Dominion: ’n Boek wat sê waar en wat ons is, hoe ons hier gekom het

  • 0

Titel: Dominion: How the Christian Revolution remade the world
Skrywer: Tom Holland
Uitgewer: BasicBooks
ISBN: 9780465093502

Ek is mal oor boeke wat ’n baie breë perspektief op dinge gee, sodat ek ’n oorsigtelike beeld kry van hoe klein stukkies van die legkaart in die groter prentjie pas, veral wanneer die beeld in stryd is met my vooropgestelde idees. Die geskiedenis van die heelal en van die aarde; die mens se evolusionêre stamboom; die geskiedenis van die Weste en die Ooste; ons eietydse geskiedenis – dit alles interesseer my. Boeke wat vir ons sê waar en wat ons is, en hoe ons hier gekom het. En waar wat goed is en wat sleg is aan ons samelewing, vandaan kom.

Die geskiedskrywer Tom Holland se Dominion: How the Christian Revolution remade the world pas dus so reg in my kraal. (Godsdiens per se interesseer my maar matig, so dit is nie die rede waarom ek dit lees nie.) Maar omdat dit so ambisieus is – of selfs oorambisieus – is dit onvermydelik dat sy bevindinge kontroversieel sal wees. “History is just one damn thing after another” (oorspronklike bron onseker). In elk geval is enige stuk geskiedskrywing altyd selektief en tendensieus in hoe dit hierdie “damn things” in ’n samehangende relaas saamsnoer, met die gevolg dat geskiedskrywing altyd kontroversieel is.

Holland vertel dat hy as kind eers gefassineer was deur dinosourusse, veral die “apex predators” onder hulle, en vervolgens deur hulle eweknieë onder die leiers in die Klassieke oudheid – mense soos Leonidas en Julius Caesar. Naas die charisma van sulke helde en die Grieks-Romeinse gode het die Christelike God en die Christendom vir hom vaal en puriteins gelyk. In hulle vryheid, hedonisme, ydelheid, selfsug en wreedheid, sê hy, het hierdie helde en gode uit die oudheid vir hom die allure van rocksterre gehad.

Later dink hy à la Gibbon dat moderniteit ontstaan het toe Klassieke waardes wat lank vergete was, herontdek is en die plek ingeneem het van Christelike waardes.

In die verlengde van hierdie kinderlike voorkeure het hy dan ook – na enkele histories gesitueerde vampierromans! – die skrywer geword van verskeie boeke oor die Griekse en Romeinse geskiedenis, wat meervoudig bekroon is.

Geleidelik kom hy tot die besef dat hy die Grieke en Romeine se lewensuitkyk eintlik geheel vreemd en afstootlik vind. Hoe kan die een miljoen dooies en een miljoen tot slaaf gemaaktes van Julius Caesar se krygstog teen Gallië as iets groots gevier word? So ook is Leonidas se Sparta, waarin swak kinders doodgemaak is, allermins iets om te bewonder. Dat ’n Romeinse paterfamilias straffeloos enige seksuele handeling wat hom welgeval met enige van sy slawe kon uitvoer, is vir ons vandag weersinwekkend. Holland vind “nie net die uiterste gevoelloosheid [skokkend] nie, maar die diepgewortelde oortuiging dat die armes of swakkes geen intrinsieke waarde het nie” (semi-aanhaling uit Holland in New Statesman-stuk)

Holland kom dus tot die gevolgtrekking dat hy en die meeste ander moderne Westerlinge, ook dié wat, soos hy, ongelowig is, moet aanvaar dat hulle “morele en etiese waardes ... hoegenaamd nie Grieks of Romeins is nie, maar volledig [en nadruklik] Christelik”.

Die tese van sy boek is dan ook die volgende: Ons moderne Westerse waardes, ook dié wat deur sekulêre of ongelowige mense gedeel word, is deur en deur Christelik van aard en oorsprong. Om hierdie tese te ondersteun neem hy ’n groot aantal momente in die geskiedenis van die Christendom in oënskou wat elk hulle spore in ons moderne waardes en wêreldbeskouing gelaat het in so ’n mate dat ook ongelowiges hulle vandag as vanselfsprekend aanhang.

