Die klei van ons binnekant

  • 0

Hierdie lesing is op Saterdag 26 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad.

Christof het die lesing van die klavier af gedoen en telkens die liedere wat hier bespreek word, gesing. Die vertoning is nie opgeneem nie, want opnames van die liedere bestaan.

Die volledige teks verskyn hier onder, met skakels na opnames van die liedtekste.

Die klei van ons binnekant: ’n besinning oor die simbiose tussen woorde en musiek en die soektog na die onverklaarbare Skeppingsbron.

“If I knew where the good songs came from, I’d go there more often.” – Leonard Cohen

Daar is iets groter wat nie geleer of verstaan wil word nie. Nie omdat dit téén kennis is nie, maar omdat dit wyer is as kennis en ligter is as logika. Dit wil nie onthou word nie. Dit verg aanwesigheid, dit wil vry wees, want heilige dinge wil nie besit word nie.

Hoe woorde en musiek mekaar komplementeer bly vir my ’n raaiselagtige verskynsel. In my belewenis gebeur die skep van die simbiose in ’n oomblik van toegang tot ’n raaiselagtige skeppingsbron wat ’n mens net in verwondering kan laat oor wat so pas gebeur het. Dit is die oomblikke waarin ’n mens ’n paar broodkrummels ontvang om terug te bring aarde toe en vir die mense rondom jou te wys.

Die groot vraag bly by my spook: Hoe kry ons toegang tot die groot Skeppingsbron? Wat kan ons doen om uit ons eie pad te kom en onsself as kanale beskikbaar te stel?

Ek weet nie, maar ek het begin oplet en sekere dinge het telkens teruggekeer: beelde, bewegings en gemoedstoestande wat my soms nader laat voel het aan die groot bron.

Wat volg, is nie ’n analitiese verslag of formule nie, bloot beelde van spore wat agtergelaat is op ’n pad wat ek nie vooraf geken het nie. Beelde wat ek nie geskep het nie, maar beelde wat my geskep het.

Ek het onlangs by die Etienne van Heerden Veldsoirée die paaie na my liedjies bespreek, en so ook party van die deure waaraan ek geklop het op soek na die raaiselagtige bron.

Aardsheid en kinderlikheid: Sara en Witkraal

Witkraal is die soutplaas waar ek grootgeword het. By die ingang was daar twee groot wit pilare. ’n Paadjie omlyn deur populierbome het jou na die plaashuis gelei wat op ’n effense kalkhoogte in die skadu van groot kareebome gestaan het. Soggens het my pa my op sy skouers gelaai om die paadjie te gaan stap tot by die ingang. Daar het ons die son gaan groet en gepraat oor die land anderkant die sterre. Met die terugkeer het die kombuis soos amandel en warm brood geruik. Sara het met ’n glimlag in die kombuisdeur gestaan terwyl sy haar hande met ’n vadoek afvee. Op haar gesig was die vrede van die hemel. Om haar gewrigte en enkels was riempies van springbokvel en om haar kop was ’n granaatrooi doek. Die ligte kleur van die binnekante van haar hande het my kleuterbrein toegeskryf aan die klomp wasgoed wat Sara altyd moes was. Dalk het Sara haar hande deurgewas, het ek altyd gedink. 

In die laatmiddag, as die hele plaashuis na laventelpolitoer ruik, het sy my met ’n handdoek agterop haar rug vasgemaak en my die skoonheid van ’n dor wêreld gaan wys. Met my agterop haar rug het sy versigtig deur die veld gestap sonder om ’n enkele veldblom raak te trap. Dan het sy saggies vir die reën begin sing.

Ons eerste stop was die kalkmyn. Daar het ons skatte gaan jag – verbleikte meerkatgeraamtes, klein skilpaddoppies, tarentaalvere en geroeste muntstukke. Haar stories het lewendig geword in die rookgordyn van haar lang BB-zol. Uitgedinkte wêrelde van jagters en krokodille en riviere wat net dromers kon sien, het voor my oë werklikhede geword. Aan die einde van haar zol was dit tyd vir die lang tog deur die soutpan.

Dit was ’n harde pad vol woedende son, maar Sara het net bly sing soos sy loop, want dit was die enigste pad na ons hoofbestemming – die oase van die blou fonteintjie.

Die fonteintjie was welig, met biesies en vleiriete waaraan vinknessies heen en weer gewieg het in die wind. Kolossale populierbome het soos wyse oervaders met hulle arms om mekaar se skouers oor die geheimsinnige donker poel gewaak. Hulle het met mekaar gepraat in oertaal en stemme van wind. Onder hulle beskerming, op ’n mat van bruin en geel populierblare, het Sara my aan die slaap gesing. Met die ritme van die reënliedjie het sy klei met ’n stok uit die aarde gegrou. In ’n hemel vol groen en blou bewegende patrone het my oë toegeval.

Met die roering van die skemerwind het ek en die vinkies ontwaak. Dan was Sara steeds singend, en sy het haar kleikunswerke in ’n netjiese ry voor my uitgepak. Vir ’n oomblik het sy ophou sing. “Ons moet hulle nou name gee, Mujalifa,” het Sara gesê, soos sy met ’n gebuigde wysvinger na die kleipoppies wys. “As jy vir ’n ding ’n naam gee, dan kry hy ’n binnekant.”

Sara se liedjie van die reën was “Mangwane mpulele”, ’n tradisionele Sotho-liedjie waarvan ek ’n verwerking gedoen het.

(Hier is ’n videoskakel na die liedjie “Mangwane mpulele”.)

Ek in ander: avonture in mense

“Toe ek die man in die straat sien aankom, het ek besef – ek is daardie man, en daardie man is ek.” – Rumi 

Toe die tyd aanbreek vir my om Witkraal te verlaat, gee my pa my ’n opdrag om die klei van my binnekant te gaan soek. Hy groet my met ’n handgeskrewe brief:

Ek wens ek kon jou vir nog so ’n rukkie hier hou, maar ’n nuwe wêreld wag nou vir jou. Vat die son met jou saam sodat jy kan sien waar jy loop. Stop by al die fonteine en drink uit die glashelder strome. As jou voete moeg raak, kyk in die kant van jou sak, jy sal sien ek het vir jou ’n nuwe paar skoene gepak. Kom kuier vir ons en onthou om te lag en as jy kom sal ek by Witkraal se hek vir jou staan en wag. Ma se kombuis sal weer soos amandel en gemmer en neutmuskaat ruik, en ek en jy sal weer wyn drink uit die silwerkruik.

In avonture en reise het ek besef dat ons onsself deur ander beleef. Ons skep karakters van onsself in ander mense, maar soms skep ons ’n hele wêreld uit een karakter.

Ek het by die fonteine gestop en uit die glashelder strome gedrink. Op die reis na geheime stede het ek stukke van myself en oomblikke van die raaiselagtige bron in ander gevind. Steeds het die raaisels van die heelal soos wierook rondgewaai in die wind.

Ons het geseil oor oseane in silwer skepe
maar die beste deel was jy gewees

Jy kon die maan en die sterre en die nag 
laat lag met jou Italian-gees

O my Lady Mona Lisa met jou liefde in Latyn 
en jou lyf soos ’n kunsgalery

Die aandlig was Movie
Stede vol geheime in die sterre daar bo
dit was ’n Movie

In ’n Arabiese woestyn op ’n duin met ’n bong
Ons het gemaak wat ons wou

Mense het gebargain met makoue, mandjies, matte
en kamele wat kou

Klipstrate, skape, bokke, ganse, vars stringe dadels
aan ’n hessian tou

Die aandlig was Movie
Stede vol geheime in die sterre daar bo
dit was ’n Movie

In Bangkok was ’n Buddha wat gelag het
hy’t net heeldag op sy sy gelê.

Met marigolds en kersies in jou kaalvoet
kon jy hom omkoop as jy iets wou hê

Frangipani’s in jou hare, silhoeëtte in kersligaande
op ’n tropiese nag

Die aandlig was Movie
Stede vol geheime in die sterre daar bo
dit was ’n Movie

In Indië het die raaisels van die heelal soos wierook
rondgewaai in die wind

Gode het vergader by ou tempels vol jasmyn
en peperment

Daar was soekers, digters, dromers almal hoog
en op hulle pad na enlightenment

Die aandlig was Movie
Stede vol geheime in die sterre daar bo
dit was ’n Movie.

(Hier is ’n videoskakel na die liedjie “Movie”:  Christof Berg | Movie)

Vryheid in Boheme: twee somers van liefde

Vir twee jaar het ek saam met ’n groep baie vrydenkende mense gewoon. Ons Boheemse republiek was twee vervalle ou huise tussen groot bome in die suide van Kaapstad. Dit was ’n tyd deurweek met vryheid, blomme, kruie, kristalle, kitare en lang hare. Hierdie tipe vryheid van denke was ’n magiese openbaring, ’n deur na ’n wêreld met ’n goue glans. Ons het saans om ’n groot vuur vol stories bymekaargekom in ons tuin van wilde Kaapse malvas. 

Daar was skrywers, musikante, dansers, digters en denkers. Ons het ons eie groente geplant en ons eie hoenders en hasies geëet. 

Ma Nhozita was ’n engel wat vermom was as ’n skoonmaker om oor ons te waak. Om haar kop was ’n koningsblou doek gevou en om haar gewrigte en enkels was skulpies van die Oos-Kaap aanmekaargevleg. Haar woorde was min en wys. 

Haar glimlag was sag, want sy het geweet, ek sal nog baie verder as Aloe Lane moet gaan reis.

Do you remember the days we lived in the lane?
Full of aloes, geraniums, purple in spring.
The fence with no meaning, the crooked old gate,
And the rain through the rooftops.

Do you remember that girl with the long dark brown hair?
She danced like the autumn, as if she didn’t care.
Like magic, like moonlight, like warm summer rain,
With the hippie in her eyes.

And the queen of the garden was a merry old soul.
She cried cockles and mussels, alive, alive ho.
Her day job was proper, but don’t let her loose –
She’ll tell you stories of Ireland.

Do you remember the time of the sweet summer wine?
Solutions for problems the world couldn’t find.
A writer, a drummer, a piano man,
An occasional stranger.

Do you remember the vineyards we walked in the sun?
Ate the grapes from the vines, took the dogs for a run.
Do you remember the cold dips we took in the dam,
And drifted away on our backs
And dreamt of better days to come?

But I remember the wars that went on in my head,
About life and its meaning and what lies ahead.
But I thought about those poets who cried in the rain –
And the hippie in her eyes.

(Hier is ’n videoskakel na die liedjie “Do you remember?”: (63) Christof Berg | Do you Remember – YouTube)

Die dans van lig en donker: Oliver

Een van die karakters in die tyd van Aloe Lane was Oliver. Hy was my heel beste vriend. ’n Switser en ’n man wat geworstel het met die lewe en almal daarin. Die onreg van die wêreld in ’n kapitalistiese stelsel was vir hom net te veel, maar ook te gerieflik, want hy kon dit vir al die duiwels binne-in hom blameer. Ons was kranige tuimakers, ek en Oliver. Hy was ook die hoofhaasteler van ons gemeenskap. Sy deurmekaar bos blonde hare het net-net uitgesteek agter die hoë rye tamaties as hy knip, vloek en skoffel in die groentetuin. Sy groot voete was altyd vol tuinmodder en hy kon ’n haas soos ’n lomp wolf bekruip as hy hom in die tuin se hoek wou vasdruk vir die gemeenskapsaandete. Daar was vrae op sy gesig. Net soveel soos op myne. Op sy vel was merke van ’n vorige lewe en in sy koue blou oë was daar ou drake vol vrees en donder. Oliver se donker belewenis van die wêreld het my die kleur van lig baie beter laat verstaan.

Al was hy sterk oortuig dat my groot probleem was dat ek te veel gelag het, het hy tog elke dag vir my in die tuin gewag en gehoop ek daag op om te kom lag. Lig kan net gesien word as daar donker ook is. Die hale van skaduwee wat vleg deur die lig op die wit marmerbeeld is wat die kontoere van die engel se gesig en haar vlerke vir ons sigbaar maak. My beste vriend was dalk ook ’n engel, net vermom as woede, om waarhede vir die wêreld te kom leer.

You chose the darkest spot to wait,
Because you knew I would turn up
With my Turkish coffee cup.
Then you pretend you’re on your phone,
Looking strong and self-assured,
But I know you are insecure.

And then you tell me that I laugh too much.
You tell me I’m a superficial fool.
With me, that’s cool.
With me, that’s cool.
Because I know that in your travels
You’ve dealt with many devils
That you’re fighting every day.
But for now, let’s discuss the issue of your garden.

You’re always angry with the world–
With the West and with the East,
With a capitalistic feast.
You feel it’s your duty
being aware of the bombs in Palestine,
Of the children that are dying.

And then you tell me that I laugh too much.
You tell me I’m a superficial fool.
With me, that’s cool.
With me, that’s cool.
Because I know that in your travels
You’ve dealt with many devils
That you’re fighting every day.
But for now, let’s discuss the issue of your garden.

You got quite good at being drunk,
And it’s different from before,
Because I cannot tell the difference anymore.
You mentioned driving off a cliff.
Then you said that you’re too scared,
Rubbing nervously on your beard.

And then you tell me that I laugh too much.
You tell me I’m a superficial fool.
With me, that’s cool.
With me, that’s cool.
Because I know that in your travels
You’ve dealt with many devils
That you’re fighting every day.
But for now, let’s discuss the issue of your garden.

’n Opname van “You tell me that I laugh too much” word later die jaar vrygestel.

In die donkerste uur: die Dood

Dit was ’n vrolike oggend toe my pa my vanaf Witkraal bel om met my sy blink gedagte te deel: “Seun, ek wil weerskante van die paadjie van Witkraal se ingang tot by die plaashuis kosmosse plant.”

Hy wou weet wat ek daarvan dink. Ek het gedink dis ’n blink plan. Ek is die taak gegee om die kosmossaad uit Johannesburg te bestel terwyl hy die grondvoorbereiding doen. Ons het gegroet.

Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees.

Nog minder het ek geweet waantoe dit sou lei.

Ek gaan soek toe na die hemel,
Want ek het jou verskriklik gemis.
En ek loop, en ek loop,
Maar ek kry nie my rus.
En ek roep, en ek soek,
En my voete raak moeg
Maar die pad lei my toe reguit
Na Witkraal toe.

En op die muurtjie sit jy,
En jy skud net jou kop.
Jy kyk vir my, en jy lag vir my,
En jy sê vir my
“Maar kom sit hier langs my.”

Jy skuif effens op,
En daar’s ’n lig om jou kop.
Jy sê
“Kyk op

“Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Wil jy sien hoe lyk die strale van haar son?
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Daar’s plate kosmosse wat daar blom.
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Hier is dit nou
Die hemel is binne-in jou.”

Die son was te skaam om sy lig te skyn
En die maan het gaan skuil agter die donker gordyn
Die sterre het gekwyn hulle lig het verdwyn
Die nagte was so koud, soos die Getsemane-tuin.

Want jou stoel en jou tafel het leeg gestaan
Stom gestaan
Hulle het niks gesê.

Die honde was verwese, was bang en verdwaas
Op en af gekruip, op soek na die baas
Die winde in die panne het verkeerd om gewaai
Die swaeltjies het verdwaal, hulle het omgedraai

Want jy het huis toe gegaan
Om nie weer terug te kom.
Wat maak ek nou, o liewe son?

Ek gaan soek toe na die hemel
Want ek het jou verskriklik gemis
En ek loop, en ek loop
Maar ek kry nie my rus
En ek roep, en ek soek
En my voete raak moeg
Maar die pad lei my toe reguit
Na Witkraal toe.

En op die muurtjie sit jy
En jy skud net jou kop
Jy kyk vir my, en jy lag vir my
En jy sê vir my
“Maar kom sit hier langs my.”

Jy skuif effens op
En daar’s ’n lig om jou kop.
Jy sê
“Kyk op

“Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Wil jy sien hoe lyk die strale van haar son?
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Daar’s plate kosmosse wat daar blom
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Hier is dit nou
Die hemel is binne-in jou.

“So gaan sê nou vir die son
Hy kan maar weer uitkom
Gaan sê vir die swaeltjies
Hulle kan huis toe kom
Plant blomme op jou paaie
Vol kosmos en son
En groot koeltebome
Vir as die droogtes kom.

“Jy weet
Die droogtes kom.”

(Hier is ’n videoskakel na “Wil jy sien hoe lyk die hemel?”: Christof Berg | Wil jy sien hoe lyk die hemel)

Visuele kuns: van vriend tot leermeester

Ek het met duidelikheid besef dat die alomteenwoordige skeppingsbron reeds binne ons is. Dat dit nie iets is om te gaan soek nie, eerder iets om toe te laat. Maar hoe om vrye toegang te kry tot ons binnekant waar die bron woon, bly steeds ’n raaisel. Al het die soeke opgehou, gaan die reis ewig voort.

