Die Vrystaat Kunstefees vier die Suid-Afrikaanse kunslandskap van stories in al sy glorie

  • 0

In Julie is die winter niemand se vriend nie. Veral hier in Johannesburg bekruip die grouheid jou tot in die been. Daar was selfs sneeu en tornado’s in party dele van die land.

Dit is ook die tyd wanneer die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein plaasvind. ’n Groot fees met die mooiste lokale op een van die mees historiese kampusse in die land. Hierdie jaar het ons ons tasse gepak en die lang pad om gery. Potchefstroom, Bothaville en verby die slaggate buite Wesselsbron. Die rit moet altyd deel wees van die groter ervaring.

........
Op een verhoog kon jy hoor hoe iemand Erykah Badu-nommers sing op die noot van die ware Jakob, terwyl dramastudente deur die kampus gewandel het met ’n boombox, hakskoene en koepelrokke. Daar was gevulde avokado’s, melktert, pannekoeke en die mooiste foto-uitstalling van Nardus Engelbrecht oor Tinarie van Wyk Loots se tien mees geliefde teaterkarakters.
........

Die Vrystaat Kunstefees het duisende mense gelok, en daar was ’n tasbare gevoel van vryheid en kreatiwiteit in die lug. Een van die aspekte wat die Vrystaat Kunstefees laat uitstaan bo sy eweknieë, is dat daar ’n platform geskep word vir beide gevestigde en opkomende kunstenaars om hulle stories te deel. Die fokus is ook om gemeenskapsbetrokkenheid aan te spoor met die aanbied van werkswinkels, besprekings en interaktiewe aktiwiteite regoor die kampus. Op een verhoog kon jy hoor hoe iemand Erykah Badu-nommers sing op die noot van die ware Jakob, terwyl dramastudente deur die kampus gewandel het met ’n boombox, hakskoene en koepelrokke. Daar was gevulde avokado’s, melktert, pannekoeke en die mooiste foto-uitstalling van Nardus Engelbrecht oor Tinarie van Wyk Loots se tien mees geliefde teaterkarakters. Die verskeidenheid teateraanbiedinge by die Vrystaat Kunstefees, wat gewissel het van klassieke stukke to moderne avant-garde produksies, het vol sale getrek. Om weer 700 mense saam te hoor lag, het die keel sommer ’n knop laat kry. Die staande toejuigings was volop en die kunstenaars het geblom. Maar het ook trane van dankbaarheid gehad.

Die selfsketskomedie en eenmanvertoning is ’n nuwe verskynsel wat sy kop in die land uitgesteek het. Kunstenaars wat hulle eie werk skep en eie stories vertel. Maar nou kan hulle sê presies wat hulle, en baie van ons, voel. Oop en eerlike menings sonder ’n wag voor die mond. En dít is bevrydend. Daar was algehele temas wat soos perfek gespande snare die fees se wysie gespeel het: deursettingsvermoë, hoop en selfaanvaarding. Met die laaste dag het ek Bloemfontein verlaat met ’n oop gemoed en ’n hart vol aanhou.

........
Daar was dan nou ook drie spesifieke dames wat die fees onvergeetlik gemaak het vir my: Elzabé Zietsman, Lara Hattingh en Tollie Parton.
........

Daar was dan nou ook drie spesifieke dames wat die fees onvergeetlik gemaak het vir my: Elzabé Zietsman, Lara Hattingh en Tollie Parton. So baie raakpunte. So baie lag met ’n traan.

Vier Panado’s en ’n chardonnay

Met Vier Panado’s en ’n chardonnay bevestig Johann Slabbert weer eens dat hy skryf met ’n diepgaande verstaan en deernis vir sy onderwerpe. Die teks is ’n intieme en emosionele reis deur die persoonlike ervarings en herinneringe van Elzabé Zietsman en hy het die strikkies netjies aanmekaar gevleg vir Elzabé om net op te daag en te vlieg!

Die titel alleen lok die gehoor met die belofte van ’n unieke en onkonvensionele uitvoering oor die hartseer en lag en aanhou van die mens. Maar nóg meer oor Elzabé self. Die verhoog is ingeklee met kandelare van kerse, ’n stuitig geklede Tony Bentel voor die mooiste klavier en Elzabé in ’n blink rok wat laat verlang na ’n vergete era. Elzabé is vir my ook ’n tipe mode-ikoon. Haar uitrustings is altyd ’n verlenging van haar borrelende persoonlikheid en haar liefde vir die fyn goed in die lewe. Die stel is ontwerp om soos ’n beskermende hand rondom Bentel en Zietsman te dien. Die gehoor word ingetrek deur Bentel se foutlose klavierspel en Zietsman se introspektiewe vertellings – humoristies en by tye hartseer. Zietsman deel haar stryd met fisieke pyn, geestesgesondheid en die daaglikse uitdagings van die lewe. Haar eie ervarings word verwoord en getoonset om groter kwessies soos menslike kwesbaarheid en die soeke na vervulling te verken.

........
Vrye teuels kenmerk haar optrede. Sy laat waai met erg persoonlike vertellings en sing dat die biesies bewe.
........

Vrye teuels kenmerk haar optrede. Sy laat waai met erg persoonlike vertellings en sing dat die biesies bewe. Haar stem is ryk en genuanseerd en elke woord word met presisie in die gehoor se skoot geplaas. Wat die produksie nog meer besonders maak, is dat Zietsman die gehoor betrek en hulle deel maak van die reis. Sy praat direk met die gehoor, breek die vierde muur af en skep ’n intimiteit en konneksie met haar gehoor. Die hoogtepunte en laagtepunte word saam beleef. Dit is ook duidelik dat Zietsman haar gehoor as ’t ware deesdae kies. En hulle vir haar.

Vier Panado’s en ’n chardonnay is meer as net ’n teatervertoning. Dit is ’n uitnodiging om jouself met eerlikheid en opregtheid te verken. Ek is bitter bly Elzabé is nog hier! Bravo aan Johann, Elzabé en Tony!

Vier Panado’s en ’n chardonnay gaan binnekort op ’n helse road trip en julle kan kaartjies vir dié besonderse kabaret by een van die volgende vertonings kry:

  • 27 Julie: Centurion – Centurion-teater
  • 2 Augustus: Graaff-Reinet – Johan Rupert-teater
  • 4 Augustus: Paternoster – Die Koelkamers
  • 6 Augustus: Wellington – Die Bôrdienghuisteater
  • 7 Augustus: Strand – Drama Factory
  • 9 Augustus: Hermanus – Die Kalfiefees
  • 11 Augustus: Durbanville – Die Boer
  • 13 Augustus: Knysna – Alkira Lodge
  • 14 Augustus: Mosselbaai – The Stage Coach
  • 16 Augustus: Prins Albert – The Showroom Theatre
  • 17 Augustus: Beafort-Wes – Teri-Lemveli Lodge

Byster

Soos ek en my vriendin die lokaal binnestap, vertel die dramastudent wat ons kaartjies skandeer dat ons “in is vir ’n ding”: “Dis fantasties!” Ek vermoed hy het ’n nuwe teater crush ontwikkel.

Die estetiese elemente en kleure op die verhoog verwek ’n nostalgie wat aangehelp word met ’n Mazzy Star-liedjie wat in die agtergrond speel. Mens is dadelik in ’n woonstel in die Kaap wat baie te vertel het tussen die vier mure. Byster neem die gehoor deur ’n emosionele warrelwind vandat Lara Hattingh die verhoog betree. Sy dring aan op al jou aandag en sy het ’n uitsonderlike talent en vermoë om verskeie karakters lewend te maak in die bestek van 90 minute.

Hattingh het self die stuk geskryf en geregisseer en sy delf in ’n wêreld wat gevul is met verwoestende chaos en tragedie. Maar ook fyn humoristiese verwysings. Daar is geen onderwerp wat taboe is nie en die temas van rou, identiteit, en die soeke na betekenis bied geen maklike antwoorde aan die gehoor nie. Hattingh se vertolking is meesterlik afgerond en sy spring van een emosionele toestand na die volgende met ’n gemak wat diepte en kompleksiteit aan die karakter gee. Sy is meer as net ’n oningeligte middelklas girl van Durbanville wat die lewe onregverdig vind. Sy het ’n storie wat almal wil hoor. ’n Storie oor bleddiewil inpas op hoërskool, swot in die maalkolk wat Stellenbosch is en dan die pad byster raak. Werkloos. Sinneloos. Bitter. Daar is ’n heesheid aan Hattingh se stem wat, saam met haar fisieseteatervernuf, verder diepte gee aan haar reis. Daar is nou maar eenmaal net iets ongelooflik aantreklik aan ’n hees stem!

........
Tussen al die nuwelinge wat eenpersoonteater probeer aanpak, is Hattingh uitstaande, en haar Byster is seker die belangrikste stuk om nie mis te loop nie.
........

