
Frazer Barry en “dokter” Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK
Die 28ste KKNK op Oudtshoorn het die naweek ten einde geloop en dis asof die kurators diep gaan grawe het om in hierdie post-Covid-tyd ’n ware smorgasbord van toneel, musiek, poësie, kuns en mimiek byeen te bring wat enige feesganger se wildste drome kon laat waar word.
Met die tema “’n Kuur vir elke kwaal” was daar voorwaar iets in die kunsdokter, Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, se medisynetassie: dansdoepa vir aanhou beweeg; vitamien drama vir heelmaak; samesyn vir smulpape en markvrate; musiekmoetie vir jeukvoete en ongestimuleerdes en vele meer.

Odette Graskie se Drawing as movement.
Ons besprekings is wyd en divers. Bietjie ligter vermaak, dan ’n skeutjie donkerteater, dan ’n bietjie musiek, voor ons by een van die verhoë gaan voete tik en hande klap met ’n drinkdingetjie, voor die kuns deur onder meer Malebogo Molokoane, Theo Paul Vorster, Evert Esterhuizen, Odette Graskie en Johan Steyn by die Prince Vintcent-gebou roep.

Een van die installasies in Baron van Reedestraat: as dit reën in die Klein Karoo.
Ons dae kry ’n ritme: Soggens kry ons die Kuur-feesblad vir die dag met koffie; tussen vertonings ontmoet ons vriende en kunstenaars by die eetplek by die Burgersentrum. Ons drink koffie, eet pannekoek of kerrie en rys en beraadslaag oor wat ons gesien en ervaar het. Saans eet ons by een van die dorp se eetplekke, teug Karoo-wyne en laat die feesgees behoorlik om ons enkels tiekiedraai.

Johan Steyn se werk Minki and the Terns.
Ons wag op kratte met houtbene buite die wit tente van Lucky Pakkie waar jy daagliks Melkbaard-, Sagtebaard- of Hardebaard-produksies van enkele minute kan kyk. Die “afdak” is baldadige bont lappieskomberse wat aanmekaar vasgemaak is. Die feesklanke word nie deur die wit tentflappe uitgedoof nie en met ’n paar druppels reën, ruik jy dit op die teerpad buite. By die Prince Vintcent se stegies hang kleurvolle lampskerms wat deur plaaslike hande gehekel is. Dit wieg saggies in die windjie.
In Patmos verloor ons kop tussen die sterre met Tinarie van Wyk-Loots en Marlo Minnaar. ’n Astronoom verklaar dat sy snags werk en verlief is op die gebeurtenishorison. “Ek leef op liefde en kafeïne.” Haar seun praat al vir ’n jaar nie, nadat hy sy pa se verminkte lyk na ’n huisbraak gesien het. Die seuntjie is ’n wit pop wat deur Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen hanteer word. Die seuntjie praat uit die duisternis met die gehoor en vertel dat sy pappa stukkend was; dat hy uitmekaar geval het.
Die komponis wat ’n klankbaan vir ’n wetenskapfiksiefilm kom opneem, merk dat teleskope tydmasjiene is, waarop sy antwoord: “Millennia te laat en net betyds.”
Die stuk se teksskrywer, Willem Anker, sê in Dié Kuur se Maandag-uitgawe dat die toonaard van Patmos “iets soos melancholie met ’n vonkie hoop is” en ook dat teater spanwerk is, iets waarvan hy hou. “Die teks is maar een onderdeel van die geheel.”
Hy sê ook die karakters is twee gewonde mense wat mekaar ontmoet en probeer sin maak van die verlede en die toekoms om ’n hede te vind.

Dozi en Zolani het die saal se dak laat lig!
Daardie tema om ’n hede te vind, kom weer vir my voor in Routrip en drie musiekvertonings waarin die gehore op nostalgiereise gaan: Blommetjie gedenk aan my met onder meer Anton Goosen en Sonja Herold; Zolani en Dozi: Die kort en die lank; en Stef Bos: Bijna 30 jaar later.

Routrip met Elzabé Zietsman
In Routrip met Elzabé Zietsman wil ’n vrou nie meer lewe nie; haar eerste selfdoodpoging misluk as haar vriend op haar afkom. Haar sielkundige-broer verklaar dat die meeste mense wat selfdood toepas, nie wil doodgaan nie, hulle wil net nie meer só voel nie. Sy voel uitgekalwe, loop met ’n leegheid in haar; gaan weer probeer om haar lewe te beëindig. Sy weet nie hoe om vry en sorgeloos te voel nie. Sy is moeg baklei vir dit wat haar net nie beskore is nie.

Nostalgie op sy beste in die vertoning Blommetjie gedenk aan my.
Die drie musiekvertonings is al drie in die Burgersentrum. Die sangers is ook – soos die fees – drie dekades wyser, dalk ontnugter, maar rustiger. Almal kyk terug op hul lewens, ook in ’n mate om te “probeer sin maak van die verlede en die toekoms, om ’n hede te vind”.

Die swartmerrie
Die toneelstuk waar dit die sterkste praat is Die swartmerrie met Theo Witbooi, Chantell Phillipus en Jermaine Bruintjies en die hele span van dié KKNK-projek. Verlede jaar het ons lekker gehuil in Droomkraan kronieke, ’n raar inkyk in die mense van die Karoo se lewens en swaarkry. Lees meer hier.
Die son trek water oor die Klein Karoo toe ons op die stellasies by ’n verwaarloosde spoorlyn en store aanmeld. Tjoekie sit daar en wag met sy koffer en sy droë blomme. Hy wag al meer as 45 jaar vir sy ma om terug te kom – ’n internasionale ster soos hy glo sy geword het. Dis sy jeugvriendin, Frieda, wat hom daar op die stasie kry en probeer om sin te maak van sy seer. Sy probeer hom oortuig dat sy ma nooit gaan terugkom nie, dat sy gevlug het toe hy agt was: onder die mishandeling van sy pa uit, sy pa wat meer liefde en woorde vir ’n stoomenjin (die swartmerrie) gehad het as vir sy vrou; sy ma wat verklaar dat sy moeg is vir min word, vir klein word.
Die skaduwees op die verlate perron word al langer en skuif al verder weg van die twee karakters soos wat dit voel asof Tjoekie sy vasklou op sy lewe verloor en Frieda haar vermoë om langer aan hul vriendskap in sy droomwêreld vas te hou.
Tjoekie is een van soveel kinders in veral arm woonbuurte wat alles verloor wanneer ’n ouer wegloop sonder taal of tyding. Wat dan ook hul kans om uit te styg verbeur, omdat hulle in dryfsand beland wat hulle aan die verlede vasmaak.

Fietsry vir dommies met Eldon van der Merwe
Mense wat die lewe se verwagte lysie voltooi of patroon gevolg het, maar steeds nie die verwagte sukses bereik het nie was ’n tema in verskeie toneelstukke: Fietsry vir dommies waar Carl sy kop laag gehou het, skool voltooi het en toe gaan studeer het. Naweke en vakansies gewerk het vir ervaring in die konstruksiebedryf, maar steeds nie die loopbaandeurbraak kry waarop hy gehoop het nie. Hy dra vir jare aan sy ouers se laste, maar word moeg daarvan. Hy is egter steeds – met graad en al – vasgevang in die sinkhokke van Rose Valley buite Oudtshoorn waar jy “goeie headphones nodig het om alles om jou uit te blok”. Hy sê dis asof almal om hom “stuck is in ’n simulation of ’n loop” en as jy ’n “bruin vel het, is jy ge-disqualify vir ’n tweede kans”.
En hy begin voel soos almal om hom: “Doomed to repeat the generational cycle of poverty and failure”, maar tog bly hy hoop dat hy gaan heel wees.

Reünie met Frank Opperman
In Byster met Lara Hattingh is dit ’n jong aktrise van Durbanville wat probeer om haar sukses te vind, maar telkens die teiken van teaterboelies is; selfs Reünie met Frank Opperman, waar een fout op hoërskool ’n lewe kan laat ontspoor en ’n “drenkeling” 40 jaar later vir vergifnis of aanvaarding of afsluiting kom vra. Aanvaarding van dié wat vier dekades gelede geglo én gemaak het asof hulle die lewe se uitverkorenes was, vir wie alles net reg val, alles net voorspoedig gaan wees. In die gange hang die groepfoto’s van leerders van toe en nou tot teen die plafon. Hoeveel van hulle is van die lewe se drenkelinge?

Lara Hattingh in Byster
Lara, in Byster, se karakter verklaar dis baie ironies hoe swaar dit is om lig te wees. “Ek het altyd gedink ek gaan die wêreld beter maak met my stories, maar nie besef hoe moeilik dit gaan wees nie.” Tot iemand teenoor haar opmerk dat hierdie lappop se gare losgetrek het en die binnegoed om haar gestrooi lê en sy nie die vermoë het om dit alleen terug te sit nie. Dieselfde kan gesê word van die karakters by daardie skoolreünie waarin Opperman speel: Elkeen se gare het op een of ander manier uitgerafel.
In Ken jy vir Dewie? met Crystal-Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson is dit daardie gedurige minderwaardigheid aan dié wat bespot, boelie, afknou wat tot uiting kom in ’n skooltragedie. Terwyl chaos losbars in die skoolsaal waar die teatergangers soos skoolkinders by banke met boeke en skryfgoed op sit, is die storie nie heeltemal so vergesog as wat jy sou wou dink nie. Daardie boelies was tog immers deel van ons almal se grootword en in baie opsigte matrikuleer hulle nooit en laat ander met rus nie. Hulle stap die pad saam deur universiteit, jou eerste werk, jou kinders se skool, die aftreeoord se bestuur, tot jy jou kop neerlê.
Toe ons uitstap uit die saal uit, sien ek die groot muur is oortrek met plakkate en sketse om by leerders te pleit om boelies aan te gee dat daar teen hulle opgetree kan word.

In die Lucky Pakkie Hardebaard-vertonings is daar geen doekies omgedraai nie.
Die vloek wat jong vroue saamdra, word opgesom in een van die Lucky Pakkie se Hardebaard-produksies waar die karakter verklaar dat haar vagina ’n tikkende tydbom is. En dat dit makliker is om sleg as goed te wees.

Incarnations of sand met Alet Bruyns en Zara van der Westhuizen
Ook in Incarnations of sand met Alet Bruyns en Zara van der Westhuizen, waar die een karakter swaarmoedig en swartgallig is terwyl die ander een probeer om te verduidelik hoe kosbaar die lewe is: “Ons is hier, my hart klop. Joune ook. Dis al wat dit is, wat saak maak.” Tog is dit nie genoeg nie, want dis nie wat die lewe klaarblyklik belowe het aan dié wat die reëls nakom nie.

Die akteurs Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz se dogter, Dhania Kara Schultz, het die teks en regie van Incarnations of sand waargeneem en ma en pa het kom ondersteun!
Dis ’n interessante stuk met karakters met witgeverfde gesigte, amper soos mimiekkunstenaars, maar hul woorde is fel. My geliefde verklaar later oor ’n pannekoek: “Dis lekker om iets buite jou algoritme te kyk of te ervaar.”

Lindokuhle Melaphi in Die stoele
Die stoele met Chris van Niekerk, Antoinette Kellermann en Lindokuhle Melaphi is op ’n ander skaal, maar steeds met dié onderliggende tema. Chris vertel in Woensdag se teaterkoerant Dié Kuur dat dié rol as 94-jarige man wat saam met sy vrou op ’n eiland woon, die uitdagendste van sy lewe is. “Die teks van Eugène Ionesco is verby anderkant moeilik wat volume woorde en wisseling en beeldskone taal en woordspeling en diep emosie asook humor betref.” Die man berei voor vir ’n toespraak vir die mensdom, ’n lewenswysheid wat hy wil deel – as’t ware om sy lewe betekenis te gee.

Chris van Niekerk en Antoinette Kellermann in Die stoele
Hulle pak stoele uit vir al die mense wat gaan arriveer, maar soos die stoele meer word, word hul waansin ook meer.
Hy sê voorts dat Ionesco se werk vir jare as absurde teater beskou is, maar nou 70 jaar later ervaar ons dit nie meer so absurd nie. Hy dink eerder gehore sal die toneelstuk as ’n spieëlbeeld ervaar van nie net ons land nie, maar ook die baie groter prentjie. “Die prentjie van ons. Van ons drome, ons twyfel, ons onvermoë om lief te hê en ook nie liefde te hê nie.”

Magda Louw vertel die kaalkopwaarheid.
In Magda Louw lag ons vir daardie spieëlbeeld – die prentjie van ons. Die sotlikhede wat ons op sosiale media kwytraak; die absurditeit van woordsomme; hoe jy “kortizol” afskei as jy positief is; hoe ons “influenzers” toelaat om ons te “influenze” dat ons goed koop wat hulle verniet gekry het.
Maar ten spyte van al die geproes vir ons eie gekheid, verklaar die wyse, “ouer” Magda dat: “Die’s jou nou. Daar is suurstof in jou longe. Dié nou gaan nie vir ewig hou.”

Die paneelbespreking oor Veelhoek met Marthinus Basson as regisseur, Jana Cilliers as teksskrywer en aktrise, Hugo Theart as paneelleier en Ludwig Binge as akteur.
Jana Cilliers maak haar skrywerdebuut in Veelhoek, die storie van haar neef, Barnard Gilliland, wat op 24 in ’n motorongeluk dood is. In ’n bespreking met Hugo Theart, Marthinus Basson, die regisseur, en Ludwig Binge wat Barnard speel, vertel sy dat die stuk handel oor twee cousins, die lewe en die dood en die bereidwilligheid van die aanvaarding van die gegewe.
Marthinus het die stuk se regie aanvaar, omdat Jana se balans tussen kop en hart goed tot uiting gekom het in die teks en hulle almal al deur die drif is met die dood. Hy en Jana het al vyf maal saamgewerk, maar dis die eerste maal dat sy vir die teks verantwoordelik is en ook die hoofkarakter vertolk.
Ludwig vertel dat die teks hom in ’n blinde paniek laat uitslaan het. “Om poësie te speel, is moeilik. Hierdie is ’n tegniese en intellektuele uitdaging en só taalryk. Dit het nie ’n begin en einde nie en die gehoor moenie ’n logiese storielyn probeer volg nie. Dit probeer gevoelswaarde kweek – so as jy iets voel, is dit suksesvol.”
Midde-in die fees besef ek dis vier jaar gelede dat inperking in ons land begin het en teaters en sale en musiektente stilgeword het. Ek staan in die middel van ’n bont en luide Baron van Reedestraat. Straatmusikante aan die een kant, die wit tent van die Lucky Pakkie aan my ander kant. Kinders wat op blikkies “kitaar” speel en sing hoe lekker die kunstefees is. Ek kyk op na die blou hemel met sy wit vlieswolkies wat oor die CP Nel Museum se mooie kloktoring dryf en gee my oor aan die speelse klanke van léwe.
“Die’s jou nou.”

Marianne Thamm in Vuisvoos, maar nog regop
In Marianne Thamm se Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024, wat sy “performance journalism” noem omdat die publiek nie kan bybly met wat in die land gebeur nie en iemand dit vir hulle moet verduidelik met prentjies, is daar optimisme. Sy is adjunk-redakteur van Daily Maverick en vertel die Grondwet is soos ’n kombers om ons skouers wat ons beskerm. Sy verklaar dat sy die gehoor gaan help om Suid-Afrika te navigeer. Sy verduidelik dat mense vra of dit sal erger word. “Erger as wat?” Sy sê wanneer dit erger raak vir politici as mense, is dit ware demokrasie. Sy praat tong-in-die-kies oor Johannesburgse belastingbetalers wat so moeg is vir sonder water en krag wees dat hulle sommer ’n straat opgepoep het! Ook met spore en kragkabels se diefstal steek sy die draak: Gister was dit Bellville-stasie, vandag is daar niks.
Maar dat sy deeglik betrokke is by die ondersoekende joernalistiek wat onder meer staatskaping en ander euwels ontmasker het, is gewis. Sy vertel dat soveel dinge die afgelope 30 jaar van demokrasie reggegaan het. “Ons maak groot vooruitgang in misdaad: Ons arresteer brigadiers en generaals; ons het fluitjieblasers wat mense soos die Guptas aan die pen laat ry; en deur dit alles beskerm ons Grondwet ons. SARS is weer herstel en met die Zondo-kommissie is daar dalk nie duisende mense tronk toe nie, maar die publiek het uit die skurke se monde die toedrag van sake gehoor. En ons het gehoor dis professionele mense wat skurke gehelp het om ons geld te steel.”
Dis ons sewende vry en regverdige verkiesing om die draai. “Ons is titanium – ons is nie gemors nie. En ons diversiteit is ons land se sterkste punt.”
Sy het afgesluit deur te sê vryheid is nie ’n bestemming nie; ons moet aanhou om daarvoor te veg.

