Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga

  • 0

...........

Kopiereg speel ’n sentrale rol tot die digitiseringsproses...  Sou ’n teks sonder die nodige goedkeuring van die kopiereghouer gedigitiseer word en beskikbaar gestel word vir publieke gebruik, kan dit regsimplikasies inhou en tot gevolg hê dat die teks nie gepubliseer of versprei mag word nie, wat dan beteken dat die hulpbronne wat bestee is om die teks te digitiseer, verkwis is.

...........

Menán van Heerden gesels met Wannie Carstens en Roné Wierenga oor hul LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel,
’n Oorsig oor enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans: ’n Vertrekpunt vir Afrikaans se digitale toekoms”.

Wannie en Roné, hoe sal julle “Afrikaans se digitale toekoms” beskryf?

Afrikaans se digitale toekoms, soos die toekoms van ander tale, is nie altyd voorspelbaar nie. Wat ons egter wel weet, is dat die toekoms van ’n taal direk gekoppel is aan die aanpasbaarheid van die taal om gebruiklik te kan wees in verskeie kontekste, insluitend digitale kontekste. 

Afrikaans word toenemend geïntegreer in tegnologieë soos stem-na-tekssagteware, teks-na-stemsagteware, outomatiese vertalers en transkribeerders en selfs ChatGPT.  Hierdie tegnologieë bemagtig die Afrikaanse gemeenskap om hul toestelle en digitale werksaamhede op ’n meer toeganklike manier te kan gebruik. 

Instansies soos VivA bied ’n digitale leefwêreld vir Afrikaanse gebruikers, waar dit moontlik is om te leer en te werk in Afrikaans in ’n verskeidenheid sektore. Afrikaanssprekendes kan dus toegang kry tot inligting wat bydra tot die opbou van hul kennis in Afrikaans op digitale platforms, maar ook deur middel van tegnologieë wat Afrikaans as voertaal gebruik. 

Te meer word Afrikaanse inhoud toenemend digitaal beskikbaar gestel, hetsy deur middel van digitisering- en digitaliseringsprosesse, of deur die inhoud direk digitaal in Afrikaans te genereer, soos met LitNet. Dit beteken dat navorsers toegang het tot meer taaldata in Afrikaans as ooit tevore en ook dat die gebruik en aanleer van Afrikaans makliker en meer toeganklik is vir nasionale en internasionale belangstellendes. Afrikaans kry sodoende letterlik vlerke – terwyl dit in die verlede redelik plekgebonde (in SA) was.

Jul artikel gee ’n oorsig van enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans. Wat is die verskil tussen digitisering en digitalisering?

Digitisering behels die skep van ’n elektroniese kopie van ’n fisiese item hetsy ’n teks, foto, kunswerk, ensovoorts. Dit geskied in ’n groot mate deur skandering. Hierdie elektroniese kopie kan onder andere die vorm van ’n foto of PDF aanneem. ’n Elektroniese kopie wat deur middel van ’n digitiseringsproses tot stand kom, is nie noodwendig elektronies deursoekbaar of bruikbaar vir masjienleerstelsels of ander tegnologieë nie.

Hierteen behels digitalisering die enkodering van ’n elektroniese kopie. Dit wil sê dat die inhoud van die elektroniese kopie, soos ’n PDF, geënkodeer word, sodat dit onder meer digitaal deursoekbaar is. Die digitaliseringsproses maak inhoud bruikbaar vir die opleiding van masjienleerstelsels en die gebruik daarvan in meer gevorderde tegnologiese kontekste.

Jul artikel bied ’n oorsig van enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans, insluitend die ontwikkeling van digitale produkte vanuit taalkundige en literêre tekste. Hoe belangrik is digitale argiewe in 2023?

Digitale argiewe is absoluut noodsaaklik vir die toekoms van ’n taal om twee redes: Eerstens, word tekste bewaar en gestoor in digitale pakhuise, wat beteken dat die waarskynlikheid dat ’n teks totaal tot niet gemaak kan word, kleiner is. (Tans is dit wel die geval dat dit steeds kan gebeur as te lank gewag word om digitale kopieë van bestaande gedrukte tekste digitaal te verwerk.) Die inhoud is dan ook toegankliker omdat dit vanaf enige plek benut kan word en nie gebonde is aan ’n spesifieke fisiese ligging, soos ’n biblioteek of argief, nie. 

Tweedens, is hierdie argiewe datastelle met die potensiaal om gebruik te word vir masjienleer in Afrikaans. Hierdie argiewe het dus die potensiaal om as databron te dien vir nuwe sagteware in Afrikaans, soos digitale persoonlike assistente (Siri, Alexa), outomatiese dikteerstelsels, skermlesers, spraak-na-teksstelsels, ensovoorts, wat Afrikaans meer toeganklik maak in ’n digitale era, maar ook die digitale wêreld meer toeganklik maak vir die Afrikaanse gemeenskap – veral met die oog op die toeganklikheid van tegnologie vir gesiggestremdes, gehoorgestremdes en leergestremdes. 

Digitale argiewe is derhalwe die voedingsbron van innovasie en ontwikkeling wat dit moontlik maak om Afrikaans in meer kontekste te kan besig, insluitend die werksplek en klaskamer internasionaal.

Jul artikel beklemtoon verskeie uitdagings met betrekking tot digitisering- en digitiseringsprojekte. Wat beskou julle as die grootste uitdaging(s)?

Die grootste uitdaging is waarskynlik die (dikwels uiters) beperkte samewerking tussen instansies wat op die een of ander wyse hiermee besig is, en daarmee saam die beperkte finansiële en menslike hulpbronne wat beskikbaar is vir hierdie projekte.

Sedert die publikasie van ons LitNet Akademies-artikel het ’n aantal addisionele digitiseringsprojekte onder ons aandag gekom, juis omdat die artikel gewys het op die leemtes in die digitale proses vir Afrikaans.

So ook is ons gekontak deur instansies wat onbewus was van bestaande projekte wat in hierdie artikel genoem is. Hieruit is dit duidelik dat gebrekkige kommunikasie tussen rolspelers ’n enorme effek het op die sukses van bestaande projekte – veral omdat heelwat van die projekte se omvang of sukses beperk is deur ’n gebrek aan finansiële steun en die beskikbaarheid van kundige persone om die werk uit te voer. 

Afrikaanse en Suid-Afrikaanse instansies is so dikwels geneig om dit wat hulle doen, nie te deel met ander nie – elkeen wil graag die spreekwoordelike koning op die eie mishoop wees. Dink net hoe doeltreffend sal ons wees as al hierdie koninkrykies met mekaar kan skakel en deel wat hulle het: hulpbronne, versamelings, kundigheid, energie.

Ons sal hierdie patroon moet breek en dit is juis een van die redes waarom ons die artikel geskryf het sodat rolspelers kan kennis neem van wat ander doen. Juis om hierdie uitdaging te oorbrug het ons sedert die publikasie van ons LitNet Akademies-artikel moeite gedoen om meer gesprekke met rolspelers te voer en rolspelers met mekaar in verbinding te bring.

Die huidige behoefte is egter om oorhoofse koördinering van die bestaande en nuwe projekte om sodoende duplisering te voorkom en samewerking te bewerkstellig.

Met die oog hierop beplan ons later in die jaar ’n virtuele werkswinkel, wat deur die ATR gefasiliteer sal word, waartydens ons graag alle instansies wat op die een of ander manier met digitisering in en oor Afrikaans besig is, bymekaar wil kry om sáám te beplan oor hoe digitisering en digitalisering vir Afrikaans ten beste aangepak kan word. (Juis omdat ons nie voldoende fondse het nie, volg ons hierdie roete, maar as daar befondsers is wat ons in persoon – die ideaal vir so ’n gesprek – bymekaar kan bring, hoor ons uiteraard graag daarvan.)

As die saampraat en saam beplan nie gebeur nie, sal ons voortploeter op dieselfde oneffektiewe en ongekoördineerde ad hoc-patroon van tans. Dat dit ons nie vorentoe neem nie, is duidelik. Ons behoort te leer by ander tale hoe dergelike projekte met sukses aangepak kan word – so byvoorbeeld is die Nederlandse Digitale Biblioteek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) en die Nederlandse Instituut voor de Nederlandse Taal (INT) navolgenswaardige voorbeelde.

Ons nooi daarom graag instansies om ons te kontak met die oog op samewerking in die toekoms. Ideaal-gewys moet digitisering en digitalisering gesentraliseer word en bestuur word deur een leier of groep, soos in Nederlands die geval is met die INT en die DBNL met die hulp van biblioteke en argiewe. Die les is dat hierdie instansies ’n deeglike interne kommunikasiestruktuur opgebou het sodat die integrasie van belange effektief geskied. Ons is helaas nog baie ver daarvandaan ten opsigte van Afrikaans en Afrikaanse instansies.  

