
Foto van Jaco Jacobs: verskaf
Jaco Jacobs skryf op Facebook:
As dit kom by die media en veral sosiale media, het ek die afgelope jaar of wat hard, doelgerig en soms met wisselende sukses daaraan gewerk om ’n superkrag te ontwikkel, naamlik die vermoë om op jou hande te sit en stil te bly. Ja, ek weet dit klink soos iets wat ’n mens reeds op kleuterskool moes bemeester, maar glo my, daardie vermoë kwyn mettertyd.
Dit is nie maklik nie, daarvan kan ek getuig, maar as jy bereid is om swyend toe te kyk, rustig te probeer besluit wat is baba en wat is badwater; wat is ego en wat is insig; om die sinvolle, nugter stemme tussendeur al die moddergooiery en lawaaimakery deur selfaangestelde "kenners" en meningsvormers te probeer identifiseer, is dit nogal die moeite werd.
Die afgelope tyd het twee debatte oor kinderboeke kosbare koerant-, debat- en dinkspasie opgeëis – wat myns insiens aan veel dringender, sinvoller en opbouender gesprekke oor dié tema afgestaan kon word, onder meer die steeds al groterwordende geletterdheidskrisis in ons land. Dit kon dalk selfs – bid jou aan! – aan deeglike, breedvoerige resensies en besprekings van Afrikaanse kinder- en jeugboeke afgestaan word. Maar nou ja, dit maak nie sulke lekker clickbait nie en dit bied minder geleentheid om menings en uitsprake te copy and paste.
So, net een opmerking van my kant (en ek weet voor my siel dis klaar te veel): As ek so na die afgelope tyd se twee groot kinderboekdebatte in plaaslike geledere kyk, sonder om hoegenaamd stelling in te neem, en met die fynere nuanses van albei debatte doelbewus grofweg buite rekening gelaat, sien ek twee identiese koerantspotprente in my kop. Op die 2022-weergawe is ’n klomp gesiglose mense wat plakkate rondswaai, en op die voorste plakkaat staan: HOE DURF ENIGIEMAND BEWEER UITGEWERS MAAK KINDERBOEKE DOELBEWUS WOKE? Op die 2023-weergawe staan: HOE DURF UITGEWERS KINDERBOEKE DOELBEWUS WOKE MAAK?
Die prentjie laat my glimlag. Oor albei plakkate het ek nogal menings. Soms meer oor die debatteerders as oor die debat self. Maar nou gaan ek ’n beker sterk koffie maak, aan ’n kinderrympie werk en dalk later ’n grappie, ’n draf-selfie of ’n foto van ’n paar snaakse sokkies hier op Facebook plaas. En tussendeur gaan ek lekker stewig op my hande sit.
Lees ook:
Elders gesien: Dahl se stories moet juis nie soet en voorbeeldig en prekerig vervelig wees nie
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie