Bolmakiesie van woke

  • 2

Oor die afgelope sowat 90 jaar verander die slagkreet van bewustheid rakende sosiale onreg en rasseongelykheid in ’n omstrede, polisemiese etiket – ’n semantiese uitbreiding en ommekeer wat verskuiwings in die politieke, kulturele en ideologiese klimaat van die wêreld weerspieël.

Die essay verken die herkoms en taalkundige ontwikkeling van woke.

En daar was ’n woord

Erin Morgenstern skryf in The starless sea (2019): “But who decides what the meaning is?” Zachary wonders aloud. “The reader. The player. The audience. That’s what you bring to it ... You decide what it means to you.”

En in What life should mean to you (1937) skryf Alfred Adler: “Meanings are not determined by situations, but we determine ourselves by the meanings we give to situations.”

Dit begin by ’n werkwoord

Wake up.

Twee bekende woorde, afkomstig van die hedendaagse Engels wake – van waar dan waking, waked, woken, woke.  Die vroegste bekende gebruik hiervan dateer terug na die periode vóór 1150. In vroeë Middelengels word wake uit die samesmelting van twee afsonderlike werkwoorde gevorm:

  1. wóc of wócon, ’n sterk Oudengelse verledetydsvorm, waarvan die teenwoordigetydstam onseker is (volgens die OED moontlik wæcnan; sien hier onder). Verwant aan Oudnoors vakenn, en – as ’n adjektief wat “wakker” beteken – aan Middelsweeds vakin, Sweeds en Noors vaken, en Deens vaagen.
  2. wacian, ’n swak Oudengelse werkwoord wat onder meer met Oudfries wakia en waka (in moderne Wes-Fries weitsje en Noord-Fries waake) ooreenstem, en die Oudoogduitse wahhên of wachên (in moderne Duits wachen, “om te wag”).

Uit die Germaanse teenwoordigetydstam *wakǣjan (sien hier bo) ontwikkel terselfdertyd, in Oudengels, die doeblet wæccan, ’n voorloper van die werkwoord “to watch”, in Oudaksies en Oudederfrankies wakon, en in Middelnederlands en Nederlands waken, “om te waak”.

Ten grondslag aan al hierdie woorde, insgelyks baie Afrikaanse woorde – byvoeglike naamwoorde soos wakker, wakend, waaksaam – lê die Germaanse wortel *wak; in Goties *wok. Nes aan woke, waaroor hierdie artikel handel. Al wyk woke as adjektief af van die reëlmatige vorm wat die Oudengelse wóc, volgens kenners van Engels, eintlik moes opgelewer het, naamlik wooc.

In die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6), staan:

wakker b nw, bw
1 nie slapende nie: iemand wakker maak.
wakker skudwakker word wakker skrik
2 lewendig; fluks; gereed om iets te doen, iets aan te pak.

wakker loop versigtig wees; versigtig handel, versigtig optree.
iets by iemand wakker maak iemand van iets bewus maak.
iemand wakker skud iemand tot aksie aanspoor; iemand kragtig aan iets herinner.

Woke, in plaas van wooc, sê die Oxford English Dictionary (OED), skyn ’n nuutskepping of wysiging te wees na analogie van break – broke, speak – spoke, en dergelike.

Presies wanneer woke die eerste keer as adjektief in Engels gebruik is, is onseker. By Shakespeare en Milton kom dit nie voor nie. Ook nie in die Engelse Bybelvertaling van 1611, die King James Version, nie.

’n Afro-Amerikaanse slagspreuk

Woke, in sy oorspronklike hedendaagse betekenis, spruit uit aktivisme en swart (Afro-Amerikaanse) identiteit: Bly waaksaam, bly ingelig oor rassisme en onreg. Stay woke.

In 1938 skryf Huddie William Ledbetter (1888–1949), ’n invloedryke Afro-Amerikaanse folk- en bluessanger, liedjieskrywer, kitaarspeler, beter bekend as Lead Belly (ook Leadbelly), ’n lied in reaksie op die berugte, voortslepende Scottsboro-saak, waarin nege jong swart mans valslik van verkragting beskuldig en aangekla word.

Go to Alabama and ya better watch out
The landlord’ll get ya, gonna jump and shout
Scottsboro, Scottsboro, Scottsboro boys
Tell ya what it’s all about.

            – Lead Belly, “The Scottsboro Boys”

Aan die einde van die opname hier onder, ’n kragtige protes teen rassisme en onreg in die Amerikaanse Suide spesifiek, vertel Ledbetter waarom hy The Scottsboro Boysgeskryf het. Hy waarsku swart mense om waaksaam te wees wanneer hulle deur Alabama reis en beklemtoon die gevaar van rassistiese vervolging. Pasop. Loop lig: “You have to be a little careful when you go down there ... stay woke.”

Ledbetter se gebruik van woke in sy waarskuwing: “stay woke” is een van die vroegste voorbeelde van die gebruik van dié frase in die konteks van sosiale bewussyn en waaksaamheid teen onreg.

Destyds sou dit in die geheue ook dalk, nog, die Wide Awakes oproep – jong (wit) ondersteuners van Abraham Lincoln, maklik ’n halfmiljoen, is daar gesê, wat in die presidensiële verkiesing van 1860, lank voor Ledbetter, vir die regte van werkers en die beëindiging van slawerny geveg het.

Die Wide Awakes was bekend daarvoor dat hulle politieke byeenkomste wat snags plaasvind, in kleurvolle kostuums en met fakkels en musiek in feestelike geleenthede omskep het. Die sinspeling van hulle naam op die morele en geestelike waaksaamheid van die wyse maagde in die Bybelse gelykenis (Matteus 25:1–4) sou in die Bybelbehepte Amerika van hulle tyd aan min verbygegaan het.

As skrifbeeld, in gedrukte vorm, verskyn woke as adjektief (sover bekend) die eerste keer op 20 Mei 1962 in die New York Times. Onder die opskrif “If you’re woke you dig it” skryf William Melvin Kelley, ’n Afro-Amerikaanse romanskrywer, oor die Engels – wat as sleng beskou is – van swart Amerikaners: “The language is not formalized. It varies from year to year, day to day, city to city, group to group, individual to individual. It is not only a language of vocabulary, but of context and inflection.”

Woke is ’n woord in die taal, op die tong, van Afro-Amerikaanse aktiviste en gemeenskapsleiers, ’n woord waarmee hulle Afro-Amerikaners aanmoedig om waaksaam te bly vir die ongeregtighede wat hulle in die gesig staar, ’n woord in die taal waarmee hulle die status quo bevraagteken, die taal waarin hulle sistemiese rassisme uitdaag.

Woke in its original incarnation rests on activism and blackness. To be woke, in the original sense, is to understand James Baldwin’s declaration [in ’n radio-onderhoud van 1961]: “To be a Negro in this country and to be relatively conscious is to be in a rage almost all the time.” It is to understand the unique kind of exhaustion that comes from being perpetually attuned to discrimination. It is to be weary and wary. To be woke is to long for a day when one doesn’t have to stay woke. (Kenya Hunt, 21 November 2020)

Herontwaking van swart bewussyn

Sedert die einde van die vorige millennium, maar veral tussen 2000 en 2020, skiet die gebruiksfrekwensie van die oorspronklike, Afro-Amerikaanse woke die hoogte in.

In 2008 word die Amerikaanse sanger-liedjieskrywer-aktrise-aktivis Erykah Badu se album New Amerykah vrygestel. In een van die liedjies, “Master teacher”, agtste op die album, sing sy: “I am known to stay awake / (A beautiful world I’m trying to find).” Lirieke wat die onthoubare “Wake uuuuuuuuup!” in herinnering roep waarmee Spike Lee se karakter in die invloedryke rolprent School daze (1988) sy medestudente aanspoor om uit materialisme en selfhaat wakker te word, bewus te raak van die ongeregtighede in hulle gemeenskap en iets daaromtrent te doen. In die koorgedeelte van “Master teacher” word die stem van Georgia Anne Muldrow, wat hier saam met Badu sing, deurlopend gehoor: “I stay woke ... I stay woke ...

Aan die musikant en kultuurskrywer Elijah Watson vertel Muldrow in 2022 dat dit ’n saksofoonspeler in Harlem was wat haar indirek aan die woord woke bekendgestel het: “The way she would use [the phrase, stay woke] is like ‘I’m trying to stay woke because I’m tired’ or ‘I was trying to stay woke but I was bored.’”

Woke is definitely a black experience – woke is if someone put a burlap sack on your head, knocked you out, and put you in a new location and then you come to and understand where you are ain’t home and the people around you ain’t your neighbors. They’re not acting in a neighborly fashion, they’re the ones who conked you on your head. You got kidnapped here and then you got punked out of your own language, everything. That’s woke – understanding what your ancestors went through. Just being in touch with the struggle that our people have gone through here and understanding we’ve been fighting since the very day we touched down here. There was no year where the fight wasn’t going down. (Georgia Anne Muldrow, 2022)

’n Hutsmerk

Op 26 Februarie 2012 word Trayvon Martin, ’n ongewapende swart tiener, deur George Zimmermann, ‘n lid van ’n buurtwag in Sanford, Florida, doodgeskiet. In 2013 word Zimmerman vrygespreek. In reaksie op sy vryspraak skep drie aktiviste, Alicia Garza, Patrisse Cullors en Opal Tometi, die hutsmerk #BlackLivesMatter. Vergesel van nog ’n hutsmerk, #StayWoke, volg wydverspreide verontwaardiging oor rasseprofilering, polisiegeweld en die regstelsel se hantering van sake waar swart mense slagoffers is.

Die sosiale media bring woke as ’n woord van onthutsing onder die wêreld se aandag. Die gebruiksfrekwensie klim. Nou ook in ander tale.

Nuwe afleidings en samestellings word gevorm.

antiwoke · postwoke · pseudowoke · wokeagenda · wokebestand · wokebrigade · wokeheid · wokeïsme · wokekapitalisme · wokekultuur · wokepolisie · wokerevolusie · wokewassery.

Namate hierdie en nog ander woorde in die sosiale media en internetkultuur versprei, word hulle gebruik om progressiewe sienings uit te druk, te wys, ten toon te stel – en aan te val – nie net meer oor rassisme nie, maar oor allerlei kwessies: feminisme, patriargale strukture, seksisme, seksuele en geslagsidentiteit, genderbewustheid, LGBTQ+-regte, ouderdomsdiskriminasie, voorkomsdiskriminasie, omgewingskwessies, klimaatsverandering, ekonomiese ongelykheid, loloniale nalatenskap, kultuurerfenis ... Opvallend, al hoe meer, deur wit mense – wat deur swart aktiviste gekritiseer en van vertoonaktivisme beskuldig word.

In “Brands taking a stand: authentic brand activism or woke washing?” (2020) roer Jessica Vredenburg en mede-outeurs die onderwerp van maatskappye se standpunte oor sosiale kwessies soos geregtigheid en gelykheid aan, en die verskil tussen “opregte aktivisme” en “wokewassery”.

Vergelyk die advertensie van Nike waarin die gesig verskyn van Colin Kaepernick, die Amerikaanse voetbalspeler wat in 2016 voor elke wedstryd, tydens die speel van die volkslied, kniel om die aandag op ongeregverdigde polisiegeweld op swart Amerikaners te vestig. Oor sy gesig staan geskryf: “Believe in something. Even it means sacrificing everything.”

