KKNK 2024: Patmos – ’n teaterresensie deur Ignus Rademeyer

  • 0

Patmos is by die KKNK 2024 bekendgestel.

Patmos
Met: Tinarie van Wyk Loots, Marlo Minnaar, Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen
Teks: Willem Anker
Regie en ontwerp: Jaco Bouwer
Klank: Pierre-Henri Wicomb

Die afgeleë eiland Patmos is waar die dissipel Johannes die Bybelboek Openbaring geskryf het. Vir baie mense is Openbaring, soos die naam, ’n kopskuif na ’n wêreld wat vergaan en homself dan openbaar as ’n nuwe wêreld vol flitsende beelde van watermassas en gedrogte en sprokiesagtige tuine. Soos die gehoor die teater betree, is daar ’n tasbare gevoel van verwagting met aanskouing van die beligte tent wat dien as die huis, maar ook ’n misterieuse landskap met ’n enkele venster en ’n tafel vol sand. Daarna ontvou Bouwer se Patmos soos ’n droom wat ’n nagmerrie word. Met sy eerste vertoning by die 28ste KKNK is hierdie produksie ’n beklemmende verkenning van isolasie, identiteit en die donker dieptes van die menslike psige. Maar ook die liefde.

Teen die agtergrond van ’n verlate landskap stort Patmos sy gehoor in ’n wêreld sonder gemak of bekendheid. Die verhoogontwerp is aanvanklik minimalisties, maar dan skemer die nostalgiese klanke van Pierre-Henri Wicomb deur saam met beelde wat op die huis geprojekteer word. Die projeksie van die beelde is tegnies uitmuntend en wissel van brokkies van die eindtye tot gewelddadige videospeletjies en spruite van vernuwing. Die verhoog word mettertyd al hoe besiger soos die akteurs rondbeweeg in die betreklik klein ruimte wat hulle gegun is. Dit maak dat mens amper skeel word om op alles wat gelyktydig gebeur te probeer fokus.

........
Die plot van Patmos is aanvanklik eenvoudig. ’n Rolprentkomponis (Marlo Minnaar) gaan besoek die klein dorpie om klanke van singende klippe op te neem vir ’n wetenskapfiksierolprent.
........

Die plot van Patmos is aanvanklik eenvoudig. ’n Rolprentkomponis (Marlo Minnaar) gaan besoek die klein dorpie om klanke van singende klippe op te neem vir ’n wetenskapfiksierolprent. ’n Astronoom (Tinarie van Wyk Loots) bied vir hom skuiling in haar huis saam met haar agtjarige seuntjie wat stom geraak het na die tragedie van sy pa se wrede dood. Die seuntjie word deur ’n onheilspellende marionet voorgestel met drie akteurs wat sy bewegings en spraak hanteer. Tussendeur speel die seuntjie videospeletjies om monsters se koppe af te skiet. Dinge raak dan meer gekompliseerd soos die rolprentkomponis begin vertel van die rolprent waaraan hy werk en hoe die bemanning van die rolprent in ’n ruimtetuig gaan soek na die laaste plek vir oorlewing vir die mens. Hy raak ook mettertyd verkramp van ’n kanker wat aan hom vreet. Die astronoom gooi dan nog lae op die hele gedoente met haar vertellings van ruimteverskynsels soos beelde daarvan op die huis geprojekteer word.

........
Die akteurs hou ’n stewige vinger op die pols van die ritmiese dans wat voor jou ontvou, maar dit voel plek-plek of die abstrakte dialoog waarmee hulle gewapen is, hulle nie die kans gun om die karakters ten volle te openbaar nie
........

Die akteurs hou ’n stewige vinger op die pols van die ritmiese dans wat voor jou ontvou, maar dit voel plek-plek of die abstrakte dialoog waarmee hulle gewapen is, hulle nie die kans gun om die karakters ten volle te openbaar nie. Kyk, ek sal ’n kaartjie koop vir ’n stuk waarin Tinarie van Wyk Loots net die telefoonboek lees, maar Patmos laat jou wanhopig wag op ’n katarsis in die karakterisering. Anker se vorige oorspronklike teaterstuk saam met Bouwer, Samsa-masjien, was gelaai met dialoog en het die spelers meer oomblikke van kragspel gegee, waar Patmos sterk op ingewikkelde temas en die gebruik van multidissiplinêre truuks leun.

Die manipulasie van die marionet, as die seuntjie, is uitmuntend, en die drie akteurs – Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen – verdien ’n staande ovasie daarvoor alleen. Dit sal heerlik wees om Eben Genis in meer hoofrolle te sien na sy vertolkings ook in Mirakel en Donkerbos.

........
Bouwer se regie is meesterlik in sy vermoë om die grense tussen werklikheid en hallusinasie te vertroebel.
.......

Bouwer se regie is meesterlik in sy vermoë om die grense tussen werklikheid en hallusinasie te vertroebel. Oomblikke van helderheid maak plek vir koorsagtige waansin, wat die gehoor laat wonder wat werklik is. Die gebruik van klank en beligting versterk verder hierdie gevoel van disoriëntasie, wat die gehoor in ’n atmosfeer van kruipende onrus dompel. Tematies duik Patmos diep in die menslike psige in en verken die donkerste hoeke van die gedagtes met onverbiddelike eerlikheid. Vrae oor identiteit, skuld en verlossing staan groot.

Ondanks die swaar onderwerp daarvan, is Patmos nie sonder oomblikke van skoonheid en genade nie. Te midde van die duisternis is daar glimlaggies van hoop en verlossing. Hierdie oomblikke van ligtheid bied kortstondige verligting van die onderdrukkende atmosfeer wat die spasie deurtrek.

Ek dink wel dit is van kardinale belang dat die gemiddelde teaterganger homself moet bemagtig met kennis oor die astronomie en ’n paar resensies en menings moet lees om Patmos nie blindelings aan te pak nie.

Patmos is ’n getuienis van die krag van teater om die donkerste aspekte van die menslike ervaring te konfronteer. Met sy beklemmende beelde en gedagteprikkelende temas laat Jaco Bouwer se produksie ’n blywende indruk. Jy loop uit met hoendervleis, maar jy is nie presies seker watter hartsnare getrek is nie. Miskien is dit juis dat jy nie veronderstel is om te weet nie.

Lees ook:

KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik

KKNK 2024: Patmos, ’n teaterresensie

KKNK 2024: Goed wat wag om te gebeur

KKNK 2024: Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan

KKNK 2024: Monsters

KKNK 2024: ’n Kuur vir elke kwaal was dié KKNK beslis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top