
Kristo Zondagh, Rob Thompson en Kerry Hiles van Misery Loves Company tree op die in die musiekproduksie, The story of Eva Cassidy. (Foto: verskaf)
Eva Cassidy, die Amerikaanse sangeres bekend vir haar aangrypende interpretasies van jazz, folk en blues, het ’n blywende indruk op die musiekwêreld gemaak ten spyte van haar tragiese kort lewe. In ’n roerende huldeblyk blaas die trio Misery Loves Company – bestaande uit Kerry Hiles, Rob Thompson en Kristo Zondagh – nuwe lewe in haar tydlose nalatenskap deur hul indrukwekkende produksie The story of Eva Cassidy. Die vertoning, wat oor die hele land aangebied word, neem die gehoor op ’n emosioneel gelaaide reis deur Cassidy se lewe, musiek en die hartseer van haar ontydige heengaan.
Kerry Hiles is ’n ervare kunstenaar met ’n stem wat moeiteloos van sagte ballades na dinamiese kragliedere oorgaan. Sy staan die rol vol as die verteller van Cassidy se storie en tokkel ook die baskitaar soos ’n baas! Haar vertelling van Cassidy se storie is ’n opregte interpretasie wat Cassidy se gees wil eer. Hiles se stem, vol warmte en subtiele emosie, gee ’n nuwe diepte aan Cassidy se repertoire terwyl sy getrou bly aan die oorspronklike essensie van die liedjies. Of dit nou die rou emosie van “Fields of gold” is of die evangeliese vurigheid in “Wade in the water”, Hiles beweeg deur Cassidy se uiteenlopende liedboek met grasie en oortuiging. Haar vermoë om Eva se diep emosionele weerklank oor te dra sonder om te sentimenteel te wees, is merkwaardig, en ’n bewys van haar vokale beheer en begrip van die materiaal. Hiles se absolute vreugde is tasbaar soos sy breed glimlag van tyd tot tyd op die verhoog.
Saam op die verhoog is Rob Thompson op kitaar en Kristo Zondagh op dromme. Die twee musikante se samewerking verhef die vertoning van ’n eenvoudige huldeblyk tot ’n dinamiese, samehangende ervaring. Thompson se kitaarwerk is beide sensitief en sterk, met subtiele versierings waar nodig, terwyl hy die melodie en lirieke die hoofrol laat speel. Sy fynvingerige spel op liedjies soos “Autumn leaves” weerklink met Cassidy se eie styl en eer haar voorkeur vir eenvoud, terwyl hy sy eie nuanse byvoeg. Zondagh op die dromme, aan die ander kant, verskaf ’n stewige agtergrond vir die vertoning. Sy ritmiese kundigheid bied ’n soliede fondament wat Hiles se stem en Thompson se kitaar toelaat om te skitter sonder om die delikate aard van Cassidy se liedjies te oorweldig. Zondagh het ’n fyn oor vir musiek en sy spel getuig van absolute vakmanskap. En het ek genoem die twee menere is van PE? Ja, al die pad van PE. Dit maak my as boorling trots soos ’n kapokhaan om te weet dat daar min musikante is wat sal kan kers vashou by die twee deurwinterde kunstenaars. Kunstenaars in murg.
Die balans tussen die drie is onberispelik, wat die deurdagte samewerking agter die huldeblyk demonstreer. Deurlopend gun hulle elkeen mekaar die spasie om te skyn en hulle kragte ten toon te stel vir die gehoor. Dit getuig van absolute respek en kameraadskap.
Wat The story of Eva Cassidy laat uitstaan, is sy narratiewe draad, verweef deur die musiek om Cassidy se lewensverhaal op ’n intieme en persoonlike manier te vertel. Tussen liedjies deur bied Hiles insigte in Cassidy se lewe, haar stryd met skaamheid, haar geveg met melanoom en die roem wat ná haar dood gevolg het. Hierdie vertellings is nie oorweldigend gedetailleerd nie, maar gee net genoeg konteks om die liedjies meer emosionele gewig te gee. Gehore wat nie bekend is met Cassidy se persoonlike verhaal nie, word saggies ingelei tot die bittersoet verhaal van ’n merkwaardige talent. Vir diegene wat reeds haar musiek en storie ken, voel dit soos ’n liefdevolle huldeblyk.
.......
Misery Loves Company bring ’n opregte, pragtig vervaardigde huldeblyk aan ’n kunstenaar wie se werk steeds harte regoor die wêreld aanraak. Kerry Hiles se sagte en emosioneel belaaide stem, gekombineer met die meesterlike musiekspel van Rob Thompson en Kristo Zondagh, maak dit ’n onvergeetlike aand van musiek. Of jy nou ’n jarelange aanhanger van Eva Cassidy is of nuut is tot haar storie, hierdie vertoning sal jou diep roer en herinner aan die helende krag van musiek.
.......
Die gekose liedjies put uit Cassidy se mees geliefde dekkings – liedjies wat sy tydens haar kort loopbaan haar eie gemaak het. Van die pynlik pragtige “Songbird” tot die inspirerende “Somewhere over the rainbow” bring Misery Loves Company nuwe kleur aan die bekende snitte. Die keuse om op Cassidy se weergawes van hierdie liedjies te fokus, eerder as om hulle te drasties te herinterpreteer, is ’n wyse een. Hierdie benadering laat die gehoor toe om weer te koppel aan wat Cassidy se stem so spesiaal gemaak het – die vermoë om bekende liedjies vars en diep persoonlik te laat klink.
Nog ’n opvallende aspek van die vertoning is sy eenvoud. Daar is geen uitgebreide verhoogeffekte of afleidende visuele elemente nie, net drie musikante en die krag van die liedjies. Hierdie minimalistiese benadering pas perfek by Cassidy se styl, aangesien sy nooit ’n kunstenaar was wat die kollig gesoek het of grootse vertonings begeer het nie. Die fokus bly ferm op die musiek en die storie daaragter.
Alhoewel die vertoning ’n huldeblyk is, rus dit nie net op nostalgie nie. Die musikante bring hul eie kunssinnigheid en interpretasie na die tafel, wat ’n dialoog tussen die verlede en die hede skep. Hiles, in die besonder, laat elke liedjie lewendig en relevant voel, wat bewys dat Cassidy se musiek, hoewel dit dikwels weemoedig en melancholies is, tydloos bly.
Misery Loves Company bring ’n opregte, pragtig vervaardigde huldeblyk aan ’n kunstenaar wie se werk steeds harte regoor die wêreld aanraak. Kerry Hiles se sagte en emosioneel belaaide stem, gekombineer met die meesterlike musiekspel van Rob Thompson en Kristo Zondagh, maak dit ’n onvergeetlike aand van musiek. Of jy nou ’n jarelange aanhanger van Eva Cassidy is of nuut is tot haar storie, hierdie vertoning sal jou diep roer en herinner aan die helende krag van musiek. Die intieme teater, Theatre in the Park, is ook die perfekte tuiste vir hierdie vertoning. Die teater was in die 1930’s ’n rioolwerk en spog nou met blou fluweelstoele, feetjieliggies en ’n verwelkomende atmosfeer. Voorwaar ’n versteekte juweel in Johannesburg.
Ná die vertoning het die drie musikante die gehoor verder bederf met uittreksels van hulle ander vertonings, soos My story of the blues, Jou ma se platespeler en Amy: The diva and her demons. Die gehoor het behoorlik gejive in hulle stoele en die trio bedank met ’n staande toejuiging!
Ek het ná die tyd met my Oos-Kaap-mense gesels om meer uit te vind oor Misery Loves Company.
Hoe het Misery Loves Company ontstaan?
Hiles: Dit het begin met The story of Eva Cassidy in Kaapstad. Dit was eers net ’n duo. Daar was toe ’n groot aanvraag vir die vertoning om te toer. Die oorspronklike kitaarspeler was nie meer beskikbaar nie, toe sluit Rob Thompson aan en vir ekstra oemf het Kristo Zondagh op drome die partytjie volgemaak.
Zondagh: Ons het eers Maart hierdie jaar ’n naam vir ons band gekry! Mense het aanhou vra wat is julle naam? En ons was net soos ons is Kerry Hiles, Kristo Zondagh en Rob Thompson. Dis nogals ’n mondvol. Op ’n stadium is ons drie gebook vir ’n blues show en daarna het ons besluit op Misery Loves Company. Soos die blues mos is.
Wie is Kerry Hiles, Kristo Zondagh en Rob Thompson?
Thompson: Op 17, nader aan 18, het ek die kitaar opgetel en verlief geraak op die blues. Op 21 was dit my voltydse beroep. My eerste liefde is die blues, maar ek is ook mal oor die Latin kitaar en was al in ’n paar pop bands. En natuurlik classic rock!
