Die tragiese as miskende verstaanskategorie: ’n naby blik op twee politieke denkmodusse

  • 0

Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 24 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.

1 Inleiding

Hierdie opstel is ’n verfyning van die referaat wat ek by die Etienne van Heerden Veldsoirée 2026 in Nxuba gelewer het. Die politieke denkmodusse waaroor ek gaan praat, is teenstrydige of opponerende denkmodusse wat mekaar in die geskiedenis opgevolg het.

Laat ons eerstens kyk na wat met “denkmodus” bedoel word. Met dié term verwys ek na ’n manier of styl van dink, handel en oordeel. Die feit dat dit ’n modus is, beteken dat aksies wat deur die term getipeer word, gedeelde kenmerke het. ’n Tweede belangrike eienskap van denkmodusse (ek benoem hul verderaan) is dat dit onbewustelik funksioneer. Die onbewuste is ’n kardinale definiërende eienskap van die menslike psige sedert die tyd van die vaders van die moderne sielkunde, Sigmund Freud (1856–1939) en Carl Jung (1875–1961). Die aanloop tot hierdie basisbegrip (onderbewuste/onbewuste) van die psige kan in die geskiedenis deur eeue van die mensdom reeds gevind word. Voorlopers van die begrippe onbewustelik en onderbewuste is onder meer die historiese opvatting dat goeie of slegte magte die mens kan beset of inspireer, en hier dink ek aan gode of demone. Die insiggewendste voorbeeld is die begrip van die daimon (’n onverklaarbare, bomenslike inspirasie) waaroor Sokrates gefilosofeer het. Die eienskap om hier op te let, is dat dit kragte is wat “van agter” of buite die mens op sy of haar daad inwerk wat ter sprake is. Die begrip onbewustelik is vir my integraal aan hoe die denkmodusse wat ek wil bespreek, funksioneer. Allereers ter sprake is die tragiese denkmodus, en tweedens die denkmodus van menslike bevryding. Dit is veral die skrywer JW Goethe (1749–1832) na wie hierdie onderskeid teruggevoer word, maar die Duitse filosoof Hans Blumenberg (1920–1996) het Goethe se onderskeid verder uitgewerk.

2 Twee verskillende soorte “onderbewussyn”

Ons leef nou al vir nagenoeg twee eeue lank in wat as die “tyd van bevryding” gesien kan word. Dit is ’n tyd waarin die strewe na bevryding om verskillende redes die vernaamste lotsbeskikker van die mens op ’n onderbewuste vlak geword het. (Ek gebruik onderbewuste en onbewuste as min of meer sinonieme, wat dit nie gewoonlik is nie.) Die onderbewuste van die mens het van ’n modus van noodlotsbeskikking oorgegaan na ’n mentaliteit waarin die mens sigself as in diens van die strewe na vryheid sien. Twee lotsbeskikkers het mekaar dus vervang. Die teenstelling hier berus op ’n spilpunt wat gedraai het: Die mens het agtergekom dat hy die noodlot kan beïnvloed. Die vorige tydperk, waarin die tragiese die septer geswaai het, was ’n langer tydperk as die een waarin ons nou is. Dit strek vanaf die primordiale, na die antieke, tot by die voormoderne. En elke nou en dan is die trekkrag, die versugting, weer daar om terug te keer na ’n tyd van noodlotsbeskikking, wat in die mens se psige baie sterker gewortel is as die meer onlangse vryheidsraamwerk. Die tyd waarin ons tans is, kan ook beskryf word as die tyd van die politieke. Daarmee bedoel ek die mens het politieke regte verkry of kan aanspraak daarop maak. Voor hierdie tyd – van die antieke tot die vroegmoderne – was dit die tragiese raamwerk wat die mens gestuur het.

Die tragiese is ’n tyd waarin noodlotsfaktore regeer. Jy is uitgelewer aan die gode, aan die konings, of aan die natuur. Die tyd van bevryding, daarenteen, is ’n tyd waarin die mens meer ruimte het om te woeker. Dit is ook ’n tyd van stryd, maar geen oorgawe is daarby betrokke nie. Daar is steeds oorloë, maar dit is oorloë van bevryding. Daar is steeds die groter Natuur, maar dit is ’n natuur wat beheer kan word. Daar is steeds gode, maar hulle is nou nie meer aan die kant van die konings nie, maar aan die kant van die mense wat voorheen deur die gode onderdruk was. Voorbeeld uit die Outyd: Cassandra, die waarsegster, wat die noodlot van die gode in Euripides se dramas tot uitvoering gebring het, word nou vervang deur Bonhoeffer, of Martin Luther King, wat god-as-deel-van-die-mens – in die vorm van gewete – wil verwesenlik en op ewe dringende en gedrae manier hul beroep op hierdie nuwe inkarnasies van goddelikheid. Die oorgang in Europa het min of meer gekom met die Europese revolusies, beginnende by die Franse Revolusie van 1789. Die ironie is dat die groot uitdraer van die Revolusie en die beginsels daarvan, Napoleon Bonaparte, op slinkse wyse politieke bevryding as dekmantel gebruik het om opnuut die ou noodlotsbedeling van die tragiese te hervestig. Napoleon het homself as ‘n pous, indien nie ‘n god nie, gesien. Ek het hier bo verwys na hoe maklik die mens kan terugval in ’n ouer, meer gevestigde psigiese modus. Die mens val baie maklik terug in die noodlotsbedeling. Maar dit het gelukkig onder Napoleon betreklik kort geduur. Die oorgang na die politieke vanuit die tragiese het in Europa in volle swang gekom ná die Napoleontiese oorloë. Die einde van die Napoleontiese tydperk was bykans ’n halfeeu voordat Marx Das Kapital gepubliseer het en ’n eeu voor die aanvang van die Kritiese Teorie in filosofie. Hierdie is denkstrominge wat die bevryding van die mens – met goeie reg – bo álles geplaas het. Goethe was een van die eerstes wat hierdie metaverskuiwing in die menslike gees klinkend bewoord het. Ek gaan verderaan, aan die hand van twee gedigte, illustreer wat die verskuiwing behels. Sodoende wil ek die botsing tussen die twee genoemde kategorieë/denkmodusse illustreer aan die hand van ’n bepaalde veld van menslike ervaring, naamlik geslagsinteraksie. Dit is ’n veld waarmee die mens daagliks te doen kry en is emblematies van die volle veld van menslike ervaring.

Ná die verwoesting van die noodlottige Napoleontiese oorloë – wat die Europese mens vir homself aanvanklik verswyg het juis weens sy onderdanigheid aan die kategorie van die tragiese – was dit oplaas duidelik dat daar geen kompromie aangegaan kan word met die allernoodsaaklikheid van die strewe na menslike bevryding nie. Die filosoof Theodor Adorno (1903–1969) het die afsweer van die noodlot op sy skerpste verwoord toe hy gevra het of die mens nog gedigte kan skryf na die Jode-uitwissing. (Dit is in die letterkunde waar die spanning tussen bevryding en die tragiese ’n groot tematiese veld is.) En juis daardie gewaarwording, van geen kompromie nie, is die rede waarom Goethe sy laaste asem op sy sterfbed gebruik het om te waarsku teen wat hy gesien het as ’n gevaarlike verskraling van die nuwe redding (bevryding). Goethe se begrip van die moderne tyd – wat in sy volheid nou gevolg het op die Napoleontiese tyd – was dat die tragiese en die politieke eerder ’n balans moet aangaan, eerder as dat die tragiese heeltemal van die tafel gevee moet word. Hy was van mening dat die politieke as nuwe lotsbeskikker nié die volledige veld van die morele kan dek nie. Die tragiese is die kategorie van die gees wat die onverklaarbare altyd gedek het. In die kategorie van bevryding, daarenteen, moet daar uiteindelik liefs niks oorbly wat onverklaarbaar is nie. Wat nie verklaar kan word nie, bedreig die vryheid van die mens. Nie om dowe neute nie was die onverklaarbare die domein waaroor die gode voorheen geheers het. Nou, in die tyd van bevryding-bo-alles, word die eksistensie-in-sy-volheid ingetrek in ’n binêre stryd – ’n alles-of-niks-stryd. Niks is meer ooglopend in die tyd waarin die wêreld tans verkeer nie. Die bevrydingsmodus loop uiteindelik uit op hierdie stryd. En in hierdie stryd is daar net twee soorte mense: skuldiges en onskuldiges. In ’n binêre stryd gaan ’n magdom alternatiewe moontlikhede om die wêreld op bykomende maniere te begryp verlore. Dit is waaroor Goethe bekommerd was toe hy gewaarsku het dat daar eerder ’n balans met die nou onwelkome oergees, die tragiese, moet kom. Die noodsaak van bevryding self is nie deur Goethe bevraagteken nie.

3 Die betwisbaarheid van vrye wil

Dit sal goed wees as die leser in gedagte hou dat die artikel oor ’n skering en inslag in die emosionele gees van die mens handel, nie oor die nugter gebied van bewustelike skuiwe en redelikheid nie. Daar is steeds in my betoog die aanname dat die onbewuste (onderbewuste) die mens se dade radikaal beïnvloed.

In die agtergrond van die oorgang vanuit die noodlotsgees na die bevrydingsgees is daar die verhaal van die mens se vrye wil. Vrye wil al dan nie is ’n belangrike speler op hierdie verhoog. Daar hang toenemend groot vraagtekens oor vrye wil, en daarmee saam skuld-en-onskuld as die enigste of grootste hefboom vir bevryding. Die Amerikaanse skrywer George Saunders het so pas die roman Vigil die lig laat sien waarin hy die bestaan van vrye wil vir die mens radikaal betwyfel. Saunders se boek redeneer op moedswillige en uiters humoristiese manier dat die individu die netto produk is van kragte groter as die self – net soos in die tyd van die tragiese – en dus is die mens radikaal onvry. Om hierdie rede is dit dan sinloos om hom verantwoordelik te hou vir sy wandade. (Hou in gedagte dat dit ‘n sintetiese, retoriese argument is wat Saunders voer.)

Die “vigil” in die titel is niks anders as die doodswaak van vrye wil nie. Elke individu is ’n inevitable occurrence, redeneer Saunders se verteller. En Saunders hanteer hierdie toedrag van sake in terme van tragiek se keersy, naamlik ’n kosmiese grap. Dink aan die onmag van die mens versus die mag van die gode in ’n Euripides-toneelstuk. Saunders is nie ver daarvandaan nie. Ek dink nie Saunders glo regtig ons moet wegdoen met die begrip vrye wil, wat ten grondslag van ons begrip van regverdigheid lê nie, maar hy is besig om die politieke, wat voortspruit uit vrye wil, as die énigste lotsbeskikker van menslike moontlikhede – as die hoogste kategorie van die bestaan – op radikale betogende manier te bevraagteken. In dieselfde tyd as die “Gaza flotillas”. Hier is ’n verskuiwing ten diepste in die menslike gees aan die gang. En dit kom nie om dowe neute op die toppunt van die bevrydingstrewe in die 21ste eeu nie. Die pendule wil swaai. En so ’n swaai sal nie die nuwe oplossing wees nie. Die oplossing is die balans waarvoor Goethe gepleit het.

Dit is insiggewend dat die tragiese as lotsbeskikker nie die rol van die politieke as medelotsbeskikker ontken nie. Dit is die politieke kategorie van denke wat die rol van die tragiese as medebepaler van die menslike lot meestal ontken.

4 Twee gedigte weeg op teen mekaar

Ek wil nou na die twee gedigte kyk. Eers ’n ongetitelde gedig van Antjie Krog uit die bundel Gedigte 1889–1995 (Hond, 1995):

ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat vingers in die lug
      liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
      in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my tiete ’n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou.

Min gedigte verwoord so eenvoudig en met soveel resonansie die tema van die bevryding van die moderne vrou. Opvallend is die historiese verwysings wat subtiel in die gedig ingewerk is. Die gedig beeld die spreker uit waar sy naak of bostukloos op ’n rots langs die see by die kusdorpie Paternoster staan en haar bevryde seksualiteit by haarself en vír haarself vier.

’n Historiese stryd teen patriargie blyk veral uit wat ágter die reëls as makrogeskiedenis opgeroep word. Die rots in dieselfde reël as “Paternoster” herinner aan “die rots” waarop die Kerk van die “Onse Vader” gebou is, naamlik die dissipel Petrus (Matt 16:16–19). Die aandag word hier implisiet gevestig op die historiese rol van die godsdiens in die verdrukking van vroue. Die rots is ’n simbool van vaderlikheid en manlikheid, maar word in die gedig in effek vervroulik tot ’n “moer” (ma) van ’n rots (reël 1), as vorm van ontkenning van die patriargie. En die sentraal geplaaste “ek is / ek is” eggo op ironiese manier een van die eerste name van die partriargale God, waaraan Hy Homself in die Ou Testament aan Moses bekendgemaak het: Ek is. Dis ’n retories-beeldende, skitterende gedig met die tema politiek-as-bevryding. Die historiese veld wat die digter met haar kriptiese verwysings dek, is asemrowend.

Nou die tweede gedig, van die Amerikaanse Nobelpryswenner Louise Glück. Dit wil ook die ervaring van onvryheid van die vrou onder die aandag bring, maar werk in ’n gans ander gees. Dit beeld ’n man-vrou-verhouding in ’n ouwêreldse gemeenskap uit, een met tradisionele waardes. Onthou die tradisionele is die kultuurvloer van oorgelewerde magsverhoudinge. Die gedig is egter vir die moderne leser geskryf en is in A village life (Farrar, Straus and Giroux, 2010) gepubliseer.

In the Plaza

For two weeks he’s been watching the same girl,
someone he sees in the plaza. In her twenties maybe,
drinking coffee in the afternoon, the little dark head
bent over a magazine.
He watches her from across the square, pretending
to be buying something, cigarettes, maybe a bouquet of flowers.

Because she doesn’t know it exists,
her power is very great now, fused to the needs of his imagination.
He is her prisoner. She says the words he gives her,
in a voice he imagines, low-pitched and soft,
a voice from the south as the dark hair must be from the south.

Soon she will recognise him, then begin to expect him.
And then perhaps every day her hair will be freshly washed,
she will gaze outwardly across the plaza before looking down.
And after that they will become lovers.

But he hopes this will not happen immediately
since whatever power she now exerts over his body, over his emotions,
she will have no power once she commits herself –

she will withdraw into that private world of feeling
women enter when they love. And living there, she will become
like a person who casts no shadow, who is not present in the world;
in that sense, so little use to him
it hardly matters if she lives or dies.

In dié gedig kom die oneweredige magsverdeling tussen man en vrou ter sprake. Die gedig is tragies in die sin dat nie een van die twee mense in die gedig die situasie kan verander of beïnvloed nie. In Krog se gedig kan die vrou die situasie radikaal beïnvloed, en sy doen dit ook, as enigste personasie wat in die gedig benodig word. Die jongman by Glück word nie juis as patriargaal uitgebeeld nie, maar hy is deel van ’n meedoënlose patriargale bestel. Desnieteenstaande ervaar hy homself aanvanklik met groot ootmoedigheid as ondergeskik aan die mag van die jong vrou. Daarna, wanneer die veranderde situasie haar van haar mag ontneem, word hy uitgebeeld as tragies afwesig in haar lewe. Terwyl sy, weens die sosiale inperkings van patriargie, ’n slaaf word van die situasie wat hy in haar lewe ingebring het. Natuurlik is ’n deel van die moderne wêreld in so ’n mate bevry wat geslagspolitiek betref dat vroue en mans dikwels hulle rolle vryelik kies, maar dit is ’n betreklik klein deel van die wêreldbevolking. Mens kan met reg reken dat die geslagsrevolusie nog maar aan die begin van sy begin staan, nie naby sy einde nie. Ons kan dus maar onsself gereed maak vir ’n regmatige verdere stryd wat op hande is. Dink mens aan Suid-Afrika, waar die meeste kinders deur enkelma’s grootgemaak word, en waar mans vry rondloop en meer enkelma’s by die dag veroorsaak, dan kry hierdie gedig van Glück nogal ’n bepaalde tersaaklikheid. (Ook Krog se gedig!) Die man in die gedig is van meet af aan bewus van ’n mag wat beide hul lewens gaan bepaal en wat groter is as hulle albei. Dit is een van die kragtoere van die gedig dat die “stem” van die gedig, wat die blikpunt van ’n alwetende verteller is, om die beurt deur die vrou en die man gefokaliseer word en dus aan albei die karakters behoort. Wat ook al die twee karakters in sy greep het, word deur albei raakgesien. Daar word nie aan die leser vertel wat of wie hierdie mag is nie; dit kom uit die ryk van die skaduwees. Dit is ’n mag wat herinner aan die mag van ’n godheid in ’n drama deur Aeschylus of Sophokles. Die mag dui ’n area van invloed op die mens se bestaan aan wat noodlotsbestemmend is.

