Rangordestelsels vir universiteite: Goed of sleg?

  • 2

.......

“As dit kom by waaroor universiteite vandag in hierdie land behoort te gaan, naamlik om veral vir die Suid-Afrikaanse konteks oplossings te vind en die karakters van hulle studente te vorm om in hierdie land sowel in hulle huistale as in Engels ’n verskil te maak, sal ek graag wil sien wat die norme van daardie ranglyste met ons uit te waai het.” ‒ Johann Rossouw

.......

Die najaag van universiteite se ranglysposisies vergeleke met ander universiteite in die wêreld, en die teenkanting daarteen, skep talle vrae oor die wese van ’n universiteit, sy onmiddellike omgewing en sy plek in die wêreld.

Dit het opnuut in de kollig gekom toe die Rhodes Universiteit onlangs weer hulle teenkantig teen sulke ranglyste bevestig het. Die universiteit weier om daaraan deel te neem.

Rhodes Universiteit is sover bekend die enigste universiteit in Suid-Afrika wat ’n prinsipiële standpunt ingeneem het teen die deelname aan rangordestelsels.

’n Verklaring op die universiteit se webwerf verwys daarna as wetenskaplik twyfelagtig en anti-transformasie.

Ten spyte van wydverspreide kommer oor die wetenskaplik swak en gekommersialiseerde metodes wat deur hierdie stelsels gebruik word, neem sommige Suid-Afrikaanse universiteite aktief daaraan deel. Hulle rig hul indiensnemingsprosesse toenemend daarop en fokus hulle aktiwiteite al hoe meer daarop om hulself op die ranglys te posisioneer, sê UR in hulle verklaring.

Enkele vooraanstaande universiteite, soos die regskole van beide Yale en Harvard, het onlangs soortgelyke standpunte ingeneem en by die Rhodes-universiteit se jarelange posisie aangesluit. Beide Harvard Law School en Yale Law School neem nie deel aan die jaarlikse ranglys deur US News & World Report nie. Ander nagraadse programme en voorgraadse programme by Harvard en Yale neem wel  daaraan deel.

Aan die positiewe kant word aangevoer dat rangordestelsels nuttige inligting kan verskaf vir voornemende studente, navorsers en werkgewers wat die kwaliteit van akademiese programme en navorsingsuitsette wil evalueer. Ranglyste kan studente help om ingeligte besluite te neem oor waar om aansoek te doen en waar om wat te studeer. Dit kan ook werkgewers help om instellings te identifiseer wat gegradueerdes van hoë gehalte lewer.

Ranglyste kan ook voordelig wees vir universiteite self, aangesien hulle ’n maatstaf kan bied om hul prestasie relatief tot ander instellings te meet en hulle kan motiveer om hulle onderrig- ​​en navorsingsgehalte te verbeter.

Aan die negatiewe kant kan rangordestelsels gebaseer word op onvolledige of bevooroordeelde data, wat kan lei tot onakkurate assesserings van universiteite.

Sommige ranglyste fokus byvoorbeeld slegs op navorsingsuitset of reputasie, wat ander belangrike faktore soos onderriggehalte, studentetevredenheid en gemeenskapsbetrokkenheid verwaarloos. Daarbenewens kan ranglyste instellings bevoordeel wat meer hulpbronne en befondsing het, wat kan lei tot ’n voortsetting van die status quo en die ongelykhede in die hoër onderwysstelsel vererger.

Boonop kan ’n ranglys ’n kultuur van mededinging tussen universiteite skep, wat ranglyste bo ander belangrike waardes soos diversiteit, gelykheid en insluiting kan prioritiseer. Dit kan lei tot ’n homogenisering van akademiese programme en ’n fokus op oppervlakkige aanwysers van sukses eerder as betekenisvolle opvoedkundige uitkomste, sê die kritici van sulke rangordes.

Hoewel rangordestelsels vir universiteite nuttige inligting kan verskaf, moet dit dus met omsigtigheid gebruik word en saam met ander faktore oorweeg word wanneer akademiese instellings geëvalueer word.

Volgens ’n artikel in University World News, ’n aanlyn wêreldwye hoëronderwyspublikasie wat in diepte, onafhanklike nuus en kommentaar oor hoër onderwys en navorsing wêreldwyd verskaf, is universiteite regoor die wêreld, baie meer as wat dit ooit in die openbaar sal erken, tans behep met die verkryging van status in een of meer nasionale of globale rangorde van universiteite.

Verskeie Suid-Afrikaanse akademici stem saam. 

Volgens die World Higher Education Database is daar meer as 18 000 hoëronderwysinstellings wêreldwyd. Slegs ’n klein minderheid sal egter ooit op die ranglys verskyn, maak nie saak hoe hard hulle probeer of hoeveel hulpbronne aan die taak gewy word nie.

Navorsers soos Philip G Altbach, ’n Amerikaanse skrywer, navorser en voormalige professor by Boston College, en die stigtersdirekteur van die Boston College, en Ellen Hazelkorn, emeritus professor van die Tegnologiese Universiteit Dublin, voer aan dat die meeste universiteite wêreldwyd nie aandag aan die ranglys behoort te gee nie.

Volgens hulle kan dit die missie en aktiwiteite van hierdie instellings verwring. Hulle sê meeste universiteite het in elk geval geen kans om goed op die ranglys te vaar nie. Prestige en reputasie word volgens die twee navorsers dikwels dominante dryfvere eerder as die nastrewing van kwaliteit en studenteprestasie.

Robin Palmer, emeritus professor  in Antropologie, wat in 1979 by die departement antropologie aan RU aangesluit het as dosent en deur die geledere tot professor en departementshoof (2003‒2009) gestyg het, ondersteun RU se weiering om aan ’n internasionale ranglys deel te neem.

Palmer wat deesdae in Simonstad woon en reeds 10 jaar formeel afgetree het, sê hy vind RU se standpunt baie goed gemotiveerd. Hy sê dit is teleurstellend dat ander Suid-Afrikaanse universiteite nie lankal tot dieselfde gevolgtrekking gekom het as RU nie.

“Maar dan is RU ’n buitengewoon etiese universiteit. Die destydse visekanselier, Derek Henderson, het swart studente in die koshuise toegelaat lank voordat dit amptelik toegelaat is. Toe ander universiteite in die moeilikheid was weens die beledigende reëlings om hulle werkers uit te kontrakteer, was al RU se werkers altyd direk in diens geneem.”

Die feit dat universiteite soos Harvard en Yale se regsafdelings ook onttrek het van die oorspronklike samesteller van universiteitsranglys, die US News and World Report, bevestig RU se standpunt en ontbloot ook “die ietwat skaapagtige konformiteit” van die ander universiteite, sê Palmer.

“Ek is oud genoeg om die bekendstelling te onthou van toelaes wat onderrig en bestaansgeld gedek het vir elke student wat vir enige Britse universiteit gekwalifiseer het, en hoe dit die samestelling van hierdie universiteite ’n omwenteling laat ondergaan het. Skielik was gesinsinkomste geen hindernis meer vir studente om hulle ambisies te verwesenlik nie. Toe stop dit en knap jongmense kon nie meer tot dieselfde mate as voorheen uit die werkersklas ontsnap nie.”

“Ek beskou die rangorde as soortgelyke agteruitgang. Dit bevoordeel uitdruklik die mees elite en duurste universiteite in die wêreld en gee aan diegene wat dit nie kan bekostig nie die gevoel dat hulle op een of ander manier misluk het.”

Dan is daar volgens Palmer ook ander sake wat in die RU-dokument uitgelig word, byvoorbeeld dat uitnemendheid vir kapitalistiese doeleindes gelykgestel word aan bruikbaarheid. “Ek het hierdie tendens selfs hier vanaf die middel 1980’s sien opduik, nog voordat die ranglyste ontwikkel is. Universiteite het geskuif van hul oeroue rol as gemeenskappe van geleerdes wat na waarheid soek, of ten minste die produksie en uitbreiding van kennis, na net nog ’n soort instelling wie se waarde bepaal word deur hul bruikbaarheid vir ander soorte korporasies, gewoonlik die multinasionale ondernemings”.

Volgens Palmer moet daar onderskei word tussen rangorde opsigself en die manier waarop huidige rangordes gekonstrueer is. Hy meen dit kan wel ’n konstruktiewe doel dien mits dit hervorm word volgens die implisiete riglyne in die RU-dokument.

Die standpunt dat universiteite nie internasionale ranglyste durf ignoreer nie omdat hulle in ’n globale wêreld teen mekaar meegeding en kwaliteit volgens die ranglyste se prestasies gemeet word, is die kern van die saak, sê Palmer. Dit is waarom universiteite wat afhanklik is van die fooie van buitelandse studente, veral nagraadse studente, die ranglys ietwat kritiekloos aanvaar het.

Nog ’n akademikus wat RU se standpunt ondersteun is Johann Rossouw, Departementshoof: Filosofie & Klassieke van die Fakulteit: Geesteswetenskappe aan die Universiteit Vrystaat (UV).

“Ek lig my hoed vir Rhodes wat die moed aan die dag lê om die verstikkende konformisme wat oor hierdie saak in die Suid-Afrikaanse openbare universiteitswese heers, teen te gaan en ’n beginselstandpunt in te neem,” sê Rossouw.

“Ek stem heeltemal saam met Rhodes. Hoekom kan ander openbare universiteite in Suid-Afrika nie ook daaroor besin nie? Tegelyk is dit ook waar dat die leierskap van die land se openbare universiteitswese hierdie neo-koloniale “rangordestelsel” al in so ’n mate vir hulself toegeëien het dat ek nie kan sien dat hulle die moed sal hê om Rhodes se uitdaging te aanvaar nie.”

“Hoe op aarde kan dit wees dat ons openbare universiteite hulle vrywillig so dienstig aan hierdie vorm van portuurbeoordeling maak, wat maar enkele dekades oud is? Die groot universiteite van die wêreld het immers hulle status in meer as ’n duisend jaar se universiteitsgeskiedenis verwerf aan die hand van vele ander vorme van beoordeling.”

Volgens Rossouw is die vraag nie of Suid-Afrika dit kan bekostig om die ranglyste in die huidige tydsgewrig van globalisering te ignoreer nie. Hy sê die vraag is eerder of hulle dit kan bekostig om langer aan hierdie spesifieke stelsel mee te doen?

“As dit kom by waaroor universiteite vandag in hierdie land behoort te gaan, naamlik om veral vir die Suid-Afrikaanse konteks oplossings te vind en die karakters van hulle studente te vorm om in hierdie land sowel in hulle huistale as in Engels ’n verskil te maak, sal ek graag wil sien wat die norme van daardie ranglyste met ons uit te waai het.”

Rossouw is van mening dat vir soverre dit wel iets met ons uit te waai het, is dit bloot toevallig. “Die feit is dat daardie lyste ontwikkel is aan die hand van kriteria van ryk lande in die noordelike halfrond, lande waarvan die geskrifte van klaagliedere oor hoe sleg dit aan daardie universiteite gaan net al hoe meer word.”

.......

“Ek het onder meer al in opstelle op LitNet uitgewys hoe verwoestend die histories Afrikaanse universiteite – en veral Stellenbosch – se omarming van daardie ranglyste vir Afrikaans en die ander inheemse tale is.” Johann Rossouw

.......

“Hoekom wil ons dit naboots? Of nee, eintlik, hoekom wil ons dit na-aap? Ek het onder meer al in opstelle op LitNet uitgewys hoe verwoestend die histories Afrikaanse universiteite – en veral Stellenbosch – se omarming van daardie ranglyste vir Afrikaans en die ander inheemse tale is.”

Wat die betroubaarheid van die ranglyste betref is dit volgens Rossouw sekerlik betroubaar aan die hand van wat hulle meet. Maar dit is juis die probleem, sê hy: “Dit wat hulle meet, is van mindere belang vir ons in Suid-Afrika wat onsself probeer herdink om werklik vry en selfstandig te word. En dan het ek ook al verwys na ’n vriend verbonde aan ’n vermaarde Britse universiteit wat eens deur ’n administrateur van een van daardie ranglyste gevra is vir omkoopgeld as sy universiteit dalk hoër op die betrokke ranglys wil kom.”

.......

Sy grootste kritiek teen sulke ranglyste is dat hulle navorsing en denke in ander tale as Engels geheel en al buite rekening laat; ... dat hulle ’n eensydige begrip van internasionalisering het (naamlik dat akademiese werk deur die ryk Engelse Noorde erken moet word, pleks van dat akademiese werk suksesvol, danksy die relevansie daarvan, tussen verskillende kontekste verplant kan word om plaaslik ’n verskil te maak nie).

.......

Andrew Nash se historiese toeligting oor die ontstaan en opkoms van daardie lyste, wat laat verlede jaar op LitNet verskyn het, bevat volgens Rossouw verdoemende getuienis oor hoe totaal vreemd daardie stelsel aan ons konteks is – en trouens ook aan die kontekste van die meeste lande wat nie deel van die ryk Engelssprekende Noorde vorm nie.

Sy grootste kritiek teen sulke ranglyste is dat hulle navorsing en denke in ander tale as Engels geheel en al buite rekening laat; dat hulle nie verstaan hoe kennis ontwikkel word nie (deur verbeelding en toeval, wat nie meetbaar of beplanbaar is nie); dat hulle ’n eensydige begrip van internasionalisering het (naamlik dat akademiese werk deur die ryk Engelse Noorde erken moet word, pleks van dat akademiese werk suksesvol, danksy die relevansie daarvan, tussen verskillende kontekste verplant kan word om plaaslik ’n verskil te maak nie). En ook dat hulle hoegenaamd geen meting doen van hoe universiteite studente se karakters vorm aldan nie.

Diegene wat die meeste daardeur bevoordeel word is volgens Rossouw die ryk Engelse universiteite in die noordelike halfrond (ten koste van enorme vlakke van persoonlike ongeluk, kleinlike onderlinge kollegiale wedywering en swak geestesgesondheid), terwyl die universiteite buite daardie konteks wat hulle vrywillig daaraan onderwerp die meeste benadeel word.

“Ek bedoel, hoekom kom ons in Suid-Afrika nie vorendag met ’n inheemse stel kriteria van wat universiteite in kontekste soos ons s’n behoort te doen nie, en plaas dit op die sakelys vir universiteite in kontekste soos ons s’n, en kom dan tot ’n vergelyk oor ’n stelsel van portuurbeoordeling wat in ons kontekste sin maak?

Nog ’n Suid-Afrikaanse akademikus wat Rhodes Universiteit se standpunt ondersteun is Desmond Painter, medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy stem saam dat ander universiteite in Suid-Afrika ook daaroor moet besin. “Ek dink dit is nie bloot haalbaar nie maar noodsaaklik dat Suid-Afrikaanse universiteite minder aandag gee aan internasionale ranglyste.”

Suid-Afrikaanse universiteite, of ten minste diegene wat hulle bestuur, is volgens Palmer nog baie onder die invloed van alles wat “internasionaal” is. Ons is in die hierdie opsig nog nie “gedekoloniseer” nie. Dalk sal die regskole van Harvard en Yale se standpunt ’n groter invloed hê as Rhodes s’n, al is Rhodes s’n ewe goed gefundeer en meer relevant vir die Suid-Afrikaanse konteks. 

Volgens Palmer is daar geen rede waarom ranglyste in die huidige tydsgewrig van globalisering ’n noodsaaklikheid is nie. “Om ’n bietjie hoër teen die ranglys op te beweeg gee die universiteit ’n bemarkingsgeleentheid, iets om in die koerante te verskyn, iets vir bestuur om hulleself op die skouer oor te klop; maar dit het baie min, indien enigiets, te doen met die kwaliteit van onderrig, betekenisvolheid van navorsing, en sosiale impak binne die konteks waarbinne die universiteit funksioneer.”

Hy sê ’n Suid-Afrikaanse universiteit word nie regtig “beter” omdat dit van 450 tot 400 op ’n ranglys beweeg nie. Dit bring die universiteit ook nie regtig nader daaraan om te verstaan wat “beter” sou beteken binne die konteks waarin dit funksioneer, en hoe dit in daardie konteks “beter” sou kon word nie. “Dit is ’n duur en gesofistikeerder speletjie wat baie ver verwyder is van dit wat gewone dosente en navorsers daagliks doen, en wat hulle en studente werklik nodig het om suksesvol te wees,” sê hy.

Die lyste is volgens hom nie juis betroubaar óf relevant nie. Palmer sê dit is eintlik ongelooflik dat instellings wat hulle bemoei met die uitbou van wetenskaplike kennis hulself aan sulke arbitrêre en onwetenskaplike prosesse onderwerp.

“Die ranglyste is ’n gejaag na wind wat van universiteite vra om dinge te doen en dinge te beloon wat nie noodwendig die dinge is wat die beste gaan bydra tot die uitbou en uiteindelike volhoubaarheid van akademiese opleiding, navorsing en ’n intellektuele kultuur in Suid-Afrika nie.”

Die standpunt dat universiteit nie die noodsaak om op internasionale ranglere te presteer kan ignoreer nie, is volgens Palmer nie ’n geldige argument nie. Hy sê die “markfundamentalistiese ideologie” van mededingende globalisering is sleg vir universiteite. “Natuurlik moet die universiteitswese internasionaliseer, maar dit hoef nie op hierdie manier te wees nie.”

Volgens Rhodes Universiteit dui die rangordestelsels daarop dat universiteite al hoe meer volgens ’n markgebaseerde ideologie funksioneer sonder om hulle verantwoordelikheid as openbare instellings te erken en na te kom.

Om ’n openbare instelling te wees behels volgens RU dat daar soms besluite geneem moet word wat hulle teen sulke ranglyste sal posisioneer.

RU sê in hulle verklaring namate hoëprofiel universiteite regoor die wêreld hulle kommer oor die neo-koloniale aard van rangordestelsels begin uitspreek, dit vir Rhodes-Universiteit selfs belangriker word om in die openbaar standpunt in te neem teen ranglysposisies en hoe dit met die universiteit se transformasie-agenda strook.

Lees ook op LitNet Akademies:

Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 1: Die opkoms en beoordeling van die verskynsel van internasionale universiteitsranglere

Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 2: Die Suid-Afrikaanse geval

Lees ook (Universiteitseminaar | University Seminar):

Universiteitseminaar: Yale onttrek van ’n ranglys

Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"

  • 2

Kommentaar

  • Ek stem.
    Destyds in die tagtigs was die wedywering hier in die Kaap fel tussen die twee grootste bestuurskole, USB en UCT se Graduate School of Business.
    Daar was en is waarskynlik steeds 'n lang lys van organisasies wat gewillig is om bestuurskole wêreldwyd (teen 'n prys?) in een of ander rangorde te plaas.
    Ek onthou hoe beide die USB en GSB se akkreditasie 'onverbeterlik' was, volgens hul eie promosiemateriaal.
    Tog het die twee instellings in verskeie opsigte hemelsbreed verskil.
    Dis soos op skool waar almal blykbaar 'n 'wenner' is en 'n beker kry vir die beste, naasbeste, beste beginner, deelname, deursettingsvermoë, hard probeer en, wel net vir opdaag.

    Die 'wenner-ding' lyk dit my het veral 'n houvas in die Amerikaanse psige.
    Dit gaan gepaard met die enorme begrotings vir bemarking en blootstelling aan die massas.
    As jy nie 'n 'presence' het nie, is jy nie belangrik nie.
    Hier waar ek nou is, is die media koning.
    Betaalkanale en streeks-TV bemark aktief tersiëre instellings en almal, 'is the best'.
    Om in te kom by die sg Ivy League-universiteite is omtrent onbekostigbaar en is persoonlike kontakte na bewering van groter belang.
    In 2019 is verskeie celebs skuldig bevind aan omkopery om hul kinders in Yale, Uni of Texas en ander vooraansstaande kolleges te kry.
    Die wedywering is aanhoudend tussen skole en almal maak aanspraak op hul eie besonderse kenmerke.
    Om in te kom by die beste skole/kolleges, moet jou jaar punte uitermate goed wees en moet jy 'n strawwe ACT- en SAT-toets slaag.
    Die sg 'college loans' is 'n groot twispunt hier.
    Dis nie ongewoon vir graduandi om tot in hul middeljare nog steeds studielenings af te betaal nie.
    Met stygende rentekoerse is dit onbekostigbaar vir Jan alleman.
    Kwalifikasies het 'n kommoditeit geword.
    In die verlede (en soms nog steeds) as jou (baie) geld groen is, is jou kanse beter om êrens by 'n vooraanstaande skool 'n plek te kry.
    Die stelsel is ver van egalitristies en nie oop vir almal nie, maar begunstig die rykes en die slimmes.
    Ek lees op die oomblik Brian Berry se 'Why Social Justice Matters' waarin hy hierdie 'systemic injustice' as self-propagerend beskryf en sê dat dit amper onmoontlik is vir 'outsiders' om toegang daartoe te kry.

  • Barend van der Merwe

    Ja, wat 'n klug en klomp waansin. Welgedaan Rhodes. Mag andere se oë tog ook eendag oopgaan. Nie dat ek veel hoop koester nie. Dit is soos die voortdurende futiele pleidooie vir moedertale in skole wat maar net eenvoudig geignoreer word deur so baie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top