
Dienaar van die waarheid deur MC Botha (Turksvy Publikasies, 2024)
Titel: Dienaar van die waarheid
Skrywer: MC Botha
Uitgewer: Turksvy Publikasies (2024)
ISBN: 9780796173263
Twee ouers en drie kinders van ’n gewone Afrikanergesin in Pretoria in die 1970’s het as bevoorregte wit mense nie die vaagste benul dat ook hulle weldra die slagoffers van die politieke bestel sou word nie. Die loopbaan van die paterfamilias, regter André Stephan Botha, is op die spel wanneer sy dogter verlief raak op ’n beskuldigde in ’n sogenaamde terroristeverhoor en die Buro vir Staatsveiligheid genoodsaak word om in te gryp. Dan begin die poppe dans.
Dienaar van die waarheid neem die leser aanvanklik terug tot by die eerste Suid-Afrikaans gebore voorsate van die Bothas in die 17de eeu – ’n onkonvensionele, avontuurlugtige klomp wat geen erg aan die Kaapse bewindhebbers het nie en van die eerste is om uit die Kolonie pad te gee en hulle anderkant die Breërivier en die Gouritsrivier tussen Khoi-San-stamme te gaan vestig. Die genealogiese smeltkroes in die volgende paar honderd jaar lewer kleurryke figure uit ’n verskeidenheid families op, soos die Barnards, Standers, De Swardts, Eksteens, Van der Merwes, Wiids, Hugo’s en Rouxs. Deel 2 van die boek verreken die volledige biografie van André Stephan Botha. Sy vader was prof MC Botha, rektor van Tuks in die onstuimige jare tydens die Tweede Wêreldoorlog en later onsuksesvolle Verenigde Party-kandidaat op George teen die opkomende ster PW Botha. Sy moeder was Frena Roux, ’n merkwaardige, eiesinnige vrou. Sy was die oudste dogter van Paul Hendrik Roux wat later as ’n generaal in die Anglo-Boereoorlog sou veg. André Stephan was in wese ’n nederige mens wat die kollig verfoei het, maar ongevraagd daarin beland het omdat eers sy dogter met die gereg gebots het, en later – toe hy in die Appèlhof aangestel is – ook sy enigmatiese vrou, Mara Fouché. As senior Appèlregter en gerespekteerde juris was hy weer eens in die openbare spervuur danksy sake waarin hy die uitspraak geskryf of daaraan meegewerk het: eers die befaamde Safatsa-saak (die “Sharpeville 6”) wat tot in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies in New York weerklink het, tot die selfs meer opspraakwekkende saak waarin Winnie Mandela op klagtes van ontvoering skuldig bevind is. In dié tyd – net ná die moord op Chris Hani in 1993 – was Suid-Afrika op die rand van ’n afgrond. As sy tronk toe sou gaan, het baie geoordeel, sou die land in vlamme opgaan. Dog as regsgeleerde durf hy nie sy gewete versaak nie.
Inderdaad ’n dienaar van die waarheid – ’n titel wat hy nooit vir homself sou kies nie, maar bloot een wat hy sou beskou het as onvoorsiens aan hom toegedeel.


Kommentaar
Na daardie lelike en snedige brief wat Botha oor Breyten Breytenbach se openingstuk vir LitNet se beraad in 2000 geskryf het, stel ek nie daarin belang om enige van sy (Botha se) boeke te lees nie, dankie.
Botha se repliek is hier te lese: https://www.litnet.co.za/repliek-om-aan-te-kondig-dat-ek-my-intussen-bekeer-het/
Dit is ‘n merkwaardige en omvattende stuk skryfwerk oor ‘n buitengewone familie.
Ek stel belang in die boek. Waar kan ek dit aankoop of bestel?