Angus Buchan en sy Mighty Men: Wilhelm Jordaan reageer

  • 1

Ter inleiding

Angus Buchan se boek Die Mighty Men Verhaal (hierna afgekort as MMV) is ’n meevoerende en aangrypende (foto)verhaal van hoe een man deur sý belewenis van gehoorsaamheid aan God ’n boodskap aan derduisende mans bring en hulle inspireer om buitengewone lewens in Christus te lei – oral in die gewone lewe en meer bepaald in gesinsverband.

In Suid-Afrika, wat onder andere gekenmerk word deur geweld teenoor vroue en die mishandeling van kinders, voel mens enige veldtog - soos Angus Buchan se Mighty Men (en Gretha Wiid se Worthy Women) - is konstruktief. In albei gevalle is die boodskappe eenvoudig om te begryp en rigtinggewend genoeg om mense se lewens ingrypend te kan verander. MMV bevat indrukwekkende getuienisse van veranderde sienswyses en optrede.

Van waar dan my ongemak én onbehae met iets wat goed bedoel is en sekerlik positiewe uitkomste het?

Miskien begin my ongemak juis by die eenvoud van die enigsins resepmatige boodskap wat, sonder dat dit so uitgespel word, nie juis begrip vir, of geduld met, alternatiewe diskoerse oor dieselfde sake het nie. Dit is die verskuilde boodskappe in MMV wat pla; die onuitgespelde subtekste van die Mighty Men se hoofnarratief.

Ek stip dan my ongemak puntsgewys hier onder aan en wys op enkele subtekste:


1. Skrifinterpretasie

Ek is nie ’n teoloog nie en is gevolglik nie opgelei in die wetenskap (ook kuns?) van eksegese nie. Tog sê my leke eksegetiese sintuig dat die gemak waarmee Buchan vanuit die Bybel “kwantumspronge” na ons tyd en lewens (ook sý missie en sý lewe) maak, net te maklik geskied.

Buchan het ’n tipiese fundamentalistiese benadering tot teksinterpretasie: die Bybel is die Woord/woorde van God en soos dit daar aangeteken staan (ongeag die konteks), word dit die rigtingwyser vir jou lewe. God praat só met jou en dan maak jy so – soos Buchan dit aanvoel ná sy “ervaring” met Op. 2:2–5 (MMV, bll 12-3).1

Dié soort lees van die Bybel kom herhaaldelik voor – so ook die Skrifgebaseerde uitgangspunt dat die man die hoof van die huis (priester en koning) is en vanuit daardie “gesagposisie” ’n leiersfiguur is.

Buchan en sy volgelinge sê gereeld mighty beteken nie baasspeel nie; ook nie chauvinisme of arrogansie nie. Magtige manne ís nederig, sê Buchan (10). Wat teksinterpretasie betref is dit dan interessant en insiggewend hoe Buchan die betekenis van die frase mighty men aflei en toepas. Dit begin met verwysing na koning Dawid se “magtige manne” wat volgens die voorbeelde wat Buchan gee, bereid was om te sterf vir mekaar en vir koning Dawid. Volgens Buchan doen dié manne “verstommende dinge”. In een geval het hulle 300 mans met spiese doodgemaak. En in ’n ander geval het hulle, toe koning Dawid begeer het om water uit ’n put in Jerusalem te drink, deur die Filistynse linies gebreek om water vir die koning te gaan haal.

Wat dié “verstommende dinge” met die nederigheid van die “mighty men” (koning Dawid s’n en Buchan s’n) te doen het, word nie verduidelik nie. Daarmee bly Buchan se teologie van nederigheid vaag.

Dié soort raap-en-skraap “teologie” (Skrifinterpretasie) en die onkritiese verbandlegging tussen Bybelse en hedendaagse gebeure in die natuur en andersins (sien byvoorbeeld 28, 35 en 37) kom herhaaldelik in MMV voor en dit sal geen doel dien om hier verdere voorbeelde op te stapel nie.