In 2018 is Kaepernick die hooffiguur in hierdie advertensieveldtog. Die doel: om Nike-produkte te verkoop. Maar die maatskappy sorg ook dat jongmense in minderbevoorregte woonbuurte voetbalafrigting en beurse kry.

Die Nike-veldtog hou Vredenburg-hulle voor as ’n voorbeeld van “opregte aktivisme” wat mense aanmoedig en help om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Teenoor Nike se “positiewe wokeheid” staan “oppervlakkige wokeheid”.

Oppervlakkige wokeheid, argumenteer Vanessa Díaz (2020), is niks meer as skynheiligheid en ’n manier om die eie gewete te sus of skoon te was nie. As voorbeeld verwys sy na ’n video van Junie 2020, in die Covid-tyd, #ITakeResponsibility, waarin verskeie Hollywood-bekendes, almal wit, sistemiese rassisme veroordeel en verwerp.

By baie kykers ontlok hierdie video fel kritiek – soos dat die beroemdes wat gesig wys, alleen maar die aandag wil trek, die kollig op hulleself wil vestig. Daar word gesê dat wat skynbaar nie by die deelnemers opkom nie, of wat hulle gerieflikheidshalwe onder die mat vee en vergeet, is hoe hulle self, op rolprentstelle en elders, teen ander werknemers in die vermaaklikheidsbedryf optree: mense van kleur, van Latyns-Amerikaanse afkoms, immigrante, ja, ook paparazzifotograwe, wat as vryskutters werk en vanuit hulle ondergeskikte posisies ’n belangrike rol speel om die bedryf aan die gang te hou en te bevorder.

Hoe vals wokeheid mense kan afstoot en (handelsmerk)reputasies kan skaad, wys Pepsi.

Die advertensie hier bo, waarin Kendall Jenner, ’n Amerikaanse model en TV-persoonlikheid uit die bekende Kardashian-familie, ’n fotosessie verlaat, haar by ’n vrolike “betoging” aansluit en dan aan ’n polisieman ’n blikkie Pepsi gee, asof ’n soenoffer, word in die tyd van #BlackLivesMatter deur duisende sosialemediagebruikers as toondoof veroordeel.

As ’n direkte gevolg verloor die koeldrankmaatskappy miljoene dollar aan inkomste.

Kom dit by wokeheid, boemerang selfs die beste bedoelings, soos in die geval hier onder, wat “Bottlegate” gedoop is, waardeur Dove, handelsmerk vir persoonlike versorging, die multinasionale maatskappy Unilever in 2017 eensklaps in die moeilikheid beland.

Oor jare heen het Dove ’n reputasie opgebou as ’n merk wat vroue se selfbeeld wil versterk en natuurlike skoonheid wil bevorder. In veldtogte waarvoor die maatskappy bekend geword het, is gewone vroue van alle ouderdomme, liggaamsvorme en velkleure te sien. In 2017 stel Dove in ’n nuwe veldtog ’n reeks bottels bekend – lank, kort, breed, smal. Die oogmerk: Om verskillende vroulike liggaamstipes simbolies voor te stel, liggaamsdiversiteit te vier. Maar die ontvangs is kil. Baie vroue ervaar die veldtog as ’n ongemaklike herinnering aan hulle eie “problematiese” liggaamsvorm, nié as ’n viering van inklusiwiteit nie. Wat ’n goedbedoelde, “woke” veldtog moes gewees het, word gevolglik wyd gekritiseer: “Julle wakker vroue se selfbewustheid aan; julle versterk g’n hul selfvertroue nie.”

Dié laaste voorbeeld wys hoe delikaat die balans is, hoe fyn die grens is, tussen empatiese, goed bedoelde gebare, handelinge, stellings en uitlatings aan die een kant, en gebare, handelinge, stellings en uitlatings wat onverwags, in ’n oogwink, as onvanpas of neerhalend ervaar word aan die ander kant.

