KKNK 2024: Patmos, ’n teaterresensie

  • 0

Spelers: Tinarie van Wyk Loots, Marlo Minnaar, Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen
Teks: Willem Anker
Regie en ontwerp: Jaco Bouwer
Poppemaker: Hansie Visagie
Popperegisseur en raadgewer: Roshina Ratnam
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Verhoogbestuurder: Nell van der Merwe
Vervaardiger: KKNK

...
Patmos is nie maklik nie, maar danksy die spelers, die regie, die musiek en die teks is dit teater van wêreldgehalte. Mag dit soos selle verdeel en ontdek word in Europa, ook elders.
...

Willem Anker het altyd ’n manier om ’n mens diep te laat dink.

Patmos is, op die oppervlak, ’n eenvoudige storie. ’n Astronoom (gespeel deur Tinarie van Wyk Loots) doen navorsing in ’n klein dorpie in die binneland. Wanneer ’n meteoriet die omgewing tref, kom besoek ’n komponis (Marlo Minnaar) die dorpie. Die meteoriet het skynbaar verwoesting gesaai – ’n apokalips in die kleine.

Die astronoom het ’n seuntjie wat nie praat nie. Hierdie mutisme het gebeur ná hy afgekom het op die bebloede liggaam van sy pa, wat deur rowers aangeval is – ook ’n apokalips in die kleine.

Die vrou is beskermend oor haar kind en waarsku die komponis dat hy al ander besoekers gebyt het.

Tog, hierdie stil man wat rustig luister, wen stelselmatig die seun se vertroue, en ook ’n plekkie in die vrou se bed.

Daar is ’n lieflike oomblik wanneer die seun een oggend koffie maak en dit na die twee, nogal verbaasde, grootmense in die bed bring.

Wanneer twee volwassenes seks het, kan ’n nuwe lewe ontstaan. Hierdie man neem egter medisyne teen ’n kwaal wat hom stelselmatig aftakel. Die medisyne kan ook die fetus negatief beïnvloed. Moet hulle die kind hou? Hulle is nie teen aborsie nie, maar wat sou gebeur as ...?

Dit is die storie, maar as jy weet Willem Anker het die teks geskryf, dan is daar geen twyfel nie dat daar veel, veel meer sal wees om te moet raaksien.

Patmos as apokalipties ruimte, met ’n belofte van iets nuut

Openbaring, die laaste boek in die Bybel, is op Patmos geskryf. In Openbaring 1 vers 9 sê die skrywer, genaamd Johannes: “Ek was op die eiland Patmos waarheen ek verban was [...]”

Hier, op die eiland, verskyn die “Seun van die Mens” aan die skrywer en sê: “Ek is die Eerste en die Laaste, die Lewende.” Hierdie wese het skynbaar ook toegang tot die sleutels van die doderyk.

Wat hierop volg, is ’n aantal fabels oor die verwoesting van die bekende, maar uiteindelik dan ook ’n belofte dat uit hierdie chaos ’n nuwe aarde en nuwe hemel sal ontstaan.

Emil M Cioran en Patmos

In buite-Bybelse legendes oor Johannes, die skrywer van Openbaring, word daar vertel hy het die teks in ‘n grot genaamd “Die grot van die apokalips” geskryf; dit natuurlik na aanleiding van die apokaliptiese aard van die eerste deel van sy teks.

Anker gooi leidrade na die kyker se kant wat ons kan help om sy slim teks te verstaan.

Daar word byvoorbeeld op die verhoog gesê dat iemand in ’n grot op Patmos sou geskryf het dat ’n mens nie moet voortplant op Patmos nie.

Die bepaalde aanhaling kom egter nie van Johannes nie, maar van ’n Roemeense filosoof genaamd Emil M Cioran. Cioran het in Frans en Roemeens geskryf, maar sy teks De l'inconvénient d'être né (1973) is in 1976 deur Richard Howard vertaal as The trouble with being born. Ek het dus maar die Engels genader.

Cioran se teks bestaan uit kort brokstukke, skynbaar lukrake idees. In een van hulle skryf hy oor ene X:

X maintains we are at the end of a “cosmic cycle” and that soon everything will fall apart. And he does not doubt this for one moment.

At the same time, he is the father of a numerous family. With certitudes like his, what aberration has deluded him into bringing into a doomed world one child after the next? If we foresee the End, if we are sure it will be coming soon, if we even anticipate it, better to do so alone. One does not procreate on Patmos.

In die drama Patmos kan die twee minnaars se kind moontlik gestremd wees. Hulle moet mooi dink of hulle hom wil hou of nie. Daardie eerste sel wat verdeel, dan weer verdeel, en weer ... Dit is opwindend, maar dit kan skeefloop. Wat gaan van hierdie moontlike lewe word?

Meer nog: Die vraag word gevra wat doen ons as ons weet die einde, die apokalips, is naby? Moet nuwe lewe dan geskep word? Sou daardie kind kies om gebore te word?

Cioran was ’n problematiese figuur as jonger man, maar in sy later jare het sy filosofiese pessimisme oor die negatiewe aard van die lewe heelwat groot denkers, onder wie Susan Sontag, beïnvloed.

’n Paar bladsye voor die Patmos-opmerking sê Cioran:

Nothing is a better proof of how far humanity has regressed than the impossibility of finding a single nation, a single tribe, among whom birth still provokes mourning and lamentations.

To defy heredity is to defy billions of years, to defy the first cell.

Luca die eerste sel

Die eerste sel, die ware voorsaat van alle lewe, kom ook ter sprake in Patmos.

Soos Cioran se werk, bestaan Patmos uit klein grepies teks wat opgevoer word – dit is nie ’n reglynige drama nie.

Luca, of dan ons last universal common ancestor, word in van die brokke teks bespreek.

Ek behou die Engels, en Anker het ook, want Luca het ’n baie belangrike betekenis in Grieks. Dit beteken “verskaffer van lig”, soortgelyk aan die Xhosa-naam Litha.

Die Griekse mitologie is belangrik vir Anker se stuk, want die eiland Patmos het ’n interessante ontstaan, as ons die mites moes glo. Artemis het glo gereeld die eiland, wat onder die see was, gaan besoek en het uiteindelik Zeus se hulp ingeroep om die mooi stukkie aard na die oppervlak, na die lig, te bring.

Die eerste lewe, daardie eerste sel, Luca, het óók ontstaan in die chaotiese see wat vier miljard jaar gelede die aarde bedek het.

Luca het dus, soos Patmos, onder water ontstaan.

Luca het uit chaos ontstaan. Patmos is die eiland waar die apokalips aangekondig word. En tog sal daar, volgens Openbaring, wat op Patmos geskryf is, uit die chaos weer ’n nuwe aarde en hemel ontstaan.

Die ruimteskepe Gaia 4 en Gaia 2

Die filmmaker werk aan ’n film oor twee ruimteskepe wat op soek is na ’n nuwe planeet om te koloniseer. Die skepe is millennia gelede van die aarde af gestuur om seker te maak dat lewe elders sal kan gebeur, skynbaar met die gedagte dat lewe op die aarde sal ophou bestaan.

Hierdie skepe is bewuste wesens, kunsmatig intelligent weens miljarde mikrobes wat saam met hulle rekenaarstelsels besluite neem. In die ruim van hierdie enorme ruimtetuie is daar nog meer miljoene organismes – alle soorte lewe – gevries met die idee om dit op ’n nuwe planeet te laat herleef; ’n postapokaliptiese ark, dus.

Gaia 4, die modernste van haar soort, is die eerste wat ’n nuwe planeet ontdek en begin met die komplekse berekeninge of dit haar lewende organismes daar moet plaas.

Duisende jare later daag Gaia 2 ook op. Dit is ’n ouer skip en groot dele van haar lewende organismes is uitgewis weens ’n siekte wat aan boord gekom het na dit ’n verspieder van ’n planeet gered het.

Gaan Gaia 2 se selle dus probleme veroorsaak as dit hulle op hierdie planeet loslaat? Is dit eties om dié se selle met dié van Gaia 4  te meng? (Sien julle die ooreenkoms tussen die ruimtetuie se worsteling in die toekoms en dié van die lovers in die nou?)

Gaia in die Griekse mitologie en die Gaia-beginsel

Nou moet ons weer terugkeer na die Griekse mitologie.

Die eerste Griekse god was Chaos. Uit Chaos se stormende waters het Gaia, die aardmoeder, ontstaan – soos Luca.

In die studie van die ekologie het ’n idee bekend as die Gaia-beginsel ontstaan. Eenvoudig gestel, is die aarde ’n selfregulerende organisme waar alle lewende organismes, triljoene en triljoene van ons, bydra tot die volhoubaarheid van die geheel.

Wat sou gebeur as een organisme, of een spesie, skielik hierdie ekwilibrium sou verbreek? Stuur ons dan op ’n apokalips af? Die antwoord is kompleks en nie hier te debatteer nie. Van belang vir hierdie resensie is dat Gaia 4 die moontlikheid ondersoek om haar lewende organismes toe te laat om ’n nuwe planeet te vul, maar dat Gaia 2 skynbaar besef sy en haar inhoud is reeds te siek om tot hierdie nuwe planeet by te dra.

Gaia 2 se dilemma is dus baie dieselfde as dié van die egpaar wie se kind besig is om in die baarmoeder te groei. Die ouers van die kind gaan skynbaar besluit om die kind te hou; dan gaan hy/sy opgeskeep wees met die eksistensiële probleem van gebore wees ...

Gaia 2 besluit teen ’n nuwe lewe en pleeg uiteindelik selfdood deur in ’n swartgat in te vaar.

Emile Cioran het egter in The trouble with being born gewaarsku: “It’s not worth the bother of killing yourself, since you always kill yourself too late.”

Swartgate en gebeurtenishorisonne

Die astronoom bestudeer die geboorte en die sterftes van nuwe sterre. Sy verklaar by geleentheid: “Ek is verlief op gebeurtenishorisonne.”

