Skrywers en vertalers oor hul nuwe boeke: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, geskryf deur Eric-Emmanuel Schmitt.
Waarom het jy Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran vertaal?
Dit is nogal bevredigend om meer as een teks van dieselfde skrywer te vertaal; daarbenewens is Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran deel van dieselfde siklus (Eric-Emmanuel Schmitt se Le cycle de l’invisible, Die siklus van die onsigbare). Die tekste waaruit ’n siklus bestaan, het temas wat herhaal en van gedaante verwissel; die ideaal sou wees om al die tekste in die siklus te vertaal en te sien hoe die vertellings met mekaar praat. Miskien verstaan ’n mens dan ook beter wat die Onsigbare is? Enersyds begin ’n mens ná ’n vertaling (wat ook ’n soort geboorte is, nes kreatiewe skryfwerk) die styl en wêreldvisie van ’n skrywer te verstaan; dit word dus “makliker” om binne sy of haar wêreld te navigeer (die vertaler het immers toegang tot die skrywerslaboratorium – hy/sy is ’n soort voyeur). Andersyds is daar in alle goedgeskrewe tekste passassies wat ’n mens ontroer, passassies wat gewoonlik ook die moeilikste is om in ’n ander taal weer te gee, omdat dit juis so goed klink in die oorspronklike. In die vertaling van daardie kort passassies word jy vlugtig byna die skrywer. Daar was sulke passassies in Oskar, en ook in Monsieur Ibrahim. ’n Mens sou dus kon sê dat ek nog ’n Schmitt vertaal het om weer, vlugtig, te voel ek ís Schmitt!
Wat was die moeilikste aspek van die vertaalproses van hierdie boek, en hoekom?
Oskar en die pienk tannie was tematies “makliker”: Oskar is ’n onweerstaanbare klein seuntjie, intelligent, sensitief, snaaks. Sy hele toekoms lê voor hom, maar hy het ’n ongeneeslike soort kanker. Dit is hartverskeurend. Die leser is vanaf die heel eerste sin af deur Oskar betower. Meneer Ibrahim en die blomme van die Koran het ook ’n kind as hoofkarakter, maar dis ’n moeilike kind, ’n kind wat sonder ma grootgeword het (sy het haar gesin vir ’n ander man verlaat), wie se pa die Joodse konsentrasiekampe oorleef het (in die Europese literatuur is die ondraaglike skuldgevoel van die “uitverkore oorlewendes” ’n belangrike tema), wat die plek van die moeder des huises moet volstaan, al kan hy net blikkieskos voorsit, ’n kind wat nog nooit die res van Parys gesien het nie, al woon hy in die sentrale gedeelte van Montmartre. Die kind, Moses of Momo, kry as’t ware geen opvoeding by sy vader nie. Niemand leer hom iets van die lewe en veral van vrouens nie. Die eerste sin was dan ook een van die moeilikste aspekte van die vertaalproses vir my: anders as in die geval van Oskar, word die leser nie daardeur betower nie, maar eerder geskok. Jy word vanaf die eerste sin gekonfronteer met die werklikheid van verwaarloosde kinders wat vroeg reeds grootmensdinge doen.
Monsieur Ibrahim is ’n klein Bildungsroman: dit begin met ’n laagtepunt en werk geleidelik op na die hoogtepunt aan die einde. Die moeilikste aspek van die vertaalproses was vir my die vergelyking met Oskar, en die vrees dat lesers nie soveel van Moses sal hou nie. Want Moses is ’n lieflike kind, ook intelligent, sensitief, en baie, baie moedig, maar soos by alle verwaarloosde kinders neem dit lank voordat hy die selfvertroue het om te wys wat daar in hom steek. Wanneer dit uiteindelik gebeur, kry die leser hoop vir die mensdom.
Probeer jy as vertaler so na as moontlik aan die oorspronklike teks bly, of interpreteer jy vir die Suid-Afrikaanse konteks?
