
Die doel met hierdie essay is om die aandag toe te spits op die wyse waarop die geskrewe teks rimpelings veroorsaak wat op verskillende maniere uitdein in die gemeenskap in. DJ Opperman skryf in Joernaal van Jorik (1949:15): “[N]iks is in sy tyd en stof gesluit / maar alles stroom deur grens en eeu aaneen.” PJ Conradie se bundel opstelle oor die klassieke en modern drama, Niks is in sy tyd gesluit (1976) dra ook daardie gedagte van die voortgang van literêre tekste oor. Allen (2011) voer die intertekstuele reikwydte selfs so ver as om te suggereer dat betekenis in ’n teks slegs in verhouding tot ander tekste agterhaal kan word en dat geen werk op sy eie staan nie, maar verbind is aan die voorafgaande tradisie en die konteks waarin dit geskep is.
In Afrikaans is dit seker NP Van Wyk Louw se Raka-teks wat die wydste in die gemeenskap uitgekring het. Uit onder andere toonsettings (Grové 1996), beeldendekunsweergawes (Harries 1966), ’n balletverwerking (Newcater 1967), vertaling (Dawes 1968; Kovács 2021), liedtekste (Aucamp 1977), woordverwerkings (Bloemhof 1999; Kombuis 2005a) en artikels (byvoorbeeld Aucamp 2005) is dit duidelik dat Louw se Raka ’n besondere impak op die psige van die Afrikaner gehad het (Van der Berg en David 2007).
In Amerika was dit weer Rumi se werk wat so tot die Amerikaanse gees gespreek het dat Lewis (2012:1) dit bestempel het as “social media crack cocaine”. Rumi se werk het in Engelse vertalings ’n geweldige aanklank by lesers gevind en word as die top verkoper van alle digkuns in Amerika bestempel (Ciabattari 2014; Barks 2011:1). Daar is honderde publikasies sedert 2000 op https://bookscouter.com van tarotkaarte, kalenders, tot kinderverhale, en talle Suid-Afrikaners dink Rumi is ’n Amerikaanse digter. Hoe dit tot daar getransformeer en deur die dominante Engelse invloed hier na Suid-Afrika oorgespoel het, word dan oorsigtelik nagegaan.
Rumi
Daar word dikwels na Jalāl al-Dīn Rūmī, of Jalálu’ddín Rúmí (Wakhsh, 1207 – Konya, 1273), wat nou in Engels bloot bekend staan as Rumi, of in Turkye as Meulana (Meester), verwys as die Shakespeare van die Midde-Oosterse wêreld. Rumi is nie net een van die belangrikste figure uit die Persiese digkuns nie, maar sy werk word steeds in die hele Midde-Ooste, Indië en verder aangehaal. Dit het so uitgekring dat Unesco die jaar 2007 ter ere van die herdenking van sy geboorte as Rumi-jaar aangekondig het. Hy was nie slegs ’n filosoof, mistikus, digter en stigter van ’n Soefi-orde met tollende bedelmonnike nie, maar iemand met diepgaande insig in die aard van die menslike bestaan, en waarskynlik een van die grootste mistieke digters van alle tye. Hy was veral ’n voorstander van verdraagsaamheid, rede en toegang tot kennis deur liefde (Basak 2017:2). Hy skryf dan ook byvoorbeeld herhaaldelik oor Jesus en ook oor sy lewegewende asem (Nicholson 1926:1910). Sy weergawe van die aardse liefde as volledige aflê van die ek en oorgawe aan en opgaan in die ander, is ’n afspieëling van die hiernamaalse hereniging van die siel met God. Dit is die naaste wat ons hier en nou aan daardie perfekte mistieke toestand kan kom (Van der Berg 2023:17).
Mistiek
Die mistiek is nie ’n afgeronde filosofiese stelsel nie. “From the outset it should be noted that mysticism is not a fully elaborated philosophical system. It is, instead, a loosely organized collection of premises, held to be self-evident” (Hayes 1997:574). Dit lê ten grondslag van alle godsdienste van alle tydperke en ruimtes en druk die brandende begeerte tot hereniging met God uit. Happold beweer (in Olivier 1985:21) dat die mistiek ’n manifestasie is van iets wat alle godsdienste ten grondslag lê: “Not only have myths been found in all ages, in all parts of the religious world and in all religious systems, but also mysticism has manifested itself in similar or identical forms wherever the mystical consciousness has been present.” Dit is basies ’n geloofstelsel in ’n skepper wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. Talle navorsers het dan ook al gewys op die verband tussen die mistiek en die estetiese en mistici se voorliefde vir digkuns en metaforiese taal. William James (1902) het vier kenmerke van die mistieke ervaring uitgelig wat ook volgens hom eerstens onuitspreeklik is. Tweedens, in teenstelling met soek, is daar noëtiese kennis. Derdens is die mistieke ervaring van verbygaande aard. Die mistieke ontvangers is passief ten opsigte van hulle ervaring en het nie beheer oor die kom en gaan van die ervaring nie. Die mistieke ervaring is egter so oorweldigend dat die mistikus die onuitspreekbare probeer uitspreek.
Taal
Rumi probeer dan ook hierdie brandende begeerte uitdruk. Hy het sy skryfwerk in 1258 begin, maar voordat dit voltooi is, is hy in 1273 oorlede. Net die Mathnawí bevat meer as 25 000 pare verse van 22 lettergrepe elk en is langer as die Ilias en Odusseia saam. Dit word ook die “Persiese Koran“ genoem. Die gedig is geskryf in die vloeiende en eenvoudige metriese patroon wat na die Persiese digters Sanai en ‘Attar vir mistieke didaktiese digkuns gebruik is. Ook sy werk is dus nie in sy tyd gesluit nie.
Sy bekendste werk is die Mathnawí. Die Mathnawí kan met reg beskou word as een van die grootste geestelike meesterstukke. Die inhoud dek die volle spektrum van lewe op aarde (Helminski en Helminski 1999). Rumi is veral ’n beeldende digter en is seker ook daarom so suksesvol om lesers aan te gryp, soos die massas vertalings van sy werk getuig. Die algemeenste vergelyking wat hy gebruik, is dié van ’n hart en ’n huis wat aan die Soefi’s al ’n bekende gebruik was sedert minstens die laat 10de eeu toe Abu’l Hoseyn an-Nuri sy allegorieë geskryf het (Schimmel 1993:226).
Rumi maak veral gebruik van metafore van klank en lig. Die konsep van God as ’n stralende son, met die wêreld die skadu daarvan, kom herhaaldelik voor met verwysing na Shams-e Tabrizi. Liefde is ’n hewig brandende vuur. Die siel is ’n flitsende spieël waarin God hom openbaar, maar in die uur van skeiding word dit ’n gloeiende hoogoond. God, as valkenier, roep in sy gedigte die siel ook gereeld op om tuis te kom en soos die valk op sy arm te kom sit. Die fluit word ook dikwels gebruik om God se soeke na die mens uit te druk, soos ook deur die musikant wat met die geringste aanraking die instrument laat vibreer. Talle waterbeelde druk die vloei van die siel na sy oorsprong, die bron van Liefde, uit. Oester en pêrel is ’n gewilde metafoorpaar vir Rumi, waar die skulp die liggaam en die pêrel die siel verteenwoordig. Die natuur spreek Rumi ook gedurig aan soos die roep van die ooievaar wat hom vra om aan God te dink, of die verbruinende wingerdblare wat hom oor die afwesige geliefde laat treur. Hoewel wyn in Islam verbode is, is wyndronkheid vir hom, soos in baie Soefi-digkuns, ’n algemene metafoor vir die geestelike ekstatiese toestande (Van der Berg 2023:17). Die eietydse leser moet dus ook die voorafgaande tradisie in aanmerking neem om die Rumi-teks reg te verstaan.
Romantiek
In reaksie op die terugverlang na die Klassieke Griekse en Romeinse tydperk is daar in Europa tydens die Romantiek ’n uitreik na nuwe wêrelde en word die Midde-Oosterse digters soos Rumi daar bekend. Die geestelike is vir die Romantici van groter belang as die beperkte stoflike, en hulle voer aan dat die gevoel, verbeelding en droom die enigste wyses is waarop insig verkry kan word. Die verstand word dus deur die gevoel oorheers. Dit is dan nie verbasend dat die mistieke digkuns tydens die Romantiek in Europa aanklank gevind het nie, want vir alle Romantici is die kenteoretiese grondslag van die poësie die verbeelding. Hulle reik dan uit na ander digvorme soos die ghasel om daaraan uitdrukking te gee. Die genre is ook deel van baie ander letterkundes van Sentraal- en Suid-Asië, maar die ghaselvorm het die Westerse literatuur hoofsaaklik via die Duitse Romantici, Schlegel, Rückert en Platen (Ghaselen 1821) binnegekom. Die ghasel kom ook by Goethe in 1819 voor in sy West-Östlicher Divan (Van der Berg 2024).
Engels
Dit is egter veral uit die Engelssprekende wêreld dat die Midde-Oosterse digkuns en ook Rumi se werk verder na Suid-Afrika uitgedra is. Omar Khayyam (1048–1131 nC) se Rubaiyat is vanaf 1859 deur Edward FitzGerald in Engels gewild gemaak. In Afrikaans vertaal CJ Langenhoven Die Rubáiyát (1923), Herman Charles Bosman Roebaijat van Omar Kajjam (1948) en Daniel Hugo Roebaijat (2014). Met ’n hedonistiese ingesteldheid en rebellie teen die fokus op die hiernamaalse het die Rubaiyat bygedra tot die gewildheid van Oriëntalisme en tot die Fin de Siècle aan die einde van die 19de eeu. William Hastie (1842–1903) het daarna Friedrich Rückert se vertaling van Rumi se ghaselle in Engels omgesit as ’n teenvoeter vir die gewildheid van Omar Khayyam, wat as hedonisties en agnosties beskou is. Baerlein se Engelse vertaling van die divan van Abū al-ʻAlāʼ al-Maʻarrī (973–1057) in 1908 het ook in Suid-Afrika invloed uitgeoefen, soos op Uys Krige, wat van die gedigte vertaal het en meegevoer is deur Abū al-ʻAlāʼ se universele gees en opstandigheid teen sowel kerk as staat (Kannemeyer 2002).
Sonder die noukeurige vertalings van RA Nicholson vanaf 1890 tot 1946 en AJ Arberry (2008) sou Rumi se potensiële impak in die Engelstalige wêreld egter nie verwesenlik kon word nie. Hulle is beide presieser en gee meer inligting oor die besonderhede van Rumi se denke as die wydbekende gewilde weergawes (Lewis in Arberry 2012:10). Behalwe Nicholson en Arberry s’n is akkurate Engelse vertalings van Rumi se digkuns ook gedoen deur sulke brontaalkenners soos Annemarie Schimmel, William Chittick, Franklin Lewis, Ibrahim Gamard en Alan Williams. Daar bestaan ook vertalings in Nederlands en Duits en ’n magdom ander omsettings van Rumi se werk waarvan ek die afgelope meer as ’n dekade soveel moontlik geraadpleeg het om ’n betroubare weergawe in Afrikaans te skep.