’n Gebeurtenishorison is ’n moeilike ding om goed te beskryf, maar in het korte, oorvereenvoudig, is dit die rand van ’n swartgat. ’n Swartgat is nie regtig ’n gat nie; dit is eerder iets wat so ’n enorme aantrekkingskrag het dat niks daaruit kan ontsnap nie, nie eens lig nie.

Swartgate is dus onsigbaar, maar omdat hulle so gulsig is, sluk hulle geweldige hoeveelhede energie in en juis daarom is die radiasie óm hulle duidelik sigbaar, as ’n mens weet waarna om te kyk.

Een van die vrae wat ons op aarde nog vra, is: Wat gebeur met al die materie wat in daardie swartgat ingesluk word? Sal daar weer ’n oerknal daaruit ontstaan wat nuwe heelalle sal skep en dus moontlik nuwe lewe?

Skep die negatiewe dus ’n nuwe, soms meer positiewe lewe – die nuwe aarde en nuwe hemel wat in Openbaring beloof word?

Kom daar uit chaos nuwe lewe?

Die stel en die poppe van Patmos

Die gehoor stap in die teater in en sien ’n eenvoudige struktuur, soortgelyk aan ’n kweekhuis. Dit kan ook ’n struktuur wees wat oor ’n argeologiese opgrawing gebou is. (Kweek van die nuwe vs grawe in die verlede ...)

Die struktuur is met dun gaas oorgetrek.

Die gaas is deursigtig, dus kan die kyker sien wat in die struktuur gebeur. Die gaas dien ook as ’n skerm, dus word die film van die ruimteskepe daarop geprojekteer.

Die seun word deur poppe voorgestel wat meesterlik deur die spelers gemanipuleer word. Die stom kind is ’n (stom) pop. En tog ... Ons hoor sy gedagtes gereeld deur die stemme van een van sy hanteerders.

Anders as wat die geval was in Samsamasjien (Anker se groot drama tien jaar gelede), is Patmos se stel byna minimalisties. Dit werk.

Aangesien die dialoog in brokke en stukke kom – nou hier, nou daar – word die byna leë verhoog ’n kosmos, ’n gebeurtenishorison wat gevul kan word met stories en feite, met films en musiek, met liefde en vrees. 

Die musiek in Patmos

Pierre-Henri Wicomb het die musiek gekomponeer. Soos die stel, is die musiek minimalisties. Aanvanklik klink dit of ons na ’n opname luister, maar dan besef die gehoor dit is die spelers wat sing.

Diegene wat Karl Jenkins se musiek ken, sal iets hiervan verstaan.

Aan die begin is die musiek “chaoties”, dreunsang wat atonaal styg en daal. En dan kom die woorde, dan kom die storie.

Die einste akteurs wat toneel speel en poppe hanteer, sing ook. Dit is werklik iets om te beleef.

Dus?

Hierdie resensie is ook in klein brokkies opgedeel – baie soos Anker se teks.

Anker se teks is moeilik en verweef. Ek het dit egter ontsettend baie geniet.

Die akteurs is briljant. Natuurlik skitter Tinarie van Wyk Loots en Marlo Minnaar, maar die marionetmeesters en sangers Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen, almal in swart geklee, dra die teks. Uit hulle donkerte – hulle dra soms selfs swart musse – kom daar ’n ligtheid; hulle maak die dooie pop ’n lewende seun; hulle maak van ’n swart verhoog ’n kosmos vol beweging en geluide.

Patmos beloof nie noodwendig ’n nuwe lewe en hemel nie, maar die aanduidings is daar dat selle soms sal kan verdeel om weer te probeer ná ’n katastrofale gebeurtenis.

Onthou die woorde van die een wat die sleutels tot die doderyk hou in Openbaring: “Ek is die Eerste en die Laaste, die Lewende.”

Soos Luca, wat die laaste algemene voorsaat was juis toe dit begin vervorm het in ander dele, so ontstaan die nuwe dikwels uit die chaos van die oue.

Wat gebeur wanneer twee wesens mekaar na ’n katastrofe ontmoet?

Is die bestuur van verhoudings nie ook soms soos die dophou van ’n gebeurtenishorison nie? Sê nou maar ...

Dalk gebeur iets aan die ander kant van ’n swartgat; dalk is die liefde iets wat weer kan ontstaan na die bloeddorstige einde van ’n vorige verhouding.

Patmos bied hoop.

Patmos is nie maklik nie, maar danksy die spelers, die regie, die musiek en die teks is dit teater van wêreldgehalte. Mag dit soos selle verdeel en ontdek word in Europa, ook elders. Dit is tyd dat Afrikaanse teater, ook in vertaling, weer oorsese teaters koloniseer.

  • Foto’s: Clifford Roberts, behalwe die eerste illustrasie wat verskaf is deur die KKNK
Lees ook:

KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik

KKNK 2024: ’n Kuur vir elke kwaal was dié KKNK beslis

KKNK 2024: an insider’s perspective on Lucky Pakkie

Vyf vinnige vrae aan Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top