Betekenis verander, verskuif

Namate woke meer algemeen gebruik word, vind ’n semantiese verskuiwing plaas, ’n proses van “semantic pejoration”, soos die taalkundige Meredith D Clark dit noem, waar ’n woord, oor tyd heen, naas of in die plek van positiewe konnotasies, negatiewe konnotasies ontwikkel.

Andrew Sullivan (2018) skryf:

And so the young adherents of the Great Awokening exhibit the zeal of the Great Awakening […] [T]hey punish heresy by banishing sinners from society or coercing them to public demonstrations of shame […] Now look at our politics. We have the cult of Trump on the right, a demigod who, among his worshippers, can do no wrong. And we have the cult of social justice on the left, a religion whose followers show the same zeal as any born-again Evangelical.

Kenya Hunt (2020) sê: “I identified with what it was but cringe at what it has come to mean, and bristle at the way the word is now weaponised.”

Deur konserwatiewes word woke as ’n afmaakwoord, skelwoord, vloekwoord gebruik om progressiewe idees en dié wat daarmee vorendag kom, te kritiseer. Die oorspronklike betekenis van die term vertroebel.

Daarteenoor verrys die kanselleerkultuur, die “woke brigade”, wat openbare figure, organisasies en maatskappye op sosiale media ontbloot en, of dit nou weens werklike, beweerde of gewaande rassistiese, seksistiese, homofobiese, transfobiese, xenofobiese, diskriminerende of beledigende menings, uitlatings of praktyke is, nou of in die verlede, hulle steun aan persone en entiteite onttrek.

“Kanselleerkultuur begin soos ’n bloedsport lyk,” skryf Ismail Lagardien op 23 September 2022 in Vrye Weekblad.  Mense en organisasie word op sosiale media aangeval, verguis, totdat hulle om verskoning vra of verdwyn. 

Kritici voer aan dat voortdurende waaksaamheid oor taalgebruik en gedrag ’n klimaat van vrees en selfsensuur skep, dat individue wat huiwer, eerlike menings weerhou, vrye spraak en openlike debat bedreig.

Wat tot belaglik voorstellings en satire lei.

Op die X-rekening “Planet of memes” gee ’n karikatuur te kenne dat Disney, Netflix, Meta en Google woke aanbid asof dit ’n goue kalf is: “Wokeness is what they worship.”

By ’n video van Donald Trump se inhuldiging as die 47ste president van die VSA kondig die Insta-rekening “Hoodniggademiks op ’n grafsteen aan: “Here lies wokeness 2015– 2024”.

Op 9Gag staan Lisa Simpson op 4 Februarie voor ’n skerm waarop geskryf staan: “Wokeness is over. The sooner you adapt to this reality the better.”

Kulturele toe-eiening

Op die webwerf van die National Association for the Advancement of Colored People (NAACP), een van die oudste en invloedrykste burgerregte-organisasies in Amerika, staan hierdie verklaring (https://naacp.org/resources/reclaiming-word-woke-part-african-american-culture):

Reclaiming the Word “Woke” as Part of African American Culture

WHEREAS, Black history is a critical aspect of American history and has shaped American culture, including the evolution of language; and

WHEREAS, The words "Wake Up" and "Woke" have served as a call to action as conveyed by social activist Marcus Garvey who stated, "Wake up Ethiopia! Wake up Africa", and the Negro Mine Workers who in 1940 issued the statement, "We were asleep. But we will stay woke from now on," in advocating against discriminatory pay; and

WHEREAS, The term "Woke" was first highlighted in the 1962 essay, "If You're Woke, You Dig It", featured in the "New York Times" by Harlem-based writer William Melvin Kelley who documented the cultural appropriation and distortion of language, resulting in certain idioms being abandoned by their original Black creators; and

WHEREAS, The term "Woke" has been similarly misused, as traditionally and white-focused media have reframed "Woke" as trendy new slang, eroding its cultural connection and separating the term from its historical grounding in social justice; and

WHEREAS, Six decades later, anti-Black racists have engaged in a similar exercise of cultural appropriation to weaponize and misdefine the term "Woke", as evidenced by the "Stop W.O.K.E. Act", specifically targeting the teaching of American history and Black educators; and

WHEREAS, Black educators are more likely to teach subjects that incorporate an inclusive view of history, and legislation like the "Stop W.O.K.E. Act" threatens the free speech and livelihood of teachers, and the quality of education received by all students, most recently students in Florida.

