Skakel na hierdie katalogus
Is die mooi ou gebou in Bloemfontein waarin NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum)1 gehuisves word, te ver vir jou om dit persoonlik te gaan besoek en wens jy dat jy meer inligting oor hul knipsel- en dokumenteversameling rondom die Afrikaanse letterkunde en kultuur kon kry?
Of jy ’n leeskringlid, akademiese navorser, joernalis of leerder is, kan jy NALN nou via LitNet bereik. As jy byvoorbeeld op soek is na inligting oor ’n spesifieke skrywer, kan jy nou die LitNet Akademies-NALN-katalogus van meer as 38 000 papier- en digitale tekste aanlyn besoek.
Hierdie katalogus strek so ver terug as 1973,2 NALN se stigtingsjaar, en lê as subdomein hier op LitNet se hoofraam. ’n Skakel na hierdie katalogus word op LitNet se tuisblad verskaf, asook op LitNet se weeklikse nuusbrief en LitNet se Facebook-blad.
Agtergrond: LitNet en NALN se rol
Materiaal wat byvoorbeeld oor ’n spesifieke skrywer handel, of waarin daardie skrywer genoem word, is in verhandelings, proefskrifte, akademiese artikels, mediaberigte, resensies, onderhoude en meningsartikels in NALN se besit te vinde. Gebruikers kan nou via LitNet ’n spesifieke teks of lys tekste opspoor en dan die volteksweergawe daarvan in PDF-formaat by NALN aanvra.
Hoe is hierdie bron geskep?
LitNet het saam met die Vrystaatse navorser Burgert Senekal gewerk om hierdie katalogus te skep. Burgert, wat ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat is, het namens NALN die tegniese platform vir die katalogus gekies, data skoongemaak, tikfoute gekorrigeer en die gebruiksvriendelikheid van die platform getoets.
LitNet het vir Burgert ook, by wyse van ’n borgskap van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, van hulp voorsien. Tiaan de Lange, assistent: tegniese ondersteuning by NALN, is deur LitNet Akademies befonds. Tiaan het twee digitale versamelings in een versameling geïntegreer; hy het naamlik NALN se bestaande katalogus met relevante metadata vir die nuwe digitale versameling opgeruim en geïntegreer.
Met LitNet se hulp is ’n geskikte digitale ruimte geskep waar die katalogus gehuisves kan word. Hierdie ondersteuning het NALN in staat gestel om hul bronne beter te organiseer en toegankliker vir almal te maak. Die platform is gratis beskikbaar.
Menán van Heerden gesels met Burgert Senekal oor die aard en omvang van hierdie katalogus.

Burgert Senekal
Agtergrond
Burgert, hoe sou jy hierdie projek wat LitNet Akademies en NALN aangepak het, in vyf sinne beskryf?
Dit behels ’n skuif van ’n analoog- na ’n digitale knipselversameling by NALN, tesame met die samestelling en beskikbaarstelling van ’n katalogus. NALN het reeds in 2010 begin om materiaal wat deel uitmaak van die knipselversameling in te skandeer, en sedert 2020 is ons besig om ook materiaal in ’n digitale formaat te versamel. Deurgaans was daar egter nie ’n katalogus beskikbaar om aan te dui wat by NALN is nie. Die huidige projek het voorheen ingeskandeerde materiaal met nuwe digitaal versamelde materiaal saamgevoeg en ’n katalogus saamgestel en beskikbaar gestel.
Omvang en aard
Watter rol het jy gespeel in die totstandkoming van hierdie aanlyn katalogus?
Sedert 2020 was ek betrokke by die verkryging van befondsing en die beplanning en bestuur van digitale versamelings. Ek het ook bygedra tot die versameling self en die beplanning van hierdie katalogus, insluitend die tegnologie wat die projek ondersteun. Deur hierdie tyd het ek verskillende prosesse uitgewerk, tegnologieë geïntegreer, en met mense saamgewerk om hierdie doelwitte te bereik.
Watter rol het NALN gespeel?
NALN het hul databasis beskikbaar gestel en toegang tot hul waardevolle versamelings verleen vir die digitaliseringsprojek. Hulle het nie net waardevolle insette gelewer nie, maar ook onontbeerlike samewerking verskaf. Hierdie ondersteuning en bydraes van NALN het die sukses van die projek moontlik gemaak en ons is innig dankbaar vir hul bereidwilligheid en hulp.
Uit hoeveel rekords bestaan hierdie katalogus?
Die katalogus sluit slegs dokumente in waarin ’n rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem – breed gedefinieer – genoem word en bestaan uit meer as 38 000 dokumente. NALN beskik egter oor heelwat meer.
Hoe ver terug strek die databasis – sou daar byvoorbeeld materiaal oor Uys Krige wees, of Leipoldt?
Ons het 1973 as afsnypunt gebruik (die jaar waarin NALN gestig is), alhoewel die meerderheid dokumente na 1993 gepubliseer is. Maar ja, daar is vir seker inligting oor ouer skrywers.
Is digitale én papierbronne ingesluit?
Daar is materiaal wat slegs in digitale formaat bestaan (byvoorbeeld publikasies wat op LitNet verskyn het), materiaal wat beide op papier en digitaal bestaan (byvoorbeeld artikels in vakkundige tydskrifte), en materiaal wat slegs op papier bestaan het (byvoorbeeld koerantknipsels).
Is dit letterlik volledig ál die materiaal in NALN se besit oor byvoorbeeld ’n skrywer soos André P Brink, of ’n keuse uit beskikbare materiaal?
Dit is al die materiaal wat oor ’n spesifieke skrywer handel of wat daardie skrywer noem, wat in NALN se besit is én digitaal beskikbaar is, én ontsluit is.
Inhoud
Sluit hierdie katalogus slegs dokumente in wat met die Afrikaanse letterkunde saamhang?
Ja, maar breed gedefinieer om ook Afrikaanse toneel, film en musiek in te sluit, sowel as konteks, byvoorbeeld taalregte.
Bestaan hierdie korpus uit slegs mediaberigte? Ook akademiese joernale (aanlyn en papier)? En tesisse en verhandelinge?
Akademiese joernale, verhandelings en proefskrifte is ook ingesluit, benewens mediaberigte, onderhoude en meningstukke. Die enigste soort teks wat nie ingesluit is nie, is kreatiewe tekste, byvoorbeeld digbundels self.
Sluit die databasis navorsingsitems/argiefitems in ander tale in, byvoorbeeld ’n Nederlandse resensie wat in Amsterdam verskyn het van ’n Breytenbach-bundel of Suid-Afrikaanse resensies in die Engelse media oor ’n in Engels vertaalde roman van Marlene van Niekerk?
Daar is geen taalvoorkeur nie – as ’n resensie of bespreking van ’n Afrikaanse skrywer gevind is, is dit ingesluit. Daar sal met ander woorde ook Engelse en Nederlandse materiaal wees.
Gebruikers
Op wie is die indeks gemik – op ’n gesoute navorser soos Willie Burger of ’n jong tweedejaarstudent wat ’n opstel moet skryf, skoolleerders en/of onderwysers? Leeskringlede? Wie gaan die meeste hierby baat?
Ek hoop die katalogus kan ’n wye spektrum van gebruikers help om te sien wat by NALN aangevra kan word.
Wat is beter aan hierdie korpus as dit wat mens byvoorbeeld in ’n goeie universiteitsbiblioteek sou aantref, sê maar op die kampusse van die Universiteit Stellenbosch of Pretoria? Of deur ’n Google-soektog?
Die materiaal wat in die katalogus weergegee is, is ontsluit deur gebruik te maak van die volteksweergawes van dokumente. Dit is moontlik dat ander soekenjins nie hierdie toegang het nie, wat beteken dat hier dokumente ingesluit sal wees wat nie deur Google of ’n universiteitsbiblioteek gevind sal word nie.
Prakties
Hoe werk dit prakties? ’n Student soek deur die indeks, sien die opskrif van ’n koerantresensie uit byvoorbeeld 1985 en wil graag die resensie raadpleeg?
Ja, as ’n gebruiker iets sien wat hulle wil lees, kan die teks by NALN aangevra word.
Tik mens in die soekvenster volgens datum, skrywer (oor wie navorsing gedoen word), outeur van die spesifieke item, of volgens publikasie?
Die soekfunksie is só opgestel dat daar hoofsaaklik vir mense se name gesoek kan word, sowel as ’n paar etikette (trefwoorde) wat met die Afrikaanse letterkunde saamhang (byvoorbeeld Kunstefeeste).
Toekomsmoontlikhede
Sal die databasis, indien dit onvolledig is, voortdurend aangevul word?
Ja, dit sal altyd aangevul moet word, beide ten opsigte van nuwe publikasies en van ouer publikasies wat ontsluit word. Die infrastruktuur is só uitgewerk dat bywerkings so maklik as moontlik sal kan geskied.
Toekomsmoontlikhede? KI as hulpmiddel? Wenslysie?
Ek sou ’n makliker manier wou uitwerk waarop mense materiaal kan aanvra sonder om ’n navraag aan NALN se personeel te rig.
Eindnotas
1. NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein is ’n bewarea vir Afrikaanse kultuurhistoriese woorderfenis, insluitend die letterkunde, musiek en toneel.
2. Die meerderheid dokumente is ná 1993 publiseer.
Skakel na hierdie katalogus
Lees ook:
NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus
Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag