
Laurika Rauch (Creative Commons 4.0 via WikiMedia)
Op Dinsdag 29 Januarie 1980 sê Stephan Bouwer die volgende by ’n simposium in Johannesburg oor “musiek en liriek":
Daar word in die jongste tyd veel gepraat – én veel geskryf – oor die sg Nuwe Afrikaanse liedjie. In ’n poging om sy bestaan te bevestig; om te keer dat hy in die vergeetboek raak, en om hom aan die wispelturige publiek se (dikwels) dowe oor te knoop, is daar al deftige woorde soos “vernuwing”, “Renaissance” en “rewolusie” aan hom gekoppel. ’n Paar verdwaalde swaeltjies wat ’n beskeie lente kom aankondig het, is al vir volgroeide arende aangesien ... en ek aanvaar mede-“skuldpligtigheid”! Die Engelse pers wat, sedert verlede jaar, die Afrikaanse liedjie ewe geesdriftig begroet, het hom terstond “Afrikaans new wave” gedoop. ’n Voldane Des Lindberg praat van ’n “folk-herlewing” in Afrikaans – ’n gebeurtenis wat dalk voortaan hier gaan rigtings aandui; en ’n Kaapse rubriekskrywer, nogal versoberend, van ons “Ersatz kabaret”. (Bouwer 1980:1)
Later in dieselfde toespraak noem hy dat daar nooit oor spesifieke doelstellings en oogmerke van die nuwe Afrikaanse liedjie georganiseer en gemobiliseer is nie; daar het wel by vele kunstenaars die drif ontstaan om ’n kwaliteitsproduk te lewer, omdat die “Afrikaanse liedjie nie meer opgestuur word nie, maar beluister word” (Bouwer 1980:1). “Die nuwe liedjie is nuut omdat hy nou die eerste keer gehoor word ...” (1980:2). Soos Koos du Plessis se “Kinders van die wind”, wat reeds in 1970 geskryf is en eers in 1979 die wêreld ingestuur is.
Nou is dit 45 jaar later, en bitter baie dinge het op die musiekfront verander. Vernuwing op die Afrikaanse musiekterrein was daar wel. Revolusionêr? Moontlik. Renaissance? Sekerlik. Die Afrikaanse “new wave”? Gewis geen “ersatz kabaret” nie – en dít is ’n volledige artikel werd.
Sekere woorde en dinge het gebly, en “luisterliedjie” het ingeburger geraak – al luister mens normaalweg na ’n lied, is hier tog ander nuanses by die woord “luister”: “Luister ook na die woorde – dit wil veral gehoor word.”
Verskeie gehalteprodukte is wel gelewer – produkte en vertolkers en musici. Een van ons sangers wat deel van hierdie verandering was, was Laurika Rauch, wat nou, na bykans 50 jaar in die bedryf, haar laaste musiek (sê sy) laat opneem het en daarmee haar besonderse bydrae op ’n hoogtepunt wil afsluit. Hierdie artikel ondersoek die rol wat Laurika as vertolker in die Afrikaanse musiekbedryf gespeel het.
Voor die 1980’s was daar min Afrikaanse musiek wat vergelyk kon word met Europese musiek en vertolkers waar die teks, musiek en vertolker gesamtkunstwerk (ek is seker ons kan dit so noem – alles saam is ’n totale kunswerk) gevorm het. In Nederland was daar byvoorbeeld Liesbet List:
En in Griekeland Maria Farantouri:
In Frankryk was daar Juliette Greco en in Amerika Bob Dylan en Leonard Cohen – om maar ’n paar name te noem. Sedert 1980 kry Afrikaanse musiek nuwe lewe: Koos du Plessis (wat al vroeër begin het), Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Anton Goosen, David Kramer, Louis van Rensburg ... en daar is nog talle voorbeelde.
