KKNK 2024: Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan

  • 0

Foto: KKNK

’n Koproduksie van die KKNK, Suidoosterfees, Momentum Beleggings Aardklop, Innibos en Vrystaat Kunstefees, ondersteun deur NATi
Spelers: Sandra Prinsloo en David Viviers
Teks: Henque Heymans
Regie: Toni Morkel
Vervaardigers: Leftfoot Theatre Productions en die KKNK

Hierdie stuk is skreeusnaaks. Ons het dit geweldig geniet.

Boonop het ons almal gedink dat die jonge David Viviers dit reggekry het om die doyenne, Sandra Prinsloo, in die skadu te stel. Die stuk is geskryf vir hom om dit te doen, en hy het dit wragtag reggekry. Hy het geskitter in die verskillende rolle wat hy gespeel het.

Die storie in het korte

Nora, gespeel deur Sandra Prinsloo, is ’n alleenlopende vrou – skynbaar ’n kelnerin of iets soortgelyk.

Lank terug was daar ’n man in haar lewe wat haar swanger gemaak het, maar sy het die seun, skynbaar Jan-Frederik genoem, verloor. Nou het sy net ’n skets van ’n voëltjie, ’n Janfrederik, teen haar muur om haar te herinner aan die kind. Sy onthou ook die kind se verjaarsdag en praat met die prent asof dit ’n kind is. Sy vertel elke aand aan hom wat met haar gebeur het.

Die pa van die kind? Hy is weg. Al wat sy van hom het, is ’n foto wat steeds in haar kombuis staan.

Wanneer Nora sterf, kom haal Karon (gespeel deur David Viviers) haar. Maar sy is nie gereed nie. En die Styx is nie meer ’n rivier nie. Die doderyk is nou ’n staatsdepartement. Is die staatsdiens nie ’n moderne hel nie? Arme Nora kom agter dat die doderyk net soveel vorms het om in te vul as enige ander staatsdepartement.

Karon gaan roep die hulp in van talle ander staatsamptenare én mitologiese figure toe hy agterkom hierdie siel gaan moeilikheid maak.

In verskillende kostuums en aksente oordonder Viviers dan die verhoog – tot die heerlike vermaak van die gehoor.

Wanneer Nora aan Karon, in een van sy talle gestaltes, vra hoekom hy lyk soos haar eksman, sê hy dat dit vir die nuwe dooies moeilik is om geeste van mekaar te onderskei.

Nora is nie van hier nie. Sy wil nie glo sy is dood nie en besluit uiteindelik om Karon te manipuleer om haar na haar oorlede man te neem sodat sy hom na die lewendes kan terugbring.

Die Griekse en Noorse mitologie

Mense wat die Griekse mitologie ken, sal weet dat diegene wat sterf, met ’n veerboot oor die Styxrivier geroei word na die Hades. Die man wat jou óórroei se naam is Karon.

Nora is weer ’n godin uit die Noorse mitologie, die godin van toegangspoorte. Gaan kyk gerus hoe poorte in hierdie drama gebruik word. Let ook op hoe belangrik toegangskaarte is in Nora se soeke na haar eksman. Meer gaan ek nie sê nie.

Nora was, aldus die Noorse mitologie, eens in ’n spieël vasgevang, wat maak dat sy altyd dieselfde lyk. Die spel is dus tong-in-die-kies: In hierdie stuk sien Nora al die geeste as sou hulle dieselfde lyk as haar man. Net haar seun sien sy nie so nie, en van hom is daar dus ’n tekening van ’n voëltjie.

Ek het Henque Heymans se drama gaan kyk saam met vriende wat geen idee gehad het van die mitologiese spel nie, en hulle het dit ontsettend geniet. Jy hoef dus nie die mitologie te ken om die stuk terdeë te geniet nie.

Ek het my verkneukel in die intertekste wat ek wel raakgesien het, en ek is baie seker dat slimmer mense nog veel meer sou sien as ek.

Dus?

Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan is enorme pret en beslis aan te beveel. Dit is baie slim en baie vermaaklik.

Viviers is uitstaande.

Lees ook:

KKNK 2024: Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024

KKNK 2024: Patmos, ’n teaterresensie

KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik

KKNK 2024: an insider’s perspective on Lucky Pakkie

KKNK 2024: ’n Kuur vir elke kwaal was dié KKNK beslis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top