Die gedig impliseer dat die oplossing is om albei partye as slagoffers te sien. Dit is net hier waar ’n beroep op ’n ou ruimte, die tragiese, nuwe moontlikhede bied. Die vraag bly egter altyd staan of daar werklik ’n tasbare oplossing vanuit tragiese situasies moontlik is. Ten minste word ’n nuwe area vir die problematiek aangewys, en dit lê buite politieke stryd. In terme van die rede sou ’n mens kon sê ’n botsing het ontstaan tussen primordiale geheue en moderne mensbehoeftes. In die primordiale geheue, waaruit hedendaagse seksuele gedrag steeds baie van sy impulse haal, gaan dit oor die oorlewing van ’n spesie. In die gedig word die primordiale verteenwoordig deur die tradisionele man, wat vermoedelik geprogrammeer is om van vrou na vrou te beweeg en nasate te verwek. In die nuwe behoeftes, waarvan die vrou die vernaamste draer is, het die individu sentrale staanplek. Die vrou is die beskermheer van ’n nuwe bedeling, maar sy het ongelukkig steeds die man nodig om die bedeling tot stand te bring. Dit is die verskil met bevryding as lotsbeskikker, waar jy nie die verdrukker se dilemma hoef te verstaan nie; jy moet dit net uitvee. Na die verlies van sy dilemma sal die verloorder self by die nuwe moontlikhede aanpas.

Die moontlike oplossing waarop Glück se gedig sinspeel, vra erkenning van ’n wyer historiese doek as net die doek van politieke bevryding (wat oplaas wel bevryding sal insluit, maar in wisselwerking met die tragiese, en nie met bevryding as die alleenheersende beginsel nie). Die terugkeer na ’n inkorporering van die tragiese as kategorie, as denkmodus, impliseer dat antagoniste mekaar ook ten dele as slagoffers kan sien, en ’n bewustheid daarvan dat mense se situasies, soos Saunders dit hiperbolies uitbeeld, minstens ten dele, “inevitable” (onvermydelik) is.

 5 Slotopmerkings

Die tragiese as kategorie maak ’n doek moontlik waarin die helfte van die moontlikhede verhul staan. Dit beteken nie mínder moontlikhede nie, maar méér moontlikhede. Misterie is ’n groter uitnodiging tot transgressie as wat politieke stryd ooit kan wees. En tog bly laasgenoemde steeds ononderhandelbaar. Dalk is die soeke na ’n balans tussen die tragiese en bevryding een van die verantwoordelikste dinge wat die mens van vandag kan aandurf. Dalk is so ’n soeke die beste ruimte waarin die wêreldwye geraas van morele onoplosbaarhede tot ’n meer durende rustigheid kan kom. Die tragiese gee erkenning aan die bestaan van faktore waaroor die mens nie die onmiddellike mag beskik om dit te verander nie. Bevryding benadruk die noodsaak dat onvrye situasies desnieteenstaande moet verander.

Kyk en lees ook:

Izak de Vries: Why I did not like Nolan’s version of The Odyssey

Izak de Vries:  Tiago Guedes’s Aquí is a masterclass in changing one art form into another

Rory Riordan: The paradox of the biographer

Burgert A Senekal: Die donker kant van die taal: Afrikaanse doods- en swartmetaal

Bernard Odendaal: Die mediosfeer

Luna Paige: Om die sterflikheid van blomme en mense

Christof Berg: Die klei van ons binnekant

Dietloff van der Berg: Transformasies: Is Rumi ’n mistikus of “social media crack cocaine”?

Andries Gouws: Dominion: ’n Boek wat sê waar en wat ons is, hoe ons hier gekom het

Lees die ander bydraes hier:

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Spier Arts and Culture Trust

LitNet Akademies

Van Ewijck Stigting 

Carel van der Merwe

Trinette Rudman Kirkwood

Ton Vosloo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top