
https://kknk2024.kknk.co.za/produksie/die-stoele/
Toneel: Die stoele
Met: Antoinette Kellermann, Chris van Niekerk en Lindokuhle Melaphi
Teks: Eugène Ionesco
Vertaling: Nerina Ferreira
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
Marthinus Basson het hierdie jaar diep gaan krap in sy trommel vol teksskatkiste om Nerina Ferreira se 1970-vertaling van Eugène Ionesco se The chairs tot die lewe te bring. Oud, maar beslis nie koud of irrelevant nie! Die Roemeens-Franse dramaturg Eugène Ionesco se Die stoele word gereken as ’n tydlose meesterstuk van die absurde teater. Die stoele is juis ook ’n stuk wat gehore kan verwar, betower en aangedaan laat met sy verkenning van eksistensiële temas en die roerende uitbeelding van die menslike hunkering na ’n betekenisvolle bestaan. Die spieël wat voor mens gehou word, soos met enige teater, is hier konfronterend en ietwat skeefgetrek van mistroostigheid.
Die stoele speel af in ’n vaal voorkamer met twee afgeleefde stoele op ’n afgeleë eiland omring deur water en moerasse. Dit volg ’n ou egpaar wat eenvoudig as Die Ou Man en Die Ou Vrou bekend staan. Die egpaar berei voor vir die koms van ’n ongesiene gehoor om ’n belangrike boodskap oor te dra. Terwyl die kamer vol raak met stoele, begin die egpaar ’n frenetiese poging om die gaste te akkommodeer en hulle optrede word al hoe meer wanhopig en angstig. Die egpaar se pogings om hul boodskap oor te dra, ontaard verder in ’n reeks betekenislose gebare en ’n onbegryplike gebabbel. Dis asof die absurditeit van hulle situasie die absurditeit van die lewe beklemtoon. Die soeke na betekenis gaan gepaard met onvermydelike teleurstelling en frustrasie. Sentraal tot die impak van die stuk is die verkenning van eensaamheid en isolasie – temas wat tans diep sal resoneer met baie mense. Die egpaar se wanhopige verlange na liefde is tasbaar, terwyl hulle vasklou aan die hoop dat hul boodskap hulle uiteindelik die erkenning sal bring wat hulle begeer.
Basson se minimalistiese stel is so ontwerp dat die egpaar geplaas kan word in enige plek in die wêreld en in enige tydperk. Tydloos. Die skaars verhoogontwerp verleen ook aan die akteurs die ruimte en geleentheid om die stewige dialoog te laat skitter. Die stel, as ’n gestroopte landskap, dien as ’n metafoor vir die karakters se gebrek aan innerlike emosies, terwyl die dosyne stoele die karakters se gevoel van eksistensiële benoudheid versterk. Ferreira se vertaling is ná al die jare ontsettend vars en skerp. Haar vertaling meng humor met patos sodat die stuk beide diep ontroerend en donker-komies is.
............
Die grootste sukses van die stuk is die optredes van die akteurs wat die delikate balans tussen komedie en tragedie met presisie navigeer. Antoinette Kellermann in ’n grys ballonrok is ’n absolute histerie en dit is heerlik om haar komiese sy te ervaar in al sy glorie. Van verleidelik poseer vir ’n denkbeeldige fotograaf tot hondgeluide namaak in ’n vensterbank. Van Niekerk is perfek as die pierewaaier Ou Man wat verdrink in die illusie van sy status. Hy stoom soos ’n lokomotief en sy fokus is intens sekuur.
...............
Die grootste sukses van die stuk is die optredes van die akteurs wat die delikate balans tussen komedie en tragedie met presisie navigeer. Antoinette Kellermann in ’n grys ballonrok is ’n absolute histerie en dit is heerlik om haar komiese sy te ervaar in al sy glorie. Van verleidelik poseer vir ’n denkbeeldige fotograaf tot hondgeluide namaak in ’n vensterbank. Van Niekerk is perfek as die pierewaaier Ou Man wat verdrink in die illusie van sy status. Hy stoom soos ’n lokomotief en sy fokus is intens sekuur. Die meeste akteurs sou hulle broeke bevuil het net om al die woorde baas te raak! Basson fokus hier sy regie op spel en dit is duidelik dat elke woord en beweging fyn beplan is.
Die stoele is ’n prominente prestasie en ’n stuk werk wat steeds resoneer met gehore vir sy insiggewende kommentaar op liefde, isolasie, kommunikasie, verlange en verspeelde kanse. Soos ek die teater in ’n waas verlaat, loop ek verby ’n paar mense om kospotte en hulle skater van die lag. Die een kok laat hoor: “As ’n grootmens vir jou sê hulle eet nie so en so nie, dan moet jy weet hy is dik gevreet.” Die ander kok beaam: “Ewe, ewe!”
Purgasie of dik gevreet-wees? Dit is die uiteindelike vraag van die lewe.
- Die stoele was te sien by die 28ste KKNK in Oudtshoorn vanaf 27 tot 31 Maart.
Lees ook: