Mistieke teologie dalk die kerk se reddingsboei

  • 5
Jean Oosthuizen
Willem Nicol
Ronell Bezuidenhout

Terwyl tradisionele kerke wêreldwyd in veral Westerse lande besig is om te krimp en al hoe meer mense kerklos raak, vind baie gelowiges ’n spirituele tuiste in ’n mistieke spiritualiteit wat nie so sterk fokus op kerklike dogma nie. In plaas daarvan om te fokus op die dinge wat sintuiglik waarneembaar is, val die klem deesdae weer sterker op ’n mistieke ervaring.

Persoonlike ervaring word belangriker as kerklike dogma. Die emosie wat beleef word, lê ver van die harde klanke van populêre emosie, nader aan die vlak van sprakelose verwondering en oorgawe. Ek het met twee teoloë gesels wat fokus op die kontemplatiewe kant van spiritualiteit en wou van hulle weet wat mistieke spiritualiteit behels en hoe dit van tradisionele kerk verskil.

Willem Nicol, ’n vryskutpredikant in kontemplatiewe spiritualiteit, verduidelik dit so: “Sekularisasie floreer op ’n plat wêreld, dit wil sê op die veronderstelling dat daar niks meer is as wat ons met ons vyf sintuie kan waarneem nie. Op die lang duur soek mense na meer. Mistieke spiritualiteit is oop vir die sesde sintuig, die intuïtiewe, en sal dus waarskynlik ’n belangrike rol speel in die toekoms van die Christelike geloof.”

Nicol het sy eerste doktorsgraad in Nederland in Nuwe-Testamentiese Wetenskap behaal en sy tweede aan die Universiteit Stellenbosch in sosiale etiek. Hy bied landwyd inligtingsessies en retraites oor hierdie onderwerp aan.

Hy sê daar is tans wêreldwyd ’n groeiende besef dat die rede sy beperkings het, met die gevolg dat daar meer behoefte aan die intuïtiewe kom. Die gejaagdheid wat met die sekularisasie saamgaan, skep ook ’n toenemende behoefte aan stilte en rus in die geloof. “Karl Rahner het gesê: die Christen van die toekoms sal óf ’n mistieke inslag hê óf nie bestaan nie.”

Veral mense wat al lank toegewyde Christene is, vind al hoe meer aanklank by die mistieke. Dit is hoofsaaklik diegene wat al self ervaar het dat die rede sy beperkings het en wat nie in swart-wit skemas oor die geloof dink nie. Mense met ’n aanvoeling vir die kunste en die liturgiese.

Volgens Nicol leer mense om hulle geloof meer eerstehands te ervaar en dit kan lyk of hulle die kerk minder nodig gaan hê. “Mense leer om minder dogmaties oor die geloof te dink en kom agter dat daar verskillende maniere is om God te ervaar en Hom te laat lei, met die gevolg dat hulle nie met tradisievastheid saamstem nie.”

Ronell Bezuidenhout van die Fontainebleau-gemeenskapskerk in Johannesburg beskou die mistieke spiritualiteit bloot as ’n ander manier van kyk na die werklikheid. Sy is die skrywer van talle boeke oor spiritualiteit en het ’n passievolle belangstelling in mistieke teologie. “In die klooster St Victor in Parys het twee teoloë in die Middeleeue geleef wat geskryf het dat ons drie maniere van kyk het (of dan, drie stelle oë ... so die Oosterlinge met hul ‘derde oog’ het dalk ’n punt beet ...). Die eerste manier van kyk is om bloot raak te sien (‘Die oog van die liggaam/vlees’) ... die tweede manier van kyk is ‘die oog van rede’ (om te reflekteer/dink oor wat jy sien); die derde oog, kyk verby al twee ander vlakke en kom by ’n ander vlak van begrip en groter verwondering uit.”

Evelyn Underhill, die “moeder van die mistieke spiritualiteit” en die eerste vroueteoloog wat by Oxford klasgegee het, skryf dat die mistikus bloot iemand is wat ander mense help om anders na dieselfde ding te kyk. Die Hebreërsskrywer praat van “om die Onsienlike te sien”.