In Amerika is Rumi herontdek tydens die hippie-era en die beklemtoning van die liefde. Hierdie gewildheid is in ’n groot mate te danke aan die baie vrye omsettings van Robert Bly en Coleman Barks. In gesprek met Alan Flurry van die Universiteit van Georgia (2023) sê Barks daar is al meer as vier en ’n half miljoen kopieë van net sy boeke oor Rumi verkoop. Die kommersialisering van Rumi se werk is veral toe te skryf aan Barks en ander se wegbeweeg van die bronteks en omsit in Amerikaanse vrye vers. Barks verdoesel doelbewus sy bron – “The design of this book is meant to confuse scholars who would divide Rumi’s poetry into the accepted categories: […] The twenty-seven divisions here are faint and playful palimpsests spread over Rumi’s imagination” (Barks 1997:2). Barks se omsettings is ook al uit verskeie oorde gekritiseer. Hy erken: “Ibrahim Gamard, Rawan Farhadi, William Chittick, and Franklin Lewis disapprove of making versions. I understand the objections. What I do is a homemade, amateurish, loose, many-stranded thing, without much attention to historical context, nor much literal faithfulness to the original” (Barks 2014:215). Dit het ongelukkig daartoe gelei dat Rumi as ’n soort New Age-digter gesien is (Lewis in Arberry 2009:10).
Die sterk religieuse en digterlike Soefi-denkraamwerk waarbinne Rumi se verse aanvanklik geskryf is, het dikwels ook in ander Westerse vertalings agterweë gebly. Die Facebook-gebruik van sy aanhalings vorm deel van die internasionale lewendige belangstelling in die media in Rumi se werk. “Out beyond ideas of rightdoing and wrongdoing, there is a field. I will meet you there” (Barks 2011:367), wat Brad Pitt oa op hom laat tatoeëer het, word dan aan Rumi toegeskryf. In Suid-Afrika verklaar Amalia Uys (2024) dit byvoorbeeld ook as haar motto. Rumi het egter geskryf oor die mistikus se ervaring van iets wat buite godsdiens lê. Dit behoort te wees:
Verby anders glo en Islam lê ’n sandvlak.
Daar heers ons “verlang” in daardie tussenvlak.
Die mistikus, sal biddend sak, kom hy daar,
anders glo, nóg geloof is daar, nóg ’n “waar”.
(Van der Berg 2023:181)
Die woestyn, vir die mistikus “plek van die pleklose”, deel van die via negativa, word nou by Barks “a field”, wat ’n aangename groen ruimte oproep; en daar is geen sprake van ’n ontmoeting met ’n ander mens in die bronteks nie. Die kontekslose soort aanhaling is ’n verwringing van Rumi se sentrale tema van liefde vir God en sy verlange na ’n hereniging en eenwording met God, nie bloot net soek na ’n plek waar jy filosofies of hoe ook al tuis voel nie. Soos Hakim (1959:29) dit stel: Die lewe is vir Rumi ’n reis terug na God.
Suid-Afrika
Binne die Afrikaanse media word daar ook dikwels na Rumi se werk verwys en Barks se Engelse vertalings dan aangehaal. Afrikaanse skrywers neem ook kennis van Rumi. Vergelyk byvoorbeeld Marlene van Niekerk wat Rumi in haar Die sneeuslaper betrek by haar verkenning van die aardse ekstase en erotiek van die mistieke belewenis (Van der Merwe 2014). Harry Kalmer (2008:1) spreek hom positief uit oor die invloed van Rumi op sy eie skrywerskap, en in sy ʼn Duisend stories oor Johannesburg word Rumi intertekstueel betrek. In Ingrid Winterbach se werk figureer die Soefi-mistiek onder meer in haar roman Die boek van toeval en toeverlaat. Joan Hambidge (2013:1) het byvoorbeeld in haar blog ’n gedig oor derwisjdansers geskryf (Van der Berg 2019:2).
Breyten Breytenbach haal Rumi aan in Op weg na kû, oa met All language is a longing for home, wat hy self na Afrikaans oorgebring het as Alle taal is ’n soeke na tuiste (e-pos 27/05/2023). Dit is egter Barks se siening van taal. “Rumi has a whole theory of language based on the reed flute (ney). Beneath everything we say, and within each note of the reed flute, lies a nostalgia for the reed bed. Language and music are possible only because we’re empty, hollow, and separated from the source. All language is a longing for home” (Barks 1997:17).
Vir Rumi was taal eerstens juis apofaties bewys van die mens se onvermoë om die mistieke ervaring wat onuitspreeklik is te beskryf. God kan slegs in sy kenmerke beskryf en in sy skepping gesien word. Hy was ’n verborge skat en wou sigbaar word. Hy is egter ’n jaloerse God:
Mathnawí I:1713
Gods jaloesie is dit, dat hy anders as alles anders is,
dat hy buite verduidelik en geraas van woorde is.
Dit is eintlik slegs deur meditasie, musiek en sang dat ons nog met God kan kommunikeer:
Sfeermusiek
Hul sê die fluit en luit wat ons gehoor bekoor,
bly afgelei van die rollende sfere oor;
maar Geloof wat spekulasie se grens oorskry,
kan sien waar elke krasse klank versoeting kry.
Ons, dele van Adam, het saam met hom gehoor
die engel’ sang en serafslied wat ons bekoor.
Ons geheue, wel nou dof en droef, behou
nog ’n eggo van daardie bo-aardse nou.
O, musiek voed almal wat ander bemin,
lig die siel dan op na in die hemel in.
Die kole smeul steeds, die dowwe vuur ontvlam,
ons word vervul, met vreug en vrede opgedam.
(Van der Berg 2023:167)
Vir my weergawe word daar weens die sterk Amerikaanse transformasie van Rumi se werk veral op die bekende Engelstalige vertalings uit die brontaal gesteun om die wesentlike boodskap van sy werk noukeuriger weer te gee. Aanvanklik word reëlverwysings gegee na Nicholson (1926), wie se werk geredelik beskikbaar is vir nagaan van die getrouheid van my weergawe. Daar is ook ’n register van onderwerpe, soos Digkuns, Ekonomie, Filosofie, Onderrig, ens. as ’n leser wil weet wat Rumi se siening daaroor regtig was.
Om ook die digterlike gehalte van die transformasie te behou, is my vertalings uit die Mathnawí hoofsaaklik in die ghaselstyl met 11-lettergrepige rymende pare, soos die oorspronklike, volgens my kommunikatiewe benadering tot ’n mistieke teks (Van der Berg 2018). Daarna volg ’n afdeling aanhalings ook met vryer vertalings van gewilde Rumi-tekste. Nicholson (1926:XIII) wys reeds in die voorwoord van sy baanbrekende vertaling van Rumi se Mathnawí daarop dat dit eintlik ’n lewenstaak is om dit te vertaal. Weens my belangstelling in die mistiek en vertaling het ek egter gevoel dit is tyd dat die leemte in Afrikaans aan ’n keur uit die wêreld se grootse mistieke digter se werk gevul moet word om so ook oor tyd en ruimte heen getransformeer, betroubaarder aansluiting by sy werk te kry.
Bibliografie
Allen, G. 2011. Intertextuality. 2de uitgawe. Londen: Routledge.
Barks, C. (vert). 1995. Rumi: Lion of the heart. Londen: Arkana Penguin Books.
—. 1997. The essential Rumi. Edison, New Jersey: Castle Books.
—. 2011. Rumi: The big red book. New York: HarperCollins.
—. 2014. Rumi: Soul fury: Rumi and Shams Tabriz on friendship. New York: HarperCollins.
Basak, R. 2017. Secularization and commercialization of Rumi. Journal of Current Researches on Social Sciences, (2)7:113-124.
Ciabattari, J. 2014. Why is Rumi the best-selling poet in the US?. http://www.bbc.com/culture/story/20140414-americas-best-selling-poet (10 September 2024 geraadpleeg).
Conradie, PJ. 1976. Niks is in sy tyd gesluit. Opstelle oor klassieke en moderne drama. Pretoria en Kaapstad: Academica.
Flurry, A. 2023. Conversation with Coleman Barks on the poetry of Jalāl al-Dīn Rūmī. https://podcasts.apple.com/us/podcast/conversation-with-coleman-barks-on-the-poetry-of-jalāl/id1480398213?i=1000592197987 (20 Augustus 2024 geraadpleeg).
Hakim, KA. 1959. The metaphysics of Rumi. Derde druk. Lahore: Institute of Islamic Culture.
Hayes, LJ. 1997. Understanding mysticism. The Psychological Record, 47:573–96.
Helminski, CA en K Helminski. 1999. Rumi daylight: a daybook of spiritual guidance. Boston en Londen: Shambhala.
James, W. 1902. The varieties of religious experience: a study in human nature. Londen: Longmans.
Kannemeyer, JC. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.
Lewis, FD. 2012. Foreword in Arberry, AJ (vert), Mystical poems of Rumi. Chicago: University of Chicago Press.
Nicholson, RA, 1926. The Mathnawí of Jalálu’ddín Rúmí. Cambrdge: CUP. https://dn790007.ca.archive.org/0/items/in.ernet.dli.2015.151299/2015.151299.The-Mathnawi-Of-Jalaluddin-Rumi.pdf. (23 Augustus 2024 geraadpleeg).
Olivier, SP. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. DLitt-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Opperman, D.J. 1949. Joernaal van Jorik. Kaapstad: Nasionale Pers.
Schimmel, A. 1993. The triumphal sun. New York: State University of New York.
Uys, A. 2024. Proust met Amalia Uys. Huisgenoot, 6 Januarie 2024. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/profiele/proust-met-amalia-uys-20240105 (23 Augustus 2024 geraadpleeg).
Van der Berg, D. 2018. Die toepas van ’n kommunikatiewe model vir teksontleding ten einde ’n estetiese vertaling van Sint Jan van die Kruis se gedig “Noche oscura” te skep LitNet Akademies 15(1):153–177.
Van der Berg, DZ. 2024. Ghasel. Literêre terme en teorieë. https://www.litterm.co.za/2024/05/09/ghasel (23 Augustus 2024 geraadpleeg).
Van der Berg, DZ (vert.). 2023. Rumi: Liefdesverse en aanhalings. Gansbaai: Naledi.
Van der Berg, DZ en D David. 2007. Raka in die psige van die eietydse Afrikaner. Stilet, 19(1):49–67.
Van der Berg, EJ. 2019. Performatiwiteit van taalgebruik en verstegniek in die mistieke digkuns van Jalāl al-Dīn Muhammad Rūmī, asook in die werk van geselekteerde Afrikaanse digters: ’n vergelykende studie. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.
Lees ook:
Elizabeth van der Berg: Rumi se wyn- en bedwelmingsbeeldspraak
Elizabeth van der Berg: Die Soefi-denkwêreld van Rumi na aanleiding van sy gedig “Die rietfluitlied”
Elizabeth van der Berg: Erotiese digkuns en Soefisme in Rumi se werke
Celia Kourie: Die transformerende effek van ’n mistieke lees van die Skrif
Jean Oosthuizen: Mistieke teologie dalk die kerk se reddingsboei
Ilse van Staden: Rapunsel in die toring
Pumla Dineo Gqola: Ukufunda ngomzimba wam


Kommentaar
Uitstekend, Dietloff.
Jy en Elizabeth doen wonderlike werk om Rumi bekend te stel aan Afrikaners en daarmee die vakuum te vul wat ontstaan het in Christen-gelowiges se groeiende ongeloof en behoefte aan méér.
Ek salueer julle!
Baie dankie, Estelle. Ons waardeer jou belangstelling.