LitNet Akademies-resensie-essay: Dienaar van die waarheid deur MC Botha

  • 1

Titel: Dienaar van die waarheid
Skrywer: MC Botha
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2024
ISBN: 9780796173263 

’n Oom met wie jy ’n whisky sou wou drink

’n Stuk of tien jaar ná die verskyning van Verliesfontein, die laaste van die reeks magistrale romans wat Karel Schoeman in die 1980’s en 1990’s gepubliseer het, verskyn sy laaste roman ietwat onverwags – Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarotti (Kaapstad: Human & Rousseau, 2009).

Dit het my minstens drie probeerslae geneem om dié groots opgestel roman enduit te lees. Uiteindelik het dit my met ’n mengsel van onbegrip en teleurstelling gelaat – teleurstelling omdat die verwagting waarmee enige leser wat deur byvoorbeeld ’n Ander land of Verkenning meegesleur is, Titaan opgeneem het, eenvoudig nie vervul is deur laasgenoemde nie, want dit het nóg tegnies nóg stilisties die hoogtes van daardie ander romans bereik; en onbegrip omdat jy ná die lees daarvan wonder wat nou eintlik die punt daarvan is. ’n Bepeinsing oor kunstenaarskap? ’n Pleidooi vir skoonheid? ’n Oorweging van die aftakeling van die ouderdom? Bowenal het dit as ’n werk oor Michelangelo nie romanmatig iets ánders gebied as enige goeie biografie oor Michelangelo nie.

Veel van wat in die vorige paragraaf oor Titaan gesê is, kan ook oor MC Botha se Dienaar van die waarheid gesê word. Dit is gewis groots opgestel, ’n boek wat met sy raps meer as 900 bladsye beslis nie aan ensiklopediese ambisie ontbreek nie. Net soos dit ook die geval is met die meeste van Schoeman se historiese publikasies gedurende die laaste 25 jaar van sy lewe. En dat Schoeman se historiese werk vir Botha as voorbeeld dien, maak hy duidelik op die tweede bladsy van sy boek:

Een bron waarteenoor ek graag my skatpligting wil beken, is die werk van Karel Schoeman. As die deurtastendste optekenaar van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die 17de, 18de en 19de eeu laat hy ’n monumentale skatkis van inligting na – trouens, die derduisende bladsye, fiksie of niefiksie in tallose dik bande wat individueel reeds indrukwekkend is, plus ’n groot deel van sy eie navorsingsbiblioteek wat op die internet beskikbaar is, laat die verstand duisel en boesem ontsag in wat jou telkens laat terugsit in pure bewondering. (6)

Goed en wel, want wie sal immers met hierdie taksering verskil? Wat egter ewe waar is, is dat Schoeman soms onder geregverdigde kritiek oor sy historiese werk moes deurloop, naamlik dat dit by geleentheid te ensiklopedies en te gedetailleerd is, dat dit meer vertel as wat regtig nodig is vir begrip van dit wat hy behandel. Aan die ander kant is dit ook onteenseglik so dat wanneer Schoeman in sy historiese werk op sy beste is, dit is omdat hy romanmatig daarin slaag om die konkrete omstandighede van sy historiese figure so briljant te skets dat die leser voel jy beleef dit eerstehands. Tesame hiermee slaag hy dan by sulke geleenthede uitmuntend daarin om – weer eens romanmatig – iets voort te bring wat seker beskryf kan word as karaktergedrewe geskiedenis, sodat die figure wat hy aan die orde stel, vir die leser ewe werklik word as, sê, Versluis in ’n Ander land of die naamlose jong Nederlandse hoofkarakter op reis deur die leegtes van die vroeë 18de-eeuse binneland in Verkenning.

Wat deel I, “Herkoms”, van Dienaar van die waarheid betref, is die kritiek op Schoeman se historiese werk grootliks eweseer hier van toepassing, terwyl die voortreflike historiese karaktergedrewenheid ongelukkig grootliks hier afwesig is – hoewel gelukkig nie heeltemal nie. Hoekom so?

Wel, Dienaar van die waarheid is hoofsaaklik ’n biografie van Botha se vader, die vermaarde juris AS (André Stephanus) Botha. Terselfdertyd lees dit ook as ’n soort langer familiegeskiedenis van veral die Botha-familie in Suid-Afrika, maar ook van ander families wat op een of ander (dikwels baie verlangse wyse) met die wel en wee van die Bothas saamhang.

As sodanig sluit deel I van Dienaar van die waarheid aan by die ontploffing in genealogiese belangstelling wat die afgelope dekades in die Afrikaanse wêreld voorkom, en hierdie meer as 350 bladsye – meer as ’n derde van die boek – bevat inderdaad vele interessante karaktersketse en staaltjies. Soos by Schoeman en Hermann Giliomee, onder vele ander, die afgelope dekades en tot selfs so ver terug as die groot reisskrywers van die vroeë 18de eeu (Lichtenstein, Sparrman), kry die leser hier ’n heel goeie beeld van die uitdagings en alledaagse lewens van setlaars van Europese afkoms in die uitdyende Kaapkolonie van die sowat 250 jaar ná Van Riebeeck se koms.

Daar is egter verskeie probleme met hierdie deel van die boek. Eerstens: Vir die leser wat reeds vertroud is met bovermelde bronne, is dit hoogstens ’n herhaling van wat reeds in daardie bronne so deeglik behandel is. As dit dan in ’n hoë mate ’n herhaling is van wat reeds gedoen is, ontstaan die vraag watter ánder bedoeling Botha moontlik met hierdie ellelange optekening kan hê. Dié vraag word nooit duidelik beantwoord nie, wat my laat bespiegel het of dit bedoel is om sekere kenmerke van die Botha-familie in Suid-Afrika te probeer identifiseer en dit dan op die eintlike onderwerp van die boek, AS Botha, toe te pas ten einde hom as karakter meer verstaanbaar te maak. Dit mag wees dat ander lesers tot ’n ander taksering sal kom, maar wat my betref, is dit helaas nie wat gebeur nie.

Pleks daarvan is deel I dikwels so sieldodend herhalend soos ’n Ou Testamentiese geslagsregister. Jy lees van anargistiese karakters, van ondertrouery oor die grens van kleur en klas, van botsings met die gereg of ernstige geweldpleging. Bowenal is daar Botha se troeteltema, naamlik hoe in geslag op geslag van sy voorgeslagte ondertrouery plaasgevind het wat daartoe lei dat, sê, ’n nig en ’n neef in die huwelik beland, of stieffamilie met bloedfamilie trou. Dog telkens vra jy jou by die lees hiervan af: Hoekom moet die leser dit weet? Tradisionele en vroegmoderne opvattings van verwantskap en die huwelik verskil inderdaad wesenlik van moderne en laatmoderne opvattings hiervan, maar dit is werklik lankal op die historiese en antropologiese rekord geplaas en behoort vir geen redelik ingeligte leser meer ’n verrassing te wees nie – wat nog te sê om al om die hawerklap deur die loop van 350 bladsye net nóg ’n voorbeeld hiervan te gee.

Met die uitsondering van die skrywer se grootouers aan vaderskant, naamlik (professor) MC Botha en sy vrou, Frena (gebore Roux), word die mense oor wie in deel I geskryf word, selde meer as tweedimensionele kapstokke waaraan hierdie of daardie voorbeeld van ondertrouery, ’n jagtog of ’n mesgeveg opgehang word. Ten regte of ten onregte het dit by my die indruk gewek dat die skrywer meer geïnteresseerd is in historiese hebbelikhede wat afwyk van die kanoniese Afrikanernasionalistiese geskiedenis van sy skoolsillabus as in die mens van vlees en bloed in sy voorgeslagte. En ook dít is juis danksy Schoeman, Giliomee en vele ander teen hierdie tyd lankal mosterd ná die maal.

Wat betref die (ongenommerde) hoofstukke wat onderskeidelik oor MC Botha en Frena handel, is dit veel meer geslaagd en plek-plek werklik boeiend. Anders as in die res van deel I hanteer die skrywer sy grootouers as karakters, mense van vlees en bloed met ’n komvandaan, ideale, verliese en ’n boeiende lewensloop.

MC Botha, gebore op 26 Augustus 1886 te Georgetown (vandag George), is van meet af ’n interessante karakter. In die ou taal sou ’n mens kon sê dat hy vir alle praktiese doeleindes die eerste in sy familie oor geslagte heen sou wees wat “geleerdheid gekry het”, oftewel met universiteitstudie en geweldig harde werk bo sy nederige agtergrond uitgestyg het. Soos die skrywer dit stel, is dit uit ’n “oorbevolkte leefwêreld van kleinboere wat prof Botha as jongeling verstikkend gevind het, waaruit hy wou padgee” (92) – ofskoon die skrywer sy grootvader se strewe ietwat mistifiserend en verromantiserend sonder veel oortuiging verbind aan “sluimerende reste van die stamvader Frederich Botha en sy seun Jacobus d’Oude”.

Oortuigender getuienis vir waarom Botha bo sy omstandighede wou uitstyg, word gelukkig kort hierna voorgehou wanneer die leser verneem dat die gebore leergierige Botha die eerste seun van die distrik word wat sy hoërskoolopleiding voltooi. Dit geskied teen die agtergrond van sy eerstehandse ervarings en waarnemings van Engelse diskriminasie teen Afrikaans, die verwoestende uitwerking van die Anglo-Boereoorlog, en die verarming van vele mense om hom, insluitend sy eie pa – met die gevolg dat hierdie skrander man kort ná skool om den brode ’n transportryer word, en haas 40 jaar later in een van sy rubrieke die epifanie in herinnering roep wat hom laat besef het hy moet bo sy omstandighede uitstyg:

Dit was daar in Vaalkloof, verby Heimersrivier, op pad na ’n klein plekkie anderkant Meiringspoort in die distrik van Prins Albert. Kersfees was naby en ons was haastig om voor die tyd terug te wees. Uit die staanspoor moes ons dus aanstoot en letterlik dag en nag ry. Op ’n vaal-stowwerige uitspanning het ons die osse die nag vasgemaak met die doel om gou koffie te maak en ’n uurtjie te slaap. Ongelukkig was dit ’n plek wat vergewe was van wandluise; en nouliks het ek my vuurtjie aan die brand gehad of die stof rondom die vuur word lewendig van die groot vaal gloed soos hulle wegvlug van die onverwagte warmte. Met ’n klip onder elke voet en broekspype tot die knieë opgerol om enige aanvaller te kan sien en voel en keer voordat hy te ver langs my kaal bene kon vorder, het ek wakker gesit en oor my toekoms gemymer. Met ’n wrok in my hart teen die ellendige wandluise het dit vir my duidelik geword dat ek van dié vuil lewe ’n end moes maak en van die plaas moes padgee. (101)   

Die skrywer som sy grootvader se gevolgtrekkings later in dieselfde rubriek op, naamlik “dat daar in elke indiwidu se binneste ’n stryd tussen twee kragte woed. Die een is die goddelike ontevredenheid met die bestaande en die ontembare drang na iets hoërs en beters tot by die volmaaktheid self, waar dié ook al te vind kan wees, en die ander is die Christelike plig om vergenoeg te wees met wat is en gelowig te berus in die weg deur die Voorsienigheid gebaan” (101–2).

Op die keper beskou sou ’n mens kon sê dat Botha se drang om uit te styg ’n kombinasie was van sy skranderheid, sy betreklik hoë onderwyspeil, ’n groeiende maatskaplike bewussyn, en goeie ou Afrikaneridealisme ingegee deur die Protestantse werksetiek. Anders gestel, Botha se ontwaking en verbintenis tot iets groters is die verhaal van ’n begaafde man wie se gemeenskap die tradisionele wêreld met sy beperkte verwagtingshorison begin verruil vir die moderne wêreld met sy haas onbeperkte verwagtingshorison en klem op vernuwing en vooruitgang.

So gesien, is die verhaal van MC Botha as een uitsonderlike individu wat meegesleur word in die stroomversnelling van die modernisering van sy kultuurgemeenskap in vele opsigte boeiend, en wel om minstens die volgende redes.

Eerstens was die jong Botha in sy dertigs betrokke by Die Oranje Klub, in Kaapstad gestig op 6 Augustus 1915, onder andere deur Botha se toekomstige eggenote, die merkwaardige Frena, en haar suster Marie, wat later met die digter Boerneef sou trou. Haas meer as 60 jaar voor Ngũgĩ wa Thiong'o psigiese verknegting as die kernelement van kolonisasie sou uitwys, het die skrywer dit soos volg oor die klub:

Dit was uitsluitlik ’n kultuurvereniging wat breedweg ’n vastrapplek wou kry vir die Afrikaner by wie daar in die nadraai van die Anglo-Boereoorlog en 1914 Rebellie ’n gees van onderdanigheid en selfs self-minagting geheers het, presies soos by hul swart landgenote ’n halfeeu later onder Groot Apartheid. (106-7; my klem)

Tweedens, kompleet asof dit ’n mikroweergawe van die opkoms, hoogbloei, afgang en uiteindelike ontnugtering van en met Afrikanernasionalisme is, sou Botha en sy vrou hul vasloop in hoe die ontwrigting van modernisering en (Britse) kolonialisme waarop Die Oranje Klub ’n reaksie was, uiteindelik die klub self oorweldig en van sy skeppende energie gestroop het. Die skrywer wys daarop, dog met ongelukkige veralgemenings wat nie noodwendig blyke gee van ’n besef van die aard van die ontwrigting nie: “Gaandeweg het die atmosfeer vir [prof Botha] egter al hoe meer verstikkend geraak namate die Afrikaner se inherente konserwatisme, eiegeregtigheid en gebrek aan self-ironisering katastrofale hoogtes bereik het” (108). Van wanneer af is hierdie dinge inherent aan Afrikaners? Die skrywer gee immers ruimskootse voorbeelde van die teendeel in die vertellinge van sy voorgeslagte.

Derdens is daar Botha se merkwaardige beginselvastheid wat hom verhoed om kritiekloos om te gaan met Afrikanernasionalisme en die Afrikaners se vryheidstrewe in aanloop tot die verkiesingsoorwinning van die Nasionale Party in 1948, veral beliggaam tydens sy jare as rektor van die Universiteit van Pretoria van 1941 tot 1947. Rondom die tyd toe NP Van Wyk Louw ’n soortgelyke standpunt ontwikkel en dit in 1939 verwoord met die woorde lojale verset, doen Botha iets soortgelyks, soos die skrywer die destyds pas aangestelde rektor se eerste rektorale toespraak opsom:

Hy vereenselwig hom nie met politieke partye nie en beskryf hom polities gesproke as onklassifiseerbaar, hy weier om deel te neem “aan die vandalistiese ekskommunikeerneigings van allerlei mannetjies van toet” wat hulle daarop toelê om Afrikaners uitmekaar te jaag, en hy spreek hom sterk uit teen nasionaal-sosialistiese neigings. (119)    

In meer eietydse taal sou gesê kon word dat Botha hiermee ’n besondere gevoeligheid vir ’n gebrek aan interne demokrasie in die eie groep se politiek getoon het – en vir wat René Girard sou beskryf as ’n onstabiele groep wat ’n onskuldige ander tot sondebok maak, soos dit inderdaad met Botha self gedoen is, en wat tot die einde van sy rektorskap gelei het (122–9). Botha se merkwaardige, profetiese gevoeligheid vir die noodsaak van interne demokrasie word ook verwoord in sy toespraak by die opening van die eerste Afrikaanse geneeskundefakulteit, wat sowat twee jaar ná sy aanstelling as rektor ’n werklikheid aan die universiteit word:

As Afrikaners soek ons eenheid en vind verdeeldheid. Want die eenheid wat ons najaag, is nie die ware eenheid in verskeidenheid nie, maar eendersheid wat vyandig staan teenoor enige vorm van andersheid. Is ’n Christelike lewensbeskouing te rym met enige soort selfsugtige nasionalisme wat in alle andernasiemense slegs vyande sien wat ekonomies en andersins onderdruk moet word? Waar is die leier wat vir ons ’n vryheidsideaal sal voorhou wat alle groepe van die bevolking hul regmatige en eerbare plekke in die samelewing sal aanwys en wat nie van die môre tot die aand eendersheid bepleit en andersheid verdoem nie? Dit word vir baie ware kultuurmense in ons land al hoe moeiliker om óf Christen óf Afrikaner te wees. (121)

Sowat 13 jaar later, in 1956, is Botha saam met Van Wyk Louw een van die rare Afrikanerstemme wat hulle verset teen die NP-regering se stroping van bruin mense se stemreg, en wat hy beskryf as “’n Pyrrhus-oorwinning wat in die toekoms ’n moontlike Nemesis-afrekening tot gevolg kan hê. Veelseggend voeg hy daarby, ‘sonder die profetiese blik wat nou reeds kan bepaal wat die toestand oor vyftig of meer jaar sal wees’” (143). Wat is dit anders as ’n variasie op Van Wyk Louw se begrip uit dieselfde dekade van die noodsaak vir die voortbestaan in geregtigheid waarsonder die voortbestaan onder bedreiging kan kom?

’n Kwessie wat die skrywer met betrekking tot sowel sy grootvader as sy vader te berde bring, is hoe geweldig hard hulle gewerk het, en hoe hoog die persoonlike prys was wat hulle daarvoor moes betaal – in die geval van die vader ten koste van sy gesinslewe en sy gesondheid, en in die geval van die grootvader waarskynlik bydraend tot die verbrokkeling van sy huwelik met Frena. Dit beweeg die skrywer om by meer as een geleentheid die algemene waarstelling te maak dat mans slegs in harde werk bevryding vind (bv bl 130). Vir iemand wat sy hoogs bejaarde vader naby die einde van sy lewe konfronteer met die stelling dat hy nie “vry” is nie (869), kan ’n mens nie anders nie as om te wonder hoe vry hy sélf is as hy so ’n algemene waarstelling in die ouderdom van 70 aanhang nie.

Soos reeds hier bo gesê, word die eentonigheid van deel I gelukkig ook afgewissel met die lewenskets van Frena in die hoofstuk “Frena of Ouma: enig in haar soort” (283–339). Daar is reeds hier bo verwys na haar betrokkenheid by die oprigting van Die Oranje Klub. Ewe tekenend van haar ondernemingsgees en haar sterk geloof in haar eie standpunte en haar ruimgeestigheid is hoe sy die opvoeding van haar kinders benader:

Wat die opvoeding van haar eie kinders betref, druk Frena uit die staanspoor haar eie stempel af deur self vir hul voorskoolse onderrig te sorg en daarna besluit net sy wanneer hulle gereed is om skool toe te gaan. Haar optrede is eerstens daarop gemik om almal goed te laat verstaan wie’s baas in die huis, en tweedens put sy besonderse genot daaruit dat sy hierdie leisels kan hou onder die neus van haar man wat ’n hooggeplaaste onderwysamptenaar is wat dit nie sou durf om iets buite die raamwerk van sy departement goed te praat nie. Die kinders word almal hopeloos te laat skool toe gestuur, en daarmee wys sy sommer ook vinger vir die onderwysdepartement in die geheel, sonder om haar te veel te bekommer oor die moontlike nadelige uitwerking wat haar handelswyse op die kroos mog hê. (292)

En hier is die skrywer se vader se herinneringe aan hoe sy ma hom voorskools onderrig het:

Hy onthou dat sy ma se voorskoolse lesse heeltyd baie interessant was, behoorlik toegelig met illustrasies uit tydskrifte of boeke, en as dié ontbreek, het sy self kleurprente geteken en hulle aan die mure van die kombuis opgeplak. Sy het haar nie aan die kleuterboekies gesteur nie en die onderwerpe wat sy as vakke gekies het, was dié wat gewoonlik nie met ’n kind se eerste skoolfase verbind word nie, soos wêreldgeskiedenis, vreemde natuurverskynsels en verhale uit die klassieke letterkunde. ’n Verdere belangrike komponent in haar siening van voorskoolse onderrig was musiek, en hoewel sy nie self ’n instrument bespeel het nie, het sy die jongeling na plate van die ou meesters soos Mozart en Beethoven laat luister: klavierkonserte, kamermusiek en selfs operas en simfonieë. Hierdie klasse is vergesel van biografiese besonderhede oor elke komponis ter sprake. (293) 

Frena se ontydgenootlike individualisme is skynbaar versterk deur belangrike emosionele verliese, onder meer die afsterwe van háár vader toe sy nog baie jonk was, en die verbreking van ’n verlowing aan ene Visser – wie se geeste sy dan in die 1930’s met séances probeer oproep het. Voorts het sy na bewering spoke gesien, wat ook later deur ander mense waargeneem is, en waarvan een glads na bewering die spook van generaal Christiaan de Wet was. Die skrywer maak melding van minstens een buite-egtelike verhouding waarby sy te midde van haar verslegtende huwelik betrokke was, terwyl sy ook ’n roker, drinker en geesdriftige dobbelaar was. So skets hy ’n beeld van ’n sterk, eiesinnige, verwonde vrou wat haarself enduit gehandhaaf het – dikwels ten koste van haar verhoudings met haar gesin en familie, maar aan wie hy self tog kosbare herinneringe koester, asof die ouma, soos so dikwels gebeur, in haar later jare danksy kleinkinders versag en hulle so anders as haar eie gesin en familie hanteer het.

Uiteindelik, teen bl 357, breek die eintlike biografie van André Stephanus Botha aan. Hoewel die biografie van hier af meer konvensioneel is, en die leser byvoorbeeld ’n goeie beeld kry van hoe vormend sy ouers vir hom was, en ofskoon André Stephanus se loopbaan as juris en uiteindelik regter in die appèlhof rondom die oorgang van die vorige na die huidige staatkundige bedeling onteenseglik in vele opsigte ’n boeiende verhaal is, kan die skrywer net soos in deel I eenvoudig nie die versoeking weerstaan om telkens te veel besonderhede te behandel en die leser te laat wonder hoe relevant dit alles dan nou is nie. Om twee voorbeelde te noem: Nadat die leser getrakteer is op ’n reeds effe uitgesponne en plek-plek sentimentele behandeling van André Stephanus se vakansiehuis en die vakansies wat hy daar met sy kinders gehou het (“Langbaai”, 476–512), word nog vakansievertellinge nie altyd met ’n duidelik rasionaal nie opgestapel in die eersvolgende hoofstuk met die titel “Meer vakansie” (513–35). Die tweede voorbeeld: Wanneer dit kom by die vader se loopbaan as regter en later appèlregter, word die een na die ander hofsaak en sy uitspraak daaroor in liefderyke besonderhede behandel – dat die regter onteenseglik ’n belangrike bydrae gelewer het tot die Suid-Afrikaanse regspraak tydens moeilike dekades in Suid-Afrika, is die punt wat die skrywer hiermee probeer maak, maar buiten lesers vir wie die regspraak ’n kwessie van hartstogtelike belangstelling is, neig hierdie uitvoerige behandelings om te verval in droë tegniese besprekings wat die andersins pakkende storielyn van AS Botha se lewe en tye ondermyn.

Ondanks dié kritiek, en indien die leser daarin kan slaag om te midde van die hoë eise wat die liefderyke opstapeling van gesinsherinneringe en die een hofuitspraak na die ander steeds deur te druk, word jou moeite tog beloon met die verhaal van ’n man wat te midde van ’n toenemend immorele bestel deurgaans die regte ding probeer doen, aan sy beginsels getrou bly en as dienaar van die waarheid (soos AS Botha die roeping van die advokaat en, per implikasie die regter, opsom –  bl 549) ’n waarlik goeie lewe gelei het.

In ag genome dat dit hier gaan om ’n boek wat ’n seun tussen die ouderdomme van 60 en 70 oor sy vader skryf, en dat hulle verhouding vanweë die beginselvaste rebelsheid in hul albei se karakters soms gespanne was, is hierdie deel van die boek tog iets besonders – nie soseer oor die openbare lewe wat sy vader gelei het nie, maar oor hoe hy as seun met die verloop van jare homself al hoe meer simpatiek in die skoene van sy vader kon plaas, en oplaas ’n boek oor hom skryf wat hom as ’n mens van vlees en bloed met sowel sy voortreflikhede as sy tekortkominge uitbeeld. Trouens, waar dit so maklik ’n boek van vadermoord kon gewees het, is dit daarteenoor ’n boek van vaders en seuns waarin die band wat veral, maar nie slegs nie, rondom die nieverbale gevorm is (jag, visvang, wildtuinbesoeke), en die wysheid wat met die jare kom, die seun met die skryf van die vader se biografie in staat stel om die vader so uit te beeld dat die leser ondanks die vader se gebreke oplaas werklik simpatiek teenoor hom staan en jy voel dis ’n oom met wie jy graag ’n whisky sou wou drink. Ek verduidelik ter afsluiting van hierdie resensie waarom ek tot hierdie gevolgtrekking kom.

Neem in die eerste plek hierdie pragtige besinning sowel as vertelling van die skrywer as kind dekades later oor sy vader:

Die gereelde vakansies ten spyt, is hy in ’n sin wat in sielkundeterme beskou word as ’n afwesige vader. Hy laat die huishouding en die probleme wat die kinders by die skool het geheel en al in sy vrou se hande oor. Hy besef baie goed dat hy in ’n patriargale stelsel of gemeenskap leef, maar terselfdertyd huldig hy die mening dat die vrou in ’n gesin, met ander woorde ’n huisvrou, een van die magtigste figure in die samelewing is. Sý bepaal hoe die huishouding bestuur en georden word, sý is naas die skool vir die kinders se opvoeding verantwoordelik, wat sport- en kulturele aktiwiteite insluit; in kort: wanneer almal saam onder een dak verkeer, swaai die vrou grotendeels die septer. Die man in die huis is eerstens broodwinner: om geld te voorsien waarmee die vrou alle huishoudelike uitgawes en haar en die kinders se buitemuurse aktiwiteite kan dek. So oorhandig my pa met die grootste gemak sy hele maandelikse inkomste aan my ma, sonder dat sy daarvoor verantwoording hoef te doen, trouens, hoe minder hy weet, hoe beter. In ruil wil hy net die vryheid hê om so hard moontlik te werk – dié moet hy in ieder geval doen in die lig van sy enigste tjekrekening wat knaend in die rooi is.

Dus het ek min herinneringe van my pa in ’n tipiese vaderskapsrol by die huis. As ek moet terugdink, sien ek laat in die middag, skemeraand eintlik, ’n moeë man in ’n donker pak die treetjie van die garage na die agterplaas aftrap, sy bruin aktetas in die hand, terwyl die blaffende pug Maxie en labrador Debbie hom tegemoet storm. Húlle het die geluid van sy Valiant se enjin herken en rasend te kere begin gaan toe hy by die garage intrek, met die drie telge hardlopend agterna.

By aanraking voel die pak koud, en die kantoorreuk wat daaraan kleef, gemeng met die 20–30 Stuyvesants wat hy ’n dag rook, kan ek nou nog ruik soos hy afbuk om ons en die honde tegelykertyd te groet. Daarna sou hy in die sitkamer in sy leunstoel neerplons, die Pretoria News uit sy tas haal en wag dat sy vrou hom met ’n glas whisky, water en ys bedien. (441–2)

Tweedens slaag die seun daarin om telkens in die behandeling van die vader se loopbaan as regter te midde van die onstuimige politieke dekades van die 1970’s, ’80’s en ’90’s aan die leser ’n binneblik te gee op die mens agter die regter, byvoorbeeld met verwysings na die psigiese eise wat sake van grumoorde, ernstige geweldpleging, die oplê van die doodstraf, of die beregting van Winnie Mandela se appèlsaak tydens die land se politieke oorgang aan die regter gestel het. Teenoor die nou alte gangbare neiging om regspraak tydens die vorige bedeling as oorwegend polities gekontamineerd af te maak, word die leser ingelei in die professionaliteit, kollegialiteit en beginselvastheid van die meeste mense wat destyds op die regbank gedien het – altans in soverre die regters met wie die skrywer se vader skouers geskuur het, verteenwoordigend van daardie era is.

Derdens is daar die aangrypende uitbeelding van die sensitiewe private man wat die regter was, en hoe hy en sy seun die biograaf in die privaat ruimte van die natuur ’n besondere band kon vorm. Een voorbeeld hiervan is hoe die vader as regter midde-in ’n dreigende skandaal weens sy enigste dogter se (destyds onwettige) verhouding met ’n Indiër en leidende anti-apartheidsaktivis sy psigiese ewewig danksy ’n geelhoutboom in hul tuin behou:

Reg voor die stoep staan ’n geelhoutboom waaroor my pa dol is, asof hy ’n emosionele band met die boom het en gevoelens soontoe kan uitstraal soos dié teenoor ’n geliefde. My ma het die klein geelhoutboompie geplant toe hulle die huis donkiejare vantevore gekoop het en hy het uitgegroei tot ’n pragtige groen reus wat ses, sewe meter hoog staan. Pretoria is in die greep van ’n knellende droogte en die munisipaliteit het streng waterbeperkings ingestel ingevolge waarvan huiseienaars verbied word om tuinslange te gebruik. Die boom kry bitter swaar in die droogte, sy lang blare vergeel en val af. Vir eens het my pa besluit, te moer met wette en regulasies. Sam kom met die tuinslang aangestap, stilletjies soos hy beveel is om te doen, en gaan lei die sterwende boom behoorlik nat. (605-6) 

’n Tweede voorbeeld is wat die vader oor sy geliefde wit wolhaarbrakkie, Piso, skryf:

Ek wil dat daar by my dood soos volg oor my siel beskik word – ’n Prentjie (sic) van Piso moet op my kissie (goedkoop, asseblief) gesit word voordat my liggaamlike oorblyfsels veras word. Die rede daarvoor is dat dié klein hondjie my daagliks nader aan God gebring het as enige lewende wese of lewenslose ding. Sy speelsheid, opgewektheid, hartseer, lojaliteit, egtheid, lewenslus, vertroue en liefdevolheid is die weerspieëling van die mooiste, skoonste, beste wat God geskep het; daar is net één woord wat alles wat die hondjie is, kan weergee – liefde. (653–4)

’n Derde, en besonder aangrypende voorbeeld kom uit die skrywer en sy hoogbejaarde, halfblinde vader se laaste besoek aan ’n Laeveldse reservaat – iets wat hulle oor sowat ses dekades gedoen en aan mekaar gebind het:

Ek stap alleen terug hut toe, my pa sê hy wil nog vertoef. Later toe dit al sterk skemer begin raak, merk ek van die stoep dat hy steeds by die draadheining staan, maar intussen tot by ’n hoekpaal verder na links beweeg het. ’n Olifant staan aan die ander kant van die heining reg voor hom, duidelik afgeëts ten spyte van die swak lig. Albei staan bewegingloos, halfblind, maar onteenseglik bewus van mekaar se aanwesigheid. My pa met sy krom skouertjies en hande eerbiedig agter die rug vasgehou, lyk so verwese en klein daar teenoor die kolos, maar in ’n sin is albei reuse op hul eie terrein. Verbeel ek my of beweeg die olifant bykans onsigbaar vorentoe? Nee, hulle staan albei rustig versteen in mekaar se geestelike teenwoordigheid.

Eers toe dit al donker is, kom hy stadig die lig van die stoep ingestap en sê hy wens hy kon die hele nag daar by die olifant deurbring. (869)

’n Ander tema wat die biografie van die skrywer se vader werklik boeiend maak, is die vertelling wat hy invleg van hoe sy moeder, Mara, onder die uiterste psigiese druk wat deur haar dogter se “onwettige” verhouding in Maart 1976 veroorsaak het, ’n ingrypende Christelike bekering ondergaan, wat haar geheel en al van haar voormalige rassevooroordele genees en haar transformeer van ’n tipiese Afrikanerhuisvrou van die 1960’s en 1970’s beperk tot die privaat ruimte van huis en haard, na ’n dapper brugbouer saam met ander vroue oor die kleurgrens heen, wat vir sover haar omstandighede haar toelaat daarna diep betrokke by die gemeenskap in die wydste sin van die woord is. By die lees van hierdie vertelling kry ’n mens die gevoel dat die skrywer se moeder se geloof hom in meer as een opsig oor is, waarvan die piëtisties-mistiese inslag nie die minste is nie. Dit is tot sy krediet dat hy hierdie moeilike tema sonder enige smaling of snedigheid behandel, met die gevolg dat die leser oplaas ewe veel simpatie met die skrywer se moeder as met sy grootmoeder het – albei eggenotes van openbaar indrukwekkende mans, wat hulself nietemin op merkwaardige wyse naas hul mans gehandhaaf het.

Om op te som: Dienaar van die waarheid is ’n te ensiklopediese boek wat goedskiks met minstens ’n derde gesny kon gewees het. Omdat dit nie gedoen is nie, vra dit dikwels meer van die leser as wat billik is, en voel jy soms by die rapportering van nóg ’n koddige staaltjie uit die skrywer se voorgeslagte, of nóg ’n hofuitspraak van sy vader, ietwat soos iemand wat na ’n ander se vertellings van sy drome moet luister. Desondanks, as die leser hierdie hebbelikhede kan verduur, lewer MC Botha met Dienaar van die waarheid ’n roerende, dikwels kostelike getuienis van sy grootouers aan vaderskant en van sy ouers – merkwaardige mense wat na die beste van hulle beperkte vermoëns die goeie lewe in moeilike omstandighede probeer leef het.

Juis daarom is die verlies aan die skrywer se grootwordhuis en hul vakansiehuis so ontroerend. Ek stel hom ten slotte hieroor aan die woord – eers oor sy grootwordhuis:

Vandag is die eiendom onderverdeel in vier aparte wooneenhede, elkeen met sy eie swembad, en heet Heidepark. Van die destydse huis, bediendekwartiere en garages is daar geen sprake nie, want al dié verbeteringe is gesloop om plek te maak vir iets luukser; daarby het nie ’n enkele struik of boom wat my ma oor dekades vertroetel het, bewaar gebly nie. Net die straatadres is dieselfde. (453)

Vervolgens oor hulle vakansiehuis, Langbaai, wat die skrywer se moeder in die ouderdom van 80 ná haar eggenoot se oorlye verkoop om vir haar ’n huis in ’n gholfbaanontwikkeling te bou:

Eendag besluit my ma en ek om by Langbaai verby te ry ná ons middagete by ’n restaurant in Voëlklip genuttig het. Daar’s niks. Van die bokant van die erf af, dit wil sê vanaf Tiende Straat, kyk jy reguit in die see vas, want die woning wat daar was, het verdwyn. Dis onmoontlik, die erf lyk nou so smal, die bure se huis links is net hier, die bure se huis regs, net daar. Waar is die huis wat altyd in die middel gestaan het? Waar is al my ma se roosbeddings en ander blomplante, die groot wildepruim wat ek al in die 70’s as saailing geplant en vertroetel het? – die enigste boom uit daardie tydperk wat sedertdien elke winterstorm kon oorleef maar in die laaste aanslag finaal geswik het. Waar is al die mense? Ouma, my pa, Cleo [die labrador]? Dit lyk onmoontlik dat soveel dramas ooit op hierdie stuk leë grond kon afspeel. Die verlede is uitgewis.

Die skotige afdraande van die straat na die huis bestaan ook nie meer nie – die versteurde stukkie aarde is deur stootskrapers honderd persent waterpas gelaat. Dooie grond. (885)

Lees ook:

Pasverskyn: Dienaar van die waarheid deur MC Botha

 

  • 1

Kommentaar

  • Uitstekend geskrewe resensie.
    Sommige van die aanhalings wat Johann uitsonder, veral die karakterskets oor die vader, is so raak en lewendig.
    Welgedaan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top