Repliek: Om aan te kondig dat ek my intussen bekeer het

  • 2

Op 4 Desember kondig LitNet MC Botha se nuwe boek Dienaar van die waarheid aan. In ’n kommentaar onderaan skryf Petra Pienaar-Nel:

Na daardie lelike en snedige brief wat Botha oor Breyten Breytenbach se openingstuk vir LitNet se beraad in 2000 geskryf het, stel ek nie daarin belang om enige van sy [Botha se] boeke te lees nie, dankie.

Hier volg Botha se repliek.

*

Ag nee, me Pienaar-Nel, vreeslik jammer om te verneem u geheue is omtrent so groot soos die ekwivalent in lengte van ’n olifant se slurp.

Vergun my tog om hierdie kans te benut om aan te kondig dat ek my intussen bekeer het en aangesien u nie bogenoemde werk onder oë wil neem nie, gryp ek die vrymoedigheid aan om dié passasie daaruit onder u aandag te bring:

Die ringkoppe in die Suid-Afrikaanse Weermag besluit in hul wysheid dat staandemaglede in die Vloot wat van Indiese afkoms is wit genoeg is om saam met blankes opgelei te mag word, en dus ook saam met blankes in dieselfde slaapsale mag slaap en in dieselfde menasies mag eet. Teen my sin bevind ek my op Simonstad – die Vloot se hoofkwartier wat ek in my dienspligjaar nooit gesien het nie – om ’n drie weke kursus in oorlogvoering te doen, want ons seemanne word nou as “mariners” opgeroep Grens toe. Onder andere saam met my is ’n lang lat van die Vrystaat, hoeka die provinsie waar Indiërs net vir 24 uur toegelaat word, wat ’n formele klag by ons bevelvoerende offisier indien dat daar onder ons geledere in die eetsaal ’n Indiër is. Die lat weier vervolgens om die eetsaal saam met die “koelie” te betree.

Wat my amper meer teen die bors stuit, is dat die klagte ondersoek en weldra só ernstig deur die topstruktuur beskou word dat die Indiër heeltemal van die toneel verdwyn. Net daar besluit ek, dié lat sal ek graag persoonlik om die lewe wil bring daar op die Grens, lank voordat ek die denkbeeldige vyand probeer opspoor. Later ry ons in Bedford-troepedraers na die nagemaakte gevegsfront op die vlaktes anderkant Muizenberg, oorkant Valsbaai, waar ek die geleentheid het om die moord net daar te pleeg en klaar te kry. Elkeen van ons kry ’n beurt om agter ’n LGM (light machine gun) neer te val en weggesteekte “terroriste”, dit is lappoppe wat swart geverf is, tussen die portjacksons vol gate te skiet. Swaai net die loop bietjie dié kant toe waar die Vrystater niksvermoedend staan en aan sy ballas krap.

Die tweede skok is ’n indoktrinasie-les in ’n lesingkamer waar die een of ander formidabele offisier ons vra wie die land se grootste blanke vyand is. Iemand antwoord Bram Fischer. Ha ha, hy’s al dood. André Brink. Meer gedempte gelag. Niemand weet nie.

“Breyten Breytenbach,” antwoord die offisier.

My mond hang oop. Sy eerste bundels het ek al op skool gelees. Hy dien tans gevangenisstraf vir hoogverraad uit omdat hy sy eie ondergrondse beweging begin het om kwansuis die regering omver te werp, maar in my oë is hy totaal onskuldig: niks gevaarliker nie as ’n blote digter wat Afrikanerdom verafsku omdat sy lieflike Viëtnamese vrou as “nie-blank” geklassifiseer en hul huwelik dus as onwettig beskou word. ’n Gevaarlike woede bou in my op wat verder gestalte kry ná die kamp, terug op Langbaai, toe ek eendag oor die radio die opspraakwekkende nuus hoor dat Minister Piet Koornhof in die VSA gesê het: “Apartheid is dood.” (bl 283–4, winter 1978)

Daar het u dit en aangesien ek nou klaarblyklik al weer die stoute skopskoentjies dra, vergun my voorts om voor te dra:

laaste sien van die blikkantien?

op die foto op Die Burger se voorblad
Woensdag 4 Desember 2024
staan groot geskryf presies wat almal sien:
“Breyten: die rooi skoene op die kis”

die lyk daarbinne in die
kapel van die Cimetière du Père-Lachaise
– Parys, Frankryk –
glo wagtend om ná die diens
veras te word

nugter weet waar daai eende na dese
“op my graf” gaan “kak in die reën”

nie dat dit nou meer saak maak nie
want Hans Wors is finaal dood jis
soos laas in 2010 as Loflied
deur Jan ver Maak
in Pomp opgeteken
(is)

maar soos Hans almal eens genooi het
om in een van sy name te wel Jan Afrika
te dig
en die tradisie aldus uit te rek
tot in lengte van dae
wel wetend dat in elkeen van ons
daar ’n Breyten-Afrikaner
of selfs ’n Afrikaner-Breyten is
om byvoorbeeld lewendood
voort te sit

Laaste maar nie die minste nie, wil ek ook graag hierdie kans gebruik om u te midde van ons onstuimige zeitgeist ’n geseënde Kersfees toe te wens en sommer aan algar wat nou hier lees, spreek ek graag ’n verdere versugting uit dat julle in hierdie feestyd op die drumpel van die nuwe jaar weldeeglik sal uitrus sodat julle al jul onderskeie verpligtinge in die swaar tye wat allengs voorlê, met nuwe ywer, krag, moed, geloof, hoop en liefde sal kan aanpak.

  • 2

Kommentaar

  • Charles J Fourie

    Ek is bly om te sien jy skryf weer innie publieke oog, MC. Ek kannie wag om Dienaar van die Waarheid te lees nie – dankie.

  • Petra Pienaar-Nel

    Dankie vir u skrywe, mnr. Botha. Ek staan beskaamd oor my onnodige bitsigheid. Dit was maar net een van dáái dae. Ek belowe om nie weer so lelik te wees nie. Sterkte en voorspoed met u boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top