Mandela Bay Arts Festival: ’n resensie van Jou ma se ... platespeler

  • 0

Gqeberha. Julle het Sondagaand ’n heerlike vertoning gemis.

Jou ma Se ... platespeler deur die Misery Loves Company was vet pret en die musiek puik.

Dit sit nie in enige groep se broek om jou in 90 minute van oom Chris Blignaut tot by Karen Zoid te neem, en dan nog Bles Bridges en Kerkorrel en Fokofpolisiekar ook te doen nie. Dis wat dié ouens reggekry het. Daarmee saam is heerlike, aweregse sosiale kommentaar op ons samelewing met die gehoor gedeel.

Die voëlvlug deur Afrikaanse musiek is slim gedoen deur ons meer te vertel van die musiektegnologie. Wie het platerspelers uitgevind en watter Afrikaanse kunstenaar het die eerste platekontrak geteken? Wanneer is die kassetspeler uitgevind en watter sosiale verskille het dit vir ons samelewing meegebring? (Die antwoord: Kassette het ondergrondse verspreiding van musiek moontlik gemaak en het so gehelp om teen die streng sensuur van die NP te rebelleer.)

Toe kom CD’s en daarna natuurlik Napster.

Nou is daar Spotify en dergelike meer.

Wat die drie musikante reggekry het, was om kort, pittige opmerkings te maak en dan weer die gehoor te oorrompel met hul musiek.

Blikskottel, dit was lekker.

Hulle musiek is goed. Julle mag my vertel dat ek niks van musiek weet nie, en ek sal dit aanvaar. Maar Albert de Vos was saam met my en ek dink die meeste mense weet dat die Wolfman sy musiek ken. Hy het saamgestem dat hulle uitstekend is.

Ek het gehou daarvan dat die groep elke stuk verwerk het en hul eie gemaak het. Dit was nie bloot ’n “cover” nie. Dit was die Misery Loves Company se weergawe van daardie lied: puik, eiesoortig en meesleurend.

Kristo Zondagh se tromspel en ander perkussie het uitgestaan. Die ou is uit die boonste rakke. Hy was ook die groot stem van hierdie vertoning. Die tromspeler is dikwels die ou wat daar agter die ander wegkruip. In hierdie geval het ek die gevoel gekry dat die meeste verwerkings om die perkussie gebou is. Daar is niks fout mee nie; inteendeel. ’n Goeie tromspeler is ’n blikskottelse lekker ding om te sien en te hoor. Die ou is goed, baie goed.

Kerry Hiles maak die vyfsnaarbas praat. Soms was dit baie stil, net so tik-tik-tik, ander kere kom daar sommer ’n lekker wysie uit die basnote. Sy het boonop ’n lieflike stem en haar energie daar op die verhoog is iets om op verlief te raak.

Rob Thompson is ’n baie goeie kitaarspeler uit eie reg, ook wanneer hy sonder die groep optree. In hierdie vertoning was sy spel (natuurlik) puik, maar selfs op die elektriese kitaar was hy effens in die agtergrond. Dis nie ’n fout nie, dit was bloot interessant om te sien hoe die samestelling werk. Gewoonlik sou ’n flambojante kitaarspeler die toneel kon oordonder. Thompson het die kitaar laat praat sonder om homself op die voorgrond te stoot.

Terloops, die naam van die groep is oulik. Gewoonlik, en per definisie, word “misery loves company” gebruik vir mense wat diep ongelukkig is en dan hul probleme met ander wil deel. Nie hier nie! Sondagaand is net uitstekende musiek, snaakse stories en baie pret uitgedeel. My voete wou nie stilsit nie.

Die enigste vals noot was die min mense wat so ’n lieflike groep kom ondersteun het. Ag nee, Gqeberha man, dis nie cool nie. Hierdie ouens is van die Oos-Kaap. Ondersteun hulle! Julle gaan spyt wees elke keer dat julle so iets misloop.

Die einste groep doen Woensdagaand 26 Februarie om 19:00 ’n Amy Winehouse-konsert getiteld Amy Winehouse, the diva & her demons.

Komaan, Gqeberha. Kom deel in die pret!

Aan mense buite Gqeberha: Maak seker julle bespreek as Misery Loves Company enige iets naby julle aanvang.

  • Foto’s: Izak de Vries
Sien ook:

The story of Eva Cassidy – Oos-Kaap-trio rits en betower die land vol

The tyrant by Xabiso Zweni at the Mandela Bay Arts Festival: A review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top