<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.
Inleiding
’n Mens vergeet gou. Oorbekend is die vergelyking van Suid-Afrikaners met paddas in pot water op ’n stoof: die water word geleidelik al hoe warmer, daarom kom die paddas dit nie agter nie.1
![]() |
Mazisi Kunene
|
![]() |
Net na die April 1994-verkiesing in Durban het Mazisi Kunene, digter-filosoof en "king of the disadvantaged" soos hy homself graag genoem het, in ’n telefoongesprek sy siening van die toekoms gegee: "First the English made the Afrikaners feel ba-ad, then the Afrikaners made the Africans feel ba-ad. And now we can all start feeling goo-ood.” Dié toekomsvisie het die meeste landgenote indertyd gehuldig – die vernederende rasbehepte apartheidsverlede was verby, vir altyd. Ons sou saam bou aan ’n nuwe toekoms waar almal mense is, op gelyke voet.
Veel het wel ten goede verander, maar niemand wis hoe rasbeheptheid toenemend in die “nuwe Suid-Afrika” die allermaatgewende statistiek sou word nie. En watter impak dit op alle aspekte van die Suid-Afrikaanse lewe sou hê nie. So ook op die formele strukturering van Afrikaanse departemente, en op die wetenskaplike studie van die Afrikaanse letterkunde.
Voor 1994 was Suid-Afrika ’n “ander land”. Afrikaans as taal, met inbegrepe van sy letterkunde, was sterk, en staatsondersteund. Afrikaans-departemente had meestal vele lede. Die afgelope 20 jaar het die meeste departemente verander in kleiner “vakgroepe” met enkele lede in ’n groter tale-en-letterkundes-departement. Afrikaanse navorsing was sterk – leidende Afrikaanse literatuurwetenskaplikes en kritici het in die sewentiger- en tagtigerjare biblioteke vol boeke, wat in hardeband verskyn het, oor al die belangrike skrywers geproduseer. Ná 1994 het Afrikaans as een van 11 amptelike landstale tot ’n minderheidstaal geword – toenemend so met die verbygaan van die tyd. Boonop dra die taal swaar aan Afrikaans se geskiedenis as “onderdrukkerstaal”. Baie soos Duits na die holocaust, is Afrikaans in radikale kringe ge-“merk” en gestigmatiseer.
Dié assosiasie is meestal onsigbaar, maar ondergronds werksaam, ten spyte van die Mandela-era se versoeningspogings om dit teen te werk, beginnende by die aanstelling van Jakes Gerwel as sy regterhand, die lees van Jonker se “Die kind” by die opening van die eerste demokratiese parlement, en voortgesit in teedrinkery saam met Betsie Verwoerd, Steve Hofmeyr en wie nog al. Dié era is lankal verby. Verharding het ingetree teenoor die taal en sy sprekers.
Ingrid Jonker, "The child" (voorgelees deur Nelson Mandela).
|
Selfs uit eie geledere van Afrikaanssprekendes is daar elke dan en wan ’n oproep om ’n soort Waarheids-en-Versoeningskommissie, soos dié van Andries Bezuidenhout vir “’n herevaluering van die Wagner-figure in die Afrikaanse digkuns” soos Van Wyk Louw en Cloete. Sy opmerking was deel van ’n warm debat na aanleiding van Carina van der Walt se “Kamfer en die Trias Politica” op Versindaba (Augustus/September2013). Hy definieer ’n Wagner-figuur as volg:
Iemand wat as ’n kanonieke kunstenaar beskou word ten spyte van werklike of gewaande morele kontaminasie – dit gaan oor die spanning tussen etiek en estetika. Mens sou Heidegger ook as voorbeeld kon noem, om ’n ander veld te betrek.
![]() |
Andries Bezuidenhout
|
![]() |
TT Cloete
|
![]() |
Adam Small
|
![]() |
Paul Celan
|
Heidegger en sy 1933 pro-Nazi-instelling (waaroor Paul Celan se gedig “Todtnauberg” handel) word hier in verband gebring met Van Wyk Louw en Cloete en hul digterlike werk. (Gerieflikerwyse word vergeet, of nie geweet nie, dat Celan sy lewe lank die werk van Heidegger intens bestudeer en digterlik verwerk het – sien James K Lyon se Paul Celan & Martin Heidegger. An unresolved conversation, 1951–1970 (2006)). Dit is eerder so dat Afrikaans, nes Duits na die holocaust, deur radikales gesien word as ’n besmette taal wat geassosieer word met die wandade van die apartheidsregime.
Die “smet” van Van Wyk Louw en Cloete se politieke oortuigings sou dan implikasies hê vir die evaluering van hul werk. Meer omineus: êrens in die agtergrond word apartheid en Nasionaal-sosialisme met mekaar verbind. Die historikus Giliomee het al oortuigend aangetoon dat dit nie ’n houdbare vergelyking is om die gevolge van Hitler se holocaust, waarin miljoene Jode gesterf het, met die apartheidstelsel te vergelyk nie. Maar dié skeefgetrekte opvatting van die geskiedenis gooi nietemin sy skaduwee ook oor die Afrikaanse poësie en sy digters. Meer onlangs (Tydskrif vir Letterkunde, 2012, 49(1):82–94) het Steward van Wyk selfs Paul Celan (wie se ouers in werkerskampe in die Oekraïne oorlede is, en wat self 19 maande in ’n verpligte werkkamp was) met Adam Small vergelyk. Erg soos Small se traumatisering deur die apartheidsbestel waarskynlik was, kan dit nie gelykgestel word aan die brute uitwissing van hele families en die permanente psigiese beskadiging van oorlewendes, soos Paul Celan, wat dikwels boonop tot uiteindelike selfmoord gelei het nie.
Op insiggewende wyse sluit Bezuidenhout die debat, na 73 bydraes uit diverse oorde, af deur erkenning van die onteregtheid van so ’n gelykstelling tussen die holocaust en apartheid:
Ek stel nie die Holocaust en apartheid gelyk nie. Ons deel egter met Duitsland die kwessie van hoe mens met historiese trauma en verantwoordelikheid omgaan en kan uit die ondervinding leer. Maar ek dink ook ons sit op die oomblik met ’n Weimar-tipe toestand in Suid-Afrika. Ons het ongekende vryheid – tot op die punt van dekadensie – maar die staat word al hoe meer onbeholpe en outoritêr. Ons het reeds pogroms gehad en vrae oor sensuur is nie iets van die verlede nie. Ek sou eerder my gesig na die muur toe draai en myself in my kuns wou verdiep (’n beeld wat Blanchot gebruik), maar iets is aan die gebeur aan die anderkant van daardie muur. (My beklemtoning)
Dié belangrike insigte oor die druk van die politieke gebeure “aan die anderkant van daardie muur” en verantwoordelike omgang van wit (Suid-) Afrikaners met die historiese trauma van swart en donkerder medeburgers, is net so van toepassing op die aktiwiteite van letterkundiges, kritici en skrywers, en die veld van waaroor Afrikaanse letterkundige navorsing gedoen word. Want in hierdie land dra elkeen se voorkoms en velkleur ’n politieke kleur.
Nog ’n faktor wat in die letterkunde self werksaam is, is die al hoe sterker klinkender appèl om Standaardafrikaans te verruim met die insluiting van Kaaps, spreektaal en ongestandaardiseerde skryfvorme. Intussen krimp die woordeskat en taalvermoë van studente, dosente en sprekers van die taal teen ’n skrikwekkende tempo, soos die wêreld waarin mense werk toenemend min of meer uitsluitend Engels word. ’n Afrikaanssprekende student wat in ’n opstel skryf: “Die man was moeg van die uitpittende reis en het langs die pad geris, waar hy an die slap geval het” is niks vreemd meer vir ’n dosent nie. ’n Soort GRA fonetiese Afrikaans van “skryf soos jy praat” word al hoe meer die werklikheid vir jonger gebruikers van die taal. Die wiel het amper 360 grade teruggedraai na vóór 1875. Grotendeels ook die gevolg van ’n miserabele mislukking met die skoolopvoedingsbeleid van uitkomsgebaseerdheid, wat nou, na dekades, afgeskaf is. Intussen kan weinig jongelinge nog spel. Miskien ook die skuld van die onvoorspelbare Taalkommissie wat feitlik aan die lopende band hul spelreëls in die afgelope dekades verander het, sodat niemand meer weet of los, vas of met koppeltekens nou die korrekte spelling sou wees nie.
Navorsing oor Afrikaanse letterkunde
Waar Andries Bezuidenhout wel deeglik die kloutjie by die oor bring, is met sy verwysing na die soms wankele bene waarop letterkundiges hul oordeel fel, vanweë die verweefdheid van hul visie met eie ideologiese bril waardeur hul kyk. Hierby kan ’n mens ook voeg: die tyd waarin hul leef, wat hul siening ook onvermydelik histories bepaal.
![]() |
Niemand het mooier hieroor geskryf nie as Jakob von Uexküll in Umwelt en Innenwelt, sy eerste boek oor seediere in 1909:
Mit dem Wort “Wissenschaft" wird heutzutage ein lächerlicher
Fetischismus getrieben. Deshalb ist es wohl angezeigt,
darauf hinzuweisen, daß die Wissenschaft nichts anderes ist
als die Summe der Meinungen der heutelebenden Forscher. Soweit
die Meinungen der älteren Forscher von uns aufgenommen
sind, leben auch sie in der Wissenschaft weiter. Sobald eine
Meinung verworfen oder vergessen wird, ist sie für die Wissenschaft
tot.Nach und nach werden alle Meinungen vergessen, verworfen
oder verändert. Daher kann man auf die Frage: “Was
ist eine wissenschaftliche Wahrheit?" ohne Übertreibung antworten:
“Ein Irrtum von heute."
My vertaling: “Met die woord ‘wetenskap’ word deesdae ’n belaglike fetisjisme bedryf. Daarom is dit belangrik om daarop te wys dat die wetenskap niks anders is nie as die som van menings van nou-lewende navorsers. In soverre as die menings van ouere navorsers deur ons oorgeneem is, lewe hulle in die wetenskap voort. So gou as wat ’n mening verwerp of vergeet is, is dit dood vir die wetenskap. Geleidelik word alle menings vergeet, verwerp of verander. Daarna kan ’n mens op die vraag: ‘Wat is ’n wetenskaplike waarheid?’ sonder oordrywing antwoord: ‘’n Vergissing van nou.’”
In die Versindaba-debat verwys Bezuidenhout na wat hy geleer het uit Peter McDonald se boek The Literature Police: Apartheid Censorship and Its Cultural Consequences (Oxford University Press, 2009: “As ek een ding uit die lees van die boek neem, is dit om versigtig te wees vir letterkundiges wat hul oordeel as ‘neutraal’ of ‘wetenskaplik’ beskou.” Sy punt sluit aan by dié van Von Uexküll. So is Opperman se poësie in die vorige bedeling, tot 1994, dikwels in literatuurkritiese en -wetenskaplike werk ontpolitiseer (Cloete in Grové se Dolosgooier van die woord,1974:14 en Raidt in Grové se Dolosgooier van die woord,1974:226–8), of die sosiopolitieke betrokkenheid duidelik daarin vervat, is as waardeloos en ondergrawend vir die estetiese kwaliteit gesien (Grové in Fyn net van die woord, 1957:113).
Of dit die afgelope twee dekades anders gesteld is, is die vraag. ’n Opvallende tendens is byvoorbeeld die steeds groeiende afwysing van verwikkelder letterkunde deur hoogs-geskoolde letterkundiges, wat vind dat die tyd van moeiliker poësie of prosa dan nou verby sou wees in dié tye van vinnige verbruik. Hermeties-gewaande of elite letterkunde is volgens hulle agterhaald, gebaseer op verouderde literatuuropvattings. ’n Letterkunde word oënskynlik deur diégene bepleit waarin geen “kunde” meer nodig sal wees nie – hapklare brokke vir vinnige vertering, wég met enigiets uitdagends. Resensies toon toenemend die onvermoë of onwilligheid van hoogs opgeleides om moeite te doen om enigiets weerstandigs, of net effe meer verwikkeld vir hulself en lesers oop te maak, soos sommige onlangse resensies van verwikkelder digbundels duidelik toon. Tyddruk of ideologiese oortuiging? Dit maak die Afrikaanse lilteratuurbedryf toenemend sielloos en armetierig – ’n agtergeblewene in ’n kategorie van “literature lite”, of te wel laevet-literatuur. Hoe sou hoë statuur, internasionaal-gerekende digters soos Paul Celan, JH Prynne of John Ashberry hier te lande gevaar het (as hul in Afrikaans sou gepubliseer het), teen so ’n literatuuropvatting?
![]() |
Antjie Krog
|
![]() |
Navorsingsprojekte het tussen 1994 en 2014 meestal oor die volgende kwessies gehandel:
- Na 1994 het daar ’n merkbare proses van verwerking van die apartheidsverlede plaasgevind in die Afrikaanse prosa en poësie. Dié proses stem ooreen met die Duitse pogings tot in die reine kom met hul Nasionaal-Sosialistiese verlede, “Vergangenheitsbewältigung” (“verwerking van die verlede” gedoop). Voorbeelde is Karel Schoeman se Stemme-trilogie en Verkenning, Marlene van Niekerk se Agaat en Kleur kom nooit alleen nie van Antjie Krog. Afrikaanse letterkundige navorsers in die eerste dekade na 1994 het veral op dié narratiewe en digterlike verwerkings van die verlede gekonsentreer, en op identiteitsvorming as sprekers van ’n minderheidstaal.
- In die spore van die Waarheids-en-Versoeningskommissie: trauma- en herinneringstudies plus ’n debat oor letterkunde as ’n soort WVK al dan nie.
- Grond-, liminaliteit- en ruimtekwessies.
- Identiteitstudies (op gender, ras en/of geslag gebaseer).
- ’n Literêr-historiese profilering van hoofstroom skrywers binne die Afrikaanse, Suid-Afrikaanse en wêreldletterkundige tradisies.
- ’n Ekologiese benadering tot die letterkunde.
- Sosiohistoriese en sosiopolitieke studies.
- Die ontwikkeling van die teorie en verfyning daarvan vir Afrikaanse letterkunde, van laatwerk en laatstyl, op die spore van Adorno en Edward Said.
- Ontleding van tendense, tekste en verhoudings binne die veld van die Afrikaanse letterkunde gebaseer op sosiale-netwerk-teorie en grafika.
Die dringendste uitdagings vorentoe? Op die terrein van projekte is die uitdagings toenemende betrokkenheid by wat “gebeur aan die anderkant van daardie muur”, ook in literêr-kritiese en -wetenskaplike werk. En wat anderkant van die muur gebeur, is nie net verhoudings tussen rasse, en die omgaan met historiese traumatisering nie, maar ook die dreigende aardverwarming, klimaatsverandering plus die boordery om aardgas in die Karoo wat voor die deur is.
As voetnoot kan mens egter ook vra wat aan die binnekant van “daardie muur” in die huis van die Afrikaanse letterkunde gebeur, terwyl stakings en Marikanas voortwoed en die boormasjinerie in die Karoo reeds “eksploratief” staan gemaak en in werking gestel word. Kommodifisering deur feeste duur voort. Maar as literêre tekste nou toenemend slegs danksy die finansiële ondersteuning van enkele trustfondse soos Hiemstra en Dagbreek kan verskyn, is die Afrikaanse letterkunde nie ’n leë kamer van spieëls aan’t worde nie?
![]() |
Koop The Cambridge History of South African Literature by Kalahari.com |
![]() |
Nog een van die nypendste probleme in die Afrikaanse literêre wêreldjie op die oomblik is die amper bloedskandelike inteelt, soos van ’n kleindorpse Duiwelskloof-gemeenskap waar almal met almal skakel, of onafwendbaar op hoeveel stoele gelyk sit. Nog ’n kwessie is die krimpende aantal boekresensies van uitdagende tekste, weens die gekrimpte onafhanklike boekeblaaie.
Wat geruime tyd egter die dringendste nodig is, is ’n deeglike herbedink van die teoretiese vertrekpunte en benaderings van navorsing in en oor die Afrikaanse letterkunde. Wat is die polities-ekonomies-filosofiese basis daarvan? Waarin is die denke oor die Afrikaanse letterkunde gebaseer? In sy bydrae tot The Cambridge History of South African Literature stel Gerrit Olivier die era van Van Wyk Louw en sy denke oor die letterkunde teenoor dié van Marlene van Niekerk in Agaat:
At the beginning stands Van Wyk Louw, triumphantly announcing the birth of a new literature. At the end we have Van Niekerk questioning the very possibility of writing in Afrikaans, talking about the “pathetic self-overestimation” of the “romantic artist” and “the transcience of his legacy in a constantly diminishing minority language”. (2012:322)
Van Wyk Louw se era van nasionalisme is vir altyd verby. Van Niekerk is besonder nihilisties in haar siening en speel waarskynlik duiwelsadvokaat. Maar die twee standpuntinnames van Afrikaanse skrywers en denkers, een uit die apartheidsperiode, een uit die postapartheid era, stel die saak wel mooi op die keper: ons is op stormagtige see met vér agter die geboorte van ’n nuwe letterkunde en hopelik slegs ’n waanbeeld van die toekoms, die onmoontlikheid om in Afrikaans te skryf.
Die brandende vraag is vandag: Wat vorm die oriënteringspunte vir Afrikaanse letterkundige navorsing?
Eindnota
1 Die skrywer wat die eerste keer die beeld van die paddas in die pot water gebruik het, is ZB du Toit in Die nuwe toekoms: ’n Perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling (2001).
<< Gaan terug na Poolshoogte <<