- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Vier-en-twintig eeue gelede sit ’n dramaturg en ’n professor in ’n mandjie.
In Aristofanes se komedie Die wolke, wat in 423 vC in Athene opgevoer is, hang Sokrates in ’n mandjie in die lug. Intussen meet sy studente hoe ver ’n vlooi kan spring deur die vlooie se pote in was te doop om piepklein pantoffels te maak. Hierdie “dinkwinkel” kry besoek van Strepsiades, ’n boer diep in die skuld, wat net een ding van die universiteit wil hê: sy seun leer hoe om met slim argumente uit die skuld los te kom. Hy soek nuttige, toegepaste kennis. ’n Duidelike opbrengs op belegging. Hy kry dit nie en brand toe die plek af.

© bytrangle (9 Desember 2019, Pixabay.com) (Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.)
Wat Strepsiades wil hê, is eenvoudig: opleiding wat betaal, ’n vaardigheid wat sy seun mark toe kan neem. Of dit is waarvoor ’n universiteit daar is, en of dit bestaan vir iets wat nie heeltemal so onmiddellik nuttig is nie, is ’n vraag waaroor universiteite nog nooit uitsluitsel gekry het nie. Wat wel verander het, is dat hierdie vraag nou elke jaar tot ’n enkele getal gereduseer word – ’n plekkie op die ranglys.
Die Centre for World University Rankings rangskik dan die res volgens vier maatstawwe: navorsingsuitsette, sitasies, die pryse wat hul personeel verower het, en die aantal gegradueerdes wat senior poste in groot maatskappye bereik.
Agentskappe soos die Centre for World University Rankings (CWUR) publiseer ’n wêreldranglys waarop Harvard eerste kom omdat die skaal so gebou is dat Harvard 100 kry en elke ander universiteit as ’n breukdeel daarvan gemeet word. CWUR rangskik dan die res volgens vier maatstawwe: navorsingsuitsette, sitasies, die pryse wat hul personeel verower het, en die aantal gegradueerdes wat senior poste in groot maatskappye bereik.
Wat ’n ranglys kan meet, is net ’n klein deel van wat ’n universiteit is. En daardie deel verloor tans waarde.
Hierdie ranglyste bestaan om ’n goeie rede. ’n Student in Soweto kan nie binne-in ’n lesingsaal in Stanford sien nie; ’n skenker kan nie self ’n departement oudit nie. ’n Ranglys is ’n maatstaf wat die gehalte vergelykbaar maak, min of meer soos ’n universiteitsgraad dit eens gedoen het. Die probleem is egter meer spesifiek: Wat ’n ranglys kan meet, is net ’n klein deel van wat ’n universiteit is. En daardie deel verloor tans waarde.
’n Onlangse artikel deur die ekonome David Cutler en Edward Glaeser begin by wat ’n universiteit werklik is, en vind daarin die standhoudendste instelling wat ons nog gebou het: Uit Amerika se bes befondste universiteite is 98,6% ouer as 50 jaar, teenoor 57,2% van die Fortune 500-maatskappye. Dié uithouvermoë is nie toevallig nie. Universiteite bly staan omdat hulle, op hul beste, gemeenskappe van geleerdes is wat self oor hul werk kan oordeel. Outonomie gee aan sulke mense die ruimte om vrae te vra, nuwe kennis na te jaag en koers te verander wanneer die wêreld verander. Daarom kon universiteite oor eeue heen vakke laat vaar, laboratoriums bou en hulself telkens vernuwe sonder om op te hou universiteite wees.
’n Ranglys kan nie sien hoe ’n universiteit dink, twyfel, stry en koers verander nie. ... Meet ’n universiteit aan sy navorsinguitsette, en hy sal navorsingsartikels lewer, of dit nou iets bydra tot die wetenskap of nie.
En dít is natuurlik presies wat ’n ranglys miskyk. ’n Ranglys kan nie sien hoe ’n universiteit dink, twyfel, stry en koers verander nie. Dit kan net tel wat telbaar is: sitasies, pryswenners en gegradueerdes se salarisse. Goodhart se wet waarsku ons wat dan gebeur – sodra ’n maatstaf ’n teiken word, is dit nie meer ’n maatstaf nie. Meet ’n universiteit aan sy navorsinguitsette, en hy sal navorsingsartikels lewer, of dit nou iets bydra tot die wetenskap of nie.
Die figuur hier onder plaas Suid-Afrika se voorste universiteite se posisie op die wêreldranglys langs hul onderliggende telling, uitgawe vir uitgawe, met Harvard as maatstaf.

Klik hier vir ’n groter weergawe.
Die twee panele wys dieselfde universiteite, maar op twee verskillende maniere gemeet. Die resultate loop skerp uiteen. Regs is die tellings amper plat: Stellenbosch bly al vir die grootste deel van ’n dekade binne een punt van 74,8; Kaapstad en Wits lê net bo hom; en Harvard staan, volgens die ontwerp van die ranglys, vas op 100. Links word dieselfde universiteite gerangskik, en daar spring die lyne heelwat rond.
Daardie platheid is deel van die metode. CWUR tel navorsing oor ’n rollende tienjaarvenster, gee krediet vir alumniloopbane oor meer as ’n dekade, en tel pryse bymekaar wat oor hele leeftye opgebou is. Hierdie tellings kan nie van een jaar na die volgende drasties verander nie. Hulle bou stadig op. ’n Universiteit se posisie, en die rigting waarin dit oor tyd skuif, sê dus veel meer oor die afgelope 20 jaar as oor die afgelope twee.
Die een groot uitsondering op die grafiek bewys die punt. Op die 2026-ranglyste klim Wits van 292ste in die wêreld na 200ste, maar sy telling styg met net 1,8 punte. Daardie styging kom boonop uit net een deel van die ranglys. Navorsing en indiensneembaarheid bly feitlik onveranderd, en die onderwystelling daal. Die hele verbetering kom uit die kategorie vir akademiese personeel: Dit tel personeellede wat groot internasionale pryse in hul vakgebiede ontvang het. In dié kategorie beweeg Wits van nêrens op die ranglys na 87ste in die wêreld. Kaapstad en Stellenbosch kry in hierdie kategorie geen punte nie.
[E]en wysiging op ’n vorm het ’n hele universiteit 92 plekke op ’n wêreldranglys laat klim.
Wat die sprong veroorsaak het, is van buite af onmoontlik om te sê. Dit kan ’n werklike aanstelling wees, soos ’n pryswenner wat by Wits aansluit. Dit kan net so maklik administratief wees – ’n vooraanstaande akademikus wat reeds op die personeel was, maar wie se verbintenis met Wits vir die eerste keer aan CWUR gerapporteer is. In daardie geval het niks aan die universiteit verander nie, behalwe die papierwerk. Hoe dit ook al sy, een wysiging op ’n vorm het ’n hele universiteit 92 plekke op ’n wêreldranglys laat klim.
Aristofanes noem sy komedie nie verniet Die wolke nie. Wolke verander gedurig van vorm, maar dra min gewig – sy beeld vir ’n sekere soort intellektuele vertoon. Die jaarlikse beweging op die ranglyste lyk baie dieselfde: baie verandering op die oppervlak, bitter min daaronder.
Die plat tellings verberg intussen ’n verandering wat werklik is, maar te stadig gebeur om op ’n jaarlikse ranglys te wys. Dit gaan oor waarvoor ’n universiteit daar is.
Hoër onderwys het homself al hoe meer in die taal van produktiwiteit en ekonomiese nut begin regverdig, terwyl daar al minder gesê word oor die akademiese ingesteldheid wat eens die hart van die universiteit was.
Dit is aanloklik om hier te stop, die metode die skuld te gee en die universiteit te verdedig. Tog verklap die ranglys dalk iets oor waarvoor universiteite vandag daar is. ’n Volle kwart van die CWUR-telling gaan oor werk: oor gegradueerdes wat senior poste in groot maatskappye beklee. En dit is, in die praktyk, waarvoor ’n groot deel van moderne hoër onderwys homself begin inrig het. Nie die frontisterion, die plek vir denke, nie, maar die prakterion, die plek vir opleiding. Universiteite “verkoop” grade as roetes na ’n salaris, adverteer hul indiensnemingskoerse en rapporteer wat gegradueerdes verdien. Die ranglys beloon dit, universiteite publiseer dit, en die dieper vraag – oor die produksie van kennis en wat ons behoort te weet – verdwyn al verder uit sig. In After the university (2026) wys die historikus Chad Wellmon hoe hierdie skuif oor eeue plaasgevind het: Hoër onderwys het homself al hoe meer in die taal van produktiwiteit en ekonomiese nut begin regverdig, terwyl daar al minder gesê word oor die akademiese ingesteldheid wat eens die hart van die universiteit was.
Strepsiades het dus grootliks sy sin gekry. ’n Universiteit wat ’n kwalifikasie uitreik en min vrae oor kennis en wysheid vra, lyk baie soos dít wat ons vandag het. En die ranglys wys daardie keuse nogal akkuraat aan ons uit.
Dít verklaar dalk ’n toneel wat andersins vreemd lyk: studente wat in 2026 sprekers by gradeplegtighede uitjou wanneer hulle KI prys.
Die ruiltransaksie berus op ’n eenvoudige verwagting: Kry die graad, en ’n stabiele loopbaan wag. KI verswak egter daardie belofte van albei kante. Dit verrig die meetbare akademiese take – die opstel, die literatuuroorsig, die standaardontleding – teen baie lae koste – en terselfdertyd begin dit baie van die intreevlakposte wegneem waarvoor die graad studente moes voorberei. Dít verklaar dalk ’n toneel wat andersins vreemd lyk: studente wat in 2026 sprekers by gradeplegtighede uitjou wanneer hulle KI prys. As blote tegnofobie maak dit min sin. Lees dit eerder as die vermoede dat die loopbaan waarvoor hulle voorberei is, besig is om te verdwyn, en dat die universiteit hulle minder gegee het as wat hulle gedink het dit sou. Dan begin dit sin maak.
Dit is nie net nuwe gegradueerdes wat dit aanvoel nie. Die publiek begin ook vertroue in ’n universiteitsgraad verloor. In Brittanje het die persentasie mense wat dink universiteit is nie die tyd en geld werd nie, meer as verdubbel: van 14 persent in 2005 tot 34 persent in 2025. Die groep wat glo gegradueerdes sal finansieel veel beter daaraan toe wees, het intussen van die helfte tot skaars ’n derde gekrimp. In die VSA is die daling nog skerper: In 2010 het drie uit vier volwassenes ’n kollege-opleiding “baie belangrik” aangedui; teen 2025 was dit nog net omtrent ’n derde. Daar is nie vergelykbare syfers vir Suid-Afrika nie, en die druiwe is hier waarskynlik minder suur, maar dit is onwaarskynlik dat ons heeltemal in ’n ander rigting beweeg. ’n Ooreenkoms wat op finansiële opbrengs berus, kan nie hou wanneer daardie opbrengs self in twyfel is nie.
Wat lank soos ’n swakheid van die geesteswetenskappe gelyk het, lyk nou al meer soos ’n sterk punt: Die dinge waarvoor ’n sigblad nie ’n prys kan gee nie, is toenemend die dinge wat ’n masjien nie kan nadoen nie.
Cutler en Glaeser is eerlik oor die grense van hul eie metode. Hulle kan mediese navorsing waardeer omdat gesondheid ’n eenheid het: lewensjare. Wanneer hulle by die geesteswetenskappe kom, huiwer hulle. Wat is dit werd om Shakespeare se sonnette te verstaan, of die lewens van generasies gelede? Hulle gee toe dat hulle nie weet nie – die waarde is nie kwantifiseerbaar nie. Wat lank soos ’n swakheid van die geesteswetenskappe gelyk het, lyk nou al meer soos ’n sterk punt: Die dinge waarvoor ’n sigblad nie ’n prys kan gee nie, is toenemend die dinge wat ’n masjien nie kan nadoen nie.
Dáár lê, volgens Thom, ’n spanning wat so oud is soos die universiteit self: Leer ons mense om suksesvol te wees, of leer ons hulle om wys te wees?
Twee Suid-Afrikaanse geleerdes het dit al lankal sien kom. Die klassikus Johan Thom neem in sy intreerede aan die Universiteit Stellenbosch in 1997 dieselfde dramateks as vertrekpunt, en gaan dan nog verder terug, na die twis tussen Sokrates en die Sofiste. Die Sofiste was die eerste beroepslui van hoër onderwys: Hulle het geld gevra om mense te leer hoe om argumente te wen en in die openbare lewe voor te kom – indiensneembaarheid voordat die konsep bestaan het. Sokrates het geen geld gevra nie en die strewe na die goeie geleer, iets met geen ooglopende nut nie. Dáár lê, volgens Thom, ’n spanning wat so oud is soos die universiteit self: Leer ons mense om suksesvol te wees, of leer ons hulle om wys te wees?
Wat in dié spanning verlore kan raak, noem Thom schole: die Griekse stamwoord van scholarship, of akademieskap. Dit beteken vrye tyd, of vryheid van noodsaak – die tyd en ruimte wat ’n mens nodig het om te dink. ... In ’n tyd van masjiengegenereerde teks is dit dalk die waardevolste ding wat ’n universiteit kan leer: om ’n fragment te beoordeel, en die egte artikel van ’n namaaksel te onderskei.
Wat in dié spanning verlore kan raak, noem Thom schole: die Griekse stamwoord van scholarship, of akademieskap. Dit beteken vrye tyd, of vryheid van noodsaak – die tyd en ruimte wat ’n mens nodig het om te dink. Die Klassieke studies, sê hy, leer ’n mens ’n besondere vaardigheid wat al hoe skaarser word: om in ’n fragment ’n geheel te sien. Uit die klou die leeu; uit ’n paar bene die dier. In ’n tyd van masjiengegenereerde teks is dit dalk die waardevolste ding wat ’n universiteit kan leer: om ’n fragment te beoordeel, en die egte artikel van ’n namaaksel te onderskei.
Dit is, vir my, die sterkste rede waarom ’n universiteit KI openlik moet gebruik: om vooruit te gaan en te kyk wat hierdie masjiene kan en nie kan doen nie, en dan vir die samelewing, wat binnekort van die tegnologie afhanklik gaan wees, te kom sê wat voorlê.
Die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk stel ’n verwante punt in ’n hoofstuk wat reeds in 2009 gepubliseer is en nou gratis op johanfourie.com beskikbaar is. ’n Universiteit, skryf hy, is sy studente en hul “wil tot kennis” – die geboue en die biblioteek is net die dekor. Sy beeld is dié van die voorloper, die persoon wat voor ’n ossewa uitstap om te toets of die pad vorentoe sal hou. ’n Universiteit se taak is om voor die samelewing uit te gaan en te kom vertel wat hy vind. Dit is, vir my, die sterkste rede waarom ’n universiteit KI openlik moet gebruik: om vooruit te gaan en te kyk wat hierdie masjiene kan en nie kan doen nie, en dan vir die samelewing, wat binnekort van die tegnologie afhanklik gaan wees, te kom sê wat voorlê.
Niks hiervan verskyn in ’n ranglys nie, en dit kán ook nie. ’n Ranglys doen drie dinge tegelyk: Dit vergroot verskille wat meestal irrelevant is, dit wys redelik akkuraat wát universiteite geword het, en dit laat die deel uit wat dalk die heel meeste saak maak – die vermoë om vry te dink.
Die ranglyste is dus die moeite werd om te lees, solank ’n mens onthou wat hulle uitlaat. Jy kan nie ’n eikeboom beoordeel deur sy akkers te tel nie, en jy kan nie ’n plek wat vir denke gebou is, beoordeel deur te meet hoe ver sy vlooie spring nie.
Lees ook in LitNet Akademies en op LitNet:
Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"
Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom

