
Gert Vlok Nel (skermgreep uit die dokumentêr My broer, Gertjie deur Niel van Deventer met toestemming geplaas)
Hoe skryf ’n mens oor die man wat so onvergeetlik kan dig oor die baai, die wind wat waai, small-town sex and skepe wat aankom in die kaai? Was daar rural Afrikaans vóór Gertjie? Sekerlik, maar dit wat dit voorafgegaan het, verdien seker nie om onthou te word nie.
My kennismaking met hom was, soos vir baie ander, in die laat nineties. Dit was net nadat ons uit die Vaaldriehoek verhuis het na ’n radikaal ander lewe in die Benede-Oranje, die last outpost van Suid-Afrika. Dit was ’n drukkende aand op Noudonsies in die ou plaashuis waarin ons moes bly voordat my pa ons eie huis op ons eie plaas kon bou.
Dit was reeds laat, maar ek dink my ouers was nog besig, want daai tyd het hulle vrek hard gewerk. Die radio was amper altyd aan, want in ’n afgeleë wêreld waar die televisie nog nie uitgepak was nie en waar dagblaaie selde op die bedoelde dag opgedaag het, was die ou FM-garde by die SAUK nog bewakers van die laatnagnuus.
“Waarom ek roep na jou vanaand” het oor die draagbare radio begin speel; dalk was dit nog tydens die legendariese Johann Botha se Tempo-gleuf.
........
“Gert bo die grond roep na Koos onder die grond / Kom in, Koos, kom in, kom in …” Dalk was dit daai eerste refrein wat jou wind uitslaan. Dalk was dit buitengewoon spesiaal vir my pa, ’n naamgenoot, en dan is daar mos min verweer teen die vlietende verstaan dat daar net een jy is wat op jou naam geroep word.
........
“Gert bo die grond roep na Koos onder die grond / Kom in, Koos, kom in, kom in …” Dalk was dit daai eerste refrein wat jou wind uitslaan. Dalk was dit buitengewoon spesiaal vir my pa, ’n naamgenoot, en dan is daar mos min verweer teen die vlietende verstaan dat daar net een jy is wat op jou naam geroep word. Ek onthou my pa het opgehou met dit waarmee hy besig was en my ma gaan roep. Hulle het net daar op die kombuistrappie gaan sit terwyl Gert sing oor liedjies wat nêrens hoort nie. Dalk het hulle gehuil – ek kan nie onthou nie – maar hulle kon net sowel.
My ma het my vertel hoe sy, nog voor my geboorte, gehuil het oor Koos; dat sy my peetma van ’n tiekieboks af gebel het toe sy hoor hy is dood. Op die ouderdom van vyf of ses, of daai tyd waar jy begin om goed te onthou, het ek my pa, Gert, gesien huil oor Gert wat huil oor Koos se dood, en my ma wat haar Gert en haarself troos oor Koos.
Hy het ons by die La Belle* Hotel in Beaufort kom ontmoet. Die hotel was blykbaar vroe jare ’n armsalige plek met ’n adellike naam soos Queen’s. “Is dit hoe jy lyk?” of iets soos dit het hy uitbundig gesê toe hy my om die draai kry. Ek het ’n painting by hom gekoop, dis toegedraai in bubble wrap en ’n PNA-plastieksak “sodat dit maklik in jou tas kan pas” of “sodat dit met jou kan saam reis” of iets bedagsaam soos dit. Ek handig plegtig vir hom bokbotter en rosyntjies uit my kontrei oor. Hy tas aan sy baadjie, skielik skaam omdat hy nie vir my ’n present op sy persoon het nie.
Die kos by die La Belle lyk nie aanloklik nie, merendeels vanweë die vreemde stilering van die restaurant. Die spyskaart is ’n lys van burgers en chips en milkshakes, en onderaan is daar ’n sinnetjie met verongelukte aanhalingstekens: “Thank you for choosing Joe’s Diner as your ‘preferred’ diner!”, so asof daar ’n smorgasbord van Midwest diners in Beaufort-Wes behoort te wees. Omdat daar nie plek is om binne te rook nie, gaan staan ons buite op die stoepie. Gert se J&B het met ys gekom al het hy dit daarsonder bestel, maar hy neem niemand kwalik nie en glimlag daaroor.
.......
Gert weet watter baan om by die groot sirkel te vat. Dis amper satiries, hierdie bord in die mirrel van die Karoo wat die pad na Johannesburg aanwys.
.......
Ná die tweede sigaret het ons na sy Honda Ballade gestap. Hy, die gentleman in ’n wit T-shirt en ’n swart broek soos wat diakens dra, maak ’n fumbled apology dat hy nie vir my die deur kan oophou nie omdat dit slegs van binne af oopsluit. Ons is op pad na ’n plek waar jy blykbaar binne kan rook. Gert weet watter baan om by die groot sirkel te vat. Dis amper satiries, hierdie bord in die mirrel van die Karoo wat die pad na Johannesburg aanwys.
By die slaghuis-restaurant-vulstasie-binnerookplek aangekom, is die plek met die rookarea vir ’n henneparty uitbespreek, die Bride To Be ’n spektakel in blou met sash en al, jillend agter ’n glasdeur. Ons word weer bannelinge wat buite rook. Die beminde was dankbaar toe die kos arriveer en Gert het iemand gebel terwyl ons geëet het. Weer buite gekom het hy vir ons nog ’n sigaret aangebied wat ek eers van die hand gewys het.
Gert praat sag, en dis soms moeilik om hom oor die gebrul van interlinks wat die binnedorp inry, te hoor. Maar hy stel genuine belang en vra iets persoonliks soos: “Julle het nie kinders nie, nè?” en die beminde red my uit my asemloosheid soos hy met die uitblaas van sigaretrook met vreemde selfversekerheid antwoord: “Dis nie vir ons beskore nie.”
Gert het dan iets gesê soos dat hy hierdie dinge nie verstaan nie en dat party mense op die verkeerdste maniere kinders kry terwyl ander mense wat daarvoor wens dit nie kan kry nie. Ek het die misterie probeer beaam en my teleurstelling probeer wegsteek deur iets stupids te sê soos dat kinderlose vrouens in Afrikaans almal hekse is en dat hekse darem kan toor. Hy buig agteroor soos hy lag en sê iets soos: “Jy het ’n punt beet daar.”

Gert Vlok Nel (skermgreep uit die dokumentêr My broer, Gertjie deur Niel van Deventer met toestemming geplaas)
Ek het iets flou probeer bylas, soos dat die nagte nou so mooi op Beaufort is, en dan sal hy iets met ’n somber finaliteit sê, soos: “Die winter is op ons, Anelia.” ’n Oomblik waar ons net die trokke hoor, gaan verby, maar dan wil hy gretig meer weet oor ons lewe in Berlyn en die dinge wat ons in die verte doen.
Ons vertel van ons vriende en die dagga wat ons self verbou en die drugs wat Berliners vat en die hond waarvoor ons lief is. Wanneer ek hom van shibari vertel, maak hy amper ’n bokspring asof die woord “bondage” ’n warm stoofplaat is, en hy lag, dalk vir sy eie skrik. Ons praat ook oor die genocide en dat ons belasting ons laat gril, en dan sê hy iets plegtigs soos: “Julle is polities baie bewus.”
Ek vra hom hoe dit is om op Beaufort te woon. Hy begin deur te vertel dat een van die mooiste boeke wat hy nog gelees het, Timebends van Arthur Miller is, en dan quote hy iets oor Marilyn Monroe en loneliness en die heart of America voordat hy weer iets sê soos: “Daar is min van ons, Anelia, enkeles hier en daar, maar ons is hier rond.”
Sal hy weer Nederland toe wil gaan? Slegs as hy met die liefde kan reis, antwoord hy. Dan vertel hy van die eerste storie wat hy vir ’n tydskrif ingestuur het wat nie gepubliseer is nie totdat sy ma sy handgeskrewe notas ontdek het en vir Huisgenoot gestuur het. Dis in een of ander jaar kort na sy diensplig gepubliseer. “Op 16 September, op Breyten se verjaarsdag, nogal,” maar toe het hulle die storie so vermink dat hy homself nie eens daarin kon herken nie en dat die geld wat hy daarvoor verdien het – “’n tjek van oor die honderd rand!” – hom aardig laat voel het. Maar hy het darem die Ingrid Jonker-prys gewen vir sy boek, sal hy dan sê, al het poetry hom sedertdien verlaat.
Hy draai na my toe en sê dan iets moois en troostend soos: “Jy skryf goed”, en volg dit op met ’n vriendelike waarskuwing: “Skryf nou, want dit mag nie altyd by jou bly nie.”
........
Ek vra hom of hy gelukkig is op Dorpie B. Hy wys in ’n rigting, sê hy bly net so ’n blok of twee hiervandaan. “Ons is eintlik baie arm – dis ek en my broer en my suster in ’n tweeslaapkamer flat”, maar nooi ons hartlik uit om weer te kom kuier, al is "Beaufort eintlik ’n baie gevaarlike plek”.
........
Ek vra hom of hy gelukkig is op Dorpie B. Hy wys in ’n rigting, sê hy bly net so ’n blok of twee hiervandaan. “Ons is eintlik baie arm – dis ek en my broer en my suster in ’n tweeslaapkamer flat”, maar nooi ons hartlik uit om weer te kom kuier, al is "Beaufort eintlik ’n baie gevaarlike plek”. Maar hy sou nou nie kan sê hy is gelukkig nie, want daar is te veel dinge in sy lewe waaroor hy ongelukkig is, maar dis oukei, eintlik, want hy doen sy paintings en gaan stap in die veld wat eintlik so heroïes mooi is, en hy hoef nie baie van hier af weg te gaan nie.
