ek het probeer om met soveel mense moontlik te gesels en ek het gebruik gemaak van die taallaboratorium om my spraakkennis te verbeter. Wat my ook grootliks daartoe gehelp het, is dat ek onmiddellik by my aankoms op Stellenbosch gelukkig genoeg was om by ’n Afrikaanse familie tuis te gaan, en ’n paar weke later het ek ’n buitekamer by ’n Afrikaanse dame gehuur in wie se huis ook ander studente gebly het.
JR: Terwyl baie literêre vertalers vir ’n eerste vertaling waarskynlik ’n kleinskalige roman sal kies, het jy nie teruggedeins daarvoor om weg te val met die vertaling van Karel Schoeman se Na die geliefde land nie. Hoe het dit gekom dat jy op dié roman besluit het?
P-MF: Na die geliefde land is die allereerste Afrikaanse roman wat ek gelees het. Vantevore had ek “slegs” niefiksieboeke (taalkunde, geskiedenis) en koerante gelees. Dit was liefde met die eerste oogopslag, en tot vandag toe is Karel Schoeman my gunstelingskrywer in Afrikaans. Ek het ’n kladboek gekoop en – as oefening – begin om die eerste kapittels te vertaal. Ek sou toe nooit kon droom dat ’n Franse uitgewer my meer as 20 jaar later sou vra om dié boek in Frans te vertaal nie! Destyds was Daniel Arsand, self ’n romansier én uitgewer by Phébus-uitgewers in Parys, ’n groot bewonderaar van Schoeman, met wie hy later jare lank e-posse uitgewissel het. Dit was 2002; ek het toe ’n nagraadse kursus by die CETL (Europese Sentrum vir Literêre Vertaling) in Brussel gevolg. Toe, op ’n dag, lui die telefoon en iemand van Éditions Phébus vertel vir my hulle het die vertaalregte aangeskaf en vra my of ek gewillig is om die boek te vertaal. Ek was in die sewende hemel! Nog vóór die boek verskyn het, het ons ’n vertaling van drie kortverhale van Schoeman (“Die park na die val van die blare”, “Die hotel” en “Onderbreking”) gepubliseer in Caravanes (8, 2003), ’n pragtige luukse literêre tydskrif om Schoeman aan die Franse publiek (en resensente) bekend te stel. Sover ek weet, is dié drie kortverhale in geen ander taal vertaal nie.
JR: Soos reeds in die inleiding hier bo gemeld, het jy daarna nog vyf romans van Schoeman vertaal. Jy beskryf Schoeman ook as jou gunstelingromansier. Wat is dit wat jou omtrent sy werk aangryp?
........
Hoe verklaar ’n mens liefde? Om ’n boek te lees – en te vertaal – beskou ek as ’n ontmoeting. ’n Ontmoeting met iemand anders se wêreld, verbeelding ens. Jy moet ’n aanrakingspunt vind met die teks.
........
P-MF: Dis nou ’n moeilike vraag. Soos ek sê, dit was ’n coup de foudre, liefde met die eerste oogopslag. Hoe verklaar ’n mens liefde? Om ’n boek te lees – en te vertaal – beskou ek as ’n ontmoeting. ’n Ontmoeting met iemand anders se wêreld, verbeelding ens. Jy moet ’n aanrakingspunt vind met die teks. Ek hou van Schoeman se taal, van sy landskapbeskrywings, sy ritme, die onderwerpe wat hy behandel en die ingewikkeldheid van die verhoudinge tussen die karakters. Sy landskapbeskrywings herinner my aan Walter Meyer se skilderye, wat ek baie later leer ken het. Ek hou ook baie van sy boeke oor die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie, oor Bloemfontein, oor die sendelinge; van sy reisboeke oor Ierland en Nederland, sy biografieë van kunstenaars soos Oliver Schreiner en Irma Stern. Ek is waarskynlik een van min mense in Frankryk wat Die laaste Afrikaanse boek enduit gelees het!
JR: Wat die vertaling van Schoeman betref, is dit onvermydelik om jou te vra wat vir jou oor die jare die grootste uitdagings in die vertaling van sy werk was. Dit is byvoorbeeld denkbaar dat dit moeilik mag wees om die landelike, tradisionele Suid-Afrikaanse wêreld waarin sy romans dikwels afspeel, begrypbaar en toeganklik vir ’n veral gemoderniseerde Europese, Franse leser te maak. En is daar eweneens aspekte van sy styl wat miskien nié so moeilik is om te vertaal nie?
P-MF: Een aspek van Schoeman se styl wat ek soms moeilik vind om weer te gee, is die alomteenwoordigheid van lig, skemer en donkerte in sy oeuvre, asook die talryke (bewuste) herhalings – in Frans word herhalings baie negatief gesien en behoort te alle koste vermy te word, wat dikwels lei tot skrapping van woorde deur die uitgewer. Die ontvangs by Franse, Switserse en Belgiese kritici was altyd positief – Schoeman se boeke word gereeld in vooraanstaande koerante en tydskrifte (Le Monde, Le Figaro, Libération, L’Humanité, Le Temps …) geresenseer. Van sy boeke is nou ook op die rakke van verskeie biblioteke in Franssprekende Afrikalande. Die een wat tot dusver die beste verkoop het, is die vertaling van Hierdie lewe. Daarteenoor het Die uur van die engel – een van my gunstelinge – minder goed gevaar, waarskynlik vanweë die ingewikkelde, byna mistiese verhaal en sekere aspekte van die Protestantisme waarmee die meeste mense in Frankryk nie vertroud is nie. Nóg ’n uitdaging is natuurlik die tye. Die Franse werkwoordelike stelsel is baie anders as die Afrikaanse, en die vertaling van die Afrikaanse tydpartikels (bv dan, toe en nou) sorg ook soms vir kopkrap.
JR: Terselfdertyd is dit onvermydelik om jou dieselfde vraag oor die vertaling van Marlene van Niekerk se Agaat te vra, veral byvoorbeeld in ag genome die merkwaardige landboutegniese woordeskat wat sy in die roman inspan. Vertel ons asseblief meer van die uitdagings van die vertaling van Agaat.
P-MF: Agaat is tot dusver ongetwyfeld die veeleisendste vertaalwerk waarmee ek te kampe gehad het. Die vertaling het drie jaar geneem – dit was in die vroeë 2010’s; ek het toe nog voltyds by die EU gewerk en aan Agaat saans, oor naweke en tydens vakansies. Sowel Éditions Gallimard as Marlene Van Niekerk was ongelooflik geduldig én hulpvaardig. Marlene het my vrae oor tegniese aspekte altyd baie snel en noukeurig beantwoord, en die uitgewer het nie geaarsel om die sperdatum te wysig sodat ek nie hoef te stres nie.
JR: Meer onlangs het jy ook nie teruggedeins daarvan om Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer se poësie aan te durf nie. Dit is twee skrywers wat natuurlik in ’n heel ander register as Schoeman en Van Niekerk skryf – soseer dat sommige mense dit nie bloot as ’n ander variant van Afrikaans beskou nie, maar selfs as ’n ander taal as Afrikaans. Wat was vir jou spesifieke uitdagings omtrent die vertaling van hulle werk?
P-MF: Ek kan ’n hele dag in ’n boekwinkel deurbring, soms tot sluitingsuur, byvoorbeeld by Protea Boeke in Pretoria of in Stellenbosch, maar ook in kleiner boekwinkels, in Hermanus, Swakopmund of waar ook al. Ek blaai talryke boeke deur, maak ’n keuse en koop kort voor die terugvlug ’n ekstra koffertjie as handbagasie. Noudat slapende honde, Ronelda se eerste digbundel, het ek in ’n Bloemfonteinse boekwinkel raakgesien en onmiddellik aangeskaf. Haar gedigte het my diep ontroer en my aan die mense herinner wat ek in 1980 in Elsiesrivier en Pniel leer ken het toe ek op Stellenbosch was. Van Stellenbosch af het ek gereeld Pniel toe geryloop en Elsies toe met die trein gery en daar met mense op straat, op treine, in winkels en in kerke gepraat, en so langsamerhand vriende gemaak. Partykeer toe ek vir die naweek daar gaan kuier het, moes ek in ’n woonwa in die tuin slaap, want ek was nie toegelaat om in hul huis te oornag nie. Dit was teen die wet! Die lewens, die stories wat hulle toe vir my vertel het, was baie soos wat Ronelda en Nathan 30 jaar later skryf. In hierdie opsig het die lewensomstandighede in die townships nie baie verander nie. Dít was die aanrakingspunt wat ek eerder genoem het. Vanaf 2009 het ek van Ronelda se gedigte in vertaling in verskeie literêre tydskrifte in Frankryk gepubliseer. Later het ek ook gedigte van haar by die Paryse Boekeskou en meermale by die jaarlikse vergadering van ATLF (Franse Vereniging van Literêre Vertalers) voorgelees en in vertaalwinkels behandel. Van haar gedigte is ook in bloemlesings van Suid-Afrikaanse poësie in Frankryk opgeneem. Danksy Ronelda het ek ook die voorreg gehad om met Nathan Trantraal se werk kennis te maak – sy het vir my die manuskrip van Nathan se Chokers en survivors gestuur. Onlangs het ook Chinatown (2023) en Alles het niet kom wôd (2024) in Frans beskikbaar geword, en ek hoop om Oolog in die nabye toekoms by dieselfde uitgewer te laat publiseer.
........
Kaaps het baie meer Engelse woorde as Standaardafrikaans, en dit gaan onvermydelik “lost in translation”. Jy mag nie in ’n Franse boek Engels gebruik nie, anders gaan die leser dink jy het vergeet om ’n paar sinne te vertaal. Ek beskou dit nie as ’n probleem nie. Nathan (soos al hoe meer mense) beskou Kaaps as ’n taal op sy eie. Die Engels in Kaaps is dus nie Engels nie, dis Kaaps, en ek vertaal uit Kaaps in Frans.
........
Wat Kaaps betref, lê die “spesifieke uitdagings” waarna jy verwys veral in die woorde wat nie in Standaardafrikaans bestaan nie, of wat ’n ander betekenis het. Register is natuurlik ook ’n uitdaging. Kaaps het baie meer Engelse woorde as Standaardafrikaans, en dit gaan onvermydelik “lost in translation”. Jy mag nie in ’n Franse boek Engels gebruik nie, anders gaan die leser dink jy het vergeet om ’n paar sinne te vertaal. Ek beskou dit nie as ’n probleem nie. Nathan (soos al hoe meer mense) beskou Kaaps as ’n taal op sy eie. Die Engels in Kaaps is dus nie Engels nie, dis Kaaps, en ek vertaal uit Kaaps in Frans. Oor die algemeen vind ek trouens die geskrewe taal (Kaaps) nie só moeilik om te lees nie, wat nie beteken dat ek dit self kan praat nie. Gelukkig kan ek al my vrae aan sowel Nathan as Ronelda stuur as ek iets nie reg (of glad nie) verstaan nie.
JR: In ag genome dat jou verbintenis met Suid-Afrika nou oor bykans vier dekades strek, en dat jy enorme energie aan die vertaling van veral Afrikaanse skrywers bestee het en steeds bestee, wat is dit wat jou so aantrek tot Suid-Afrika en tot die Afrikaanse wêreld? Dit sal ook interessant wees om te weet hoe jy die stand van die Afrikaanse letterkunde beskou, gegewe hoeveel gesprekke daar vandag aan die gang is oor hoe veral literêre fiksie onder toenemende druk verkeer – terwyl voorstanders van Kaaps dikwels weer ’n meer positiewe siening van sake het.
P-MF: Ek weet nie of dit ’n rol speel nie, maar ek is self in Afrika (Senegal) gebore. In die laat 1950’s het my ma daar Librairie Africa, ’n boekwinkel, vir ’n Franse uitgewer in Dakar gestig en my pa daar leer ken. Wat die taal betref, het ek op hoërskool in Parys ’n paar vreemde tale geleer, onder meer Nederlands, en op universiteit daarmee voortgegaan. Die verwantskap met Nederlands en die geskiedenis van die taalstryd om die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal naas Engels het my ook baie geïnteresseer. In dié opsig het ek met groot belangstelling JC Steyn se Tuiste in eie taal gelees. Wat my nog tot Suid-Afrika as sodanig aangetrek het, was (en is steeds) dié land se (ingewikkelde) geskiedenis en verskeidenheid tale. Én natuurlik ook, in die sewentiger- en tagtigerjare, die politieke situasie. Nodeloos om te sê, komende van Frankryk was ek verbaas én verontwaardig oor die manier waarop destyds in TV-nuusbulletins verslag oor die onluste in die Kaap gedoen is; dis eintlik hoekom ek townships toe begin gaan het – ek wou weet en sien wat werklik daar aan die gang was. Ek is oral en altyd baie vriendelik ontvang – al was party mense soms teleurgestel om te verneem dat ek nie ’n Suid-Afrikaner is nie – “’n wit Suid-Afrikaner sou nooit hier gekom het om met ons te praat nie,” het ek dikwels gehoor.
.........
Jy vra wat my siening is oor die stand van die Afrikaanse letterkunde. Ek vind dat die Afrikaanse letterkunde bloei, of dit nou romans, poësie of niefiksie is. Waar die taal wel in die afgelope dekades agteruitgaan het, is in die openbare ruimte – TV, plakkate, uithangborde, reklame, winkels, spyskaarte in restaurante,
noem maar op …
.........
Jy vra wat my siening is oor die stand van die Afrikaanse letterkunde. Ek vind dat die Afrikaanse letterkunde bloei, of dit nou romans, poësie of niefiksie is. Waar die taal wel in die afgelope dekades agteruitgaan het, is in die openbare ruimte – TV, plakkate, uithangborde, reklame, winkels, spyskaarte in restaurante, noem maar op … en natuurlik in die onderwys; maar die letterkunde bloei, in Standaardafrikaans én in Kaaps! Ek het onlangs Uit die kroes en Kinderlê van Lynthia Julius met groot belangstelling gelees en ek is tans besig om Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat te lees.
En behalwe in die letterkunde bloei Afrikaans ook op die internet – die Afrikaanse Wikipedia tel byvoorbeeld meer as 120 000 artikels en is verreweg die rykste in enige Afrika-taal, vóór Malgassies (98 000), Swahili (86 000) en Hausa (79 000). Die enigste ander Suider-Afrikaanse tale wat betreklik “goed” verteenwoordig op Wikipedia is, is Zoeloe, Sjona (11 000 elk) en Noord-Sotho (8 700). Ter vergelyking tel die Xhosa-Wikipedia slegs 2 145 artikels (Tswana 1 887, Suid-Sotho 1 076, Swati 1 000, Tsonga 900 en Venda 800).
’n Groot hindernis vir die bevordering van Afrikaans en van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland is die tekort aan opgeleide Franssprekende vertalers. Die Institut Néerlandais in Parys bied al ’n paar jaar ’n inleidende kursus in Afrikaans, wat hopelik tot nuwe roepings sal lei. ’n Paar weke gelede het ’n kollokwium oor onder meer Afrikaans, Kaaps en vertaling aan die Universiteit van Luik (België) plaasgevind, met die doel om belangstelling in Afrikaans onder Franssprekende Belgiese studente op te wek. ’n Ander manier om Franssprekende taalstudente uit Afrika, Europa en Kanada aan te trek, sou miskien wees om studiebeurse én beginnerskursusse in Afrikaans (en ander Suid-Afrikaanse tale) aan Suid-Afrikaanse universiteite aan te bied.
JR: Nog ’n haas onvermydelike vraag: Daar is soveel uiteenlopende filosofieë oor en sienings van vertaling. Die beroemdste – of berugste – is seker traduire = trahir, oftewel om te vertaal is om te verraai, verwysende na hoe moeilik dit is om dit wat uit die brontaal vertaal word, getrou weer te gee in die doeltaal. Wat is jou eie filosofie of siening van vertaling? En wat is dit omtrent die aktiwiteit van vertaling wat dit vir jou so betekenisvol maak?
P-MF: Ek geniet dit vreeslik baie om te vertaal, en sodoende skrywers van wie se werk ek hou, aan Franssprekende lesers bekend te stel, maar ’n eie “filosofie van vertaling” het ek nie. Ek lees graag ander mense se gesigspunt daaroor, maar net so min as wat Wole Soyinka se beroemde tier “does not proclaim his tigritude”, net so min peins ek oor vertaalteorieë. Die tyd is min. Vertaalwerk, veral literêre vertaling, ís moeilik – niemand sal dit ontken nie – en ek glo nie dat – op enkele uitsonderings na – ’n mens na ’n taal wat nie sy/haar eie moedertaal is nie, letterkunde kan vertaal nie.
JR: ’n Ietwat meer prosaïese vraag, maar nie minder belangrik nie: Vir ons Afrikaanse vertalers wat uit tale soos Frans, Vlaams, Nederlands, Engels of Duits in Afrikaans vertaal, is dit betreklik maklik om die vertaling befonds te kry, omdat daar in al hierdie tale goed befondste instansies vir die befondsing van vertalings is. In 2017 is die PEN Afrikaans Vertaalfonds natuurlik as soortgelyke instansie opgerig, dog nie noodwendig met dieselfde soort begroting as die instansies van die voorgenoemde tale nie. Hoe kon jy self die afgelope 20 jaar daarin slaag om jou vertalings van die werk van Suid-Afrikaanse skrywers befonds te kry?
P-MF: Die Centre national du livre (Franse Nasionale Boeksentrum), wat in 1946 gestig is en onder die Franse Departement van Kultuursake ressorteer, ondersteun onder meer die vertaling van buitelandse letterkundige werke. Hulle befonds óf die vertaling óf die produksiekoste van die vertaalde boek, bied beurse aan en befonds ook skrywersresidensies. Sedert 2017 speel die PEN Afrikaans Vertaalfonds ook ’n belangrike rol in dié opsig. Van die romans en digbundels wat ek tot dusver vertaal het, het danksy PEN Afrikaans se finansiële hulp aan Franse uitgewers die lig gesien. Dis ’n baie kosbare hulpmiddel.