Op dieselfde simposium in 1980 lewer Laurika Rauch ook haar inset, veral oor vertolking van wat in Nederland – en sedertdien hier te lande – “kleinkuns” genoem word: “’n teenwig teen inhoudlose, oorgekommersialiseerde ‘schlager-repertoire’ [...] wat die mark oorgeneem het” (Bouwer 1980:4). In die luisterlied, as een faset van kleinkuns, is, volgens Bouwer “die teks net so belangrik soos die melodie” (1980:5). Kleinkuns is vir sommige kunstenaars nie ’n aanvaarbare woord nie, maar by gebrek aan ’n ander woord gebruik ons, jare later, steeds hierdie term. Bouwer sluit sy betoog met die volgende woorde af: “Die stuiptrekking van die dekade Sewentig was die geboorte van ’n mooi en opwindende ding. In Tagtig moet hy gedy, bloei en uitvoervrugte dra” (Bouwer 1980:8).
Genadiglik hét die nuwe geboorte vrugte gedra, baie vrugte aan baie verskillende bome, onder andere deur die werk van Laurika Rauch. Sy staan bekend as uitnemende vertolker van veral Afrikaanse luisterliedjies, maar sy het ook in Engels en Nederlands gesing. In haar toespraak het sy op haar persoonlike siening van vertolking gefokus en wou sy nie ’n universele waarheid voorhou nie. Sy definieer vertolking soos volg: “Vertolking gebeur wanneer ’n mededeling, of dit musikaal of verbaal of albei is, vertaal, verklaar, verduidelik en uitbeeld” (Rauch 1980:1).
Volgens haar vertolk sy dus die luisterliedjie wanneer sy die woorde en musiek só “vertaal” dat dit vir die luisteraar sin maak en betekenis kry, en nadat die moontlikhede in betekenis van die lied bekendgestel is, word die musiek en woorde in besonderhede “verklaar” of “verduidelik” deur die vertolker se interpretasie en teksontleding. As die luisteraar boonop ’n toeskouer is, gooi sy gesig-, gebare- en bewegingspel by om die lied verder uit te beeld (Rauch 1980:1). Hierdie verklaring of verduideliking noop ons om verder te gaan kyk na wat en hoe en hoekom.
Hoekom sing sy wat sy sing?
Vertolkers moet kan identifiseer met die woorde; hulle moet glo in wat hulle sing; dit moet betekenis hê. Betekenis beteken egter nie noodwendig boodskap nie; die hoe van ’n storie is baie belangrik. Boonop moet die vertolker eerlik wees (Rauch 1980:2–3).
Hoekom is vertolking so belangrik?
Soms wil daar ’n spesifieke effek bereik word; hierdie effek moet natuurlik betrekking op die teks hê, want effek ten koste van die teks is oneerlik. Sy glo ook dat haar vermoë om as aktrise op te tree, haar baie help met vertolking. Sy moes sekere tegniese vaardighede, soos stembeheer, asembeheer, teksontleding, stemontwikkeling en interpretasie aanleer en verfyn. Mens is dit immers aan ’n goeie lied verskuldig. Een van die belangrikste redes vir haar vir hoe sy sing, is haar eie persoonlikheid: verwysingsveld, agtergrond, opvoeding, siening van moraliteit, integriteit, vriende, ens. Daarom moet elke vertolker se vertolking anders wees, vanweë elkeen se individuele aard en persoonlike smaak (1980:3–5).
Vergelyk byvoorbeeld haar vertolking van Hennie Aucamp se teks “Die lewe is ’n grenshotel”, wat sy ook in Van Berlyn tot Bapsfontein gesing het:
Stephan Bouwer het in 1988 ’n kabaretprogram Van Berlyn tot Bapsfontein in Pretoria aangebied. Die tweede helfte van die program wou ’n anti-oorlogboodskap weergee. Dit was saamgestel uit vier of vyf liedjies wat deur Laurika en Jannie du Toit gesing is. Die eerste was “Die lewe is ’n grenshotel” van Hennie Aucamp. Teen daardie tyd was Laurika se weergawe van die lied reeds op plaat vasgelê. Die musiek, wat deur Jannie Hofmeyr in die reggaestyl geskryf is , het ’n ritmevoorskriftelikheid wat Laurika nie die geleentheid gee om te pouseer en legato's te maak nie. In die opvoering het die “lewende” musiekbegeleiding aan haar meer geleentheid vir frasering gebied. Die reggaeverwerking met sy dansagtige en meesleurende refrein is behou, as misleiding, maar sy het dit gesing terwyl Jannie du Toit, met soldaatpet op die kop, “leweloos” op haar skoot gelê het terwyl hy geliefkoos word. Die posisie van die twee kunstenaars het altyd ’n plesierige gelag ontlok – die papdronk soldaat in die arms van die slet. Voor sy die laaste vers gesing het ("En drank en nag bring kennis / en almal haal die grens / die grens erken geen grense / alleen die hart se wens” [Aucamp 1977:14]), het sy ’n lang pouse gemaak waartydens die musiek opgehou het. Met teësin op haar gesig het sy onder die “soldaat” uitgeskuif, waartydens hy dan leweloos op die stoel terugval. Die gehoor besef dan dat die “Madame” tydens haar voordrag inderdaad ’n dooie soldaat (“kanonvoer”) sit en liefkoos het (Bouwer 1990:19). Rauch en Bouwer het albei geweet wat hulle met die teks en die musiek doen. Die weergawe/vertolking het tot ontroering by die gehoor gelei, wat baie applous ontlok het (Swart 1993:197–8).




Inspirasie
Verskillende musieksoorte inspireer op verskillende maniere. Sy hou daarvan om deur die grense van konvensies of reëls te breek. Die konvensies moet eers daar wees sodat die teks sin kan kry (1980:5).
Ondersteuning
Om as kunstenaar te bestaan, te groei en te ontwikkel, is feitlik onmoontlik as dit sonder ondersteuning moet gebeur. ’n Gehoor moet byvoorbeeld bereid wees om te luister en dit te geniet. Goeie lirieke is ’n voorvereiste, want ’n sinvolle teks is ’n genot om te ontleed en te vertolk. Begeleiers is nodig wat by die vertolker kan aanpas; die vertolking bepaal uiteindelik alles wat daarna kom (1980:5–6).
Die eienskappe en fasiliteite wat moontlik nodig is
Eerlikheid en dissipline is twee belangrike faktore. Weet wie jou gehoor is en pas jou stof dienooreenkomstig daarby aan. Jy moet alles wat jy doen, kan verantwoord en daarmee saamleef. ’n Liefde vir en kennis van musiek is onontbeerlik en sekere tegnieke, soos verhoog-, spraak- en sangtegniek, is belangrik. Identifiseer jouself en kies dan jou stof (1980:7–8).
Laurika se genuanseerde vertolkings meet druppel vir druppel betekenis af. Sy glo musikaliteit lê in frasering, want dit kom uit die hart, die longe, die bekken. Musiek moet jou op alle vlakke aangryp (Schoombie 1992:44–6).
Hierdie opvatting van kleinkuns en luisterlied sluit ook aan by die kabaret, die tipe genre waaraan bogenoemde uittreksel voldoen – én die tipe genre waarin Rauch ook roem verwerf het. Hennie Aucamp sê by dieselfde simposium in Johannesburg dat dit by literêre kabaret om drie elemente gaan: woorde, musiek en eksponent – drie elemente waaraan Rauch pertinent aandag gee. Hy gebruik eksponent juis om te impliseer dat dit om meer as sanger gaan; trouens, ’n kabaretkunstenaar (en kleinkunskunstenaar) kan groot wees selfs met ’n beperkte sangvermoë. Die bates van ’n kleinkunsvertolker is lewenservaring, want alleen kennis van die lewe bring bittersoet beleënheid, ironie wat net deur afstand en eie pyn gekoop kan word (Swart 1994:198).
Die vermoë om ’n teks te ontleed is belangrik om emosies te suggereer. Jy moet weet wat jy sing. Ironie is so dikwels ’n masker vir die pyn. Vir Aucamp is die woord nog belangriker as die musiek. In die geval van opera byvoorbeeld val die klem eerder op die uitvoerder as op sy mededeling; die Verfremdung verval (Aucamp 1981:6–8).
Daar is iets ekshibisionisties en egoïsties in die mens wat voor die publiek in die kollig iets vertolk. Hierdie vertolking is egter nie in diens van die ego nie, maar van die mededeling. Hier kan ’n “uniform” natuurlik help. David Kramer se middelpaadjie en lapperige klere is reeds identifikasie en distansiëring; Charlie Chaplin se boemelaar met keil was Verfremdung, Amanda Strydom se swart rok en wynrooi toebehore is ideaal vir haar eksistensiële mededelings. Die vertolker moet hom reeds voor sy optrede aanpas by sy klere, want die gehoor voel valsheid aan (Aucamp 1981:9–12).
’n Gevoelige vertolker kan met behulp van die musiek swakhede in ’n teks probeer verbloem, maar ’n vertolker moet uiteindelik op interpretasie konsentreer en nie op die idee om die teks te beskerm nie. Hoe gaan hy buitendien die woorde glo waarteen hy die luisteraar beskerm sonder om die verleentheid te kenne te gee (Aucamp 1981:14)? Luister byvoorbeeld na hierdie besonderse vertolking van ’n Brel-lied deur Jan Mesdag – intens oorgedra, soos Rauch se interpretasies:
In die dokumentêr wat in Januarie 2025 uitgesaai is, Laurika se tuiskoms, sê sy: “Daar moet ’n punt kom waar ek sê ek sê totsiens.” Die program bring hulde aan een van Afrikaans se grotes. In hierdie program praat sy oor haar loopbaan, haar lewe; intieme oomblikke word gedeel, en vyf nuwe liedjies wat opgeneem is, word bekendgestel.
Laurika Rauch het haar besondere bydrae tot Afrikaanse musiek gelewer: as vertolker, soms as komponis. Sy en haar man, Chris Torr, het Afrikaanse musiek verryk op maniere wat Afrikaanse musiek na nuwe hoogtes gevoer het. Nou het sy na 50 jaar uitgetree – ook met ’n hoogtepunt.
Luister byvoorbeeld na een van die vier liedere wat sy ter afsluiting opgeneem het:
Ons gaan haar mis; ons taal gaan haar mis. En ons gaan bowenal haar intense en opregte vertolkings mis.
Sy het darem nie net verdwyn sonder om te groet nie.
Bibliografie
Aucamp, H. 1977. Die lewe is ’n grenshotel. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1980. Kabaret – ’n inleiding met projeksies en musiek. 3 Julie 1980.
Bouwer, S. 1980. Die luisterliedjie as “nuwe” Afrikaanse uiting. Musiek en Liriek Simposium, Johannesburg. Dinsdag 29 Januarie 1980.
—. 1988. Van Berlyn tot Bapsfontein. Truk, 25–30 April 1988. Program.
—.1990. Kabaret as ’n “alternatiewe” kommunikasieverrigting. Communicare, 9(2):12– 21.
Rauch, L. 1980. Die vertolking van musiek en liriek. Simposium, Johannesburg. 24 Januarie 1980.
Schoombie, S. 1992. Nuwe lewe in die luisterliedjie. De Kat. Junie 1992, ble 44–6.
Swart, A. 1993. Die poëtika in die liriek van die Afrikaanse literêre kabaret. PhD-proefskrif, Universiteit van Kaapstad.
Lees ook:
Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band: ’n onderhoud met Rudi Dennis
Mandela Bay Arts Festival: ’n resensie van Jou ma se ... platespeler