THEREFORE, BE IT RESOLVED, that the NAACP affirms the term "Woke" and its historical connection to Black history, Black liberation movements, and social justice.

BE IT FURTHER RESOLVED, that the NAACP through its units encourages a historically accurate and correct use of the term "Woke" when its misuse is identified.

BE IT FINALLY RESOLVED, that the NAACP condemns cultural appropriation, misuse of Black idioms, and specific efforts by anti-Black racists to distort and redefine the specific term "Woke."

Waarheen volgende?

Die spanning tussen die strewe na sosiale geregtigheid en die behoud van vrye uitdrukking is ’n komplekse uitdaging. “Most people who are woke ain’t calling themselves woke. Most people who are woke are agonizing inside [...] They’re too busy being depressed to call themselves woke” (Georgia Anne Muldrow, 2022).

Uiteindelik, steeds in die woorde van Hunt, is woke-wees gewortel in liefde – vir jouself, jou gesin, jou familie, die mensdom. Nes onreg voortspruit uit haat.

Woke is at its most powerful, and valuable, when it is lived and not mentioned. When it’s not viewed as a quality to be smug about. Martin Luther King Jr, Steve Biko and Angela Davis didn’t declare themselves activists – they didn’t have to, their actions defined them. Woke people know not to, and need not, describe themselves as woke. (Kenya Hunt, 2020)

Bibliografie

American Marketing Association. 2017. How Kendall Jenner caused millions in losses for Pepsi with a single advertisement. University of South Florida. https://www.amausf.org/single-post/how-kendall-jenner-caused-millions-in-losses-for-pepsi-with-a-single-advertisement (Mei 2025 geraadpleeg).

Catling, Chris. 2023. On the origins of “woke”. The Past. https://the-past.com/comment/on-the-origins-of-woke (Mei 2025 geraadpleeg).

Clark, Meredith D. 2020. Drag them: a brief etymology of so-called “cancel culture”. Communication and the Public, 5:88–92. https://journals.sagepub.com/doi/pdf/10.1177/2057047320961562 (Mei 2025 geraadpleeg).

Díaz, Vanessa. 2020. Performative wokeness/white victimhood: the hypocrisy of celebrity villainization of paparazzi. Women’s Studies in Communication, 43(4):363–8. https://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/07491409.2020.1833635 (Mei 2025 geraadpleeg).

Google Books Ngram Viewer. https://books.google.com/ngrams/info (Mei 2025 geraadpleeg).

Hunt, Kenya. 2020. How “woke” became the word of our era. The Guardian. https://www.theguardian.com/books/2020/nov/21/how-woke-became-the-word-of-our-era (Mei 2025 geraadpleeg). 

Kelly, WM. 1962. “If you’re woke you dig it.” New York Times. https://interactive.king5.com/pdfs/NYtimes1962-if-youre-woke-you-dig-it.pdf (Mei 2025 geraadpleeg).

KYM Meme Encyclopedia. What’s up with the “here lies wokeness” AI Memes? The blue-haired wokeness grave meme explained. https://knowyourmeme.com/editorials/guides/whats-up-with-the-here-lies-wokeness-ai-memes-the-blue-haired-wokeness-grave-meme-explained (Mei 2025 geraadpleeg).

Lagardien, Ismail. 2022. Kanselleerkultuur begin soos ’n bloedsport lyk. Vrye Weekblad, 23 September. 

Mirzaei, Abas. Where “woke” came from and why marketers should think twice before jumping on the social activism bandwagon. The Conversationhttps://theconversation.com/where-woke-came-from-and-why-marketers-should-think-twice-before-jumping-on-the-social-activism-bandwagon-122713 (Mei 2025 geraadpleeg).

NAACP. 2023. Reclaiming the word “woke” as part of African American culture. https://naacp.org/resources/reclaiming-word-woke-part-african-american-culture (Mei 2025 geraadpleeg).

Ogilvie, Sarah. 2021. How “woke” became a four-letter word. Prospect. https://www.prospectmagazine.co.uk/society/38226/how-woke-became-a-four-letter-word (Mei 2025 geraadpleeg).

Oxford English Dictionary. 2025. wake (v), Etymology. https://doi.org/10.1093/OED/8458663792 (Mei 2025 geraadpleeg).

Palumbo, Mike. S j. The Scottsboro Boys. 20th Century History Songbook. https://20thcenturyhistorysongbook.com/song-book/race-relations/the-scottsboro-boys (Mei 2025 geraadpleeg).  

Sullivan, Andrew. 2018. America’s new religions. New York Intelligencer. https://nymag.com/intelligencer/2018/12/andrew-sullivan-americas-new-religions.html (Mei 2025 geraadpleeg).

Tensley, Brandon. 2022. How “woke” went from a social justice term to a pejorative favored by some conservatives. CNN-US. https://edition.cnn.com/2022/07/10/us/woke-race-deconstructed-newsletter-reaj (Mei 2025 geraadpleeg).

The Brand Hopper. 2024. A case study on Nike’s “Dream crazy” campaign. https://thebrandhopper.com/2024/09/28/a-case-study-on-nikes-dream-crazy-campaign/?utm_source=chatgpt.com (Mei 2025 geraadpleeg).

 Vredenburg J, S Kapitan, A Spry en JA. Kemper. 2020. Brands taking a stand: authentic brand activism or woke washing? Journal of Public Policy and Marketing, 39(4):444–60. https://www.researchgate.net/publication/352441853_Brands_Taking_a_Stand_-_What_drives_consumer_responses_to_campaigns_that_tackle_gender_stereotypes (Geraadpleeg: Mei 2025).

Watson, Elijah C. 2022. The origin of woke: How Erykah Badu and Georgia Anne Muldrow sparked the “Stay woke” era. OKP. https://www.okayplayer.com/originals/what-does-woke-mean-history-origins-erykah-badu-georgia-muldrow.html (Mei 2025 geraadpleeg).

Woordpeiler. Instituut voor de Nederlandse Taal. https://woordpeiler.ivdnt.org (Mei 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Riku Lätti: Woke me up before you go-go

Bettina Wyngaard: Woke: kompliment of skeldwoord?

Jaco Jacobs: Kinderboeke: nie woke genoeg nie – of nou weer té woke?

David Willers: Vibe shifts: Post-woke in ’25? The new escalatory approach to history

Bettina Wyngaard: Van labels en ghetto’s

Hein Willemse: Oor sosiale betrokkenheid

Melt Myburgh en Jana Luther: Bly weg van dié woorde om aanstoot te vermy

Jackie Nagtegaal: My lyf is die twee extremes tussen pleasure en pyn (met apologie aan Schopenhauer)

Annesu de Vos: The fist on the table (and other more important issues)

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 2

Kommentaar

  • Charles Viljoen

    Moet nie te gou woorde (lees: woke) demoniseer en afmaak nie. Uiteindelik staan daar altyd meer as wat daar staan. Die sosiale onreg en diskriminasie behoort voortdurend krities bevraagteken te word. Mense doen dit deur kritiese woorde, sinne, memes, labels, ens.

  • Deeglike uiteensetting.

    Ek dink egter die pendulum swaai terug van die hoogtepunt (laagtepunt?) toe sportsterre moes kniel (bend the knee) met Lewis Hamilton as die hoof aanstigter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top