Zondagh: Ek het grootgeword met musiek, want my ma was ’n musiekonderwyseres. Op 3 het ek my eerste gig gedoen toe ek gesing het vir ’n klomp polisiemanne. My ma het die klavier gespeel en ek het Jantjie kom huis toe gesing. Op 8 het ek klavier begin speel. In sub B. Ek het dromme begin speel toe ek na ’n nuwe skool toe is en daar ’n talentkompetisie was. Einde standerd vyf het ek vir Kersfees ’n kitaar gekry en dit begin speel. Deesdae is dit maar meestal perkussie en dromme. En ek sing ook! Professionele shows en dromlesse doen ek al sedert hoërskool. Ek het ander beroepe probeer, maar as musiek eers byt, is dit soos ’n virus wat nooit weggaan nie.
Hiles: Vandat ek onthou wou ek net opvoer! Op 14 was ek saam met my ouers by ’n partytjie en op ’n stadium het ’n baie dronk vrou ’n kitaar in my hand gestop en daar begin ek toe kitaar speel. Daarna het ek besluit om ’n band te begin, maar met ’n oudisie toe aangesluit by ’n ander band as die baskitaarspeler. Ek besluit nog of ek ’n sangeres, baskitaarspeler of ’n singende baskitaarspeler is. Ek is ook baie goed met beplanning!
Watter instrumente speel julle elkeen?
Thompson: Kitaar, meestal. Ek sing ook en partykeer haal ek die harmonica uit.
Hiles: Vocals en baskitaar. Op ’n stadium het ek ook bietjie dromme gespeel, maar ek los dit eerder vir die pro’s.
Zondagh: Vocals. Dromme en verskillende perkussie-instrumente. Bongo’s en Djembe-dromme. Xilofoon en glockenspiel. Kitaar. Bietjie klavier, maar nie regtig nie. Harmonica.
Julle toer die hele land vol. Is daar ’n paar snaakse stories of dorpies?
Zondagh: Winburg.
Hiles: In Winburg het ons motor besluit om die gees te gee en ek moes in Clarens wees vir ’n gig sonder die twee manne. Die motor en die trailer en die twee manne moes toe agterbly in Winburg toe ek ’n lift kry Clarens toe.
Thompson: Ek onthou die NG Kerk se glowing kerkklok, want daar was fokkol straatligte. En die huilende honde in die agtergrond.
Zondagh: En daar is geen misdaad nie. Soos in geen. Maar dit was ’n onheilspellende dorp en aand.
Waarmee is Misery Loves Company alles besig?
Zondagh: The story of Eva Cassidy waarvoor ons in 2021 die Standard Bank Ovation Award gewen het. Ons toer ook met Amy: The diva and her demons wat die 2023-Standard Bank Ovation Award losgeslaan het. My story with the blues is so half Rob se reis met die blues en hoe hy dit ontdek het en gegroei het as kitaarspeler. En dan is daar Jou ma se platespeler.
Hiles: Jou ma se platespeler het eintlik begin as ’n tipe commission piece. Iemand het ons gesien by een van ons vertonings en gesê sy is mal oor wat ons doen, maar kan ons dalk iets in Afrikaans aanmekaarsit. Iets poëties wat sal delf tot in die kern van Afrikaanse musiek. Nie doef-doef goed nie. Die liedjiekeuses het toe snaaks genoeg ’n storie laat ontvou oor die verandering in musiekstyl wat hand aan hand loop met die verandering in musiektegnologie én ons land se politiek. Ons sou aanvanklik net twee vertonings gedoen het van Jou ma se platespeler en nou toer ons die land vol met die show, want mense ontvang die musiek en storie met geweldige trots en warmte.
Moenie uitmis as Misery Loves Company volgende in jou dorp is met een van hulle vertonings nie. Vir meer inligting oor al hulle opkomende shows, volg: https://linktr.ee/miserylovescompanyza
Kerry Hiles is ook te sien by Theatre on the Square in Sandton tot 28 September met A star is born: The rise and fall of Judy Garland waarvoor sy vir ’n Fleur du Cap benoem is. Vir kaartjies besoek: www.theatreonthesquare.co.za

Misery Loves Company se toerskedule kan hier bekyk word.
Lees ook:
The unlikely secret agent – ’n Veelvlakkige kragtoer oor vasberadenheid: ’n teaterresensie
Die Vrystaat Kunstefees vier die Suid-Afrikaanse kunslandskap van stories in al sy glorie