JR: Te midde van soveel dinge waaraan jy werk, is jy ook nog besig met die opstel van ’n Afrikaans-Franse woordeboek. Hoe vorder die werk daaraan, en wanneer kan ons dit hopelik sien verskyn?
P-MF: ’n Groot probleem vir ons Franse vertalers uit Afrikaans is dat ons nie oor ’n geskikte tweetalige woordeboek beskik nie. Dit is vir my heeltemal onverstaanbaar, gegewe die aantal Frans-departemente aan Suid-Afrikaanse universiteite. Die enigste bestaande tweetalige AFR-FR/FR-AFR-woordeboek, Henri L Gonin en B Strelen s’n, is in 1950 (!) deur Van Schaik uitgegee en is al lank uit druk. Dit is trouens meer van ’n woordelys as ’n egte woordeboek. Dit beteken dat as jy uit Afrikaans na Frans wil vertaal, jy so te sê gedwing word om woordeboeke in ’n derde taal – gewoonlik Engels of Nederlands – te raadpleeg. Gelukkig is daar goeie Afrikaanse eentalige woordeboeke, nl die HAT en die WAT, wat ook aanlyn beskikbaar is (ek het onlangs met groot teleurstelling en droefheid verneem dat deel XVI [2021] van die WAT die laaste gedrukte uitgawe sal wees). Ek is die trotse eienaar van talryke tweetalige (AFR-ENG-) vakwoordeboeke (oor voëls, plante, bome, toneel, rekenaar, oseanografie, wynbou ens) wat ek in die afgelope 47 jaar versamel het.
........
’n Paar jaar gelede het ek die grootheidswaansinnige taak aangepak om op my eie ’n tweetalige Afrikaans-Franse woordeboek saam te stel. Dis ’n reusetaak, maar dis ’n boeiende taak. Meestal werk ek stelselmatig volgens alfabetiese volgorde; partykeer verken ek ’n bepaalde semantiese veld.
........
’n Paar jaar gelede het ek die grootheidswaansinnige taak aangepak om op my eie ’n tweetalige Afrikaans-Franse woordeboek saam te stel. Dis ’n reusetaak, maar dis ’n boeiende taak. Meestal werk ek stelselmatig volgens alfabetiese volgorde; partykeer verken ek ’n bepaalde semantiese veld. Ek het al 38 000 Afrikaanse trefwoorde klaar. Ek kan en wil géén sperdatum stel nie – ek wil hê dit moet ’n stokperdjie bly, nie ’n bron van stres word nie – maar ek hoop dat, as God wil, dit oor vyf jaar (ongeveer 2030) klaar sal wees. Eers dan sal ek miskien aanstaltes begin maak om ’n uitgewer of ander moontlike belangstellendes te nader.
JR: ’n Laaste vraag. Ek het my nog altyd voorgestel dat wanneer dit kom by die karakters van Schoeman se groot latere romans vanaf ’n Ander land (1984, reeds deur Jean Guiloineau vertaal), is die hoofkarakter met wie as jy as besoekende Vlaming aan Suid-Afrika die meeste kan identifiseer, dié van die naamlose jong Nederlander in Verkenning. Dit is terselfdertyd ook Schoeman se roman waarin die boeiende dialektiese verhouding tussen Europa en Suid-Afrika die sterkste figureer – vermoedelik ook iets wat jou interesseer. En tog het jy Verkenning nog nie vertaal nie. Is daar spesifieke redes daarvoor? Of beplan jy dalk om dit nog aan te durf?
P-MF: In 1991 het Jean Guiloineau ’n Ander land uit die Engelse vertaling van David Schalkwyk (Another country) in Frans vertaal. Danksy dié abbavertaling het die Franse uitgewer Daniel Arsand van Karel Schoeman gehoor. Destyds was die enigste boek wat ooit regstreeks uit Afrikaans in Frans vertaal was, ’n digbundel, naamlik Georges Lory se vertaling van Breyten Breytenbach se Kouevuur (Feu froid, 1978). Ek gaan binnekort die Franse vertaling van Op ’n eiland aan Actes Sud voorlê. Natuurlik staan Verkenning ook bo-aan my lys! Dit is ’n fantastiese boek. Dit is ook ’n betreklik dik boek (amper 400 bladsye) … wat ek in my skedule sal moet inpas.
(Terloops, net ’n klein verduideliking: Ek is nie “’n besoekende Vlaming” nie, maar ’n Fransman wat Nederlands en later Afrikaans probeer leer het. Ek het België toe getrek weens my werk by die EU.)
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans
Tien vrae: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