Wat het geword van die Open Content Alliance (OCA), wat kortliks in jul artikel genoem word. En wat is jul gevoel hieroor? 

Die Open Content Alliance (OCA) was ’n konsortium wat ten doel gehad het om die internet uit te bou met permanente argiewe van digitale tekste wat beskikbaar is vir die breër publiek. Die inisiatief het fantastiese uitsette gelewer en meer as 750 000 boeke is gedigitiseer. Weens onderlinge twis tussen partye van die konsortium oor botsende benaderinge tot kopiereg is die OCA egter tot niet gemaak.

Kopiereg speel ’n sentrale rol tot die digitiseringsproses, omdat tekste wat kopiereg het, nie gedigitiseer mag word of versprei mag word sonder die toestemming van die kopiereghouer nie. Dit beteken dat uitgebreide onderhandelingsprosesse dikwels onderneem moet word om die kopiereg van tekste te bekom. Hierdie proses is dikwels duur en langsaam. Sou ’n teks sonder die nodige goedkeuring van die kopiereghouer gedigitiseer word en beskikbaar gestel word vir publieke gebruik, kan dit regsimplikasies inhou en tot gevolg hê dat die teks nie gepubliseer of versprei mag word nie, wat dan beteken dat die hulpbronne wat bestee is om die teks te digitiseer, verkwis is.

Kopieregkwessies was een van die faktore wat gelei het tot die ondergang van die OCA ,en heelwat van hulle uitsette is steeds nie beskikbaar aan die publiek nie. Dit beklemtoon weer eens die belang van geïntegreerde beplanning.

In jul artikel word die kwessie van pejoratiewe woordeskat in historiese tekste, wat in hedendaagse Afrikaans sosio-polities onvanpas is, beklemtoon. Die vraag of sulke tekste gesensor moet word vir die breë publiek word ook gevra.

In jul artikel word ook genoem dat daar in Australië en die Verenigde Koninkryk protokolle ontwikkel is vir die hantering van onsensitiewe taalgebruik in argiewe. Julle noem dat die Aboriginal and Torres Strait Islander Library and Information Resource Network- (ATSILIRN-) protocol, wat in 2012 in Australië gevestig is, “kan van onskatbare waarde wees in die Suid-Afrikaanse konteks en kan versoening tussen Afrikaanse gemeenskappe help fasiliteer”.

Vertel meer? Wat sal ’n beginpunt van so ’n protokol wees binne die Suid-Afrikaanse konteks?

Suid-Afrika se meertalige en meerkulturele samelewing beteken dat sensitiwiteit in ons konteks meer ingewikkeld is as in ander lande. In Suid-Afrika moet so ’n protokol nie slegs haatspraak in ag neem nie, maar ook kulturele, godsdienstige en geskiedkundige sensitiwiteite.

Die eerste stap in so ’n protokol behoort te wees om te bepaal watter moontlike sensitiwiteite in ’n teks kan voorkom. So ’n lys sal waarskynlik begin by vloekwoorde, etniese benamings en haatspraak, maar dit sal ook uitgebrei moet word om ander nuanses in te sluit. Gemeenskappe sal ook geraadpleeg moet word met betrekking tot wat hul behoeftes van so ’n protokol is. 

Lees en kyk ook op LitNet Akademies, LitNet en Voertaal:

’n Oorsig oor enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans: ’n Vertrekpunt vir Afrikaans se digitale toekoms

Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag

NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus

Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde

SteedsDink met LitNet Akademies: Lizabé Lambrechts

Toekomst van Ingrid Jonkers nalatenschap ligt nu bij Erfenisstigting, zegt Nederlandse museumdirecteur

Openingstoespraak: tentoonstelling Ingrid Jonker ‒ Literatuurmuseum, Den Haag

Symposium Zuid-Afrikahuis blijkt roerend pleidooi voor creatieve en eigentijdse benadering koloniale archieven

“Wat gestolen is, zal terug moeten gaan” – Wat te doen met koloniale roofkunst?

Themamiddag over postkoloniale beeldenstormen

Persbericht: Archieven Surinaams-Nederlands slavernijverleden binnenkort digitaal te raadplegen

Van standbeeld naar schandpaal?

Rooibostee, awê en oepsies

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top