Pierre-Marie Finkelstein (1957–) het homself sedert 2003 gevestig as een van die voorste en produktiefste vertalers van Suid-Afrikaanse skrywers in Frans. Hy is veral bekend om die ses romans van Karel Schoeman wat hy tot dusver vertaal het: Na die geliefde land, Afskeid en vertrek, Hierdie lewe, Verliesfontein, Die uur van die engel en Die hemeltuin.
Drie van hierdie vertalings is met gesogte Franse letterkundige pryse bekroon: In 2006 word sy vertaling van Afskeid en vertrek bekroon met die Prix Amphi; in 2009 word sy vertaling van Hierdie lewe bekroon met die prys vir die beste buitelandse roman van die jaar (Prix du Meilleur livre étranger); en in 2018 word sy vertaling van Die uur van die engel bekroon met die prys vir die beste Afrika-roman van die jaar (Prix Transfuge du meilleur roman africain). Ander Afrikaanse skrywers wat hy vertaal het, sluit in Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer, terwyl hy tans ook werk aan ’n vertaling van Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar. In ag genome hoe skaars regstreekse vertalers uit Afrikaans in Frans is, is Finkelstein se korpus vertalings ’n magistrale prestasie – afgesien van die feit dat hy ook vertalings uit Engels, Nederlands en Portugees in Frans publiseer, en sowel prosa as poësie vertaal. Dit maak van Finkelstein waarskynlik een van die wêreld se voorste en veelsydigste literêre vertalers.