Boonop kompliseer Buchan sy alreeds vae “teologie van nederigheid” op ’n manier wat ’n lastige subteks blootlê.

Volgens ’n berig in Beeld (bl 5, 18 Maart 2013) reken Buchan die “drie beste eienskappe in ’n man” is: “Eerstens nederigheid, tweedens nederigheid en derdens nederigheid.”

Dis fraai retoriek, maar die voorbeelde wat Buchan verskaf, ondermyn die diepgang van die voorgenome driemalige nederigheid: “Mans moet skottelgoed gaan was, gras gaan sny en daardie gloeilampe omruil. As ’n man huis toe gaan, moet hy vir sy vrou tee maak …”, aldus die genoemde berig in Beeld.

Die subteks is tog duidelik: nederigheid lê daarin dat jy as man jou verwerdig om iets gering te doen wat gewoonlik op die terrein van die huisvrou (tuisteskepper) lê – so ’n spesiale daadjie teen die verwagting in. Dit is inderdaad ’n banalisering van die kosbare begrip nederigheid.

Juis dít plaas Buchan se parallelle versoek (Beeld, bl 5, 18 Maart 2013) dat mans soos Jesus op hul knieë moet gaan en ook hul vroue se voete moet was en hulle om vergifnis moet vra in ’n verwarrende konteks: Waarvoor moet hulle vergifnis vra – dat hulle as mans in die verlede te min skottelgoed gewas het en tee gemaak het?

Waarskynlik is dit ’n moedswillige interpretasie, want mens behoort nie ’n retoriese, bontpraterige, gemoedelike orator soos Buchan te streng te meet aan die eise van koherensie en logiese argumentsontwikkeling nie. Tog, die konseptuele slordighede bly onopgelos en verwarrend – soos dit dikwels die MMV-teks geld.


2. Oorreding tot verandering

Om oorreed te word tot ’n nuwe standpunt of lewenshouding is ’n lewensfeit. Daarsonder loop liefdesverhoudings skeef; vriendskappe gaan tot niet; werkverhoudings raak gestrem; onderhandelings kom tot niks; ouerskap is sonder krag. En bekeringspreke is sonder effek.

Oorreedbaarheid is inderdaad hoekstene van ’n ordelike bestaan. Dit word onderlê deur die normale aanwending van mag, gesag en invloed aan die hand van ’n verskeidenheid soorte oorredings - soos logiese argumentering, pleit, mooipraat, raas, mor, kla, skimp, soebat, flikflooi, die heuningkwas aanwend, ligte intimidasie en armdraai. En deur prediking.

Ook Buchan probeer om (in sy geval) mans tot ander insigte en optrede te bring. Die vraag is: Hoe werk sy oorredingstrategie?

En hier is daar ’n potensiële probleem. Buchan en sy volgelinge sal die oorreding tot verandering beleef as God / die Heilige Gees se werking. Buchan self het dus min daarmee te doen; dit is nie sy mag, invloed en oorreding nie, maar iets wat van die Here kom. Buchan is bloot die instrument, die medium, waardeur dit gebeur.

Ek respekteer dié soort verstaan van gebeure en wil dit nie verkleineer nie. Ek moet egter op die volgende wys – na aanleiding van meer as een voorval/gebeurtenis tydens Mighty Men-konferensies waar daar sprake van uiterste liggaamlike en emosionele uitputting was. Dít is een van die soort situasies wat in oorredingsnavorsing voorgehou word as ’n geval waarin mense se soeke na identiteit, hul onkritiese goedgelowigheid (“gullibility”) en suggereerbaarheid potensieel riskant byeengebring word:

Eerstens word intense en wisselende emosies geskep - soos skuld, angs, ontgogeling en droefheid oor die een of ander saak wat die toehoorders ten nouste raak, of belang by het. Dikwels gaan dit gepaard met lang en liggaamlik uitputtende sessies, afgewissel met eenvoudige boodskappe in die vorm van gebede, dreunsang, inkantasies, suggesties en slagspreuke wat oor en oor herhaal word. Só word ’n toestand van perseptuele deprivasie (breinsufheid) bereik. Juis dán is toehoorders uiters suggereerbaar om die woordvoerder se “oplossing”, sy “allerantwoord” en die “enigste manier” aanneemlik te vind. Dié aha!-ervaring is ekstaties en benewelend en word waarskynlik versterk deur die afskeiding van die brein se opiate wat ’n vorm van “verslaafdheid” aan eie ekstase impliseer.

Al dié gebeurtenisse verdiep die toehoorders se afhanklikheidsgevoelens jeens die woordvoerder en sy saak, en hy word beleef as die “redder uit ellende” en verdien daarom agting en gehoorsaamheid.

Om dié afhanklikheid verder te versterk, kom die onwaardigheid en die skuldgevoelens van die toehoorders ook ter sprake; dat hulle eintlik verantwoordelik is vir, of aandadig is aan, die ellendes waarteen die woordvoerder protesteer en s‎ý oplossing voor aanbied.

Aanvaarding daarvan bied bevryding van skuld en verleen nuwe waardigheid. En ook die begeerte en vermoë tot nuwe optrede; om anders as vantevore te wees. Die vroeëre onsekerhede en rigtingloosheid word vervang deur die ekstase van nuwe, ongekende moontlikhede en ’n nuwe identiteit.

Dit is Buchan en sy volgelinge se goeie reg om vanuit hul geloof alles wat so gebeur, aan God se werking toe te skryf. Maar buite-om só ’n vertolking het my relaas hier bo implikasies wat bedink behoort te word.

Volgens oorredingsnavorsing het die soort oorredingsresultate wat hier bo beskryf is, nie noodwendig ’n positiewe nawerking op lang termyn nie en kan dit inderdaad lewensontwrigtend vir sommige mense wees. Daarby verdoesel ekstatiese, ingrypende insigte dikwels dieperliggende persoonlikheids- en andersoortige probleme by die “bekeerdes”. Dit kan meebring dat reeds bestaande probleme in ’n gesinskring mettertyd nog skerper en gevaarliker na vore kom.


3. “Die man is die hoof van die huis”

Ek dink die aantrekkingskrag wat Buchan se veldtog het, het wesenlik te make daarmee dat patriargie (“regering deur die vaders”) nog steeds dominant in Suid-Afrikaanse huishoudings is - ondanks al die vordering wat gemaak is om die effek van patriargale denke en optrede te verminder. “Die man is die hoof van die huis” is ’n wydlopende metafoor vir manlike magsposisie – nie net in Suid-Afrika nie.

Vir eers twee sekulêre voorbeelde van die soort leefruimte waarin die gesinslewe plaasvind, ook dié van mense wat hulle met die Mighty Men-beweging assosieer.

3.1 Die advertensiewese

Volgens navorsing is slegs 27% van advertensies in Suid-Afrika, Mauritius, Zambië en Zimbabwe gender-bewus, met ander woorde gevoelig vir ’n veranderende wêreld waarin vroue (én mans) nie meer so maklik in ’n blik gedruk kan word oor hul identiteit en rolle nie.

Begryplikerwys is dan bevind dat 43% van die advertensies vroue volgens ou mites en aannames stereotipeer. Anders gestel, advertensies - as ’n spieël van ’n samelewing – word steeds grootliks gedra deur patriargale opvattings oor die identiteite en rolle van vroue: die vrou as versorger in haar huis (kombuis) gemoeid met kinders, en die man as broodwinner; korporatief ingelyf by sy werk.

Wat beteken advertensies bly – soos die humoristiese volksteaterstuk Groet die Grotman (sien 3.2 hier onder) – vassteek in gerieflike aannames dat vroue en mans sedert die oertyd evolusionêr nie veel verander het nie en dat die meeste vroue en mans die gestereotipeerde rolle verkies en uitleef.

Die navorsing verwys ook na ’n toenemende getal advertensies wat dié “moeë stereotipes” uitdaag en ánder identiteite en rolle aan vroue toeken. Dit is te verwelkom, maar terselfdertyd is dit duidelik dat dié verskuiwing dikwels huiwerend gedoen word, gedra deur ’n humoristiese subteks wat as’t ware sê: só wil sommige hê die rolle moet verander, maar eintlik hoort dit nie so nie, of dit is eintlik net skyn.

Soos die geval van ’n advertensie van ’n bekende gesinsmotor. ’n Blink nuwe motor staan buite ’n huis geparkeer. ’n Jong vrou maak die huis se deur oop en storm na die motor – argeloos deur ’n plaat pragtige, kleurryke blomme wat die man vir haar gekoop het, soos die hofmaak-tradisie dit wil hê. Sy is egter gaande oor die motor. Duidelik onthuts deur haar “verwerping” van die blomme, sluit die man die motor met sy afstandbeheerder. En dán pruil die vrou skalks en kamma ontsteld – soos vroue, volgens die “moeë stereotipes”, nou maar doen as hulle die voorgeskrewe (erotiese) flirtasiespel met die man(s) in hul lewe speel.

In ’n ander, meer onlangse advertensie sit ’n man met ’n T-hempie waarop staan: “What women want”. Dan vertel hy selfingenome watter goeie kopies hy (vir haar) by ’n supermark gedoen het. En prys homself met die woorde: “Romeo is back” – asof sy Romeoskap teruggewen word deurdat hy nederig en gewillig die soort inkopies doen wat (huis)vroue gewoonlik doen.

Advertensies soos dié se sukses om ’n handelsmerk-indruk vermaaklik te vestig, getuig sekerlik van ’n “goeie besigheidsin”. Maar dermate dat dit steeds subtiel parasiteer op stereotiperings van die vrou (en die man), is dit ’n siniese ondermyning van dit wat sommige vroue met andersoortige opvattings en rolle probeer bereik.

3.2 Vermaaklikheidswêreld

Waarom is komediestukke, byvoorbeeld Koos Kombuis se Groet die Grotman (Rob Becker se Defending the Caveman) en Emma Peirson se Defending the Cave Woman so gewild?

Neem Koos Kombuis se Grotman as voorbeeld. Ten eerste het dit te make met die eg Afrikaanse, boertige baldadigheid waarmee verskille tussen man en vrou uitgespeel word deur ’n bedrewe Hannes Muller wat al die kunsgrepe gebruik om die gehoor in die holte van sy hand te hou. Wanneer hy dan, as eietydse grotman, met sy slotsin, en vol in die kollig uitroep: “Ek is nie ’n p**p**l nie!” glo almal hy is nie. Van dié skreeusnaakse, beminlike grotman hou mans en vroue in die gehoor klaarblyklik ewe veel.

Tweedens, die maklike, stereotiperende verstaanbaarheid van die metafore om man en vrou se verskille te tipeer: die man as ’n “spies”, die een wat jag maak (en oorwegend vibrerend jags is, gevul met testosteroon in elke klier en spier) en die vrou as ’n “mandjie”, die een wat oes, ontvang, versamel én begeer om gejag en beskerm te word. Alles so eenvoudig soos blou vir seuntjies en pienk vir dogtertjies.

Hieromheen word die meeste van die verskille tussen man en vrou humoristies geweef – op die dunnerige antropologiese veronderstelling dat dié oerinstinkte evolusionêr in die moderne mens behoue gebly het en steeds voortduur in die man en vrou se seksuele en ander rolle.

Die humoristiese aspekte is ook om die volgende rede interessant: dit waaroor ’n gehoor van mans en vroue jubelend saamlag oor die stereotiperings van manwees en vrouwees, is dikwels nie meer humoristies in die werklike lewe nie, veral wanneer die stereotipes as’t ware “uitgeleef” en getoets word in mans en vroue se intieme verhoudings en in die gesin.

Derdens stel Kombuis se stuk die punt, sonder moralisering, dat die verhouding tussen man en vrou ’n misterie is. En dat die liefde en respek wat hulle vir mekaar het, tog wel die grootste is – buite begrip, maar binne die bereik as jy jou hart daarop sit en bly wonder hoe dié wonder bly; dat al die verskille, al is dit tot spot en ergernis van mekaar, gekom het om te bly.

Alles saam geneem, word ’n eenvoudige prentjie geskets: só is man en só vrou, van oertyd af tot nou. Dit word vandag té gekompliseerd gemaak, terwyl mense, diep binne-in, die gemaklike eenvoud van die rolle grotman versus grotvrou vir hulself begeer.

Maar op ’n subtieler vlak van ontleding het dié volksteaterstuk se gewildheid alles te make met die greep wat patriargale (man-oorheerste) opvattings oor manlike en vroulike identiteite en rolle nog steeds op die samelewing het. Dit is ’n patriargie wat steeds reken mans hoort maghebbend “bo” en vroue onderdanig “onder” in elke lewensfaset. Soos die “natuur” en bepaalde Bybel-vertolkings dit gegee het.

In dié patriargale toedrag is ’n diskoers geweef wat oor eeue verfyn is en steeds voorskryf wat die “ware aard” van die man en die vrou is. En dit word steeds gedra deur patriargale ouerlike opvoeding (seun, wees soos pa; dogter, wees soos ma), huweliksberading en -formuliere, die populêre raadgeebedryf in glanstydskrifte, in TV-sepies en rolprente, in advertensies (sien weer 3.1 hier bo) en deur grappies by teetafels, braaivleisvure en in kroeë.

In die proses word manwees en vrouwees gestereotipeer volgens die opvatting dat die verskille deur hul onderskeie “biologieë” bepaal is. En dit gaan saam met vele stereotipes oor eksklusief vroulike eienskappe: vroue is sensitief, sag, ondersteunend, simpatiek, afhanklik, emosioneel en mensgerig – alles deel van die vrou as “mandjie”.

Insgelyks die vele eksklusief manlike eienskappe: mans is selfgeldend, mededingend, avontuurlik, aggressief, onafhanklik, rasioneel en taakgerig – alles deel van die man as “spies”.

Navorsing bevestig dat dié stereotipes, so oud soos hulle is, min verander het en steeds die “tradisie” is. En saam daarmee kom normgewende stellings soos: ’n vrou/man se plek is tog …; vroue/mans kan tog nie dieselfde …; my vroulike intuïsie sê ...; my manlike ego dikteer …; ensovoorts.

Met sulke opvattings word mans/vroue en seuns/dogters algaande in ’n knyptang geplaas om te dink en te leef volgens die verwagtings én illusies rondom “dienende Marthas” en “verowerende Sarels”.

Daaruit spruit ook die seksuele draaiboek oor die man/seun as die brawe, behendige seksuele jagter wat graag ’n bietjie rondspeel, teenoor die vrou/meisie as die ontwykende of passief afwagtende, meer terughoudende, dog beskikbare seksuele prooi.

Omdat dié dinge steeds oorheers, is daar min begrip vir en geduld met ’n alternatiewe diskoers – gevoer deur toenemend meer vroue (veralgemenend en neerhalend feministe genoem) en ’n minderheid mans (neerhalend feministe se voetmatjies genoem) wat begryp watter skade dié patriargale toedrag aan vroue en mans én hul verhouding aanrig.

Sekerlik is dinge aan’t verbeter, juis omdat al meer vroue en mans die lewensbeperkende patriargale toewysing van identiteite en rolle begryp en hul verhoudings op ander lese probeer skoei. Maar die proses is stadig, met weerstand om elke hoek en draai.

As ’n soort lakmoestoets vir patriargale begrip van die meriete van ’n alternatiewe diskoers wat vroue (en mans) kan bevry om anders te wees as wat die stereotipes voorskryf, is dié vraag gepas: Hoeveel van die brullend-skaterende Grotman-liefhebbers sal met dieselfde geduld en begrip luister na iets soos Eve Ensler se woedende, satiriese The Vagina Monologues en die tekste van die vroue-bemagtigende V-day Movement (waar V staan vir Valentine, vagina en victory en wat gerig is op vroue se totale vroulikheid en self-bepaalde individualiteit)?

As monoloog-drama is The Vagina Monologues al wêreldwyd opgevoer - ook in lande soos Indië, Brasilië, Rusland, Suid-Korea, Colombia, Suid-Afrika en Indonesië, waar vroue dit opdraand het. En daar was min begrip vir die agtergrond van waaruit die vroulike vagina simbool is van subtiele en openlike geweld teen vroue, en ook simbool van die ontmaskering van en ontsnapping uit die greep van patriargie.

Sou die deernisvolle lag wat Groet die Grotman se “Ek is nie ’n p**p**l nie!” wek, ’n soortgelyke deernis skep as ’n vrou in ’n Afrikaanse weergawe van The Vagina Monologues sou uitroep: “Ek is nie my p**s nie!”?

Wat in advertensies en in die vermaaklikheidsbedryf geld ten opsigte van die voorhou van die man as metaforiese “hoof van die huis”, geld ook die kerk.

3.3 Die kerklike lewe

My hipotese is dat die kerk, soos die meerderheid van sy lidmate en die breë samelewing, ten diepste vasgevang is in ’n oerbeeld van man en vrou. Dié oerbeeld sê die kragtige man het die swakker vrou gepenetreer en sy saad gestort en sy het dit ontvang. ’n Kind is verwek en word deur die vrou gesoog en versorg. En dit is die liefdesmanier wat vas en klaar deur die “natuur” gegee is.

In dié biologiese gebeure het patriargie sy eeue oue (en ook Bybelse) beslag gekry as die heerskappy en dominansie van die man wat sê hoe dinge ís en sál wees; wat dit beteken om man en vrou te wees; en wat hulle rolle is - seksueel en elders in die gesin en samelewing.

Die kerk se “boodskap” oor die aard en die rolle van vroue is wesenlik dié van Angus Buchan se Mighty Men-beweging (en dié van Gretha Wiid se Worthy Women). Wat Buchan in die openbaar met groot publisiteit doen, is om die hoofstroom kerklike boodskap te versterk.

Dié versterking vind plaas teen die agtergrond van samelewingskragte (soos emansipering van die vrou; feministiese bewegings) wat deur baie mans as ’n aantasting van hul manlikheid beleef word. Die tradisionele (patriargale) magsposisie van die man word bedreig met allerlei voorskrifte oor hoe hulle buite dié tradisie moet optree. Mans moet nou sus en so wees en hulle beleef rolverwarring; voel as’t ware “ontman.” Daaruit kom ’n streslas van algemene ongelukkigheid en ’n lewenswoede wat na binne gekeer word.

Baie soorte samelewingstres verswaar dié lewenswoede – byvoorbeeld die belewenis van politieke onmag, hoë lewenskoste, armoede, werkloosheid, regstellende aksie, die druk om self inkomste te genereer (broodwinnerdruk), gevoelens van onveiligheid weens misdaad, ’n algemene lewensgejaagdheid en ’n somber toekomsvisie.

Saam gelees, beteken dié toedrag dat baie mans psigiese “bagasie” het en dat hul versamelde lewenswoede dikwels hul stresweerbaaheid tot die uiterste kan beproef en vatbaar kan maak vir geweldsdenke en -optrede.

Die Mighty Men-beweging bied ’n ruimte waardeur baie sulke mans, in ’n veilige en ondersteunende spirituele omgewing, ’n soort katarsis of stresontlading beleef. Om daar, saam met ander mans, ’n soort ongekompliseerde hoop te ervaar en ’n eenvoudige resep te kry wat hul magsposisie (gesag, leierskap, hoof van die huis) in die gesin sal (her)vestig.

Vandaar die gereelde gebruik van frases soos ware man en eiewaarde in die MMV-teks. En die “ware man” en “eiewaarde” kom dan tereg in die mondering van herbevestigde leierskap, gedra deur groter toewyding in nederigheid teenoor die vrou en die gesin. Ek het in onderafdeling 2 hier bo kommentaar daaroor gelewer.

Natuurlik hef díé gesindheid nie die subteks op nie. In ’n artikel oor die “mighty” manne met hul onderdanige vroue (Rapport, 7 Oktober 2012) beskryf dr Elize Morkel, ’n kliniese sielkundige van Somerset-Wes, hoe die kultuur van onderdanigheid deur alledaagse taalgebruik in stand gehou word.

Van nader beskou is dit hiërargiese spraak (binêr-opposisioneel à la die filosoof Jacques Derrida) wat mans (en onderdanige vroue) toelaat om die talige voorskrifte oor die “ware aard” van mans en vroue waarna by 3.2 verwys is, aan te wend. En vanuit dié hiërargies hoër posisie swaai mans (talig en op ander simboliese maniere) steeds die septer om, goedgunstiglik, vir vroue die groen lig te gee om opwaarts te kan vorder vanuit hul hiërargies “laer” posisie.

Morkel bevestig ook die navorsing wat aandui dat tradisionele idees oor mans en vroue se ware aard steeds wêreldwyd geld. Juis dít laat sommige sê: “Wel, dis mos hoe dit is, waarom peuter daarmee?”

Dit verhinder dat baie vroue se pyn, onmag en ontnemings in die gesinslewe en in die werkplek blootgelê word. Soos Anne Bradstreet dit in 1650 digterlik gedoen het en daarmee ’n metafoor bied van hoe vroue se wêreld wás en, in die breë, steeds ís:

I am obnoxious to each carping tongue
Who says my hand a needle better fits.
If what I do prove well it won’t advance,
They’ll say it’s stolen, or else it was by chance.

Nog ’n gevolg van “die man is die hoof van die huis” is dat dit olie op die vuur van ’n venynige soort feminisme is wat gedra word deur ’n woedende gees van wrewelrigheid, blamering en ’n begeerte om oor mans te triomfeer. Om die bordjies te verhang.

Daar is baie variasies op dié tema waarin vroue voorgestel word as selfgenoegsame, onafhanklike wesens; die redders van die mensdom. Só byvoorbeeld skryf Sally Gearhart (in The Future – if there is one – is Female) elke kultuur moet ’n vroue-toekoms beaam, en vroue moet die verantwoordelikheid neem om “homo sapiens” se voortbestaan te verseker. Dit beteken die getal mans moet tot tien persent van die menslike ras verminder word om as’t ware net ’n klein “teelpoel” te vorm.

Uiteraard kan dit die indruk wek dat alle soort feminisme wat ’n beter bedeling vir vroue voorstaan, van dieselfde kwaadaardige stoffasie is. Vir mans en vroue wat die patriargale orde wil handhaaf, is dit water op die meul.


4. Vroue en die Mighty Men

In dié gedeelte kyk ek kortliks na hoe vroue in die Mighty Men-beweging se aktiwiteite figureer – gegewe die feit dat dit per definisie ’n mannebeweging is. Die “afwesigheid” in die vergadersale en in die tentbyeenkomste is dus vanselfsprekend.

Lees mens MMV, val dit op egter op hoe “teenwoordig” vroue tóg is – heel vroeg, en heel eerste, op bl 8, waar Buchan sy MMV opdra “aan die vroue wat agter (sic) die manne van God gestaan het”.

Diskoersanalities is mens bekend met al die surplusbetekenisse wat die woord agter in die patriargale diskoers het - in teenstelling met langs, en selfs voor, in die alternatiewe diskoerse van ons tyd.

In dieselfde trant word die boek ook opgedra “aan al die vroue wat by hul mans gestaan het toe hulle sukses behaal het, en wie se huise geseën is omdat hulle getrou was … Ons salueer hulle en dank God vir die vroue wat hierdie Mighty Men-konferensies gemaak het wat dit is” (8).

Nêrens word egter in besonderhede vertel presies wat die aard en dinamiek van dié bystand en getrouheid is nie. Dit skep ’n subteks wat sê: vroue is mos maar daar vir ons mans; altyd beskikbaar, verkieslik in die agtergrond.

Vroue is weliswaar fisiek teenwoordig by Mighty Men-konferensies – soos MMV aandui. Hoe? In hul tradisionele rolle - om tee te maak, tee te skink nadat die manne gepraat en gedink het, en kos aan te dra en in te skep. Terwyl MMV se 304 bladsye honderde pragfoto’s bevat van Buchan en sy “magtige manne” - biddend, singend, handwuiwend, laggend, etend en spelend - verskyn die eerste foto met twee vroue daarin op bl 103. By ’n kosbedieningspunt!

Soos die gebruik is, word die hele gesin genooi om die laaste sessie van ’n Mighty Men-konferensie by te woon. Vandaar sulke foto’s op ble 214–9. Daar is ook foto’s van Buchan en sy gesin op ble 302–3.

Waarmee uiteraard gesê word die Mighty Men-beweging is vir die gesin bedoel met die man/pa in die kollig. Vanuit sy veranderde insigte word dinge vir die vrou en die hele gesin anders en beter. Dit bevestig natuurlik die werkende metafoor, “die man as hoof van die huis” wat die eintlike rigtinggewende krag verteenwoordig. Daarmee, miskien onbedoeld, word patriargie in stand gehou.


5. ’n Slotgedagte

Teen die voorgaande agtergrond lyk dit of patriargie in ons samelewing sterk geld. Die kerk se hoofstroom-aanbod oor man en vrou in gesinsverband is steeds in die trant van ’n patriargale lesing van die Bybel. Dit is wesenlik ook die Mighty Men-beweging se lesing (en dié van die Worthy Women). En dit sal so bly solank die meerderheid kerklidmate tevrede is met dié verkondigde woord. Daarom kan mens nie van die kerk as organisasie verwag om met die algemeen gangbare manier van dink en doen in te meng nie.

In bepaalde gemeentes, onder die leiding van predikante en/of kundige lidmate wat opgelei is in die menswetenskappe, word andersoortige Bybel-eksegeses en gesinsmodelle bedink en tot gesprek gebring. As enkele voorbeeld, volgens die riglyne van Sam Keen se boek Fire in the Belly.

In dié trant word gevra: Wat het ons werklik nodig? Met as basis-antwoord: Nie meer en magtiger manlikheid nie; nie meer en waardiger vroulikheid nie. Waarheen en waarin ons moet groei, is meer menslikheid teenoor en vir mekaar. En sonder die bagasie van mans sus en vroue so omdat dit van die begin af so was.

Miskien, algaande, sal die patriargale model ’n gestadige dood sterf. Maar dit sal nie gou gebeur nie!

Wilhelm Jordaan is ’n rubriekskrywer vir Beeld en Die Burger en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria .

 

Eindnota

1 Bladsyverwysings tussen hakies is voortaan deurgaans na MMV, tensy anders vermeld.

  • 1

Kommentaar

  • Neels Jackson

    Ek sou graag meer wou weet van die "lang en liggaamlik uitputtende sessies". Waar kom dié gedagte vandaan? Gemeet aan my ervaring van Mighty Men-saamtrekke kom dié gedagte bietjie vreemd voor.

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top