Holland konstrueer ’n geskiedenis van die Weste waarin veral gelet word op die ontstaan en die permutasies van die Christendom, om ’n wydverbreide visie op die geskiedenis van die Westerse kultuur te bestry – een wat hy self vroeër aangehang het. Hy argumenteer dat die volgende stel opvattings, saam en afsonderlik, verkeerd is:

  1. Onder die antieke Grieke en Romeine het ’n goue periode van rasionele denke geheers.
  2. Die Christendom het in ’n donker periode – die “donker Middeleeue” – ontstaan. Hierdie periode is gekenmerk deur dogmatisme, bygeloof, dodelike oorloë in die naam van ortodoksie tussen verskillende takke van die Christendom; inkwisisies; die verbranding van ketters, hekse en wetenskaplikes – en van boeke.
  3. Terselfdertyd het die Christendom gruwelike praktyke soos slawerny, kolonialisme, seksisme en homofobie gepreek of geregverdig en seksualiteit in die algemeen verdag gemaak.
  4. Moderne waardes het ontstaan toe Klassieke waardes wat lank vergete was, herontdek is en die plek ingeneem het van Christelike waardes.
  5. Danksy die Verligting en die wetenskaplike revolusie van die 18de eeu is die opvattings en waardes van die Christendom aan rasionele, antigodsdienstige kritiek onderwerp. Danksy hierdie lofwaardige kulturele omwenteling het ons moderne, sekulêre Westerse samelewing ontstaan. Sedertdien geniet ons geloofsvryheid, insluitend die vryheid om ongelowig te wees; die vryheid om enige oorgelewerde denkbeelde te kritiseer; die gelykheid van man en vrou; en erken ons universeel geldige menseregte soos vervat in die VN se Handves van Menseregte. Soos die breuk met die Christelike verlede hom verder voltrek, sal ons samelewing steeds vryer en mensliker word.

Volgens Holland het ons al hierdie Westerse waardes nie te danke aan eksterne kritiek op die Christendom nie, maar aan die Christendom self. Daar was niks analoogs aan ons moderne waardes by die Grieke en Romeine nie. Hierdie waardes is ewe min die produk van die rasionele metodes van die filosofie of wetenskap.

Die onversoenbaarheid tussen ons moderne waardes en dié van die Klassieke oudheid begin by die radikaal veranderde godsbegrip van die Christelike geloof. Ons is so gewoond aan die idee van ’n gekruisigde God dat dit vir ons moeilik is om te besef hoe totaal nuut en weersinwekkend hierdie idee was – die aanbidding van ’n lydende God wat die vernederende teregstelling kry van ’n slaaf of misdadiger. Hoe reglynig teenoorgesteld was dit aan die waardes en die idees oor die goddelike van Romeine en Grieke – by hulle was “[d]ivinity ... for the very greatest of the great: for victors, and heroes, and kings” (xviii).

Holland stel voor dat Christelike waardes soos nederigheid, barmhartigheid, gelykheid en vergewensgesindheid fundamenteel verskil van die waardes van die Grieke en Romeine, wat meer gefokus was op mag, eer, en hiërargie. Ook die versorging van die armes, swakkes en siekes as morele plig was vreemd aan die Grieke en Romeine.

Terwyl die Romeine en Grieke trots gesien het as ’n deug, en mag as iets wat nastrewenswaardig is, het die Christelike waardes van nederigheid en selfopoffering, veral gesimboliseer deur die kruisiging van Jesus, ’n radikale omkering van daardie waardes voorgestel. Die idee van krag in swakheid en eer in vernedering was vreemd aan die Griekse en Romeinse denke. Die idee dat jy jou vyande moet liefhê en vergewe, iets wat sentraal staan in Jesus se leer, was eweneens vreemd aan die kultuur van die Grieke en Romeine, waarin eer ten alle koste gehandhaaf moes word en vergifnis nie as ’n deug gesien is nie.

In die Christendom het elke individu intrinsieke waarde omdat elke mens na die beeld van God geskape is. Dit kontrasteer met die Griekse en Romeinse kulture, waar die waarde wat aan jou toegeken is, afgehang het van jou status of mag.

Holland gee ’n sentrale plaas aan Paulus se woorde in Galásiërs 3 vers 28: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.” Die Christendom het die idee dat alle mense gelyk is voor God gevestig, ongeag hul status, ras of geslag. Dit het die basis gelê vir die Westerse strewe na menseregte en universele geregtigheid, in teenstelling met die slawerny en uitsluiting wat in die antieke Griekse en Romeinse samelewings algemeen was.

Die groot episodes van kritiek ten opsigte waarvan ons vandag nie meer dink en handel soos premoderne, pre-Verligting en voorwetenskaplike Christene nie, het volgens Holland nie van buite die Christendom gekom nie. Inteendeel: Hulle sentrale rolspelers was Christene, wat hulle beroep het op tekste, waardes en sentimente wat self onteenseglik Christelik was.

Holland sê dit nie eksplisiet nie, maar uit sy relaas kom die volgende beeld na vore: In die loop van die geskiedenis het omtrent alle samelewings dieselfde of soortgelyke gruwels gepleeg as dié wat Christene gepleeg het – én van ’n religieuse regverdiging voorsien het: slawerny, kruistogte, verowerings, rassisme, apartheid, seksisme. Die opkoms van die Christendom het dus nie outomaties en onmiddellik daartoe gelei dat sulke gruwels nie deur Christene gepleeg is nie.

Waar die Christendom hom onderskei het, was in die feit dat hierdie gruwels gekritiseer is deur mense wat self Christene was, en meer nog: met ’n beroep op waardes, tekste en simbole wat deur en deur Christelik was. In die mate waarin sulke gruwels in Christelike samelewings verdwyn het of verminder het, dank ons dit aan eksplisiet Christelike kritieke deur Christene, gerig aan hulle mede-Christene. Opmerklik is die idee – miskien korrek – dat dit nie vreemd is dat dit Christelike samelewings so lank – tot 2 000 jaar – kon neem voordat praktyke algemeen onaanvaarbaar geword het wat terugskouend so absoluut onversoenbaar is met die basiese uitgangspunte van die Christendom nie.

So het die felste kritiek op die Spaanse barbaarshede in Suid-Amerika gekom van die Dominikaan Diego de las Casas, wat dit in uitdruklik Christelike terme geformuleer het. In die grootste deel van die wêreldgeskiedenis is daarenteen aanvaar dat veroweraars met die verowerdes mag doen waar hulle ook al sin in het. So het die Atheners byvoorbeeld hulle onderwerping van die Melianers aan laasgenoemde geregverdig: “Die sterkes doen wat hulle kan, en die swakkes moet hulle lyding gedwee aanvaar in die wete dat dit maar is hoe dinge is.”

Die groot voorvegters in die stryd teen slawerny was Kwakers en sekere ander Christene wat met hulle uitdruklik Christelike argumente geleidelik al hoe meer ander Christene oortuig het dat slawerny ’n euwel is. Voorheen en elders is slawerny konsekwent gesien as onwenslik wanneer dit met jou gebeur, maar die handel in slawe en besit van slawe was iets vanselfsprekends, en versoenbaar met ’n moreel hoogstaande lewe. Vir Aristoteles was dit selfs in die aard van sekere mense of groepe om slawe te wees. (Slawerny is eers laat in allerlei dele van die Arabiese wêreld verbied: Jemen en Saoedi-Arabië in 1962, Dubai in 1963, Oman in 1970, en Mauritanië in 1981.)

Vir Martin Luther King was die burgerregtebeweging wat hy gelei het, nie net polities van aard nie, maar eerder ’n morele en geestelike beweging wat diep gewortel was in die Christelike tradisie. Sy toesprake was deurspek met Bybelse aanhalings en simboliek; en ’n beroep op die spesifiek Christelike waardes wat ons hier bo genoem het, het absoluut sentraal gestaan in sy stryd teen segregasie: die inherente waardigheid en gelykheid van alle mense as kinders van God, ongeag hulle ras of groep; Jesus se opdrag om jou vyand lief te hê het meegebring dat die beweging geen geweld mag gebruik nie; King se pleidooi vir sosiale geregtigheid was diep gewortel in profetiese oproepe tot regverdigheid vir die onderdruktes en barmhartigheid vir die armes en gemarginaliseerdes. (Dit is tekenend vir Holland se onderbeklemtoning of miskenning van die kontinuïteit tussen die Christendom en die Jodedom dat hy nie stilstaan by King se veelvuldige gebruik van temas en tekste uit die Joodse Bybel – die sogenaamde Ou Testament – nie.)

Holland bespreek ook die oorgang van apartheid na demokrasie in Suid-Afrika as ’n voorbeeld van hoe ’n euwel wat eers Christelik geregverdig is, suksesvol met spesifiek Christelike argumente bestry is. “Dit was dieselfde geloof wat Afrikaners geïnspireer het om hulleself as ’n uitverkore volk te sien wat uiteindelik die doodsklok oor hulle baasskap gelui het” (487). As ’n volk wat deur ’n gelofte aan God verbind is, het hulle die reg gehad om die beloofde Kanaän van die swart heidene af te neem. Apartheid is teologies geregverdig, en dit was teologie wat dit veroordeel het – as “geheel onchristelik, boos en ketters” in die woorde van ’n Anglikaanse mosie waaragter die swart aartsbiskop van Kaapstad, Desmond Tutu, gesit het.

Ná die beëindiging van apartheid was Christelike idees van vergifnis en versoening sentraal tot die woorde en optrede van Nelson Mandela, en tot die instelling van die WVK onder leiding van Tutu, waarin daders bekentenisse afgelê het en slagoffers, of hulle nabestaandes, (dikwels) die daders vergewe het.

Dat die wêreld, en miskien veral niegelowige progressiewes, hierdie verwikkelings toegejuig het, wys in watter mate die gelowige sentrale spelers se waardes deur mense wat nie noodwendig Christene was nie, gedeel word:

Secularism owes its existence to the medieval papacy. Humanism derives ultimately from the claims made in the Bible that humans are made in God’s image. Even the principle of human rights derives from the claims made in Christian theology.

’n Ander manier waarop Holland die diep Christelike wortels van ons huidige waardes probeer aantoon, is deur in te gaan op die diep haat wat die Nazi-leiers vir die Christendom gevoel het. Dit het die weg help baan vir die Holocaust, wat vir mense met humanistiese waardes nog steeds die toonbeeld van boosheid is. Dit dui aan dat die waardes van humaniste nie ’n verwerping van Christelike waardes impliseer nie.

Holland is nie die eerste skrywer wat op die opvallende ooreenkomste tussen die Marxisme (en ander vorms van sosialisme en kommunisme) en die Christendom gewys nie, dus sal ek hier nie verder daarop ingaan nie. 

Evaluasie van Holland se tese en argument

Tom Holland se Dominion bied ’n boeiende argument dat die Weste se moderne sekulêre morele waardes hul oorsprong in die Christendom het. Maar hoe sterk is hierdie argument, en gee die boek werklik ’n akkurate beeld van die herkoms van ons morele waardes?

Om Holland se argument behoorlik te evalueer, moet ons eers sy sentrale tese duidelik identifiseer. Dit is egter nie eenvoudig nie. Holland se relaas bestaan uit historiese vinjette wat meesterlik vertel word, maar dit kan moeilik wees om die groter argument in die oog te hou. Die leser se taak om die kernargument te isoleer word bemoeilik deur die wye draaie wat Holland gooi in die Westerse geskiedenis van die afgelope millennia.

’n Voor die hand liggende manier om Holland se interpretasie van die Christelike invloed op moderne waardes te toets, sou wees om sy werk te vergelyk met ander verklarings van hoe ons by die huidige Westerse kultuur en sy morele waardes uitgekom het. Indien Holland sy werk as ’n akademiese tesis geskryf het, sou dit ’n verdediging teen mededingende interpretasies moes bevat. Van iemand wat, soos Holland, vir ’n breër publiek skryf, moet ’n mens dit egter nie verwag nie. Ander navorsers sal hierdie gesprek verder moet voer. Van alle alternatiewe interpretasies van hoe die Weste gekom het waar dit nou is, lyk Stephen Pinker s’n vir my die mees relevante. In Enlightenment now neem hy 75 uiteenlopende en veelseggende aanwysers van lewenskwaliteit waarvoor statistieke bestaan en wys hoe dramaties die wêreld vir elk van hulle verbeter het. Hierdie vooruitgang dank ons volgens hom aan die Verligting eerder as aan ons Christelike erfenis. Die Verligting het die gebruik van rede, wetenskap, en humanisme bevorder en so die basis gelê vir vooruitgang in menseregte, ekonomiese welvaart, en globale gesondheid, meen hy. Dit is nie onmoontlik dat Pinker se interpretasie met klein wysigings Holland se gevolgtrekking dat ons huidige Westerse waardes wesenlik Christelik van oorsprong is, sou kon akkommodeer nie, maar soos dit nou staan, soek hy alle goeie oorsake elders. Om hierdie twee sienings behoorlik te vergelyk sou ’n omvangryke studie vereis, maar dit sou beslis tot ’n beter oordeel oor die geldigheid van Holland se analise lei.

Dit is ook belangrik om te erken dat die Christendom oor die eeue baie invloede van buite opgeneem het, veral uit die Griekse filosofie. As moderne morele waardes hul oorsprong in die Christendom het, kan dit dus dui op ’n groter of kleiner invloed van Griekse denke. Holland erken hierdie invloede, maar skryf aan hulle ’n taamlik onbelangrike rol toe. Hy benoem dan die oorsprong van ons waardes uitsluitend met die term “Christelik”, wat tendensieus is.

Verder fokus Holland op die Christelike waardes wat tot in ons moderne sekulêre wêreld oorleef het, maar hy bespreek selde hoe die ontkoppeling van hierdie waardes van ander tradisionele Christelike idees hul aard verander het. Sonder die oorspronklike raamwerk van geloof, verlossing en goddelike gesag neem hierdie waardes ’n nuwe betekenis aan. Neem byvoorbeeld Jesus se samevatting van “die hele wet en die profete” in die dubbele gebod om God en jou naaste lief te hê (Matteus 22:37–40). In ’n ongelowige konteks verval die gebod om God lief te hê, wat die tweede gebod, van naasteliefde, noodwendig ’n heel ander status gee as wat dit in die Christendom het of gehad het.

Dieselfde herinterpretasie geld vir ander Christelike waardes soos gelykheid en die waardigheid van die individu, wat toegeskryf word aan die idee dat alle mense na God se beeld geskape is. Wanneer hierdie goddelike konteks verdwyn, verander die morele en konseptuele betekenis en regverdiging van gelykheid drasties. Holland fokus egter min op hierdie veranderinge en hoe die Christelike waardes deur sekularisasie getransformeer is.

In die ou Christelike moraliteit is die morele wet direk gekoppel aan ’n hiernamaals waar mense beloon of gestraf sal word. Moderne sekulêre Westerlinge wat hierdie Christelike waardes omarm, maar nie meer die idee van ’n hiernamaals nie, se morele wêreldbeskouing verander hierdeur radikaal. Die stok en wortel wat vroeër bo hierdie waardes gehang het, is nou weg.

Holland se argument sou verder baat by ’n erkenning van die nuwe waardes wat sedert die moderne era ontstaan het, wat die Christendom nie kan opeis nie. Een belangrike ontwikkeling is die invloed van Freud en die terapeutiese kultuur. Waar die gewete eens as ’n verteenwoordiger van ’n goddelike moraliteit beskou is, vervang Freud dit met die superego. Die stem van die superego is dikwels primitief, hardvogtig, en nie eintlik bevorderlik vir moreel goeie gedrag nie. Die terapeutiese wêreldbeskouing het gelei tot ’n fokus op selfontdekking en persoonlike geluk as die doelwitte van die individu, iets wat grootliks ontbreek in die Christelike tradisie.

Nog ’n nuutheid is die opkoms van konsekwensialisme, oftewel utilitarisme, wat beleid of handelinge beoordeel op hulle gevolge eerder as op hulle veronderstelde inherente morele waarde. Ekonomie as dissipline is utilitaristies van inslag. Dit is ’n serebrale, kwantitatiewe benadering waarin die rede, eerder as die hart, sentraal staan.

Selfs al word jy geïnspireer deur ’n gloeiende besorgdheid oor die welsyn van ander, moet jy die somme maak, letterlik of figuurlik, om te sien wat die voor- en nadele van elke beleidsopsie is. Alhoewel sulke berekeninge gewoonlik aanvaar dat mense gelyke waarde het, lei dit tot prioriteite wat baie verwyderd is van die waardes wat in die Evangelies en latere Christendom beklemtoon word.

  1. Voortgesette ekonomiese groei, wat sleurwerk teëgaan, en meer vrye tyd moontlik maak, asook beter onderwys, gesondheidsorg, ens.
  2. Dit vereis voortgesette vernuwing, die groei van wetenskaplike kennis, en steeds toenemende produktiwiteit.
  3. iii. Dit vereis ook ekonomiese nous sodat roekelose beleidsrigtings vermy kan word, bv die druk van meer geld, onnodige regulering, dom invoerheffings en prysbeheer.

Geen van die vetgedrukte begrippe in die bostaande lys was beskikbaar in Jesus se tyd of, tot onlangs, in die verdere geskiedenis van die Christendom nie. Tot so twee eeue gelede was ekonomiese groei afwesig of sporadies, maar daarna het die tempo van hierdie vooruitgang steeds vinniger geword. Die dramatiese en voortdurend toenemende groeikoers in elk van hierdie dimensies het ons samelewing nie net ryker gemaak nie, maar ook baie meer menslik.

Mense wat uitsluitlik of hoofsaaklik fokus op die Christelike waardes wat in Holland se relaas sentraal staan, is geneig om hierdie ander faktore en hulle morele implikasies vir menslike welsyn te ignoreer, of te onderskat. Die beleid wat gemaak word deur mense wie se morele beginsels hierdie faktore misverstaan, ignoreer, of marginaliseer, sal rampsalige gevolge hê. Ek dink hier aan baie kerkleiers, baie linkse politici (insluitend die ANC, EFF en MK), en akademici wat aanhangers is van een of ander vorm van “kritiese teorie”. Die opregte of geveinsde morele waardes agter sulke beleide kan die betrokkenes verontskuldig. Die tientalle miljoene dooies, totalitêre politieke stelsels en materiële nood wat die toepassing van Marxiste se – volgens Holland “Christelike” – waardes gehad het, tel nie teen hulle ideologie soos die Holocaust tereg teen die Nazi’s se ideologie tel nie.

’n Gemeenskaplike draad onder hierdie groepe is die fokus op die verdeling van die koek, eerder as die groei daarvan. (As Amerika net 1% minder groei oor die afgelope 70 jaar ervaar het, sou dit nou ewe arm as Meksiko gewees het, en al was die verdeling 100% regverdig, sou omtrent alle Amerikaners daar slegter aan toe wees as vandag). En wanneer ’n mens die uitwerking wat beleid op groei het, oorweeg, kan jou idee van wat ’n “regverdige verdeling” is, dramaties verander. (Belydenis: My politiek is basies sosiaal-demokraties, gemeng met idees wat van verskillende dele van die links/regs-spektrum kom.)

Nog ’n gedeelde eienskap is die neiging om oor die hoof te sien dat die lewe in die moderne Weste, en deels wêreldwyd, skouspelagtig beter is as wat dit in die verlede was. Die filosoof Dan Williams sê dat die sekerste manier om in een van die baie variante van kritiese studies ’n superster te word, is om met ’n nuwe teorie vorendag te kom oor waarom die Weste verskriklik is.

Slot

Ek beveel Holland se Dominion dus sterk aan (ook die oudioboek). Sy tese en argument is hoogs interessant en sy boek lees baie lekker. Ek vermoed dat daar baie waarheid is in die beeld wat hy gee van die Christelike oorsprong van ons huidige waardes. Om behoorlik na te gaan hoe houdbaar sy tese en argument is, sal baie dink- en leeswerk vra. Kritiese vrae om te stel is wat sy argument nou eintlik presies is; hoe oortuigend dit is wanneer jy dit vergelyk met alternatiewe interpretasies van waar ons huidige “verligte” waardes vandaan kom; of die waardes wat hy “Christelik” noem, nie ook diep spore dra van idees afkomstig uit die Griekse filosofie nie; hoe Christelike waardes soos “Jy moet jou naaste liefhê” verander wanneer hulle nie meer gekoppel is aan geloof in ’n God wat jy absoluut lief moet hê nie; en dan radikale vernuwings soos die subjektivering van morele waardes onder invloed van die terapeutiese kultuur, en die geweldige verbetering in die menslike welsyn wat ekonomiese groei meebring, sodat groei en die dinge wat dit gewoonlik bevorder, van deurslaggewende morele belang moet wees.

Lees ook:

Christina Landman: Ons vaders en moeders se godsdienstige tale: Piëtisme en Calvinisme

Helize van Vuuren: Van WVK tot sosiale-netwerk-grafika: Twee dekades van letterkundige navorsing

Chris L de Wet: Johannes Chrusostomus en die transformasie van die diskoers van voortplanting en geboorte in die vroeë Christendom

JA Schlebusch: Die geskiedenis, natuur en algemene openbaring in die Christelik-historiese denke van Groen van Prinsterer

Bernard Lategan: Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top