KKNK 2024: Goed wat wag om te gebeur

  • 0

Foto: Pieter Lombaard | KKNK

Goed wat wag om te gebeur
’n Koproduksie van Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees, ondersteun deur NATi. Speelvak moontlik gemaak deur die KKNK.
Spelers: Antoinette Kellermann, Gideon Lombard en Emma Kotze
Teks, regie en stelontwerp: Philip Rademeyer
Oorspronklike titel: The graveyard
Beligtingsontwerp: Andi Colombo
Verhoog- en produksiebestuurder: Amber Fox-Martin
Vervaardigers: Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees

...
Van belang is dat ons DNS kompleks is – daar is ongeveer drie miljard stukkies kode, of 1,5 gigagrepe inligting, in elke stukkie DNS in ons liggame. Kyk na die sterre en weet maar net, ons liggame bevat dalk meer stukkies inligting as wat daar sterre is.
...

Blikskottel. Eina.

Hierdie stuk het diep getref, maar dis flippen goed.

In breë trekke gaan dit oor ’n seun wat bang is hy word soos sy alkoholispa, en dan wórd hy so. Maar nou doen ek eintlik die stuk ’n onreg aan, want daar is soveel meer.

Gaan kyk dit.

Ek moet egter waarsku: Dit is nie ’n maklike stuk nie, maar dit is werklik briljant.

Jinne tog.

Gideon Lombard, as Hendrik, is een van daardie akteurs wat jou laat wonder hoe de hel hy ’n rol so oortuigend kan speel. In hierdie stuk drink hy soos ’n vis en ek het geen idee hoe iemand se blaas al daardie vloeistof kan hanteer nie – terwyl hy nog boonop toneelspeel ook!

Teenoor Lombard was Antoinette Kellerman as die ma. Haar rol is kleiner, en aan die begin kom sy dolend voor, maar soos die stuk vorder, begin haar spel sin maak. Teen die einde gee die drama aan haar die geleentheid om as force majeur die toneel sidderend tot ’n einde te bring. G’n wonder dat sy ’n kykNET Fiësta vir beste vroulike byspeler vir hierdie rol ontvang het nie.

Emma Kotze het geskitter in die twee rolle van Hendrik se ousus en sy meisie. Die oorgange tussen die rolle is met ’n Alice band op haar kop aangedui. Aan die begin is die kyker nie seker wat aangaan nie, maar eintlik is dit ’n belangrike spel wat die drama met ons speel: Ons soek dikwels in lovers dit waarmee ons as kinders vertroud was.

Die dooie pa

Ons kan nou baie woorde, soos “toksiese manlikheid”, “patriargie”, “chauvinisme”, bla, bla, rondgooi, maar kom ons sê bloot ’n destruktiewe pa kan ’n gesin vernietig.

In hierdie geval was hy, soos dikwels, ’n gesiene man in die dorp, dus het almal maar anderpad gekyk as sy vrou ’n blou oog gehad het.

Later, toe hy uiteindelik dood is, was daar geweldig baie mense by sy begrafnis om te vertel hoe wonderlik hy was. Sy suster het selfs ’n enorme portret van hom laat maak. Dié portret sorg vir ’n lieflike oomblik teen die einde van die stuk, maar dit gaan ek nie hier verklap nie.

Die verre verlede

Hendrik se pa was ’n man uit die hel, soos baie pa’s in Suid-Afrika is wanneer die samelewing hulle toelaat om so te wees.

Wanneer hy begin suip, het die twee kinders in die kelder gaan wegkruip. Wanneer hulle monsterpa hom uiteindelik op hulle ma uitgewoed het, het sy die kinders uit die kelder kom bevry en die stukkende voorwerp waarmee die monster haar aangerand het, in die kelder gaan berg. So word die kelder ’n toevlugsoord, en ’n gruwelmuseum, ’n begraafplaas van onthougoed.

Op sestien loop Tinkie (Katinka), die sussie, weg.

Hendrik bly alleen agter en gaan eers wanneer die pa uiteindelik doodgaan, met sy eie lewe aan.

Die onlangse verlede

Hendrik ontmoet een nag die wonderlikste vrou in ’n begraafplaas waar sy sit en sterre kyk. Hulle raak verlief en begin ’n verhouding.

Ek moet sê: Daardie liefdespel tussen die twee het die stuk gelig; dit was lieflik.

Sal Hendrik beter kan wees as sy pa?

Die hartseer is dat hy dalk nie so erg soos sy pa was nie, maar dit word gou duidelik dat hy homself sien as iemand wat op pad is daarheen. Dit dryf hom na meer drank.

Die sterre en ons DNS

Die meisie in die begraafplaas stel belang in die sterre. Hendrik weet iets van biologie. Soos die sterrestelsels enorm en kompleks is, so ook is ons DNS.

Hendrik se verduideliking daarvan is helder en baie goed, maar ek is nie slim genoeg om sy weergawe hier weer te gee nie. Gaan kyk die stuk.

Van belang is dat ons DNS kompleks is – daar is ongeveer drie miljard stukkies kode, of 1,5 gigagrepe inligting, in elke stukkie DNS in ons liggame. Kyk na die sterre en weet maar net, ons liggame bevat dalk meer stukkies inligting as wat daar sterre is.

Ons word gemaak deur die aan- en afskakel van sekere stukkies inligting in ons DNS. ’n Deel van ons DNS kom van die pa, ’n deel van die ma.

Hendrik se groot vraag is: Gaan sy gene hom in dieselfde soort monster verander as wat sy pa was?

Gaan kyk self om die finale antwoord te kry.

Aanvanklik in Engels opgevoer

Philip Rademeyer het die stuk in Engels geskryf as The graveyard.

Die Engelse titel verwys na twee dinge: die begraafplek van voorwerpe waarmee die ma aangerand is (die kelder dus), en die begraafplaas waar Hendrik sy lieflike meisie raakloop.

Die einste Gideon Lombard het die hoofrol vertolk toe dit by die Nasionale Kunstefees opgevoer is. Hy is toe Tommy genoem.

Bo Petersen was die Engelse ma, en Sarah Potter het beide die suster en die meisie gespeel.

Rademeyer moes self die Afrikaanse teks gelewer het, want Goed wat wag om te gebeur is bekroon as beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks by Momentum Beleggings Aardklop in 2023. Die stuk is ook benoem vir drie Woordtrofees by die Toyota US Woordfees in 2023.

Waarskuwing

Ek het ontsettende waardering vir die stuk. Maar dit het my hard getref. Ek het ook maar vaderlike demone wat spook. Die waarskuwing staan dus: Hierdie stuk kan sommige mense se rowe afkrap en kan hulle erg ontstel.

Ek sal dit egter weer gaan kyk, sou ek die geleentheid kry.

Lees ook:

KKNK 2024: Monsters

KKNK 2024: Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan

KKNK 2024: Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024

KKNK 2024: Patmos, ’n teaterresensie

KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik

KKNK 2024: an insider’s perspective on Lucky Pakkie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top