Elders gesien: Dahl se stories moet juis nie soet en voorbeeldig en prekerig vervelig wees nie

  • 2

...
Ja, sensuur kan baie goed bedoel wees. But the road to hell is paved with good intentions, en een of ander tyd beland die mag om sensuur toe te pas in die “verkeerde” mense se hande – kyk maar na die geskiedenis van letterkunde – en wat maak ons dan met al ons goeie bedoelings?
...

Marita van der Vyver skryf op Facebook:

Daar is heelwat mense in die boekbedryf, ook plaaslik in Afrikaans, wat glo dis raadsaam om kinderboeke so bietjie aan te pas om dit meer verteerbaar te maak vir ’n wyer verskeidenheid van kinders. Die bedoelings is baie goed, veral as dit gaan oor die suiwering van rassistiese woorde – veral in ’n land soos ons s’n – maar ek is nie oortuig nie. Want as jy eers begin met sensuur, hoe goed bedoel en edel jou motiewe ook al is, eindig jy onvermydelik met óf boosheid óf die soort absurditeit wat Roald Dahl se boeke nou tref, waar karakters nie vet of lelik mag wees nie, waar alles soet en voorbeeldig en prekerig moet word.

En die ironie – o hel, die ironie – is dat Dahl se stories juis nie soet en voorbeeldig en prekerig vervelig soos die meeste kinderstories destyds wou wees nie, dat hy ’n baanbreker was wat grillerige en gruwelike stories vol swart humor geskryf het waaroor kinders (en baie grootmense) van die begin af gek was. In ons huis het ek saam met die kinders al sy stories verslind. Ons was veral versot op die erg onvoorbeeldige Revolting Rhymes met Quentin Blake se wonderlike illustrasies waarin Gouelokkies so ’n irriterende klein snotkop is dat jy wens die bere wil haar opeet, en Rooikappie nie net die wolf koelbloedig doodskiet en sy vel gebruik om vir haar ’n jas te maak nie, maar daarna ook deur die Drie Varkies gevra word om húlle wolf te kom skiet. En dan gedra sy haar soos ’n bad-ass Annie Oakley en skiet meer as net die wolf ... Heerlik ondermynend, allesbehalwe soet en prekerig en polities korrek.

En nou word hierdie ondermynende stories van nuuts af versoet, versag, gesuiwer, wat jy dit ook al wil noem – sensuur bly sensuur – om soet en voorbeeldige verhaaltjies te word wat om hemelsnaam tog net nie vir enigiemand aanstoot moet gee nie.

Ja, sensuur kan baie goed bedoel wees. But the road to hell is paved with good intentions, en een of ander tyd beland die mag om sensuur toe te pas in die “verkeerde” mense se hande – kyk maar na die geskiedenis van letterkunde – en wat maak ons dan met al ons goeie bedoelings?

Intussen sal ek almal aanmoedig om ’n eksemplaar van Revolting Rhymes in die hande te kry en te geniet voordat dit so “gesuiwer” word dat dit niks meer pret is om dit te lees nie.

  • 2

Kommentaar

  • Elizabeth Pulles

    Dankie tog ek het my eksemplaar ... Ons hele familie is mal daaroor. Dis so goed ons gaan sit vyeblare oor naakstudies in ’n galery. Dahl was ’n genie. Hoe kan hulle eers dink daaraan?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top