Wessel Pretorius se nuutste toneelstuk, ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer
In Wessel Pretorius se nuutste toneelstuk, ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie, raak jy halsoorkop verlief op ’n vrugtevlieg en ’n mot en word jy meegesleur met handpoppe, blinkertjies, vere en vlerke wat twee akteurs in droombeelde verander. Jy is weer kind as jy sien hoe hulle “konserthou” met lere en doeke en goed wat hulle uit tasse uitlig. Sy teks – soos altyd – meesterlik en meesleurend. Laetitia Pople skryf in Dié Kuur: “Aan die einde lê die verhoog soos ’n speelgrond besaai met blinkers, rakette, brille, ou Chinese lanterns, helderkleurige lap en net... Wat bly verstom, is dat jy net weer so pure mens voel ná hierdie onvergeetlike reis met drie baie besonderse insekte.”
Saans drink ons rooiwyn agter die museum by die Netwerk24 Kunskafee, terwyl iemand op ’n klein houtverhogie vir ons sing. Vir ’n paar wonderlike ure is ons sorgeloos, melancholies, weggevoer na ’n heilige plek in ons koppe. Tussen die tentdak en die stoepdak van die historiese gebou deur, flonker die sterre aan ’n Karoonag.

Herman Lensing kook saam met Kurt Darren in die Checkers-kombuis.
Bedags kook Herman Lensing saam met al wat ster is: van Kurt Darren, Hannes van Wyk, Desiré Gardner, Margit-Meyer Rödenbeck tot Amanda Strydom, Armand Aucamp en Kabous Meiring. Hy vertel vir Kurt: “Sit gemmer aan die einde van jou kookproses, anders is dit gou bitter. En kook meer gereeld met biltong. Dit sorg gou vir komplekse geure en die vet kook uit, wat dit nog meer smaak gee.
“Kook met wyn. As hy goed genoeg is vir jou glas, is hy goed genoeg vir jou pot of pan.”

Daar is lekker gekoop en gekyk by die stalletjies.
Mense koop boeke en kuns en volstruisprodukte en by die stalletjies is daar doepas vir alles van bleskop word tot skewe voete.

Roem: ’n Musiekverhaal
Gepraat van doepas. Coenie de Villiers en Deon Meyer se volskaalse musiekblyspel, Roem: ’n Musiekverhaal, met Anrich Herbst, Eldon van der Merwe, Daneel van der Walt en Nelandi Boshoff en die musikante, Mauritz Lotz en Blake Hellaby, vertel die verhaal van ’n man en sy musiek en sy verlede wat kom spook. Dis doepa vir dié wat van romanse en mooi musiek en mooi stelle hou. Daar is ’n jong dogter wat wil sing, maar hy waarsku haar dat roem vernietig. “Die wêreld wil nie net jou stem hê nie, die wêreld wil alles vat” en “roem is ’n roofdier wat sluip in die nag”. Tog is daar nog prinse en sprokies en dinge werk uit vir almal.
Ons het net vier dae se feestyd gehad, maar om terug te ry Kaap toe, al deur die Karoo, terwyl die toneelstukke en musiek deur my kop drentel en draal, ’n voorreg wat ek nie sommer maklik as vanselfsprekend sal aanvaar nie.
En die boodskappe van elke stuk kom klop weer aan vir aandag, vir herkou, vir bespreking.
Dié doepa gaan nog lank in my bloedstroom bly.
Foto’s: Clifford Roberts met die Canon EOS R10. Dit is baie lig, skaars opvallend in ’n rugsak en neem goeie foto’s in donker teaters. Die lenstegnologie verskaf ’n hoër-as-gemiddelde skerpte onder uiteenlopende toestande. Twee lense – die Canon RF 24-50 en 55-210 mm – het feitlik elke situasie gedek.
Lees ook:
Vyf vinnige vrae aan Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK
Vyf vrae aan Albert de Vos oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke by die KKNK