KKNK 2024: ’n onderhoud oor Blommetjie gedenk aan my

  • 1

Anton Goosen (foto: verskaf)

Blommetjie gedenk aan my is vanjaar by die KKNK te sien as ’n produksie met onder meer Anton Goosen, Sonja Herholdt, Zolani Mahola, Lise Swart, Schalk Joubert en Illimar Neitz. Die tydlose liedjies van die Liedjieboer word weer opnuut in hierdie samewerking waardeer.

Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, het met die idee vorendag gekom en Schalk Joubert en Anton genader. In Schalk se woorde: “Die produksie is ’n huldeblyk aan die tydloosheid van sommige van die liedjies, vertolk deur Anton en drie formidabele vroue asook drie fantastiese musikante. Daar word gekyk na die storie agter die liedjies en hoe hulle ontstaan het. Die vertoning beoog om intiem en gemaklik te wees met besonderse musikale vertolking.”

Die produksie is deur Schalk Joubert, met wie Anton al byna 26 jaar saamwerk, byeengebring. Deur die jare is talle van sy liedjies deur vroulike kunstenaars opgeneem. “Sonja, Lise en Zolani is almal mense met wie ek ’n lang verhouding het en baie mee saamgewerk het. Schalk Joubert (baskitaar), Illimar Neitz (elektriese kitaar) en Blake Hellaby (klawers) is briljante musikante wat die produksie tot sy reg sal laat kom. Ek en Zolani het vertonings saamgedoen toe sy nog in Freshlyground was.”

Deur die jare heen was daar verskeie dekopnames, onder andere deur Pieter Smith, Maroelaboom, Refentse, Willem van der Ryst en ’n rits rock bands wat dit op feeste en verhoë uitgevoer het.

Een van die groot uitdagings aan ’n produksie is altyd om ’n keuse te maak oor watter liedjies ingesluit moet word. ’n Mens wil genoeg van die treffers hê, maar terselfdertyd moet die program ook nuut en vars wees vir beide die gehoor en die kunstenaars. Liedjies wat verskillende tye en fasette van Anton se loopbaan verteenwoordig, sal uitgevoer word. Dit begin met die eerste samewerking met Sonja in 1976 tot die laaste opnames waarmee hul nou besig is in die ateljee. Dit sluit oa ’n duet met Zolani Mahola in. “Ons het begin met van my liedjies wat deel is van Sonja se repertoire. Sy het oor die jare (1976 tot 1980 en weer in 1998) 51 liedjies van my opgeneem. Daar is ook liedjies wat Lise oor die jare gesing het en sy doen al sedert 2000 agtergrondsang vir my op die verhoog en op opnames, en dan natuurlik Zolani se bydrae. Die liedjies wat ek self sing, is gekies om die regte balans aan die program te gee en ook waar die musikante geleentheid kan kry om te wys waarvan hulle gemaak is.”

Anton vertel as boorling van die Karoo hou hy van die Karoo. “Ek was al verskeie kere by die KKNK, maar ek het nie getel hoeveel nie. Dis lekker, want die KKNK was die eerste kunstefees in Afrikaans – die moederskoot.”

Anton is steeds gereeld op verhoë te sien – ek vra wat hom bly inspireer as kunstenaar.

“Die musiek en medemusikante, asook die adrenalien van ’n geslaagde vertoning. Elke vertoning het sy eie magiese eienskappe wat ons en hopelik die gehoor huis toe neem.”

Baie gesoute en gevierde kunstenaars voel met die ouderdom saam kom gemaklikheid. Anton vertel hy is steeds senuagtig voor ’n vertoning. “Dit moet so wees, want ons doen lewende musiek sonder enige voorafopgeneemde klanke of mimiektoertjies. Ouderdom is net in jou lyf, nie in die note nie. Ek is gemaklik op die verhoog, want dit is die ambag wat ek beoefen en voor lief is.”

Hulle hoop dat die feesgangers die programme en herinnering van die vertoning saamneem huis toe. “’n Lied het ’n lewe van sy eie en kan op vele maniere vertolk word. Lewende musiek met regte musikante is waar dit veral gesien en waardeer kan word. ’n Lied is nie iets wat dieselfde bly en in ’n vertoonkas uitgestal word nie. Daar word met elke optrede en vertolking nuwe lewe in ’n lied geblaas. Dié wat werklik die toets van die tyd geslaag het, bly so aanhou leef.”

Agtergrond oor Blommetjie gedenk aan my

In Maart 1979 het Ollie Olwagen ’n artikel gedurende Paasfees vir Huisgenoot geskryf oor die sogenaamde spookmeisie van Uniondale. “Ek was besig om liedjies vir my debuutalbum Boy van die suburbs te skryf. Ek het toe nog die poprubriek onder die naam Jantjie Blom vir Huisgenoot gedoen. Die artikel het my geprikkel. Ek het Ollie gebel en gevra of ek sy lyn in sy artikel mag gebruik (‘’n Skraal wind waai oor ngunibosse’). Hy het dadelik ingestem.”

As joernalis van Huisgenoot was Ollie een Paasnaweek na Uniondale om self in die nag op die spookpad te gaan ry en die spook te soek. “Nodeloos om te sê was daar natuurlik niks nie. Oor die geloofwaardigheid van sekere ‘ooggetuies’ gaan ek my nie hier uitlaat nie. Familielede van ’n meisie wat die ‘spook’ sou gewees het, is opgevoede en nugter denkende mense wat vanselfsprekend bitter ontsteld was oor die storie wat die wêreld vol gelê het en omdat haar goeie naam aan sulke snert gekoppel was. Nadat my storie oor my nag op die spookpad in Huisgenoot verskyn het, het Anton Goosen (wat toe ook vir ons ’n platerubriek behartig het) my opgebel en gevra of hy ’n reëltjie uit my artikel kon gebruik vir sy liriek van die liedjie wat hy aan die skryf was. Ek het natuurlik hoegenaamd nie omgegee nie. Daar waar hy sing van die ‘skraal wind’ wat ‘oor die ngunibosse waai’, is my eie, bitter klein aandeeltjie aan die Liedjieboer se treffer.”

Anton vertel hy het gedink dit sal ’n goeie ding wees om die spook wat ryloop, iets te laat sing terwyl sy op voertuie wag, vandaar die koorgedeelte. “Toe ek die demo van die liedjie vir Chris Kritzinger, my destydse musiekregisseur speel, het hy onmiddellik gesê: ‘You don’t give this one away.’ Chris het in die ateljee aan die tromspeler die opdrag gegee: ‘Think baby come back’, ’n treffer van die Equals van tien jaar tevore. Die feit dat dit die eerste rock song in Afrikaans was, is bloot toevallig en was nie so beplan nie.”

Daar was onmiddellik mense, twee of meer gesinne, wat beweer het dat die spookmeisie familie van hulle was, oa Maria (Ria) Roux en Anita Erasmus.

38 jaar nadat Ria, beter bekend as die spookmeisie van Uniondale, in ’n motorongeluk by dié klein Oos-Kaapse dorpie dood is, vra haar familie nou dat die spookstories oor haar tot ’n einde kom. “Ons is meer as moeg daarvoor. Dis ’n klomp bog, maar dit kry net nie end nie.”

Die organiseerders van die KKNK gebruik dit selfs as advertensie vir hul fees. Anton Goosen sing daaroor. “En dan is daar die mense wat jaar ná jaar in die Paasnaweek by die ongelukstoneel gaan kampeer met die hoop om nugter weet wat te sien. Selfs Uniondale slaan met toerisme munt daaruit,” sê die familie. “Ons wil vir die mense sê: Los Ria uit. Daar is nie ’n ‘spook’ van haar nie en daar was nog nooit een nie,” sê Frans Roux (66) van Ramsgate in KwaZulu-Natal, ’n ouer broer van die meisie wat in September 1946 as Maria Charlotte Roux in Krugersdorp gebore is.

Volgens Marlene Erasmus, Anita se skoonsuster en die tweede vermeende spook (die een wat die televisie afsit as Anton sing), het Anita ’n paar maande voor haar dood haar lang hare blond gekleur en het sy die dag van haar dood ’n wit rok gedra. Toe die familie dus kort na die ongeluk in die koerante begin lees van ’n blonde spook wat by Uniondale loop, het hulle geglo dis Anita se gees wat nie rus kon vind nie. Boonop het Anton Goosen in die vroeë tagtigs sy trefferliedjie oor die spook begin sing en was die familie, eens stoere aanhangers, baie disgusted daaroor. “My man was so mal oor Anton Goosen dat hy sy oudste seun na hom vernoem het. Maar na die liedjie kon hy nie meer sy musiek verduur nie. Die televisie en radio is afgeskakel elke keer as Anton daarop verskyn,” het Marlene vertel.

Deesdae is daar ’n standbeeld van die spookmeisie ook by Uniondale as toeristeaantrekking, en ’n koffiewinkel wat bekers verkoop met die liriek daarop gedruk (met toestemming).

Anton en sy Liedjieboerband het in 1980 op pad terug van ’n laaste aand se optrede op toer in George teruggery en by die Barandas-afrit stilgehou. Daar was onheilspellende wit klippe in die maanlig, maar die spookmeisie het nie daardie aand opgedaag nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top