Bezuidenhout sê sy wil liewer nie die “hoofkenmerke” van ’n mistieke spiritualiteit uitsonder nie, want dan raak dit dadelik weer ’n analitiese kyk, of ’n meetinstrument om te bepaal wie aan die kriteria “voldoen”. 

Sy en Nicol is albei optimisties oor die toekoms van ’n mistieke spiritualiteit. Die ontnugtering van soveel met die modernisme, asook groter toegang tot inligting van ander tradisies, bring dit volgens Bezuidenhout al meer na vore. “Ek sou selfs raai dat die mistieke spiritualiteit (of dit nou “neo-monasticism” genoem word, of wat ook al) is waarskynlik die beweging wat die vinnigste in die 21ste eeu gaan groei. Sy stem ook saam met Karl Rahner (die gróót Katolieke teoloog van die 20ste eeu), wat veral bekend is vir sy idee dat die enigste Christelike spiritualiteit wat die 21ste eeu gaan oorleef, die mistieke spiritualiteit gaan wees.

Richard Rohr
Koop Falling Upward by Kalahari.com
Harvey Cox
Koop The future of faith by Kalahari.com

Vir Nicol was die mistiek nog altyd in ’n mindere of meerdere mate deel van die kerk. “Dink maar net aan baie Psalms en die Evangelie van Johannes. Dit is ’n inherente element van ons spiritualiteit. Veral in die Protestantisme het hierdie kant van ons spiritualiteit afgeskeep geraak, maar tans is dit wêreldwyd aan die terugkom.”

Die Protestantse Kerk van Nederland het reeds ’n sinodale predikantspos hiervoor geskep, tans beklee deur Lex Boot.

Ook in die NG Kerk hoor ’n mens deesdae oral van adoramusdienste, Skrifmeditasie, spirituele begeleiding en dergelike. In Nicol se gemeente loop die Adoramusdiens nou reeds bestendig elke Sondagaand vir meer as agt jaar en in sy ring loop sesmaandelikse meditatiewe retreats reeds vir 13 jaar en ’n kursus in spirituele begeleiding vir agt jaar.

Hy sê gemeentes moet eers mooi dink waarmee hulle prakties gesproke kan begin en dan daarmee volhou, al is die bywoning klein. “Wees soos ’n bosluis wat nie los waar dit gebyt het nie.”

Maar hoe is die mistieke versoenbaar met die postmoderne tydsgees waarin ons leef, waar die wetenskap ’n baie belangrike rol in mense se denkraamwerk speel? Is dit nie maar net 'n deurmekaar irrasionele denkwyse nie?

Nee, glad nie, sê Nicol. “Ernstige natuurwetenskaplikes is meer as gewone westerlinge bewus van die grense van die rede. Gesonde mistiek help mense om die rede te waardeer, maar ook daarby verby te beweeg.”

Wat is “deurmekaar”? vra Bezuidenhout toe ek haar hieroor pols. “Hoe lyk dit? Deurmekaar volgens wie? Hoe ‘meet’ ons byvoorbeeld ‘irrasioneel’? Wanneer is iets irrasioneel? Is die behoefte om God te soek/beleef/sien deur die geskiedenis van die mens ‘irrasioneel’? 

“Is rasioneel net wat verklaarbaar en sigbaar is? Is oorlog (wat tog ’n baie meer tasbare, meetbare fenomeen is) dus meer rasioneel en georganiseer? Daar is deur die eeue in die mistieke spiritualiteit (veral van die vroeë Kerk) duidelike struktuur ook in die inoefening van geloofsdissiplines binne ’n geloofsgemeenskap: dink byvoorbeeld aan die ‘Office of the Hours’ [spesifieke gebedstye ... iets wat Bezuidenhout in haar gemeente ook inoefen]. Die Woord en die Sakramente was altyd sentraal.

“Vanuit my raamwerk is ‘spreek in tale’ deurmekaar. (Dit illustreer dalk my onkunde en stereotipering, nè?) Moderne Gospelmusiek is – in my raamwerk – veel meer irrasioneel of deurmekaar, want die idealisering van ’n ‘private God’ en ’n ‘persoonlike Jesus’ word sonder einde besing. Om in stilte en afsondering die ‘disconnectedness’ tussen jou en God raak te sien; of tussen jou en jou eie psige; of tussen jou en jou medemens; of jou en die omgewing, is ’n baie meer helende ervaring (vs ‘deurmekaar’).”

Baie gelowiges wonder hoe verskil ’n mistieke spiritualiteit van tradisionele kerk. Met ander woorde, hoe wyk 'n mistieke spiritualiteit as godsdienstige benadering af van dogma en uiterlike vorme van godsdiensrituele?

As die “tradisionele” kerk die sogenaamde hoofstroomkerk is (met ander woorde in Suid-Afrika onder andere die NG Kerk), dan verskil dit baie, sê Bezuidenhout. As “hoofstroomkerk” ook die Katolieke/Anglikane insluit (veral onder die Engelse gemeenskap in Suid-Afrika) is die mistieke ’n algemene deel van hul spiritualiteit met ikone en verskeidenheid rituele.

Sy hou Sondagaande ’n sogenaamde stil diens in haar gemeente, waar hulle net “lectio divina” gebruik. Dit is die vroegste vorm van Bybellees, waar daar geensins gefokus word op prediking ... “die tweede oog” ... of rasionele uitleg nie. Daar is baie en ’n verskeidenheid rituele (kerse aansteek met gebed; hande was as ’n simbool van reiniging/afwagting, smaak- en reukstimulasie, ens) en nagmaal word elke Sondagaand gebruik. 

’n Spesifieke tipe musiek (nadenkend/stil of sogenaamde madrigaalse musiek) word gespeel wat ook veel meer die affektiewe beklemtoon, en musiek word ook op ’n lectio divina-styl beoefen. In plaas van vier verse van een lied – onnadenkend – sing, sing hulle een vers van ’n lied, herhalend of luisterend; soms dieselfde lied, elke Sondagaand vir ’n kwartaal lank. Die luister na die Skrif word in al die rituele uitgebeeld. “Mense los nie hul dogma by die deur nie ... jy bring dit in die gebou in; maar aangesien dit nie ’n lerende diens is nie, is dogma nie die fokus nie. Stilte en aktiewe luister is waarskynlik die enigste hooffokusse.”

Hoewel die mistieke tradisie ’n baie ou tradisie is, het dit vanaf die 15de eeu met die Reformasie begin taan. Die wetenskap het die teologie onttroon; spiritualiteit het ’n persoonlike aangeleentheid geraak, terwyl teologie ’n universiteitsvak geword het.

Teologie as ’n vak moes meeding om “wetenskapstatus” te kry. Wat jy kan bestudeer en leer, is “dogma” ... vandaar die allesoorheersende klem op dogma – ook vandag nog.

Sy beskou egter nie die dogma as die “vyand” van die mistieke nie. “Soos wat ek die mistieke ook nie as die progressie op dogma beskou nie (dit raak dan later bloot ’n stuk spirituele snobisme). Alle mense funksioneer vanuit ’n sterk geloofsbasis (ongeag wat dit is). Daar kom ’n tyd in ’n mens se lewe dat jy ook weet dat wat jy wéét, veel meer ’n “mensgemaakte konstruk” (soos die maagdelike geboorte, ens) is. Wanneer die sterk geloofsoriëntering (soos Walter Brüggemann dit beskryf) nie ook “disoriëntering” (dogmatiese bevraagtekening) insluit nie, kan die “reoriëntering” nie plaasvind nie. Mense kan maar net die Franciskaanse priester Richard Rohr hieroor gaan lees. Rigiditeit is riskant. Dit is dan dat dogma verdeel. Die mistieke versoen. As die mistieke weer die rigiede word, sal dit ook verdeel!

Mense soos Bezuidenhout se grootste vrees is dat die tradisionele NG Kerk waarvan sy lid is, gaan “agterbly”. “Daar was van die geskiedenis van die mistieke tradisie in die kerk se geskiedenis géén opleiding in my studiejare nie. Ek glo dit is drasties besig om te verander. Die metafoor van die 21ste eeu is ‘spiritueel’ of ‘spiritualiteit’ (dink aan Harvey Cox se boek The future of faith; dink aan Karl Rahner se aanhaling hier bo). Die Christelike mistiek het ’n lang en ryke geskiedenis wat die 21ste eeu kan help.

“As ons nie die Christelike mistiek ruimte gee nie, gaan die grootste deel van die 21ste eeu se populasie bloot hul mistieke soeke in ander sfere soek. Die verlies gaan die Christendom s’n wees.”

  • 5

Kommentaar

  • Ek het die artikel (Mistieke Teologie...) geweldig interressant gevind.  Dis al geruime tyd dat ek binne myself die behoefte voel na meer van die geestelike of dan, mistieke, in my Christenskap.  Daardeur voel ek myself geweldig afgesonder van ander gelowiges in my familieverband en selfs vriendskappe.  Ek gaan ook nie meer kerk toe nie - deels agv 'n swak ervaring en deels omdat dit my nie meer 'voed' nie.

        Ek was vir tien jaar verbonde aan 'n Christelike radiostasie waar ek baie kontak gehad het met vele ander maniere van aanbid en toe besef dat die behoefte binne my, die soeke na die mistieke is.  Hoekom wil mens altyd alles 'verklaar'?  Hoekom moet dinge altyd sin maak?  Hoekom kan ek nie opgewonde raak oor 'n diepe spirituele ervaring wat jou 'n wit duif wil laat offer omdat jou hart; jou wese, so vol is nie?  Ek was moeg om skuldig te voel omdat ek nie 'normaal' is nie.

        Die lees van hierdie artikel lei my nou na nòg 'n ontdekking:  Kan die beweging na die mistieke dalk (en ek huiwer amper om dit te sê!) deur 'n Hoër Hand bewerk word om ons as mens 'nader' te lei aan die uiteindelike geestelike wêreld?

    Hoekom nie?  Dit pas my hunkering na die mistieke soos 'n handskoen!

  • Ek is gegrond in die dogma en so opgevoed. In my studies vir 'n meestersgraad in Bybelse Spiritualiteit aan die UFS ondef Prof Pieter G R de Villiers, kruis my dogmatiese denke met die Mistiek en word ek aangegryp deur die wonderlike wat ek ervaar. Onder Jos Huls en Kees Waaijman en Pieter delf ons in die Mistieke en verander my denke en verdiep dit. Wat 'n soeke en nuwe visie op die Teologie breek in my eie lewe oop. Die treffende begrond in 'n Artikel van James Kirkpatrick oor 'n vraag wat aan moeder Teresa gestel is oor hoe sy haar dag ontsluit hou soveel betekenis in in haar antwoord: " First I medidate ( element van Lectio Divina) on Jesus and then I go out and look for Him on the streets - die komplematiewe".Ook in die Pase hou dit 'n ongelooflike mistieke boodskap in as ons daaroor mediteer en die kontemplatiewe werlikheid wat ons vind in hoe dit op ons strate reflekteer en in die spiritualiteit van omgee prakties word. Dit daag ons uit om as ons vanaf die Kruis vertrek dalk soos die Emmausgangers die strate moet betree en die 'mistieke' Jesus soek, soos ook Jesaja in Jes 58 dit mooi saamvat.

    Puik.

    SAM

  • Beautiful Afrikaanse bespreking van die Christelike mistiek. Dit gee my die woordeskat om daarmee om te kan gaan binne die Afrikaanse geloofsgemeenskap. Sal graag meer oor die kontemplatiewe raakvlakke met die Quaker-stilgeleenthede en die luister (na 'n ander person) in diads wil weet.

  • Egbert van Hooven

    Godsdiens het geen plek meer nie. Dit is uitgedien. Dis tyd om oor te slaan na vryheid en gelykheid. Dis tyd om Karl Marx se boek oop te maak en die Bybel weg te pak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top