Izak de Vries het vyf vinnige vrae aan Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK, oor die rol van die KKNK se feeskantoor gevra.
Mag enige een die feeskantoor besoek tydens die fees?
Ja, natuurlik. Ons ontmoet graag feesgangers, kunstenaars, rolspelers, ens. Baie dinge gebeur by die kantoor – akkreditasie, kaartjieverkope, reis- en verblyfnavrae, komplimentêre kaartjies en laastens maar die minste nie, finansies! Ek en JC, ons bemarkingsbestuurder, is meestal hier en gereed vir enige voorstelle, komplimente of navrae.
Ons kantoor is in Die Neelsie op die terrein van Arbeidsgenot en enige lid van die publiek kan ook ’n toer kom doen deur die terrein en CJ Langenhoven se huis.
Wat is die adres van die feeskantoor, vir dié wat nog nooit daar was nie?
Jan van Riebeeckweg 217.
Die KKNK gaan blykbaar ook dit vir diegene wat op die program is, die geleentheid gee om ander produksies teen ’n afslag te bekom – is dit so?
Dis reg. Kaartjies aan alle kunstenaars vir ander produksies is nét tydens die fees, vanaf 23 Maart, by die KKNK-kantoor beskikbaar, teen slegs R50 per kaartjie. Daar is ongelukkig beperkte sitplekke beskikbaar vir uitgesoekte produksies.
Alle fondse wat deur hierdie inisiatief ingesamel word, gaan aan Karoo Kaarte, die KKNK se langtermynprojek met die doel om jongmense van Oudtshoorn deur die kunste te bemagtig en om onvertelde stories ’n platform gee.
Ek verneem dat Oudsthoorniete taamlike afslag kan kry op sommige KKNK-geleenthede. Is ek reg?
Ja, Oudtshoorniete kan ’n Feesmark-kaartjie (geldig vir al nege dae) by die kantoor koop teen R345 met bewys van adres. (Ons het ook reeds vir drie dae aan Oudtshoorniete ’n spesiale afslag van 50% gebied vir die meeste van ons teaterproduksies.)
Is die KKNK reg vir die feesgangers?
Altyd! Vergewe ons vir foutjies en haakplekke, maar ons is ’n span met hope entoesiasme, kreatiwiteit en drome vir die KKNK.
Lees ook:
Vyf vrae aan Albert de Vos oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke by die KKNK
Persverklaring: Hierdie vyf word vanjaar deur die KKNK vereer
Persverklaring: Verskeie bekroonde produksies by KKNK te sien
Persverklaring: Program vir 28ste KKNK bied medisyne vir die siel
Persverklaring: Verrassende teater wag by KKNK se Lucky Pakkie