KKNK 2024: Monsters

  • 0

Foto: KKNK

Monsters
’n Toyota US Woordfees-produksie
Spelers: Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete
Teks: Niklas Rådström
Vertaling: Tinarie van Wyk Loots
Regie, vervaardiger en verwerking: Tinarie van Wyk Loots
Beligtingsontwerp: Jaco Bouwer
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Verhoogbestuurder: Llandi Beeslaar

Saartjie Botha het verlede jaar by die Toyota US Woordfees gesê ek moet Monsters gaan kyk. Sy is selde, indien ooit, verkeerd, maar ek kon nie my tye uitwerk om Monsters te sien nie. Daarom het ek moeite gedoen om dit by die KKNK te gaan sien.

Ek is baie bly ek het.

Monsters is nie ’n stuk wat ’n mens kan geniet nie, maar dit is werklik fantasties. Onder spelleiding van Tinarie van Wyk Loots het Niklas Rådström se teks lewe gekry in Afrikaans, Engels en Xhosa.

Die agtergrond

In 1993 het twee tienjariges, Jon Venables en Robert Thompson, die tweejarige James Bulger weggelok uit ’n winkelsentrum in die VK en hom toe vermoor.

Dit het geweldige opslae veroorsaak, ook toe die twee as jong volwassenes uiteindelik nuwe identiteite gegee en vrygelaat is. Die nuwe identiteite was om seker te maak dat hulle vir hulself ’n lewe sou kon bou ná die gruwel wat hulle gepleeg het.

Thompson het hierdie nuwe identiteit aangegryp en leef tans ’n goeie lewe onder sy nuwe naam. Dieselfde kan egter nie van Venables gesê word nie.

Die stuk

Die akteurs loop op die verhoog, trek lootjies en word so teksgedeeltes toegedeel wat voorgelees moet word.

Dit gebeur terwyl die gehoor instap.

Wanneer die huisligte gedoof word, stap die akteurs na die rand van die verhoog en vra, heel konfronterend, wat ons, die gehoor, nou eintlik hier soek? Waarom op die aarde is jy hier om te kyk na ’n stuk oor twee tienjariges wat ’n tweejarige koelbloedig vermoor het?

My eerste reaksie was om na binne te sê: “Want Saartjie het gesê...” Nou, as ek weer gaan, sal dit makliker wees: “Want dis ’n blerrie interessante stuk!”

Die spelers gaan sit dan en begin voorlees uit transkripsies van die ware ondersoek. Ons hoor wat die polisie aan die seuns gevra het, ons hoor wat die seuns gesê het.

Aanvanklik was hulle hardekwas en wou nie erken dat hulle betrokke was nie, maar stelselmatig kom die waarheid uit.

Daar is gruwelike feite van twee seuns wat ’n kleintjie met klippe en ’n metaalstaaf die ewigheid ingestuur het, maar dit is uiteindelik nie die kruks van die stuk nie. Van veel groter belang is die verwysings na die kinders se huislike omstandighede. Nie een van die twee tienjariges sou kon roem op ’n rooskleurige, gelukkige huis met twee ouers en ander, gelukkige kinders nie.

Soos alte dikwels kom ons hier ook agter dat misdadigers gereeld ’n produk van hulle omgewing is. Die twee kinders was ook so.

Blaam

Die stuk is geskryf en gekonsepsualiseer deur ’n Sweed, Niklas Rådström.

Rådström is nie bang om kontroversiële temas aan te pak nie. Sy eerste drama het gehandel oor Hitler se jeug. Wat het van Hitler, die man, gemaak wat hy was? Rådström se vingers wys na die disfunksionele gesin waarin die latere Führer grootgeword het – het dit van hom die monster gemaak wat hy was?

Dieselfde gebeur in Monsters. Ons besef dat daardie kinders se komvandaan ’n belangrike deel was van hoe hulle so wreed kon wees.

Meer nog: Dis nie net die ouers wat blameer word nie, die akteurs blameer by geleentheid openlik die gehoor dat ons almal aandadig is aan die moord op die tweejarige James. In die VK het dit erge reaksie ontlok van kritici, maar Rådström se kontensie is dat die samelewing ’n deel van die blaam moet dra. Die kinders se ouers is ook produkte van ’n gebroke samelewing en daarom was hulle nie perfekte ouers nie.

Die kollektiewe blaam het my nogal laat dink aan Leonard Cohen se lied “Please don’t pass me by”:

And you know as I was walking I thought it was them who were singing it
I thought it was they who were singing it
I thought it was the other who was singing it
I thought it was someone else
But as I moved along I knew it was me, and that I was singing it to myself

Voorlesings deur menige stemme

Groot dele van die toneel word voorgelees deur die akteurs. Hulle wissel die hele tyd. So, die seuns, die polisie, die ma, almal word gelees deur al vier akteurs.

Daar is egter ook stukke waar die akteurs ingeoefende woorde sê.

Tinarie van Wyk Loots, wat verantwoordelik is vir die Afrikaanse teks en die regie van die plaaslike produksie, het die gevoel van Rådström se teks behou, maar was slim om dit te versuidafrikaans deur Engels en Xhosa tussen die Afrikaans in te voeg.

Die stuk is oorwegend Afrikaans, maar veral Ntlanhla Kutu het sy gedeeltes in Engels gelees en het dikwels in Xhosa gepraat.

Van Wyk Loots het ook voor die stuk begin het na die gehoor gekom, buite die saal, en het twee vrywilligers gevra om stukke te kom voorlees op die verhoog.

Die vrywilligers is nie die geleentheid gegee om die teks vooraf te sien nie. Hulle eie interpretasie het dus bygedra tot dié van die stemme op die verhoog.

Die akteurs

Michele Burgers, Elton Landrew en Ntlanhla Kutu het onlangs naam gemaak op TV. Dit was lekker om hulle in ’n ernstige stuk soos hierdie een te sien.

René Cloete het as skoolmeisie reeds gehore op hulle voete gehad in die ATKV-tienertoneel. Dit is heerlik om haar nou al hoe meer in belangrike produksies te sien optree.

’n Hoogtepunt

Ek het groot waardering gehad vir hierdie stuk – ek wil nie sê ek het dit geniet nie. My feesmaats was dit eens dat dit ’n hoogtepunt was.

Maak soos Saartjie Botha sê: Gaan sien Monsters as jy kan!

Lees ook:

KKNK 2024: Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan

KKNK 2024: Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024

KKNK 2024: Patmos, ’n teaterresensie

KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik

KKNK 2024: an insider’s perspective on Lucky Pakkie

KKNK 2024: ’n Kuur vir elke kwaal was dié KKNK beslis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top