Soos Hattingh se karakter navigeer deur hoërskool, universiteit en die absolute afgryse van werk soek en grootmensdinge probeer kop, voel mens die pyn en verwarring. Maar jy is ook bewus van ’n onafwendbare katartiese transformasie wat op die horison lê.

Tussen al die nuwelinge wat eenpersoonteater probeer aanpak, is Hattingh uitstaande, en haar Byster is seker die belangrikste stuk om nie mis te loop nie. Almal het ’n wond of letsel wat genees moet word, en soos ’n mes wat sny, beeld Byster die reis na herstel en die aanvaarding van letsels kragtig uit. Dit is hierdie letsels wat die rykdom van menslike ervaring illustreer. Iets wat Hattingh met groot vaardigheid uitbeeld. Met die staande ovasie kon ek nie anders as om ’n heelhartige “Yes!” uit die gehoor te skree nie. Die kaartjieman het ook breed by die deur geglimlag.

Byster is op 10 Augustus by Die Kalfiefees in Hermanus te sien.


Tollie Parton: Hoe om oor jouself te kom

Van die oomblik wat Tollie Parton die verhoog betree, is dit duidelik dat sy ’n natuurlike talent het vir vertelling en komedie. Haar gemaklike houding en vlymskerp humor het dadelik ’n gevoel van kameraadskap onder die gehoor geskep. Van rou wors die gehoor inslinger tot ’n baie gewillige man met ’n Trump-hoedjie die bekfluitjie laat blaas, maak Tollie dit duidelik dat daar nie ’n onderwerp onaangeraak gelaat gaan word nie. Die kas se deur is oopgedonder!

Die produksie is slim gestruktureer rondom ’n reeks persoonlike anekdotes en lewenslesse wat Parton oor die jare geleer het. Elke segment is deurspek met humoristiese waarnemings en spitsvondige opmerkings wat die gehoor laat skaterlag. Tog, onder die lag lê daar insigte oor die menslike natuur en selfaanvaarding. Parton het ’n besonderse gawe om alledaagse situasies te gebruik om groter waarhede oor die lewe en selfliefde te illustreer. Parton se fisiese komedie en ekspressiewe gesigsuitdrukkings dra verder by tot die genot van die vertoning. Haar vermoë om humoristiese karakters en scenario’s te skep met slegs haar stem en liggaamstaal is werklik indrukwekkend. Hierdie vermoë maak die vertoning dinamies en hou die gehoor voortdurend geboei. En asmaties aan die skaterlag. Ook. Ek is vreeslik bly ek het weggekruip in die middel van ’n ry, anders was ek dalk aan die bekfluitjie fluit.

........
Bloemfontein se mense het Tollie met ope arms ontvang en die Wynand Mouton was stampvol.
........

Bloemfontein se mense het Tollie met ope arms ontvang en die Wynand Mouton was stampvol. Hoe fantasties! Dit nadat sy met bomdreigemente mos bokspring in Oudtshoorn! Dit lyk darem uiteindelik asof ons stamp vir stoot verder kom in die lewe met verdraagsaamheid.

Hoe om oor jouself te kom is meer as net ’n komedie. Dit is ’n viering van die mens in al sy vorme. Tollie Parton het ’n meesterstuk geskep wat nie net vermaak nie, maar ook inspirasie bied. Die vertoning is vir enigiemand wat op soek is na ’n verfrissende, humoristiese en insiggewende teaterervaring, maar ook die grense van boksies wil vermorsel. Dit laat die gehoor met ’n gevoel van ligtheid en hernude waardering vir die lewe, en herinner dat selfliefde en aanvaarding die sleutel tot ware geluk is.

Tollie Parton se Hoe om oor jouself te kom is op 10 Augustus vir ’n laaste keer by die Centurion-teater te sien. Kry vinnig daai laaste kaartjies!

Die Vrystaat Kunstefees is ’n fees van baie stories, genot en baie gesels! Al het ons die Vrydagoggend wakker geword met ys op die struike buite die venster, pak ek die pad weer volgende jaar deur Potchefstroom, Bothaville en Wesselsbron aan.

Lees ook: 

Routrip: ’n resensie

Onthou vir Mandri Sutherland van Standerton: ’n resensie van Vrou ens.

Suidoosterfees 2024: Monsters – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk Loots

KKNK 2024: Patmos – ’n teaterresensie deur Ignus Rademeyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top