KKNK 2024: Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024

  • 0

Foto: Hans Mooren | KKNK

Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024
Met: Marianne Thamm

...
Deels is sy positief omdat sy die goed mag sê wat sy sê. Die Nasionale Party sou manne met borselkoppe gestuur het om haar én die KKNK te dwing om te swyg. Of hulle sou ’n paar veiligheidspolisiemanne ingestuur het om die vertoning te ontwrig.
...

Marianne Thamm is ’n blerrie goeie joernalis. So wat soek sy op die verhoog?

Sy noem haar stuk “performance journalism” en ek kan dit nie beter stel nie.

Thamm stap die verhoog op in haar ketelpak en tekkies, tel haar teks op en vertel dat daar te veel feite en woorde is om te onthou. As sy sonder ’n teks sou praat, waarsku sy ons, “gaan ons môre nog hier sit” want sy is passievol oor haar werk.

Ek doen my bes om by te bly met die harde nuus, maar selfs ek kan nie meer onthou watter minister nou weer haar vinger in watter koekieblik gedruk het nie. Vir my was Thamm se uurlange oorsig oor die land en die stand van sake fassinerend. Hoekom? Want sy vertel ons dat daar baie redes is om moed te hou, al is sy die eerste om die ritse en ritse en nog ritse bedrog en korrupsie uit te wys en te openbaar.

Marianne Thamm is trots op haar werk as ondersoekende joernalis. Sy en ’n hele aantal wonderlike nuushonde het vele ondersoeke na staatskaping en algemene korrupsie gedoen. Hulle bring dit in die ope, al verkeer hulle soms in gevaar. Waarom is sy dan positief oor ons land?

Deels is sy positief omdat sy die goed mag sê wat sy sê. Die Nasionale Party sou manne met borselkoppe gestuur het om haar én die KKNK te dwing om te swyg. Of hulle sou ’n paar veiligheidspolisiemanne ingestuur het om die vertoning te ontwrig. Hier staan Thamm op ’n openbare verhoog en sy klim met mening onder die regering en die lakeie van korrupsie in. Sy mag. Sy word toegelaat.

Meer nog, sy bevestig wat ander ook al gesê het: Zondo se kommissie het nie gebeur sonder geweldige opposisie van binne die ANC nie. En tog, dit het gebeur. Ja, ja, daar is nog nie veel mense in oranje oorpakkies nie, maar dit gaan kom! Thamm is die adjunkredakteur van die Daily Maverick. Sy weet waarvan sy praat.

Die titel van die stuk, Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024, is met sorg gekies. Ons kan nie ontken dat ons vuisvoos is nie. Die geweld en korrupsie maak ons moeg. En tog, tog gaan ons voort.

Thamm, wat Engels grootgeword het, se pa was Duits. Sy praat egter uitstekende Afrikaans. Die stuk se titel was aanvanklik Round of applause – South Africa still standing. Dit is heerlik om haar in Afrikaans te hoor praat hieroor.

My feesmaatjies was dit eens dat almal Thamm op die verhoog moet ervaar.

Lees ook:

Press release: Marianne Thamm returns to The Baxter with her latest instalment of conversation and comedy, just before the elections, with Round of Applause Reloaded from 10 to 27 April

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top