...
As KI een van die primêre maniere word waarop argiewe georganiseer word, moet daar gesorg word dat alle stemme gelyk behandel word, en dat historiese materiaal nie uitgewis of vervorm word nie.
...
1. Inleiding
In die beroemde rolprent Star wars: Episode II – Attack of the clones (2002) sê die Jedi-argivaris: “As ’n item nie in ons databasis verskyn nie, bestaan dit nie.” Hierdie uitspraak, hoewel fiktief, is ’n kragtige metafoor vir hoe argiewe, museums, kultuurinstellings en digitale versamelings benader moet word. Historiese rekords word geskep deur diegene met mag en toegang tot tegnologie, en dit beteken dat ons bewus moet wees van moontlike leemtes en verdraaiings in die materiaal tot ons beskikking. Des te meer in die digitale era, waar outomatiese argivering, datagedrewe besluitneming en KI-gebaseerde toegang al hoe meer oorheersend raak.
...
Deur doelbewus versamelings aan te vul met materiaal wat voorheen as onbelangrik beskou is, kan argivarisse ’n belangrike rol in transformasieprosesse speel.
...
Beskawings het lank op biblioteke, argiewe en museums staatgemaak om kennis en geskiedenis te bewaar – maar in die era van KI mag hierdie instellings radikale transformasie nodig hê. Anders kan KI, eerder as om ons kollektiewe geheue te verbeter, moontlik begin om die verlede te verdraai, uit te wis, of oor te skryf. Dit is dus belangrik vir biblioteke en argiewe om hulleself nie te beskou as passiewe bewaarplekke van inligting nie, maar as aktiewe deelnemers aan die bewaring, kurasie en verspreiding van kennis in die digitale era.
Namate instellings op groot skaal al hoe meer digitaliseer, moet ons vra: Wat beteken dit vir outentisiteit, etiek en toegang?
2. Argiewe in Suid-Afrika
In Suid-Afrika is bestaande argiefversamelings grootliks gevorm en beïnvloed deur apartheid en koloniale denke. Hiervolgens is groot dele van ons samelewing se geskiedenis nie belangrik geag om te bewaar nie en is verskeie perspektiewe en gemeenskappe gemarginaliseer in die amptelike rekords. Terwyl daar met demokrasiewording ’n oproep gedoen is op argiewe om hulle versamelings uit te brei om die volle Suid-Afrikaanse samelewing se leefwêreld te verteenwoordig, was die oorgrote meerderheid van hierdie projekte daarop gefokus om die bevrydingsgeskiedenis en vorme van protes vas te lê. Terwyl die belang van hierdie werk onbetwisbaar is, is ’n groot deel van ons land se bevolking steeds onverteenwoordig in institusionele argiewe.
Deur doelbewus versamelings aan te vul met materiaal wat voorheen as onbelangrik beskou is, kan argivarisse ’n belangrike rol in transformasieprosesse speel. Argivarisse neem daagliks besluite oor watter materiaal bewaar of uitgegooi word en hoe dit gekategoriseer en beskryf word. Hierdie keuses beïnvloed direk hoe gemeenskappe en hul tradisies vertolk word. As argiefwerk op hierdie manier verstaan word, verskuif die siening van argivarisse as neutrale bewaarders na aktiewe, kritiese rolspelers wat met sorg versamelings skep, onderhou en beskikbaar stel. So word materiaal toeganklik vir navorsing en kry dit ook die erkenning en waarde wat dit verdien. Dit dra by tot ’n meer inklusiewe geskiedenis waarin alle Suid-Afrikaners se bydraes tot die land se kulturele nalatenskap erken word.
Hierdie taak van die argivaris word des te meer belangrik in die digitale era waar bestaande versamelings gedigitaliseer word en digitaal beskikbaar gestel word op soekbare databasisse. Digitalisering dra die risiko om bestaande vooroordele in argivale versamelings te onderhou, en as mens nie bewus is van die weglatings in hierdie rekords nie, kan dit tot verdraaide persepsies in die hede lei.
3. Digitalisering
Argiewe in ons land is oor die algemeen in ’n swak toestand. Sistemiese verval, wanbestuur en ’n gebrek aan politieke wil en finansiële hulpbronne het die demokratiese visie vernietig van argiewe as oop en toeganklike instansies wat die erfenis van ’n breë Suid-Afrikaanse publiek bewaar. ’n Verslag wat deur die Universiteit van Kaapstad en die Nelson Mandela-stigting opgestel is1, wys daarop dat argiewe steeds nie vir die breë publiek toeganklik is nie, en dat die potensiaal van digitalisering nie benut word nie. Slegs ’n breukdeel van versamelings is aanlyn beskikbaar, en kosbare bronne kan in ’n oogwink vernietig word, soos gesien tydens die brande by die Universiteit van Kaapstad (2021) en die parlement (2022).
Tegnologie word ook nog nie ten volle ingespan om materiaal beskikbaar te stel nie. KI-gedrewe taaltegnologie kan ’n deurslaggewende rol speel in die bewaring van kultuurerfenis; optiese karakterherkenningstegnologie kan historiese dokumente soekbaar maak; en geoutomatiseerde teks- en spraakverwerking kan historiese dokumente toeganklik maak op nuwe maniere wat navorsing vergemaklik en verdiep. Soos wat KI vorder, kan dit argiewe omskep in grootskaalse digitale historiese bewaarplekke, en erfenismateriaal wat voorheen ontoeganklik was, kan beskikbaar gestel word vir navorsing en opvoeding.
Digitalisering bied ook die geleentheid om openbare programme te ontwikkel wat gerig is op diens aan die breër samelewing. Met die aanbreek van die 21ste eeu het argiewe, museums en ander kultuurinstellings toenemend op inklusiwiteit begin fokus. Daar is tans ’n sterk klem op openbare dienslewering en die ontwikkeling van boeiende openbare programme.2 Alhoewel versamelings die kern vorm van ’n argief en museum, kan hierdie instellings nie bloot as passiewe bewaarplekke funksioneer nie; hulle behoort ’n beduidende rol te speel in die gemeenskappe wat hulle dien en bydraes tot die hedendaagse samelewing lewer.
4. Nuuseum
In hierdie konteks is die oprigting van Nuuseum ’n belangrike stap in die digitale bewaring van die Afrikaanse kultuurerfenis. Nuuseum is gestig met die missie om ’n interaktiewe digitale platform te wees wat ’n diverse Afrikaanse kultuurerfenis bewaar en beskikbaar stel. Die platform se doel is om historiese materiale wat voorheen as onbelangrik beskou is, in te sluit en nuwe maniere van betrokkenheid met die materiaal te skep.
Nuuseum wil ’n ambisieuse rol vervul as die bewaarder van materiaal van geskiedkundige, wetenskaplike, maatskaplike, geestelike, taalkundige en tegnologiese waarde, soos wat dit voorkom in onder meer die nuusmedia, uitvoerende kunste, beeldende kunste, televisie- en filmmateriaal, sport, genealogie, kerkgeskiedenis en landbou. Die omvang van hierdie taak is groot. Daar is nie net ’n groot agterstand om in te haal met materiaal wat nie goed bewaar is of gedigitaliseer is nie, daar word ook daagliks nuwe materiaal geskep wat bewaar moet word.
Nuuseum se projek om Afrikaanse kultuurerfenis digitaal te bewaar en te deel, toon die potensiaal van die digitale era om nie net te bewaar nie, maar ook die gesamentlike geheue van die samelewing te hernu en uit te brei. Deur saam te werk met kulturele instellings, universiteite en ander opvoedkundige entiteite, dra Nuuseum daartoe by om nie net die Afrikaanse erfenis te bewaar nie, maar om ook om ’n inklusiewe samelewing te bevorder waarin almal se stemme gehoor word.
Tans maak Nuuseum se databasis dit moontlik om op een plek deur duisende historiese tekste woord vir woord te soek. Die moontlikhede wat dit oopmaak vir navorsing, is legio, en die digitaliseringsprojekte is nog in kinderskoene. Met volhoubare befondsing en samewerking met ons sleutelvennote werk ons daaraan om die totale, diverse, Afrikaanse kultuurerfenis op een plek toeganklik en soekbaar te maak. Dit sal uiteindelik materiaal insluit van films, televisie, foto’s en musiek tot koerante, tydskrifte en nog meer.
5. Slot
Argiewe is ruimtes vir die ontdekking van antwoorde en die herondersoek van bestaande vraagstukke vanuit vars perspektiewe. Dit stel ons in staat om epistemologiese en ontologiese vrae oor denkpatrone en geskiedkundige narratiewe te ondersoek. Geskiedenis word voortdurend herskryf en herinterpreteer, en daarmee saam bring elke nuwe generasie vars insigte na bestaande argiefmateriaal. Daarom is dit ook belangrik om koloniale en apartheidsmateriaal te bewaar en beskikbaar te stel.
Argiewe word dikwels as stortplekke vir omstrede of moeilike geskiedenis beskou – plekke waar ongewenste simbole en artefakte gestoor word nadat dit uit die openbare ruimte verwyder is. Dit is belangrik dat wanneer argiewe hierdie materiaal stoor, hulle dit nie net opgaar nie, maar dit aktief benut en in gesprek tree met die betekenis en implikasies daarvan.
Die digitale era het die potensiaal om die bewaring van kultuurerfenis te transformeer deur inligting meer toeganklik en verspreibaar te maak. Dit bring egter uitdagings wat nie net tegnologies is nie, maar ook eties en maatskaplik.
As KI een van die primêre maniere word waarop argiewe georganiseer word, moet daar gesorg word dat alle stemme gelyk behandel word, en dat historiese materiaal nie uitgewis of vervorm word nie. Dit is belangrik om nie net inligting te digitaliseer nie, maar om ook die konteks van daardie inligting te bewaar, sodat die samelewing ’n volledige en ongesensureerde rekord van die geskiedenis kan hê. Min versamelings word in geheel gedigitaliseer, en met handgeskrewe dokumente is die navorser steeds grootliks afhanklik van die metadata wat deur die argivaris opgeteken word. Sodoende kan die proses van digitalisering bydra tot die verlies van inligting in argiefrekords. Om hierdie prosesse tot ’n mate teen te werk, en ook in ag genome die gevare wat KI inhou om inligting te verdraai, bly toegang tot primêre bronne en materiaal onontbeerlik vir verwysing, al is versamelings ten volle gedigitaliseer.
Die toekoms van argiewe in die digitale era vereis ’n balans tussen tegnologiese vooruitgang en bewaring. Terwyl digitalisering ongekende moontlikhede vir toegang en betrokkenheid bied, moet dit omsigtig benader word om nie bestaande uitsluiting en vooroordele te bestendig nie. Argivarisse en kultuurinstellings het ’n deurslaggewende rol om te speel om nie slegs inligting te bewaar nie, maar om aktiewe kurators van ’n inklusiewe en dinamiese geskiedenis te wees. Dit beteken dat die digitale argief nie net ’n statiese databasis van die verlede is nie, maar ’n ruimte vir herinterpretasie, dialoog en gemeenskaplike deelname aan die vorming van ’n kollektiewe geheue. Inisiatiewe soos Nuuseum toon hoe digitalisering kreatief en doelbewus aangewend kan word om ’n diverse kultuurerfenis te bewaar en toeganklik te maak. Uiteindelik bepaal nie net wat ons bewaar nie, maar ook hoe ons dit bewaar en interpreteer, toekomstige generasies se verstaan van hulle verlede, en daarmee saam hulle moontlike visies vir die toekoms.
Eindnotas
1 State of the Archives: an analysis of South Africa’s national archival system. 2014. Opgestel deur die Archival Platform. https://humanities.uct.ac.za/apc/research-past-projects-archival-platform/state-archives-report.
2 Tom Jeffery. 2017. Future-proofing South Africa’s cultural museums. Climate change, heritage discourse and cultural landscapes. South African Museums Association Bulletin, 39(1):19–28.
Lees en kyk ook:
Lizabé Lambrechts: SteedsDink met LitNet Akademies: Lizabé Lambrechts
Stephanus Muller en Lizabé Lambrechts: Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum
Burgert A Senekal: Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede
Menán van Heerden en Burgert A Senekal: LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus: ’n onderhoud met Burgert Senekal
Menán van Heerden, Wyno Simes en Burgert A Senekal: NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus
Burgert A Senekal: Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde
Menán van Heerden, Wannie Carstens en Roné Wierenga: Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga
Francis Galloway: Poolshoogte-afsluiting: Die evolusie van Afrikaanse skrywers- en letterkundebyeenkomste
Karen de Wet: Uitgewers, skrywersorganisasies en die publikasieproses