Dit hang af van die teks, en van die genre daarvan. Eric-Emmanuel Schmitt is in die eerste plek ’n dramaturg (hy besit ook ’n wonderlike teater in Montparnasse, Parys: die Théâtre de la Rive Gauche). Oskar en die pienk tannie is aan Afrikaanssprekendes voorgestel in die vorm van ’n toneelstuk. Ek het dus in die eerste plek gedink aan die uitspraak van die karaktername, daarom het Oskar van Frankyk na Suid-Afrika geëmigreer. Monsieur Ibrahim en Moses kan egter nie emigreer nie, want die handeling speel in Montmartre af, in die rue Bleu, en hulle onderneem ’n reis na Monsieur Ibrahim se geboorteland, Turkye. Dus bly al die persoonsname en plekname in hierdie geval dieselfde. Die uitgewers het my ook gevra om die teks se Franse karakter hierdie keer te behou, en ek doen dit graag.
Wat was vir jou die belangrikste in die vertaalproses: die woorde, die atmosfeer, die storie, die karakters?
Die finale teks is vir my soos bladmusiek: wanneer ek dit lees, moet dit reg klink. Woorde is maar net stil musiek: die transponering van een taal na ’n ander moet reg op jou oor val. Natuurlik is daar serebrale besluite wat ’n mens gedurende die vertaalproses neem, maar wanneer jy die teks vir die laaste keer oorlees, moet die vertaling die bronteks eggo. Die dialoog moet klink soos wat mense regtig praat, maar geskoei op hoe mense in die oorspronklike teks praat. Ek het in ’n huis van klassieke musiek grootgeword; die bronteks is vir my soos ’n orkes wat bestaan uit onder andere woorde, atmosfeer, storie, karakters: ’n Gesamtkunstwerk wat ’n ekwivalent in ’n ander taal en kultuur moet kry.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder of ander taalversorgers geluister?
O ja! Daar is net minimale veranderings aangebring, maar dit was nodig. Tikfoute glip deur, so ook verskillende spellings; ’n mens is dankbaar vir die aandag aan besonderhede.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Vertalers des te meer. Waarom doen jy dit?
Ek dink dis iets wat ek kán doen. ’n Mens soek soms jou hele lewe lank na die rede vir jou bestaan, na dit wat jy kan bydra tot kuns en kultuur. Ek kan vertaal. En ek bly hoop dat daar in hierdie land ook eendag die soort waardering vir vertalers sal wees wat daar in plekke soos Nederland, Pole, Israel en Ysland is. Dit is lande waar ’n mens gerieflik ’n bestaan as vertaler kan maak, waar daar pryse en beurse vir vertalers is. As akademikus skryf ek ook baie oor vertalings; miskien sal mense naderhand anders begin dink oor vertalers (en hul vergoeding!) wanneer hulle besin oor die rol wat vertaling in hul lewens speel. In die meeste huise in Suid-Afrika is daar ’n Bybel, die mees vertaalde boek ter wêreld. Ek is egter trots om ’n vertaler te wees – vertalers is soos veermanne wat die leser tussen lande, van een oewer na die ander, begelei. Ek wroeg egter nie oor die status van die vertaler nie; daar is te veel boeke wat wag om vertaal te word.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Ja, altyd. Ek het Emile Zola se leuse myne gemaak: Nulla dies sine linea (nie ’n dag sonder ’n sin nie). Ek werk aan twee dramas – dis byna klaar. Ek hou van dialoog. Vertaalwerk is ’n eensame roeping; drama gee die vertaler die illusie dat hy deel is van die wêreld daar buite. En daar is altyd die hoop dat die stuk opgevoer sal word en ’n lewe van sy eie sal kry. Dramas is wonderlike tekste, want dis altyd ’n dubbele vertaling, van taal tot taal, van papier tot verhoog.
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Ek het onlangs twee buitengewoon goeie Afrikaanse boeke gelees (Valsrivier en Kamphoer), maar “skryfhelde” het natuurlik ’n ander status. Vir my is die mooiste Afrikaanse boek Karel Schoeman se ’n Ander land. Nie net omdat dit handel oor ’n Bloemfontein (my dorp!) wat nie meer bestaan nie, maar omdat dit vir my een van die groot romans in die wêreldletterkunde is oor immigrasie, oor die gewaande behoud van ’n jou bronkultuur in die vreemde. Ek hou ook baie van historiese en (outo-)biografiese romans, in alle tale. Die Franse Revolusie en die laaste koningsgesin van die Ancien Régime (Louis XVI en Marie Antoinette) is al dekades lank ’n belangstellingsveld: my skryfhelde daar is twee vroue, Chantal Thomas en Françoise Chandernagor. Ek lees ook baie biografieë (alle onderhoudende biograwe is my skryfhelde!): op die oomblik lees ek Gijs van Hensbergen se manjifieke biografie van Gaudí, die groot Katalaanse argitek (Gaudí sou baie tevrede gewees het met die uitslag van die onlangse meningsopname oor Katalaanse onafhanklikheid!). Dan is daar natuurlik skryfhelde wat lank reeds hul plek in die literatuurgeskiedenis volstaan, maar wie se vakmanskap my steeds ontroer: Proust, Flaubert, Rimbaud, Colette.
Volg jy Poolshoogte? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Nie dikwels nie; nie by gebrek aan belangstelling nie, maar by gebrek aan tyd. Die Franse en Frankofone literêre wêreld strek tot aan die horison. “Ons” het pas ’n nuwe Nobelpryswenner, en jou werk as dosent verdubbel wanneer jy onverwags die taal van ’n Nobelpryswenner doseer. Wat ek sien wanneer ek wel terugkyk, is iets baie verontrustends: verbasend baie publikasies van alle soorte, maar jammerlik min lesers. Te min nuwe dramas. Byna geen literêre verwerking van die misdaad waarvan ons die slagoffers is nie (dink ’n bietjie wat ’n Joodse skrywer sou gemaak het met die tema van die talle moorde op Boere), terwyl die res van die wêreld nou ? nuwe soort speurverhaal lees waarin daar op ’n semifiksionele wyse die ondersoeke gedoen word wat nie binne die spektrum van hofverrigtinge gebeur nie.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?
Dis ’n baie moeilike vraag. ’n Mens probeer ook hoopvol bly. Daar is baie talentvolle skrywers (in Afrikaans, maar ook in die ander landstale) in Suid-Afrika, maar soms weet ek nie meer hoe belangrik kuns en kultuur meer vir hul leserspubliek is nie. Die mense wat ek by musiekkonserte en in teaters sien, die mense wat boekbekendstellings bywoon, is nie meer jonk nie. Die mense van my geslag was passievol oor letterkunde; ons het kultusboeke gehad, soos Camus se Étranger. Ons het onlangs in Bloemfontein die wêreldpremière gehad van Christopher Hope se Distant Drum, voordat dit in Carnegie Hall opgevoer sou word. Die klein teatertjie was halfleeg. Ons het nie ’n tekort aan kreatiewe mense nie, maar soms vrees ek dat daar nie meer ’n publiek is vir musiek, letterkunde en drama wat jou nie net vermaak nie. Daar is baie mense wat baklei vir die kunste; ek hoop en bid net dat hulle nie eendag omkyk en sien dat daar niemand agter hulle is nie.
Hier is 'n foto van Naòmi Morgan se lessenaar tuis.
Sy skryf daaroor: "Ek moet verduidelik waarom die naam Pickwick Club. Toe ons klein en my ma jonk was, was sy ingeteken op die Amerikaanse McCall's-tydskrif. Daar was eenkeer 'n artikel oor kindermodes wat gefotografeer is as die karakters uit my gunstelingboek toe ek klein was, Louisa M Alcott se Little Women (ek was natuurlik Jo, minus die mooi hare, "her one beauty"). Jo en haar boekmal susters het hul eie leserskring op die solder gehad, genaamd The Pickwick Club. Daar was enorme kussings, stapels boeke en baie appels. 'n Ware paradys. My huisie het ook 'n solder – wat hom verbeel hy is die biblioteek van Aleksandrië. Hierdie is 'n hoekie daarvan."
Kommentaar
Naomi Morgan is tot groot seën - soos Eben Meiring destyds en steeds.
Waar kan mens die boek in Afrikaans en die toneelstuk se teks in die hande kry. By voorbaat dank.
Nelia van watter boek spesifiek praat jy? EK mag dalk kan help soek ...