Oupa Zombie deur Jaco Jacobs: ’n resensie

  • 0

Oupa Zombie
Jaco Jacobs

Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781776250264

Hou jy van broccoli en kaassous? Miskien moet jy heroorweeg wat dié groengroente vir jou oorlewing kan beteken. Alexander Frederikus Kritzinger, oftewel Alex soos almal hom noem, woon saam met sy ouers net buite die stad. Hy het deurmekaar hare, dra ’n bril en het nie eers ’n selfoon nie. Sy enigste twee maats is ’n tweeling, Jamie en Amy.

Alex se avontuur begin in die klas. Hy moet mondeling praat voor die hele klas. Hy was paniekbevange toe hy hoor hoe asemrowend almal se vakansie was. Arme Alex se vakansie was nie so opwindend nie en hy besluit om ’n bietjie by Oupa se reisprogramme te gaan “leen” en soveel feite as wat hy kan in sy mondeling te prop. Sy vakansie was dan doodvervelig – boeklees en TV kyk saam met sy oupa.

Hy vertel drie asemrowende groot leuens.

Skielik kom daar ’n belangrike aankondiging oor die skool se interkomstelsel. Daar is ’n vreemde virus wat mense in zombies verander en nou is zombies cooler as kopluise.

Mense begin vreemd optree: Die posman byt ’n hond, die skool word gesluit vir die res van die week en dit is glo weens ’n gevaarlike siekte. Die internet kondig aan dat dit as gevolg van zombies is. Daar is zombiepolisie en die kenner dr Dezil Zuurman tree na vore om te help met ’n entstof.

Dit is net hier waar ’n paar klein dingetjies flikkerende rooi ligte in die leser se brein moet aktiveer.

Waar presies die broccoli vir Alex gaan help, sal jy self moet lees. Dit is glo ’n staatsgeheim.

Oupa Zombie is een van die lekkerste avonture uit die toetsbord van Jaco Jacobs, wat onlangs vir ’n derde keer die Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur gewen het met Die boekwinkel in die wolke (2021). Hy het in 2006 dieselfde prys ontvang vir Wurms met tamatiesous (2008) (jiggie!) en ook in 2019 vir Moenie hierdie boek eet nie (2016).

Jaco het geen bekendstelling nodig onder kinders, tieners of ouers nie. Hy is een van Suid-Afrika se mees produktiewe kinder- en jeugliteratuurskrywers, met meer as 200 boeke agter sy naam.

..........
Jy mag dalk geflous word om te dink hierdie is ’n lekker verbeeldingryke storie wat te goed klink om waar te wees, maar dit is steeds in die werklikheid geanker.
..........

Oupa Zombie se kommentaar

Jy mag dalk geflous word om te dink hierdie is ’n lekker verbeeldingryke storie wat te goed klink om waar te wees, maar dit is steeds in die werklikheid geanker. Ons almal is bekend met die versteekte kommentaar wat ’n boek soos Animal Farm deur George Orwell lewer oor ’n sosiale staat. Oupa Zombie is beslis geen voorstander van enige politieke oortuiging nie, maar hier is beslis ’n onderliggende kommentaar wat veral ouers sal laat regop sit.

Jacobs het ’n interessante tegniek om sy jong leser in te trek. Elke hoofstuk begin met ’n kort koerantberiguitknipsel. As jy mooi lees, sal jy agterkom die opskrifte van die uittreksels is eintlik leidrade. Meer as dit gaan daar nie hier verklap word nie – jy sal maar self moet gaan kyk hoe hierdie James Bond spoof ontvou.

Wat sosiale kommentaar betref is daar verskeie paaseiers te vinde.

Eerstens is daar die farmaseutiese reuse wat altyd op soek is na ’n manier om geld te maak deur spesifieke virusse en kieme te skep sodat hulle ’n entstof daarvoor kan ontwikkel. Hulle maak dan miljoene rande se wins ... Klink dit bekend? Dit was maar een van die wilde teorieë wat in 2020 die ronde gedoen het omtrent die COVID-19-virus. Dat die virus iewers in ’n laboratorium gekweek is sodat groot farmaseutiese maatskappye munt kan slaan uit die entstof. Ek gaan nou nie die geheim verklap nie, maar hou maar hierdie samesweringsteorie in gedagte terwyl jy die boek lees.

’n Ander onderliggende kommentaar is hoe verknog die mensdom aan hulle tegnologie geraak het. Hieraan is ons almal seker ’n bietjie skuldig. Alex se ouers is beslis deel van die groep mense wat 24/7 aan hulle fone, rekenaars, tablette en Bluetooth-gehoorstukke gekoppel is. Gelukkig bly Alex se oupa saam met hulle en hy en Oupa het ’n baie hegte verhouding. Al het Oupa nou weens ’n beroerte ’n paar probleme, soos dat hy minder praat en slegs ’n paar kritieke woorde op soms die gepaste tye hardop uiter (soos moerkoffie, briljant!, blatjang, dag, TV, nag, daar, hierblikskater, twak, snert, bog en ’n paar minder ordentlike woorde). Dit besorg soms vir Alex se ouers hoofbrekens van vernedering, maar Alex en Oupa verstaan mekaar. Oupa hou daarvan om reisprogramme op TV te kyk en hy wat Alex is hou van feite.

Ouers of die ouer kinders onder ons sal agterkom dat Alex en sy oupa afgeskeep word deur Alex se ouers. Een van die beste dele is waar Alex se ma heeltemal die pot mis sit wanneer hy haar probeer vertel dat hulle huis toe gestuur is oor die vreeslike virus wat uitgebreek het en die zombies wat “breins” soek. Sy wil hulle vir ete nooi!

Sy ouers is so besig dat hulle skaars tyd het om met hom ’n gesprek te voer. Hulle stel klaarblyklik nie belang in wat hy hulle probeer vertel nie. Oupa is eintlik die persoon wat vir hom ’n rolmodel en geliefde is. Oupa dink hierdie zombiestorie is “bog!”. Maar dan word Oupa deur ’n zombie gebyt ...

Alex ontdek dan toevallig ’n wonderkuur wat Oupa red en verhoed om in ’n zombie te verander. Jy gaan beslis die boek moet koop om uit te vind hoe hierdie wonderkuur werk en hoe Alex en Oupa se drie groot leuens bewaarheid word.

Onthou dus om al jou broccoli te eet, en gooi maar ’n bietjie kaassous daaroor, want dit kan dalk net jou lewe red. “Breins ....breins” ... Maak gou! Hier kom hulle!

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top