Nou in infrarooi deur Tom Dreyer: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Nou in infrarooi deur Tom Dreyer. Uitgegee deur  Kwêla Boeke in 2023 en beskikbaar hier.

Nou in infrarooi
Tom Dreyer
Uitgewer: Kwêla
ISBN: 9780795710728

Tom Dreyer se debuut as digter is ’n merker. In die algemeen, en ook as debuut. Dit is so weens die soepele oorspronklikheid van die digterskap wat aan bod kom, en ook weens die wyses waarop die bundel die digterlike landskap soos dit tot nou bestaan het, meer geproblematiseerd agterlaat.

Die gedigte maak ʼn eksperimentele indruk, en herinner om die beurt aan Gert Vlok Nel, ee cummings en die Belgiese digter Paul van Ostaijen. Teen hierdie milieu as agtergrond het Tom Dreyer een van die verrassendste en prikkelendste kragtoere in die geskiedenis van die Afrikaanse digkunsdebuut van stapel gestuur. Ek het soms aan Johan van Wyk se Deur die oog van die luiperd (1976) gedink, waarin klassieke tone met die roekeloos profane vermeng word. By Dreyer is die eklektiese balans veel sagter, maar nie minder opvallend nie. Ek het ook aan Bibi Slippers se Die fotostaatmasjien (2016) gedink wat die speelsheid van sommige beelde betref, maar by Dreyer met ʼn aks meer erns, soos wat ʼn vers skielik in die skoot van ʼn religieuse metafoor kan tuiskom (“ʼn ster in die ooste”, 24; “skylab”, 26; “infanta”, 31; “en toe het joeri gagarin subsonies”, 32).

Deur die oogvan die luiperd (Johan van Wyk, 1976), om te lewe is onnatuurlik (Gert Vlok Nel, 1993), Fotostaatmasjien (Bibi Slippers, 2016). Sien bronne onder aan die blad.

Hierdie soort verbandlegging tussen die eietydse en moderne aan die een kant, en die antieke en religieuse aan die ander kant, is goed gevestig as leitmotief in die latere Afrikaanse digkuns. Dink maar aan Eveleen Castelyn. Maar daar is ʼn groot verskil, wat saamhang met Dreyer se eietydse etos. Dit is die metafoor self wat vir Dreyer die realiteit is, en nie dit waarheen dit heenwys (die Bybelse resonansie) nie. Hierop kom ek verderaan terug. 

1.1 Belangrike ontsluitingskodes

..........
Die infrarooikonnotasie, wat dieper lae in die oppervlak van die oomblik ontbloot, is ’n gepaste metafoor vir die treffende en verrassende resonansies wat die reëls, veral slotreëls, regdeur die bundel voortbring.
..........

Die voorblad ontsluit een van die bundel se vername kodes, naamlik die flits – van ʼn kamera, ʼn waarneming, of ʼn oomblik wat uitstaan of stilstaan in die tydstroom wanneer dit sig as ʼn herinnering voordoen. Die relativering van tydsverloop word sodoende uitgedruk, deur middel van die stilstaande oomblik, wat as onderdeel van die tyd ook die tyd in sy geheel versinnebeeld. Die deeltjie wat die geheel verklap, is ʼn verdere kode wat ek verderaan sal bespreek. 

Die infrarooikonnotasie, wat dieper lae in die oppervlak van die oomblik ontbloot, is ʼn gepaste metafoor vir die treffende en verrassende resonansies wat die reëls, veral slotreëls, regdeur die bundel voortbring. Dreyer se verbeelding werk tegelyk vervreemdend as versoenend. Dit stel die gegewens effe onthutsend voor, maar vestig onmiddellik ook ʼn empatiese band daarmee. So laat die infrarooidimensie van die voorbladfoto ʼn halfwoestynlandskap na Mars lyk. Maar die rooibruin kleur wat deels swarterig vertoon, herinner ook aan die kleurskakerings van droë bloed.

1.2 Belangrike stylpunte

Die styl is reëls en sinne wat met ʼn kleinletter begin en geen punte het nie. Die enjambemente is natuurlike breuke, en baie effektief. Die betekenisse bou op soos wat die reëls wat hulle bevat, opbou, dikwels in sinsnedes of halfsinne, tot in ʼn slot wat samevattend, problematiserend, ontsporend of verrassend vanuit die voorgaande funksioneer. Die verteller se toon is informeel, behalwe waar dit met verblindend effektiewe beeldspraak gestippel is, wat heel dikwels is. Daar is geen afdelings nie. 

Die gedigte volg mekaar op volgens die een of ander maklik herkenbare narratiewe of tematiese skakel, soos kinderherinnerings, vertellings uit die ruimtevaartannale, of deur middel van ʼn onvermydelike afleiding wat die binding verskaf. ʼn Voorbeeld van laasgenoemde is die laaste in ʼn reeks liefdesgedigte (44), wat naatloos opgevolg word deur “verdere gedagtes in ‘ʼn mri-skandeerder”. Die bindweefsel is die onontkombaarheid van sterflikheid, wat die voorafgaande liefdesgedigte in strak reliëf gooi voordat die mri-skandeerder opgevolg word met ʼn gedig oor ʼn dierbare vriend wat aan die dood afgestaan is. 

Só lees die eerste gedig,  “charlie bravo kom in” (11), in die lig van die bostaande:

Een aand op colesberg ek was sewe
ons was op pad kaapstad toe sien ons twee
laaities in telefoonhokkies met mekaar en gesels
die ou soort hokkie wat oranje was en uitgehol
en verbasend baie soos ʼn eier hul lywe was ten volle 
in dié doppe ingetrek soos kuikens of dalk ruimtevaarders
hulle het gelag en was vir ʼn wyle ontsettend ver van hier
en terwyl ek luister hoe hul woorde in colesberg se lug
verdubbel soos in ʼn badkamer se spieël het alles
volledig vir my sin gemaak ook vir my suster
net my pa was deurmekaar hulle praat 
dan met mekaar het hy aanhou sê
en presies het ek aanhou antwoord

Die bundel maak gebruik van rymwoorde en halfryme (sewe – twee; lug – volledig) in die eindposisie en binne die reëls – om vorm, fokus en vaart te verskaf. Ek vind die gebruik van versteekte assonansie veral treffend, byvoorbeeld: lywe – kuikens – ruimte. Dit dra soms oor etlike reëls die effek oor, soos in ruimtevaarders – gemaak – praat. 

Die gedig bied ʼn slot wat emblematies van heelparty van Dreyer se gedigte is; dit problematiseer die ooglopende op elegante en naatlose wyse, wat verleidelik aandoen. Dit gaan oor twee seuns wat mekaar grappenderwys vanuit telefoonhokkies bel terwyl hulle binne hoor- en sigafstand van mekaar is. By eerste oogopslag is dit ʼn sinlose aksie. Waarom nie net gewoonweg langs mekaar staan en praat nie? Die gedig lei die leser egter tot die pikante insig van hoe dikwels mense binne hoor- en sigafstand van mekaar nié met mekaar praat nie terwyl hulle vas oortuig is daarvan hulle doen dit wel. 

2. Nou in infrarooi en die Afrikaanse digkunstradisie

Die term wat by my opgekom het toe ek bundel lees, was die nou reeds tam klinkende avant-garde. Die betekenis daarvan is egter steeds relevant. Dit slaan oorspronklik op ʼn Franse militêre term wat na die verkennerskorps verwys wat die eerste is om nuwe grond te betree. ʼn Konnotasie is dus die nuwe vonds, maar dit suggereer ook iets van die aanvalshouding. Die gevegsmetafoor dui op die nuutgevonde sosiale stryd-aspek van vroeë-19de-eeuse kuns. Die strydaspek kan afspeel teenoor sosiale waardes of literêre styl. Dink Tristan Tzara. Eietydse digters met wie mens die term sou assosieer, is Breyten Breytenbach, Antjie Krog, die genoemde Johan van Wyk (1956–2022) en Gert Vlok Nel. Die eerste drie is in bepaalde opsigte strydvaardig, maar dit is nie juis die toonaard van Nel óf die latere Slippers nie. 

Ook nie by Dreyer nie. Dit is meer die eerste konnotasie – van verkenning en vonds. Die metafore is vars, die gewaarwordinge verrassend, die stelwyses idiosinkraties, bekoorlik en uitdagend.

By wyse van teenstelling: Digters wat mens nie as avant-garde sou tipeer nie, sluit in Elisabeth Eybers, DJ Opperman, Van Wyk Louw en Totius. 

Dis nodig om daarop te let dat dit hier gaan oor die digters se ingesteldheid en “selfverklaring”. Oorspronklikheid en vernuwing sou jy by albei groepe kon kry.

 2.1 Gert Vlok Nel

Dreyer se belangrikste aansluitingspunt in die tradisie is Gert Vlok Nel. Hy is die onmiddellike voorloper van hierdie verse.

Vlok Nel is meer eksperimenteel, Dreyer veel minder, maar die aansluitingspunte word gedryf deur ʼn werklikheidsraam wat hulle deel: tydsgees en lewensuitkyk. Dis dalk belangrik om te noem dat die eksperimentalisme wat Nel se werk kenmerk, ʼn lang aanloop het. Die bundeltitel en gedigte in kleinletters herroep by uitstek Breytenbach, cummings (1894–1962) en William Carlos Williams (1883–1963). Die eksperimentalisme se primêre rol is om te wys dat die realiteit ʼn fenomenologies saamgestelde konstruksie is wat in die waarnemer se gemoed bestaan, nie in sigself nie. Hierby sluit Dreyer aan, maar hy doen dit op ʼn ander manier.

..........
Dreyer se belangrikste aansluitingspunt in die tradisie is Gert Vlok Nel. Hy is die onmiddellike voorloper van hierdie verse. Vlok Nel is meer eksperimenteel, Dreyer veel minder, maar die aansluitingspunte word gedryf deur ’n werklikheidsraam wat hulle deel: tydsgees en lewensuitkyk.
..........

Kyk na hierdie vers uit Nel se om te lewe is onnatuurlik (33), wat verder op die eksperimentalisme van Breytenbach borduur:

i roeiboot dryf af in die rivier by malgas; is weg

Ek het gekom lief
& gesê “ek het jou lief”

toe draai jy om
jou oë vol soos êrens ʼn beker oorloop

en sê dit was ‘ʼn lang tyd”
& ek is klaar los.” Vra ek: “hoe los”

“heeltemal los” sê jy. & begin huil
toe ek begin lag

en begin toe lag
toe ek begin huil   

Die eksperimentalisme word hierbo hoofsaaklik gedra deur ʼn eksentrieke gebruik van leestekens en ʼn segging van indrukke wat die ramingsproses van die indruk direk uitbeeld soos wat dit gebeur, eerder as om dit te beskryf, soos in die meer klassieke poëtiese tradisie van Opperman.

Kyk na Nel se gedig se titel en vergelyk dit dan met die titel “Sondag van ʼn kind” van Opperman, wat die klassieke tradisie verteenwoordig. Kyk nou na die gedig self:

My vader, my moeder, broer en ek
het rape uit die land getrek,

hulle in ʼn spruitjie skoon gewas
en saam gaan eet op die klawergras.

Later toe ons by ʼn waenhuis kom
Was al die bure saamgedrom,

En by die een vervalle hoek
Lees iemand vir ons uit ʼn boek.

Klip na klip word die muur gerol
Tot by ʼn lam met raapwit wol. 

Die spil waarom die gedig draai, is die kleur wit – die kleur van sondeloosheid en van “die lam” (simbool van Christus). Hierdie verwysingspunte buite die gedig is nodig om dit te verstaan. Die eksperimentalisme probeer nader aan die idee kom dat die gedig die werklikheid sélf is, en nie net na die werklikheid kyk nie. 

Let op die wyse hoe Gert Vlok Nel se gedig ’n spanningsveld teweegbring wat daaraan ʼn groter resonansie gee deur slegs na punte binne-in die gedig te verwys (die meisie wat huil, die verteller wat huil, en albei wat lag). Dit verskil van, sê “Kroniek van Kristien”, van Opperman, waar die metafore afhanklik is van die meestermetafore van die Christelike godsdiens en die metamorfose-motief, so teenwoordig in Ovidius en wat herhaal word in die Inkarnasie-idee van die Christendom. Die reeksgedig “Kroniek van Kristien” verwys voortdurend na dinge buite sigself. Nie by Nel se gedig nie, waar die tragiek sigself as tragiek uitbeeld en sodoende ʼn metafoor word van tragiek. Hierby sluit Dreyer aan, maar op minder grillige en op deurlopend meer patroonmatige maniere. Kyk vir eers na “aanlynfoto’s van verlorenvlei” (13):

die son is ʼn lens flare bo verlorenvlei
die son is ʼn voorstudie
die son is ʼn foksterriër met ʼn stok in sy bek 
die son is ʼn leë kampeerterrein
buite elandsbaai waar die pad 
lui en onafgehandel
verbyswaai
na waar ek steeds tien is
in ʼn sytak se magnesiumflits

Dié gedig stel besonder behendig die oomblik waarop die foto geneem is (in die verlede) en die bestaan van die foto self, gelyktydig in die tyd teenwoordig. Dit word bereik deur die aanloop na die gebeurtenis soos wat dit in die verlede gebeur het te skets in terme van ʼn pad wat gery word en dan skielik  hiervan “weg te swaai” en die feit van ʼn ou foto waarna gekyk word, bo-op die eerste beeld te poneer. Die gedig se twee vernaamste verwysingspunte is binne in die gedig. Dit is geweldig klein momente, maar beide vertoon “groot” deur teen mekaar op te skuur.

Gedigvoorlesing deur Vasti Roodt by ’n bekendstelling van Nou in infrarooi.

Die son is die enigste oorgelewerde groot verwysingspunt, inderdaad simbool. Maar die son word dan onomwonde geregeleer tot iets wat slegs op tweedehandse wyses, in terme van die verteller se ervaring daarvan, bestaan: ʼn kampeerterrein waarin die son skyn; ʼn pad wat in die sonlig draai; ʼn hondjie wat sy blydskap in die son uitlewe. Die son is nie meer die groot beginsel in die hemelruim nie, maar blertse subjektiewe ervaring. Die vertikale dimensie van buitenissige verwysing het verval, en al wat belangrik bly, is die horisontale as van waarneming en die persoonlike.  

Die gedig “naby nieu-bethesda” (21) druk dieselfde digterlike etos in ʼn heel andersoortige, innemende scenario uit:

Waar ek aftrek sodat my foon se gps
met verbygaande satelliete kan sinchroniseer
dra ʼn man en ’n vrou ʼn rusbank oor ʼn veld
daar is koeie en dit is mistig die twee
slof stadig en is dan en wan versluier
agter berkebome die bank is rooi en wit
en seker swaar want hulle moet kort-kort
ʼn bietjie gaan sit.

Die betekenis van “sit” kry sy enigste betekenis binne ʼn gekonstrueerde wêreld waarin rusbanke voorkom. Die enigste hoër orde buite die gedig is die satelliete, en selfs dit is deel van die gekonstrueerde wêreld van tegnologie. Intussen verwys “sit” nie na iets buite die gedig nie, dit wórd letterlik iets op die papier danksy die letterlike “opvoering” van die betekenis daarvan in die gedig.

...........
Hierdie beliggaming van die werklikheid as syne die gedig self, is ’n kenmerk van die moderne gedig, volgens die moderne meester Paul Valéry. Die manier waarop Dreyer sekere trekke van hierdie kenmerk op tegniese vlak deurvoer en die verdere beklemtoning wat hierdie trekke by hom kry binne die die laatmoderne kulturele gewrig waarin hy skryf, is indrukwekkend.
...........

Hierdie beliggaming van die werklikheid as syne die gedig self, is ʼn kenmerk van die moderne gedig, volgens die moderne meester Paul Valéry. Die manier waarop Dreyer sekere trekke van hierdie kenmerk op tegniese vlak deurvoer en die verdere beklemtoning wat hierdie trekke by hom kry binne die die laatmoderne kulturele gewrig waarin hy skryf, is indrukwekkend.

Dit sal dalk tyd word dat Ronel Foster en Louise Viljoen, vermaarde letterkundiges, hul bloemlesing oor die postmodernisme, in die omloop as Poskaarte bekend, aanvul om hierdie verdere ontwikkelings van die tydsgees te argiveer. 

2.2 Van “midsomermiddag” tot “middaggebed”

Die gedig “midsomermiddag”, ʼn liefdesbesinging van die digter oor ʼn beminde, voer van die eienskappe in 2.1 genoem, na ʼn hoogtepunt. Dit is ʼn stralende gedig, wat die vrou in ʼn moment waarin sy haarself van die grond af opdruk, van “haar vingerpunte” tot by die “blink korona van [haar] besinnings”, beskryf. Sy lyk vir die verteller na “Helena van die Dardanelle”, wat ek vertolk as Helena van Troje wat op pad terug is na haar tuiste in Sparta, halfpad tussen weg wees en tuis wees. Dieselfde idee van die prekêre “halfpad wees” sal ook in die gedig “middaggebed” (60) aangetref word. 

ʼn Goeie voorbeeld van hoe Dreyer sy resonansies bewerkstellig is hoe daardie titel weerklank vind in die idee van die figuur wat vermoedelik halfpad orent is in die oomblik van sy onthou. ʼn Goeie voorbeeld van hoe Dreyer sy poëtikale spanninge bewerkstellig, is hoe die idee van halfpad in daardie titel – midsomermiddag – weerklank vind in die beeld van die figuur wat vermoedelik net halfpad orent is, maar terselfdertyd vir ewig in die ewigdurende oomblik van sy onthou staan. Alles in die gedig balanseer op die mespunt van verganklikheid, waarin “chroom-strips weerkaats” en ʼn spier knetter. Die spier knetter nie werklik nie, dit bewe of bibber, en hierdie sintuiglike verwisseling, wat so tipies is van goeie poësie, kom dikwels in die bundel voor: Oor die sintuie heen plant die metafoor voort. 

Die afloop van die gedig illustreer een van die bundel se vernaamste patrone, wat ek sal noem die wesenlike wat plekke verwissel met die toevallige. Die toevallige kry ʼn wesenlike betekenis. Die laaste reël, woorde wat die vrou aan die verteller sê, lui: “natuurlik is ons onvervangbaar”. Maar net voor dit sê die verteller:

laat ander mense glo in ryke en siklusse
en dinge wat herhaal 

Die paartjie is juis nié onvervangbaar omdat sy “soos Helena” en hy “soos Odusseus” of een of ander verhewe klassieke figuur is nie; nié weens hul ooreenkoms met die een of ander “goue maatstaf” nie; maar weens die feit dat in die afwesigheid van enige goue of adellike of oorgelewerde maatstaf elke oomblik, elke subjektiewe ervaring sy eie maatstaf is. 

Die toevallige ís nou die wesenlike. En uiteraard onherhaalbaar. Daar is min bundels in Afrikaans waarvan ek weet, wat hierdie idee as leidende motief so indrukwekkend deurvoer. Die wesenlike, wat sterk in die antieke kunste van Griekeland en Rome gefigureer het, wat nóg sterker in die Middeleeue deur middel van die beginsels van die teologie geheers het, en wat in die hoogmoderne tyd heersende beginsels soos die sielkundige argetipes van Jung en die “genie van die kunstenaar” opgelewer het, word hier radikaal vervang deur die onwesenlike en die toevallige. Die toevallige wil eerstens net na sigself verwys omdat dit juis nie buite sigself kan bestaan nie. 

Dreyer se betekenisse funksioneer, soos dikwels ook by Gert Vlok Nel, in die sinskonteks, en soms terselfdertyd anders in die konteks van die sin se dele. Dit skep soms paradoksale betekenisse wat gelyktydig geaktiveer staan, amper soos a capella stemme. “Natuurlik is ons onvervangbaar” beteken “uiteraard is ons onvervangbaar”, maar ook “omdat ons opgelewer is deur nuwe wetenskaplike wette waarin die toeval die wesenlike vervang het”.            

..........
Die gedig “middaggebed” toon tersluiks die manier waarop hierdie verse in hul veerkragtige ligtheid soms gewigtige vrae vra. Die verteller in die gedig vra, deur verskeie voorbeelde op te noem, eintlik heimlik die vraag: Wat is die individu? Die gedig toon dat sulke begrippe samestellings van verskeie veronderstellings is, wat meestal nie aan die orde gestel word in ons gewone omgang nie.
..........

Die gedig “middaggebed” toon tersluiks die manier waarop hierdie verse in hul veerkragtige ligtheid soms gewigtige vrae vra. Die verteller in die gedig vra, deur verskeie voorbeelde op te noem, eintlik heimlik die vraag: Wat is die individu? Die gedig toon dat sulke begrippe samestellings van verskeie veronderstellings is, wat meestal nie aan die orde gestel word in ons gewone omgang nie. Die waarde van die “toevallige”, wat so gedistilleerd en onreduseerbaar in die vorige gedig vertoon, word in die tweede gedig (“middaggebed”) as afbreekbaar tot sy samestellende aannames vertoon. Die individu is soos die heteronimiese digter Fernando Pessoa, ʼn  samestelling van verskeie “individue”, en ons ervarings, wat so atomisties lyk, is gebou op lewenswêreldlike ingewings wat daardie “atomistiese” opmaak. Daar is nie so iets soos ʼn universele mens nie, en so ʼn mens sou geen ervarings hê nie. Ervarings is spesifiek van aard. Die digter kyk uit by ʼn Boeing-venster:

op veertigduisend voet is elke seestraat
in die eerste plek ʼn tong elke koppie
oorgroei met klimop murasie of wildevy
om en by om’t ewe. Het elke sioux sjangaan
of galliër daarom in elke eeu by dieselfde vuurtjie
teen die donkerte geskuil?

In ʼn ander gedig, “– digby sirenestraat”, loop die verteller deur die Nederlandse stad Ijmuiden en hy besef dat sy ervaring van die vreemde altyd in die aannames van wat vir hom bekend is – die konteks wat hóm opgelewer het – gelewer sal word. Hy wonder oor die mense uit die outyd wat hier in die veen (modder) lê nadat hulle vermoedelik aan gode geoffer is. Die implikasie is dat die moderne stad ʼn langsame uitkristallisering van ʼn baie spesifieke geskiedenis was. Hy hoor die gestorwenes uit Ijmuiden se outyd na hom roep soos hy naby Sirenestraat loop – in ʼn “amper-Afrikaans” (want Afrikaans het trekke van voormoderne Nederlandse dialekte), maar besef tegelykertyd hoe spesifiek hy is:

so asof ek ʼn fok omgee vir veen 
asof ek die kaap se priem uit my tong kan pluk
of hoog op pedale van my magneet kan staan
tot die onbeholpe vlug van flappe my ontgaan

Die gedig vra: Sou die digter op sy fietspedale kon staan en sy jasflappe kon gebruik as die vlerke van ʼn engel (ʼn soort “universele” wese) om op te vaar na ʼn hemel (ʼn soort universele plek) om sodoende aan sy spesifiekheid te ontsnap? Die gedig beantwoord die vraag op uiters resonerende en veelvlakkige wyse, waarin die liriese en die skerp besinnende byeenkom.

Hierdie selfde vraag – na die lewenswêreldlike basis van menslike ervaring – word deur Dreyer se reeks gedigte oor die Sowjet-ruimtevaart gevra. Dit was ʼn tyd waarin ʼn alternatiewe ruimtetegnologie groot hoogtes bereik het, hoogtes wat die Westerse ruimteprestasies in hul selfgenoegsaamheid gewoon verswyg. Die anderwêreldlike word atmosferies en akuut deur die reeks verse vergestalt. Van hierdie verse is “ʼn ster in die ooste” – waarin die Russe ʼn mannekynpop die ruimte ingestuur het, en die pop soos ʼn Annunsiasie weer op die aarde land – die mooiste. Hierdie vers slaan ʼn spanning tussen lewe en weergawe, wat op metaforiese wyse deur die oproeping van in ʼn gebeurtenis van jare gelede, die huidige probleem van kunsmatige intelligensie (KI) aan die orde stel.      

2.3 Nog motiewe uit Gert Vlok Nel reis verder – in infrarooi

Nel se gedigte neem soms woorde wat slegs aan hul metaforiese betekenis bekend is en span dit dan volgens ʼn letterlike betekenis in. Die letterlike en die metaforiese woord kom daardeur in spanning met mekaar. 

Vollengte dokumentêr oor Gert Vlok Nel, Beautiful in Beaufort-Wes, deur Walter Stokman (2006)

Dreyer se gedigte neem dieselfde tegniek verder. (Ek kursiveer die woorde waarna ek verwys.) ʼn Son hang onsamehangend in vensters (36). Andersyds en soortgelyk neem hy ʼn woord wat nie lyk of dit enige metaforiese potensiaal kan hê nie, en maak ʼn metafoor daarvan:  ʼn pad swaai onafgehandel  (13). Op bl. 70 “staan nou die omvattender wrak van ʼn daihatsu charade”. 

Seker die pragtigste geval hiervan (in ʼn gedig oor taal) is die slotreëls  “die mond is ʼn onbevoegde veroweraar”. Hierin word die woord “onbevoegde” ʼn metafoor vir die aksie van die mond wat voegwoorde en woorddele probeer saamvoeg om betekenis te maak.   

Op bl 34 kom ʼn beskrywing van Leonard Cohen se tikmasjien wat hy in die see gegooi het, as volg na vore: “sy olivetti in die blou foneem van hydra-hawe”. (Die beklemtoning is ook myne.)

Nog ʼn tegniek wat ek my uit Nel se eiesoortige bundel herinner, is hoe indrukke soms hul terme omruil, sodat die term waarop gewerk word, nou skielik die agent-term is, of andersom. Só kom dit voor in Dreyer se bundel:  “[ons tol] onder swaar rugsakke asof iemand by ʼn skougrond / spookasem uit ons draai.” 

Op bl 60 in “polisieverklaring in juárez” oor ʼn episode in die lewe van die sanger Johnny Cash waarin sy band en die polisie slaags raak oor ʼn tas vol dwelms, word die pille beskryf asof dit hulle (die pille) is “wat chill”. So word die effek van die pille op mense as ʼn eienskap van die pille self uitgebeeld. 

Dit is een van die maniere waarop beide Nel en Dreyer voortdurend onder die leser se aandag bring dat waarnemings en ervarings gemáák word, en dat die wêreld nie sommer net bestaan soos hy bestaan nie.

Dreyer se gedigte bevat die tema van die deel wat die geheel suggereer omdat die geheel saamgestel word uit dele wat metafories funksioneer ten einde ʼn geheel op te lewer. Een so ʼn gedig is die lieflike “die subteks van jou asemhaling” (34), waarin die vrou se asemhaling reeds die idee bevat waaruit die begrip “ruimte” saamgestel sal word. 

Die liefdesgedigte in die bundel is van ʼn hoë gehalte en bly deurgaans aandoenlik. My gunsteling is “oewervuur”, waarin die begin van evolusie geskets word wat uitloop op die mens, en die verteller se verhouding die metaforiese uiteinde van hierdie proses word:

ons eie oorsprong was ook
as water as ʼn dun spruit
[...] 

by tye kon ek karp voel roer
[...]

en eers later die seker hale
van jou wat langs my swem. 

3. ʼn Gedig wat die bundel versinnebeeld 

Die absurde in die bundel is nie ʼn vername motief nie, maar een wat wel ʼn paar hoogtepunte oplewer. Die volgende gedig, op bl 28,  vat vir my die bundel goed saam: “twee boere te perd het by escher”. Hierin word die pleknaam Escher se Kloof ʼn kapstok – aan die hand van die naam van die Nederlandse kunstenaar MC Escher – om ʼn absurde situasie uit te beeld. Twee boere te perd het per ongeluk oor die afgrond gery en hang nou onderstebo aan ʼn rotslys, steeds op hul perde, iets wat aan Escher se absurde relativisme in sy etse laat dink. Die son is nou “in die laagte” (nie meer in die hemellug nie); die selfoontorings “prik na benede”; en die hangende boere sien hoe ʼn trok vol skape “opvaar na die hemel”. 

Hier bo verwys ek na die hemel as “ʼn universele plek”, en dit is interessant hoe behendig Dreyer sy motiewe op terugkerende wyses weef. Die situasie van die boere wat daar aan die lys hang, is absoluut onherhaalbaar, soos die lewe wat Dreyer uitbeeld, en hulle word in hierdie onherhaalbare oomblik gedwing om te sien hoe “trokke vol skape opvaar na die hemel”. Die kommentaar hier is op die vermeende objektiewe universele, en op die soort mense wat daarin glo (soos skape). 

4. Eenheidsbewerking 

In ʼn bundel vol verse oor die “aller-indiwidueelste” oomblik – om Willem Kloos (1859–1938), die vader van die moderne Nederlandse digkuns by te haal – in ʼn laatmoderne tyd wat vergestalting aan Kloos se vermoedens gee soos nooit tevore nie, sou mens reken dat die bundel maklik op tegniese komposisievlak uitmekaar sou dryf. Juis nié.

..........
In ʼn bundel vol verse oor die “aller-indiwidueelste” oomblik [...] in ’n laatmoderne tyd [...] sou mens reken dat die bundel maklik op tegniese komposisievlak uitmekaar sou dryf. Juis nié. Daar is verskeie sulke bindingsmotiewe op tematiese sowel as tegniese vlak in die bundel vaardig.
..........

Daar is verskeie sulke bindingsmotiewe op tematiese sowel as tegniese vlak in die bundel vaardig.

Dit gebeur egter baie subtiel. Afgesien van die patrone wat ek reeds uitgelig het, wees bedag op die subtiele tematiese verbindinge tussen gedigte. In die gedigtereeks “op my swart magneet” (62–3), waaruit die hier bo bespreekte gedig “– digby sirenestraat” kom, bind verskillende betekenisse van “swaartekrag” (die aarde sʼn; van lewenswêrelde, en nog meer) met die gedig “higgs boson blues” (75), later in die bundel, waarin die kwantumveld se gewigdraende faset, die higgs boson-molekule, die metafoor is.

Op bl 62 verskyn ‘n gedig oor die weerkaatsings in die groot glasvenster van die Escher-museum in Nederland, wat die digter besoek het. Let op hoe die gedig met die genoemde gedig van die boere in Escher se Kloof bind. Daar is verskeie sulke bindingsmotiewe op tematiese sowel as tegniese vlak in die bundel vaardig.

5. Slotopmerkings 

Nou in infrarooi is ʼn uiters bekoorlike en onvergeetlike moment in die huidige poësie-uitset van Afrikaans. Ek wil graag na twee hedendaagse Europese digters verwys as teken van hoe Dreyer by tydgenote in die buiteland aansluit. Arne Rautenberg (1967) skryf absurdistiese en speelse verse waarin filosofiese temas op “ligte manier” na vore tree. Hy skryf ook kinderverse. Daar is ook Martin Glaz Serup (1967). Dié Deense digter was al op besoek in Suid-Afrika op uitnodiging van die Sylt-Stigting. Hy skryf rare “filosofiese” verse wat veel verklap oor die postmodernisme as stroming sowel as poësie in die laatmoderne tydvak waarin die huidige mens homself bevind. Sy reeksgedig as bundel, ook in Engels vertaal as The field of a poem, gaan oor ʼn plantasie of landery wat soos ʼn mens dink. Die tema voel vreemd totdat die leser besef maar die mens is ook soos ʼn landery, wat uit vele deeltjies bestaan, onder meer molekules.

Hier is drie van Serup se enigmatiese gedigte, elkeen net ʼn sin lank: 

Eerste aangehaalde gedig: 

The field likes pretty hands.

Tweede aangehaalde gedig:

The field is fond of long legs. 

Derde aangehaalde gedig:

Tits or arse, the field is a tit-field.

Die laaste, langer gedig begin met hierdie sin: 

 The field can’t, it’s tried all morning, think of the word improper. 

..........
Nou in infrarooi is ’n uiters bekoorlike en onvergeetlike moment in die huidige poësie-uitset van Afrikaans. Ons lewe in ’n tyd waarin die poësie uiters oorspronklike dinge aanvang. Dreyer se bundel is tiperend hiervan.
..........

Ons lewe in ʼn tyd waarin die poësie uiters oorspronklike dinge aanvang. Dreyer se bundel is tiperend hiervan.

 

Bibliografie  

Dreyer, T.  2023. Nou in infrarooi. Kaapstad: Kwela.
Opperman, D. 1974. Kort reis na Carara Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Nel, G. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.
Serup, M. 2011. The Field A Poem. Los Angeles: Les Figues Press.

Erkennings: Boekblaaie

Deur die oog van die luiperd deur Johan van Wyk (1976). Fotobron: ABE Books.
om te lewe is onnatuurlik deur Gert Vlok Nel (Wenner van die 1993 Ingrid Jonker-prys vir beste debuutbundel. Heruitgawe (2014) beskikbaar by NB Uitgewers
Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers (1996). Bron en uitgewer: NB Uitgewers.

Lees ook:

Tom Dreyer's Equatoria: "The tenuous metaphysic of existence"

Eerste slukkie: "Die soldaat se vingerhoed wikkel en flits", ’n essay uit Tom Dreyer se Kodachrome, 90 flitse

Boekresensie: Dorado deur Tom Dreyer

Kodachrome deur Tom Dreyer: ’n resensie

Herinneringe aan Johan van Wyk – nuwe beginne en ’n bestel begin stuiptrek

Johan van Wyk was elusive, mercurial

Foto-onderhoud: Bibi Slippers oor Fotostaatmasjien

Nou in Infrarooi deur Tom Dreyer: beleef die Stellenbosch-bekendstelling asof jy daar was

Toyota US Woordfees 2022: ’n gesprek met Tom Dreyer oor Kodachrome, optiese instrumente en die filmiese oog

Lees ’n onderhoud wat Pieter Redelinghuys met Gert Vlok Nel gevoer het uit LitNet se argief.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top