Albert de Vos, sy kitaar en sy bekfluitjie gaan in die Biblioteeksaal tydens die KKNK in Oudtshoorn op 30 Maart om 10:00 en 31 Maart om 12:00 gehore vermaak. Naomi Meyer het vyf vrae aan hom gestuur.
Julle vertoning sluit ’n teks in wat handel oor Oudtshoorn. Verduidelik asseblief meer oor jou eie verbintenis met Oudtshoorn en die KKNK?
As ek dit reg het, het KKNK in 1995 afgeskop en ek en vriende het daardie jaar en vir die opvolgende vyf jaar KKNK bygewoon, totdat ek toe Gauteng toe getrek het vanaf Gqeberha. Toe is Oudtshoorn minder gereeld kon besoek. Ons het in tente in Kleinplasie gekamp en met groot opgewondenheid soveel vertonings as moontlik bygewoon. Ek onthou hoe ons een van Gert Vlok Nel se eerste konserte daar gesien het, wat baie spesiaal was. Ek is ook baie lief vir die binnelandse klimaat en behalwe vir die fees, is dit ook Oudtshoorn se lekker herfsweer wat ek altyd baie geniet.
Waarom sing jy oor Breyten as die titel van julle vertoning na Hennie Aucamp verwys?
Hennie Aucamp het in sy dagboek geskryf hoe hy in Kloofstraat deur Gert Vlok Nel raakgeloop is – die skrywer en sanger wat mekaar vlugtig in die straat ontmoet. Ek wou graag my lied oor Breyten en Oudtshoorn êrens inpas en my droom om iemand soos Breyten in ’n straat raak te loop, was die konneksie. Breyten Breytenbach is dan ook ’n skrywer van Hennie Aucamp se generasie, en boonop iemand van wie Hennie met groot lof gepraat het. Sover ek kan onthou, was dit in 2001 dat ek deur Oudtshoorn se strate gedwaal het en gewens het ek kon vir Breyten ontmoet, wat toe helaas nie gebeur het nie. Ek verwys wel in een van my ander liedjies na Hennie Aucamp.
Vir mense wat nog nie hiervan gehoor het nie, gee ’n bietjie agtergrond oor wat die soort vertoning is. Vertel sommer ook wat was julle gunsteling-skryfwerk uit Hennie Aucamp se pen.
Nog voordat die Covid-virus alles tot stilstand gedwing het, het ek die idee gehad om ’n vertoning te doen wat my lirieke en gedeeltes uit Hennie Aucamp se dagboeke as ’n konsep sou hê. Luna Paige sou oorspronklik die vervaardiger wees en sy het die plan gehad om ’n orkes en ’n akteur betrokke te kry. Dit kon toe egter nie gebeur nie.
Verlede jaar het ek toe vir Izak de Vries gevra of hy dalk saam met my so iets sou kon aanpak in ’n baie kleiner produksie en hy het gelukkig ingestem. So Izak doen nou die voorlesings uit Hennie Aucamp se dagboeke en tussenin sing ek my liedjies wat min of meer aansluit by Hennie se gedagtes.
Hennie Aucamp se kortverhale het ek al oor en oor gelees en dit is veral sy verhale wat in die stad afspeel, waarby ek aanklank vind; sommige van die verhale betrek die skemerwêreld van boemelaars en ander obskure karakters. In sy dagboeke wat ek ook baie geniet, was Hennie Aucamp weer die leermeester met sy lewensfilosofie en sy insette oor kuns en kunstenaars en ander skrywers en rolprente.
Julle het by die Woordfees opgetree. Wat het goed gewerk? Wat het jy geleer? Wat was uitdagend?
Ek dink die kontras tussen my en Izak het goed gewerk, met Izak wat die voorlesings teatraal gedoen het en ek wat, omdat ek nie ’n teateragtergrond het nie, net informeel kon wees.
Ek het geleer dat mens ook maar bereid moet wees om kritiek te aanvaar. Izak het byvoorbeeld besluit om nie Hennie Aucamp te speel nie en iemand het nie baie van sy vertolking van Hennie gehou nie. Dieselfde persoon kon ook nie Koos du Plessis in my liedjies vind nie. Smaak verskil.
En ja, ek het geleer mens doen dit nie vir geld nie!
Die uitdaging vir my was om gemaklik op die verhoog te voel, omdat ek nie dikwels ligte op my het nie, maar met die tweede optrede het ek egter baie beter gevoel.
As iemand KKNK toe kom, waarom is hierdie vertoning een waarvoor mense kaartjies moet koop?
Dit is presies 10 jaar gelede in Maart 2014 dat Hennie Aucamp oorlede is, en ek reken dit is goed om sy skryfwerk nou met ’n produksie soos dié te vereer. Hennie was ’n kenner van kabaret en ek kom uit ’n folk-/bluesagtergrond, wat ’n interessante kombinasie is, dink ek.
Lees ook:
Persverklaring: Hierdie vyf word vanjaar deur die KKNK vereer
Persverklaring: Beste vriende sing Laurika | KKNK, 29 en 30 Maart 2024
Persverklaring: Verrassende teater wag by KKNK se Lucky Pakkie