Is dit nie die beauty van ’n kleindorpse bestaan nie? vra ek. Dat die druk om jouself uit die general malaise op te hef nie so strak is soos in die stad nie? Ons lag saam soos ons terugstap kar toe. Soos ons met die N1 ry wat deur die dorp sny, hou ons waak vir ’n platteland in palliatief. Hy wys vir my die twee gunstelingplekke uit sy jeug wat nie meer daar is nie: die flieks, en die biblioteek. “Was die bioskoop reg langs die kerk?” vra ek in ongeloof. “Bioskoop …” eggo hy, en glimlag asof die herinnering aan die woord hom aangenaam verras.
*
Nou kyk, Gert word maklik aangekla dat hy nie morele agentskap toon nie. Hy is ons skynbaar meer verskuldig as wat hy reeds gebied het, want hoe kan jy die Ingrid Jonker-prys wen, maar nie weer publiseer nie? Hoekom skryf jy treffers wat jy nie met jou eie stem tot trefferstatus kan sing nie, en hoe durf jy treffers skryf as jy nie eens die moeite doen om te weet hoe om geld daaruit te maak nie?
(“Hy moet eerder dankbaar wees dat iemand sy lied sing en so bekend kon maak.” – Facebook comment op ’n Beeld-artikel uit 2016 toe hy hom oor tantième durf uitspreek.)
Is hy ooit ’n digter as hy musiek óók skryf? Sy werkersklasagtergrond laat ons dalk dink ons kan ons in ons eie geskiedenis verlustig (o, die eerbaarheid van ons voorouers se armoede, lofwaardig slegs omdat dit oorkom is), maar hoe gemaak met dié ou wat skynbaar nie die drif toon om uiteindelik met ’n viertrek die hemel se poorte in te ry nie? Hoe durf hy in elk geval kla oor geld wat hy glo hom moet toekom, want as dit geld is wat jy gesoek het, gaan jy dit mos nie in die kunste vind nie.
........
Sy doelbewuste posisionering as randfiguur in die Afrikaanse industrie dien ons blykbaar nie en vir die ons-is-nie-almal-so-nie clan is dit moeilik om met ’n afwesige profeet tevrede te wees.
........
Sy doelbewuste posisionering as randfiguur in die Afrikaanse industrie dien ons blykbaar nie en vir die ons-is-nie-almal-so-nie clan is dit moeilik om met ’n afwesige profeet tevrede te wees. Soos Hambidge met die tweede druk van “om te lewe is onnatuurlik” haar misnoeë uitspreek: “’n Digter kan egter net ontwikkel wanneer daar gepubliseer word en hy of sy deur die groeiproses van publikasie, ontvangs en die toets van kritiese mening beweeg. Anders bly jy vassteek by ’n eerste. By die benaming kultusfiguur. En later word jy onthou om jou kultusstatus en nie om jou gedigte nie.”
In Vleesbaai die volgende dag aangekom, vind ek ’n ou kopie van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins op my oupa (ook ’n spoorwegman, ook ’n Gert) se rak:
(Henry) voel alleen tussen al die uitbundigheid, goeie wil en liefde. Die doelloosheid van sy wandeling trek die aandag van Jock Silberstein wat as gasheer die apokriewe beweging te midde van sy welwillende gaste onmiddellik gewaar.
“Henry, Henry; broertjie, broertjie,” sê hy terwyl hy sy arm ooit om hom slaan. “Soek jy ooit na iets? Is dit moontlik dat mens só neutraal kan wees? … Dis deel van die mens se natuur om te soek. Tensy, natuurlik, tensy jy die essensie gevind en begryp het. Maar kan ons in hierdie stadium al so iets sê? Ken jy die aard van die bonum en die malum? Het jy al die dualisme ervaar? Het jy al ’n begrip van die vormloosheid? Is dit moontlik dat jy nie die minste belang stel en na niks soek nie?”
Gert het dalk die essensie, die dualisme, die vormloosheid reeds begryp. Of soos in sy eie woorde is hy dalk, nes Koos, “bullshit-loos, illusieloos, haweloos, droomloos, tydloos …”
Daarvoor beny ons hom dalk heimlik, want sy werk is gedoen. Dis ons beurt om die soekers te wees wat nooit daai kinders in die wind gaan vind nie. En dalk die spoorweë weer te bou, want Beaufort-Wes kan beautivoller wees sonder die gedreun van verval.
Lees ook:
Festival voor het Afrikaans 2023 | My broer, Gertjie: ’n filmresensie
’n Reis huis toe met Gert Vlok Nel, Confucius en die Spook van Johannes Kerkorrel
Nou in infrarooi deur Tom Dreyer: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