Visuele kuns het altyd ’n groot rol in my lewe gespeel, maar die verhouding het verdiep vanaf vriend na leermeester – ’n meester wat my steeds leer om terug te staan, om toe te laat, sonder vrees; om nie die een te wees wat die opdrag gee nie, om net te luister en te sien wat die raaiselagtige skeppingsbron vir jou wil wys, of deur jou wil wys

Hy dra nie altyd ’n manel nie. Ook nie altyd wit rokkies nie. Soms is hy stiervegter in arenas vol bloed, en soms dra sy swaar aan lastige borste vol vrugbaarheid. Partykeer is dit binnegoed wat uitgegooi word op ’n spierwit doek, partykeer kleurvolle figure in ’n fees van lig, en soms ’n wonderwêreld deur die oë van ’n kind. Altyd ’n raaisel. Altyd die waarheid. 

(Hier is ’n skakel na die visuele kuns: ART | My Site)

In verwondering: die ewige raaisel

Vir my word melodie en woorde saam gebaar en saam gebore, baie keer per ongeluk of uit foute en chaos. Ook uit kinderlike, aardse belewenisse, mense en avonture. Uit vrye vreeslose denke, en uit die wals van goed en kwaad. Maar meer as dit alles is dit om die wêreld vas te hou in lig sonder om die donker te ontken. Om nie die opdrag te gee nie, maar eerder die klei van ons binnekant toe te laat om ons werk te vorm. Om die raaisel te aanvaar en te weet ek sal nooit by die antwoord uitkom nie.

Dit is in die oomblikke van absolute verwondering oor hierdie ewige raaisel dat die meester meer gereeld my oproep beantwoord as ek bel om vir ’n opdrag te vra.

Dit is dan wanneer hy vir my ’n paar krummels gee om saam te vat huis toe om met ander te deel.

Mag die lig by jou bly
waar jou pad ook al mag lei
mag jy rus in sagte velde
mag jou boorde welig blom
en as die motreën soggens kom
jou verstom met al haar wonders.

Mag die son oor jou skyn
en jou vrese verdwyn
mag jou silwerbeker vol bly.

Mag jy opkyk in verwondering
as die oorvloed oor jou vloei.
Mag jy opkyk in verwondering
as die dagbreek nuwe lewe bring

Mag die maan vir jou saans
lig maak as jy dans
en jou siel saam sing van vreugde

Mag jy lag, mag jy dig
met die son op jou gesig
mag die sterre vleg deur jou drome
mag jy waag, mag jy wen
mag die voorspoed jou goed ken
en jou lied uit volle bors sing.

Mag jy opkyk in verwondering
as die oorvloed oor jou vloei.
Mag jy opkyk in verwondering
as die dagbreek nuwe lewe bring

Hier is ’n oudioskakel na die liedjie “In verwondering” op Spotifyen hier is die liedjie op Apple Music.

Lees en kyk ook:

Izak de Vries en Christof Berg: “Wil jy sien hoe lyk die hemel”

Francis Galloway, Breyten Breytenbach en Laurens van Krevelen: Omtrent “die aanpraat van die skilderye”

Marlene van Niekerk: Klein vingeroefening rondom die nosie van hibriditeit

Eben Venter: Die skaapboud, gedagtes oor hibriditeit as voorwaarde vir selftoleransie en mede-menslikheid

Amanda Swart: Laurika Rauch – haar nalatenskap vir Afrikaans en Afrikaanse musiek

Luna Paige: Is ons musiek outentiek?

Izak de Vries en Anna Verloren van Themaat: Trust the legehness

Alex J Coyne: Maskandi: Southern Africa’s Delta blues

Izak de Vries en Frieda van den Heever: Spoorsny

Izak de Vries en Luna Paige: Dis die dors

Anelia Heese: Om Gertjie se beautiful woorde in Beaufort-Wes daar te laat

Andries Bezuidenhout: Die storie agter Koos Doep se “Herman”

Naomi Meyer en Janke Mostert: “Kom ons begin ’n band”

Jannike Bergh en Rudi Dennis: Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band

Izak de Vries:  Jou ma se ... platespeler

Koos Kombuis: Is daar ’n alien op jou stoep?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top